Nuuskommentaar: Het Nuuskommentaar afgelope vyf jaar verskil gemaak?

nuuskommentaarMaroela Media het pas sy vyfde verjaardag gevier. Het die nuuskommentare oor hierdie tydperk daartoe bygedra om die politieke speelveld te verbreed, en om die versmorende skanse van politieke korrektheid terug te druk? Dit is iets wat net die lesers kan beantwoord.

Maroela Media het pas sy vyfde verjaardag gevier, kort nadat hy sy miljoenste unieke maandelikse besoeker bereik het. Dat Maroela Media ’n enorme impak op die nuustoneel en in die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel het is ongetwyfeld waar. Maar wat is die bydrae wat die nuuskommentaar gespeel het?

Eerder as om ’n jakkals te wees wat sy eie stert prys, word aan die hand van ’n “wenslys” gekyk na wat ideaal probeer bereik word, en die vraag oor sukses al dan nie aan die lesers oorgelaat.

Die eerste drie sake is ten nouste vervleg. Dit sou wees om terrein oop te ploeg wat voorheen as te politiek inkorrek beskou is om deel van die openbare debat te wees. Die tweede wat hiermee verband hou, is om die stremmende en dominante effek van wat later as die Seunse Weenkoor bekend geword het genoegsaam onder druk te plaas dat ook ander idees op ’n fatsoenlike en positiewe wyse onder die vergrootglas geplaas kan word.

Die derde, samehangende idee is om die boeie waarmee Afrikaans om nie net sy voortbestaan nie, maar sy minderheidsregte moes veg, los te maak sodat daar doeltreffender geveg kan word – selfs deur die howe, maar dat dit steeds deel bly van die fatsoenlike gevegsfront.

Dat daar keerpunte was (en die nuuskommentaarskrywer maak nie daarop aanspraak dat die nuuskommentare noodwendig ’n rol gespeel het nie) blyk byvoorbeeld uit dr. Piet Croukamp se klagte in ’n artikel dat “die regses” die Grondwet self gebruik om die liberale pilare daarvan te sloop. Die antwoord is gewoon dat daar ’n groter bewuswording gekom het dat die Grondwet ook verskeie bepalings bevat wat nie tipies (links) liberaal is nie. Sedertdien het dit al tot verskeie suksesse in hofsake aanleiding gegee veral in die stryd om die behoud van Afrikaans by sekere universiteite. Die ergste geweeklaag uit die geledere van die Seunse Weenkoor kon dit nie tot die sfeer van onfatsoenlikheid verban kry nie.

Wat natuurlik nie beteken daar moet met modderpote en al in ’n saak ingespring word nie.

Die rimpeleffek van die Solidariteit-DKD-saak gaan eers oor ’n tyd behoorlik evalueer kan word, maar dit is ook duidelik dat dit wat bruin intellektuele (wat hulself swart noem) as die heersende gangbare benadering gestel het, kwaai houe onder die harde werklikheid weg het. Moontlik dra hierdie saak daartoe by dat Afrikaanssprekendes oor ’n wyer front kan saamstaan.

Die wyer politiek-korrekte speelveld het ook saamgeval met die herontplooiing en verdere herontplooiing van Beeld se vorige redakteur, Adriaan Basson. Dit sou aanmatigend wees om te dink Maroela Media se nuuskommentaar sou hiertoe bygedra het, maar dit is ook so dat die nuuskommentaar se oopvlekking van die Seunse Weenkoor tot ’n lesersweerstandigheid bygedra het.

’n Emosionele kwessie soos plaasaanvalle is gereeld onder bespreking geneem, en strykdeur is pogings om plaasaanvalle en plaasmoorde as nie besonderse uitskieters af te maak nie, met navorsing uit die poel geblaas.

 

Min ander instansies se nuuskommentare bestryk so ’n wye veld soos dié van Maroela Media. Dit kan wissel van deelname aan die Zuma-bashing wanneer pres. Jacob Zuma al weer sy voet (eintlik sy mond) daarin gesit het. So vlak voor die verkiesing van Woensdag daal hy so laag om aan Vrystaatse boere te sê hulle sal bygestaan word as hulle vir die ANC stem. Foei!

Maar waar, anders as Maroela Media, sou lesers in ’n nuuskommentaar kon lees hoe kragte in die aardkors sekere groot aardbewings tot gevolg gehad het?

