Nuuskommentaar: Het my SA’nerskap saam met Basjir se vertrek gesterf?

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

’n Nuuskommentaar handel nie oor die skrywer nie – die kommentator ontleed en kom so ver as moontlik tot suiwer vakwetenskaplike gevolgtrekkings. Dit is ook nogal nie te moeilik waar die regering van die dag die internasionale reg en die reg in sy eie land respekteer nie. Maar hierdie regering maak dit nie maklik nie.

Na meer as ʼn duisend agtereenvolgende nuuskommentare waarin hierdie beginsel nagestreef is, het die gebeure rondom die regering se hantering van die Basjir-aangeleentheid dit “finaal” onmoontlik gemaak om nie vir ’n oomblik persoonlik tot die debat toe te tree nie.

Meer as ʼn dekade gelede was die uwe redakteur van ’n kortstondige publikasie in die Rosestad. Gedurende ’n skoolvakansie is ʼn saamtrek vir Voortrekker-verkennerleiers by die Hoër Meisieskool Oranje aangebied, en die onlangs uitgetrede hoofleier, prof. Piet Strauss, was self sentraal in die opleiding wat die jong leiers ondergaan het.

Na afloop van die opleiding is die jong leiers aan die media voorgestel. Die euforie van die jong mense was net ’n titseltjie te te, soos oupa altoos gesê het. Hul sleutelboodskap was dat om Afrikaner te wees, dieselfde is as om Suid-Afrikaner te wees.

Die euforie waarmee dié stelling by herhaling skynbaar onnadenkend gemaak is, het die moedswil effe laat oorkook. In vraetyd vra ek, in die lig van die tipiese Afrikanerwaardes wat Christelik gefundeer is, en die Suid-Afrikaanse waardes wat die wettiging van aborsies, die wettiging van dobbel en vele meer insluit – wat is hulle eerstens? Afrikaners of Suid-Afrikaners? Die jong leiers is onkant gevang. Maar Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap is dan dieselfde ding, reageer hulle. Ek herhaal die vraag en lê bietjie meer klem op die opvallende verskille.

“Nee, dan is ons eerstens Afrikaners, en dan Suid-Afrikaners.” Ek sien die ringkoppe wat van eenkant ’n wakende ogie gehou het se afkeuring. Op een na is ek en die ander joernaliste weg. Die volgende dag het die plaaslike dagblad, wie se verslaggewer agtergebly het, weer net die weergawe van Suid-Afrikanerskap en Afrikanerskap wat dieselfde is aangebied.

Die geskiedenis, so het dit egter geblyk, het nie so maklik oor die kwessie, afgeloop nie. ’n Onlangse peiling van die Sentrum vir Versoening en Geregtigheid het getoon dat die meeste Suid-Afrikaners hulle nou eerstens ingevolge hul ras, en dan as Suid-Afrikaners uitdruk. Dit is nie die soort afloop wat veel in die post-1994-periode wou gehad het nie. Maar met so ’n rasbenepe regering…

Laat ’n mens dadelik haas om te sê dat ’n regering van die dag nie noodwendig ’n patriotisme teenoor die land ondervang nie. Inteendeel, ’n mens kan juis patrioties wees deur die regering al sy dae oor sy misstappe te gee. Die ANC is wel baie lief daarvoor om mense en instansies wat dit doen daarvan te beskuldig dat hulle onpatrioties is. AfriForum het al so deurgeloop, en diegene wat te veel vrae oor die Fifa-debakel gevra het is op dieselfde wyse die kop gewas. Maar ’n regering van die dag en die land is nie dieselfde ding nie.

Ons mag maar sing dat die berge antwoord gee, dat ons sal lewe en dat ons sal sterwe vir ons land, Suid-Afrika. (Ons moet net versigtig wees om dit nie as deel van ’n sekere FAK-lied te sing nie, want dan kan ons uit allerlei Afrikaanse kunstefeeste geskop word). Ons mag maar ons hees skree vir die Springbokke al is die Springbok-kenteken nou ook op die Jockey Junior se rek aangebring.

Maar ongelukkig, hoe langer ’n regering wat sy kompas (of ter wille van die jongklomp op Jeugdag, GPS) kwyt is, die land en al sy mense in sake verteenwoordig soos buitelandse betrekkinge, in oorlogvoering, in versuim soos ’n behoorlike strategie teen plaasaanvalle, hoe langer word daardie regering en die land, en al sy mense, as ’n eenheid beskou.

’n Gemors wat die regering aanvang, word ons almal se verleentheid. Ons gaan almal – dalk selfs meer as Zuma en sy kornuite, die gevolge dra van Suid-Afrika se uitdaging van die wêreld oor die optrede rondom die vermeende misdadiger teen die mensdom en volksmoordenaar, Omar al-Basjir.

’n Amerikaanse vriend se verbaasde reaksie per e-pos op die nuus dat Suid-Afrika gehelp het dat Basjir die land verlaat in weerwil van ’n hofbevel, spreek boekdele. Hy het nog nie eens oor Suid-Afrika se Fifa-beskuldigings gekom nie.

Dis ook nie of die Suid-Afrikaanse regering nou eers probeer het om hom tot die geledere van die muishondlande te rangeer nie. Wie sal ooit vergeet hoe Suid-Afrika teen stappe teen die destydse bose diktatuur in Mianmar gestem het? Meer onlangs het Suid-Afrika teen ’n mosie gestem wat die optrede van die IS (voorheen Isis) veroordeel. En daarna buite stemming gebly in ’n mosie oor wreedhede deur die Noord-Koreaanse regering.

In hierdie politiek-wetenskaplike en politiek-sosiologiese omgewing word noodwendig sekere kragte losgemaak. Hoe meer ’n regering nie in algemene belang nie, maar in sy eie belang of die belang van sekere klieks regeer, hoe sterker word middelpuntvliedende kragte. Hoe sterker hierdie kragte word, hoe moeiliker word dit om die middelpuntsoekende kragte te voed. Ek kry soms selfverklaarde liberaliste jammer wat so tydig en ontydig “ja, maar wat van deel van die groter geheel?” se kaarte op die tafel werp. Net om kort hierna deur die president of ander regeringswoordvoerders van die tafel geveeg te word met uitsprake soos “die ander” wat al die moeilikheid kom maak het. (Die soort moeilikheid waarvoor Basjir aangekla word).

’n Omgewing, waar as jy gelukkig is, bloot ’n kolonialis van ʼn spesiale soort is.

Nog ’n spesie wat swaar kry is die segment van die (Afrikaanse) media wat met bedenklike joernalistiek en soms blatante hoernalistiek enige woord wat die segment “self” in het, verdag probeer maak of probeer verguis. Selfs ’n peuter wat sekere vaardighede begin ontwikkel gaan deur ’n hardkoppige fase waar hy alles “self” wil doen – ’n belangrike fase vir sy ontwikkeling. Hoeveel te meer ’n goed-opgeleide volwassene wanneer die regering die een groot siesa na die ander aanvang? Die verskillende “self-vertakkings” is ’n natuurlike uitvloeisel van ’n regering wat van sy kant dele van die groter geheel vervreem, soos vyande hanteer, as klippe hanteer waaruit bloed getap moet word…

So het Suid-Afrika nou ook reeds weens sy hantering van die Basjir-geval onder die ongewoon skerp tong van die sekretaris-generaal van die VN, Ban ki-Moon deurgeloop. Die internasionale media, wat aanvanklik traag was om te glo dat die Suid-Afrikaanse regering aktief gehelp het om Basjir uit die land te kry en intussen kluitjies aan die hof voorgehou het, moes maar later die feite in die oë kyk en hul lesers, luisteraars en kykers dienooreenkomstig inlig.

Die Christian Science Monitor  berig onder meer soos volg hieroor:  “On Monday morning, however, Bashir boarded his jet at a military air base and flew home to Khartoum, defying the judge’s ruling. His flight has raised questions over South African’s complicity and put another dent in international efforts to hold the Sudanese ruler to account for his involvement in the 300,000 people killed in Darfur’s ethnic genocide. And it marks another blow to the ICC’s credibility on the continent, where it has repeatedly struggled to convince African leaders to turn over their own for prosecution.”