’n Mens sou graag wou glo dat die groter mate van fatsoenlikheid wat in Maroela Media en ander media se kommentaarkolomme vir lesers aangetref word, te make het met die verligting van die frustrasie wat sensuur weens politieke inkorrektheid afgeneem het, en dat die media se strenger beheer oor wat geplaas word, nie die hoofoorsaak is nie.

Was die nuuskommentare die afgelope aantal jare informatief, het dit duidelike horisonne geskep waarvolgens gebeure in Suid-Afrika en elders vertolk kon word (met ander woorde het dit konteks verskaf) en is Afrikaans doeltreffend en prikkelend genoeg ingespan om die produk daar te stel? Het dit genoegsame geleenthede vir debat geskep?

Hierdie nuuskommentaarskrywer het sy bes gedoen om week in, week uit, ’n prikkelende, goed nagevorste nuuskommentaar daar te stel. Soms was daar tegnologiese uitdagings, soos dat die internet in die skrywer se kantoor in Bloemfontein kapot was en by geleentheid selfs met die geheuestokkie in die hand by bure aangeklop moes word om dit te versend. Soms moes die bystandstelsel deug. Soms was die probleem in Pretoria. By geleentheid is die nuusskrywer met kanker gediagnoseer, wat beteken het die nuuskommentare is in die hospitaal met die hand geskryf, en vroulief het dit soggens vroeg kom haal, getik en na Maroela versend. Sedertdien proeflees vroulief dit ook voor dit met die kuberruim langs Pretoria toe reis.

Dit is ironies dat juis op Maroela Media se vyfde verjaardag daar geen nuuskommentaar kon wees nie, toe die uwe ’n beenmurgbiopsie moes ondergaan, en in die hospitaal ontdek is daar moes die betrokke nag ’n dringende bloedoortapping gedoen word. Vir my was lesers se beste wense en gebede die afgelope jaar in hierdie kankerstryd goud werd, en weer eens baie dankie daarvoor.

Sonder lesers en hul deelname is nuuskommentare slegs argiefmateriaal. Lesersdeelname is soos die spoelklippe wat ander glad afwerk. Mag Maroela Media nog baie lank van krag tot krag gaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bruno Stef

Herman wat kan n mens se ? Baie dankie vir jou onbaatsigtige toetrede om Maroela n kuierplek te maak na jare se eensydige propaganda wat deur mense in eie geledere” Weense Seunskoor” in ons kele afgeforseer was.Mag ons in die toekoms tenspyte van jou persoonlike stryd met jou siekte nog vir baie jare jou insette kan waardeer. Dit is n “Eye Opener” wat ons voortbestaan kinders/kleinkinders en familie na aan die hart le.

Kaufman

Herman, baie dankie vir jou nuus kommentaar en dit het beslis ‘n groot invloed op my gehad tot sover. Ek vertel vir my kollegas en vriende van my insigte wat ek by jou leer, wie op hul beurt indirek deur jou wysheid leer. Ek sien altyd uit om jou skrywe te lees. Baie sterkte met die herstel.

Jan Jooste

Maroela Media moet van krag tot krag gaan, en dit is sekerlik baie lesers se bede vir jou ook Herman. Die feit dat jy nog kommentaar lewer, terwyl Basson, Croukamp en Maxie stil word – vertel die verhaal! Baie geluk.

Theuns

Herman ek bid jy word baie jare vir ons gespaar want jy het so deel van ons lewe geword met jou kommentaar op Maroela dat dit moeilik sal wees as jy die dag nie meer daar is nie. Jy het die vermoe om met insig en wysheid, kalm en weldeurdag jou mening te gee oor ‘n wye veskeidenheid van sake of gebeure! En om jou vraag te beantwoord het Maroela ‘n groot verskil gemaak aan die kommentaar en nuus berig -gewing? Ja hulle het omdat hulle inteligente mense het wat vir hulle werk. En Maroela het aan ons gewone ouens… Lees meer »

janneman

Herman, ongeag of mens nou oor n standpunt saamstem of verskil, die volwassenheid van kommentators op Nuuskommentaar asook die huldiging van ander sienings maak Nuuskommentaar voorwaar n platform waar die waarheid ook werklik openbaar en vergelyk kan word met al die disinformasie wat so versprei word deur “polities korrekte” publikasies. Sommige artikels was werklik insiggewend en ek het beslis waarde daaruit geput.Dankie aan jou rubriek, maar ook aan elkeen wat meedoen aan die besprekings.