Wat is die regte ding vir “die ander” om onder hierdie omstandighede te doen? Daar moet ’n duidelike demonstrasie van “die ander” wees dat almal in Suid-Afrika nie soos hierdie regering is nie. Dat “die ander”, anders as die regering, respek het vir die grondwet, vir die internasionale reg, dat “die ander” nie gelukkig is met waar Suid-Afrika op die internasionale korrupsie-persepsie-indeks trek nie, dat “die ander” ongelukkig is oor die regering se ongevoelige houding oor plaasaanvalle, dat “die ander” nie hou daarvan om in ’n land te woon wat as die verkragting-hoofsetel van die wêreld bekend staan nie, ʼn land wat veral op plaaslike regeringsvlak weens kaderontplooiing en “regstellende optrede” die kreeftegang in regeer word, waar “die ander” se kerke vir die regering oor die in duie storting van moraliteit in die regering ’n toffie stuur oor gesprekvoering nie.

Want “die ander” is ons. Ons was trots op ’n land wat die eerste suksesvolle hartoorplanting opgelewer het, eerder as ’n land wat nou oorboord gaan oor suksesse met penis-oorplantings om die skade ongedaan te maak van geldgierige toordokters wat jong seuns tydens donkerskole juis daar vermink.

Dis hierdie regering wat ons, “die ander”, kort-kort verneder deur die belaglikste wolhaarstories op te dis en te verwag ons moet dit sluk. Soos om aan te voer dat omdat Basjir se naam nie op die passasierslys was nie, het die regering nie geweet hy het die land verlaat nie.

Ons kan patriotte van Suid-Afrika wees, maar nie op ʼn manier om blindelings lojaal voor hierdie regering te buig nie.

’n Regering wat, ten slotte, op die vooraand van Jeugdag, ’n netjiese boodskap aan die jeug gebied het oor hoe om nié op te tree nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

JvdMerwe ·

Met hierdie aksie het Suid-Afrika sy geloofwaardigheid verloor en het homself verskuif weg van die demokratiese state van die wêreld, het die land by die diktatoriale state van Afrika. Dit is ‘n skande.

Tommie ·

Die anc erken en steun hiermee dat geneocide geregverdig is. Na aanleiding hiervan erken die anc dat hulle kriminele aktiewe steun!

Jaco ·

‘n Goed deurdagte artikel.
Die ANC se optrede in hierdie saak is duidelike aanduiding van nog meer te kom. Daar is ‘n duidelike minagtingsbeleid teenoor die reg en as sulks verwag ek nie dat hulle op ‘n politiese vlak van mag sal afstand doen, sou die tyd aanbreek nie. Wees gereed en raak bedag my volk.

Theo ·

Sal dit Solidariteit nog enigsins baat om die voorgestelde aanklagte teen die ANC regering aanhandig te maak by die Verenigde Nasies?

Jaco ·

Ek glo dit sal. Onthou, die Afrikaner was pre-94 hardekwas (tereg so), maar die meerderheid het onder die internasionale sanksies geswig. Ek vermoed ten beste sal dieselfde met die ANC gebeur, ten slegste sal die Afrikaner op internasionale steun kan staatmaak sou dit nodig word.

Deon ·

Net jul Ja-stemmers of FW/AB navolgers is verras. Ons Nee stemmers kon die logiese uitkoms voorsien. Kry vir jul Herman!

Theo ·

Deon. Om beskuldigings rond te slinger raak nou al erg afgesaag jong. Ek is bly as jy dalk nog nooit gefouteer het nie. Dalk is dit tyd om die beskuldigings te begrawe sodat ons nie in dieselfde strik as die ANC sal trap wat altyd iets vir hul onvermoe soek om te beskuldig nie. Ons het mekaar nodig al het sommige gefouteer, en al beweer sommige dat die Afrikaner (ook erg afgesaag) nie kan saamstaan nie. Eendrag Maak Mag.

Eugene ·

Puik gestel Theo! Ek glo die Ja-stemmers het op daardie stadium gedink hulle doen wat die beste vir die land is. Dit is maklik om nou 23 jaar later daardie fout te kritiseer. Ons moet aanbeweeg, laat dit ‘n les wees vir die toekoms.

Leendert van Oostrum ·

Ek dink nie “Ja”-stemmers is aldag so “jammer” oor hul keuse nie.

Ek onthou die tyd toe die “hardekwas” – Afrikanerregering soortgelyke dwaashede aangevang het (soortgelyk in aard, nie in graad nie!) Insidente soos die Polisieminister se opmerking toe hy ingelig is dat Steve Biko in polisie-aanhouding dood is: “Dit laat my koud”.

Ek onthou, in die vroee tagtigs, hoe ‘n maer Deense vroutjie my op ‘n bus in Griekeland te lyf gegaan het toe sy hoor ek is van Suid-Afrika – letterlik deur die gesig geklap. In die laat tagtigs was ek een aand net voor middernag op Trafalgarplein. Die enigste ander mense daar was die dosyn of so gehuurde betogers voor Suid-Afrikahuis. Mense wat tussen skofte onder die brue oor die Teems slaap. Toe ek die uitnodiging van die hand wys om hul petisie te teken, het die spul gemors vir my begin “one settler one bullet”.

Ek is vandag bitter bly om deel van “Die Ander”te wees – en nie meer aan buitelanders te hoef te verduidelik oor die sothede van my regering nie.

Dis lekker om “Die Ander” te wees wanneer dit gaan soos dit nou gaan – ek onderdruk die schadenfreude sonder sukses.

Grassie ·

Hierdie is ‘n puik artikel van Herman. Dit plaas die Basjir-debakel in die regte perspektief, in die regte konteks, nl dat dit nie ‘n losstaande gebeurtenis is nie maar, soos ‘n deeltjie van ‘n legkaart, deel vorm van die ANC se regeringspatroon en gesindhede. Dit is ‘n les vir ons dat ons as Afrikaners nie ons toekoms in hierdie land kan verseker deur staat te maak op ‘n grondwet of hofbeslissings nie. Ook nie op billike optrede deur die regering nie. Ook nie op “wigte en teenwigte”nie. Ons sal moet begin om saam te staan en saam te werk en na onsself om te sien anders is daar vir ons geen hoop op voortbestaan nie.

Arrie ·

Inderdaad, Grassie, en jou kommentaar daarop is ne so goed! Maar ek sou graag wil weet hoeveel van die wat die Eenheid Maak Mag slagspreuk verkondig was op Solidariteit se beraad nou die dag en hoeveel van ons “ander” sal die opvolg daarvan bywoon? Ons moet tog êrens begin!

Ant ·

Dit is goed dat ons, net soos die britte wat gevlug het uit Zimbabwe, begin agterkom wat aan die gebeur is. Kom ons oorweeg die feite:
1. Suid Afrika skaar hom op die oomblik by die muishond lande van die wereld.
2. Ons (die ander) is onwillekeurig deel van Suid Afrika. ten minste tot hulle ons wegjaag
3. Ons is ook die gedeelte van die bevolking wat vir die regering meer as 80% van sy inkomste verseker.
4. Ons weet ook die ANC aanslag gaan nie verander nie, self al hoop ons die volgende voorheen benadeelde sal ons anders behandel.
So ons het ‘n paar besluite om te maak:
a. Hoe maak ons ons-self los van hierdie verbintenis? of is ons gemaklik om oor dieselfde kam geskeer te word, en dinge nog so bietjie kans te gee?
b. As ons dan nie deel van hierdie grapie wil wees nie, moet ons nou terwyl ons nog ‘n mate van beheer oor ons eie heenkome het, beplan vir ons toekoms. As ons dit nie doen nie, stap ons dieselfde paaitjie as die wittes van Zim
Laastens wil ek noem dat ons nie so skrikerig moet wees om te praat van eie of “self” nie. Ons moet ons los maak van die “polities korrekte druk” Ons moet net begin saam praat, want so kry ons momentum en die ANC weet wat die gevolg gaan wees.

Alet ·

Ons moet een ding nie uit die oog verloor en dit is: Die God van hemel en aarde is in beheer en wat ookal gebeur – HY het die eerste en laaste sê oor ALLES en ALMAL En dit maak my rustig

Arrie ·

Alet, feëverhaaltjies gaan ons nie help nie. Maar wees gerus “rustig”: ‘n wolkie wag vir jou.

Jaco Prins ·

Die probleem met die hele Al-Bashjir storie is dat as individue in ons regering hulle ook skuldig maak aan blatante volksmoord (die intensie raak vir my by die dag duideliker) hulle nou oopelik verklaar dat hulle nie die die internasionale strafhof vervolgbaar gemaak sal word nie maar liewer beskerming onder die AU se diktators met Uncle Bob as voorsitter sal geniet. Wat die week gebeur het is geskiedenis en ek sou se ons moet regmaak want die geskiedenis gaan hom binnekort uitspeel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.