Nuuskommentaar: Het Nuuskommentaar afgelope vyf jaar verskil gemaak?

nuuskommentaarMaroela Media het pas sy vyfde verjaardag gevier. Het die nuuskommentare oor hierdie tydperk daartoe bygedra om die politieke speelveld te verbreed, en om die versmorende skanse van politieke korrektheid terug te druk? Dit is iets wat net die lesers kan beantwoord.

Maroela Media het pas sy vyfde verjaardag gevier, kort nadat hy sy miljoenste unieke maandelikse besoeker bereik het. Dat Maroela Media ’n enorme impak op die nuustoneel en in die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel het is ongetwyfeld waar. Maar wat is die bydrae wat die nuuskommentaar gespeel het?

Eerder as om ’n jakkals te wees wat sy eie stert prys, word aan die hand van ’n “wenslys” gekyk na wat ideaal probeer bereik word, en die vraag oor sukses al dan nie aan die lesers oorgelaat.

Die eerste drie sake is ten nouste vervleg. Dit sou wees om terrein oop te ploeg wat voorheen as te politiek inkorrek beskou is om deel van die openbare debat te wees. Die tweede wat hiermee verband hou, is om die stremmende en dominante effek van wat later as die Seunse Weenkoor bekend geword het genoegsaam onder druk te plaas dat ook ander idees op ’n fatsoenlike en positiewe wyse onder die vergrootglas geplaas kan word.

Die derde, samehangende idee is om die boeie waarmee Afrikaans om nie net sy voortbestaan nie, maar sy minderheidsregte moes veg, los te maak sodat daar doeltreffender geveg kan word – selfs deur die howe, maar dat dit steeds deel bly van die fatsoenlike gevegsfront.

Dat daar keerpunte was (en die nuuskommentaarskrywer maak nie daarop aanspraak dat die nuuskommentare noodwendig ’n rol gespeel het nie) blyk byvoorbeeld uit dr. Piet Croukamp se klagte in ’n artikel dat “die regses” die Grondwet self gebruik om die liberale pilare daarvan te sloop. Die antwoord is gewoon dat daar ’n groter bewuswording gekom het dat die Grondwet ook verskeie bepalings bevat wat nie tipies (links) liberaal is nie. Sedertdien het dit al tot verskeie suksesse in hofsake aanleiding gegee veral in die stryd om die behoud van Afrikaans by sekere universiteite. Die ergste geweeklaag uit die geledere van die Seunse Weenkoor kon dit nie tot die sfeer van onfatsoenlikheid verban kry nie.

Wat natuurlik nie beteken daar moet met modderpote en al in ’n saak ingespring word nie.

Die rimpeleffek van die Solidariteit-DKD-saak gaan eers oor ’n tyd behoorlik evalueer kan word, maar dit is ook duidelik dat dit wat bruin intellektuele (wat hulself swart noem) as die heersende gangbare benadering gestel het, kwaai houe onder die harde werklikheid weg het. Moontlik dra hierdie saak daartoe by dat Afrikaanssprekendes oor ’n wyer front kan saamstaan.

Die wyer politiek-korrekte speelveld het ook saamgeval met die herontplooiing en verdere herontplooiing van Beeld se vorige redakteur, Adriaan Basson. Dit sou aanmatigend wees om te dink Maroela Media se nuuskommentaar sou hiertoe bygedra het, maar dit is ook so dat die nuuskommentaar se oopvlekking van die Seunse Weenkoor tot ’n lesersweerstandigheid bygedra het.

’n Emosionele kwessie soos plaasaanvalle is gereeld onder bespreking geneem, en strykdeur is pogings om plaasaanvalle en plaasmoorde as nie besonderse uitskieters af te maak nie, met navorsing uit die poel geblaas.

 

Min ander instansies se nuuskommentare bestryk so ’n wye veld soos dié van Maroela Media. Dit kan wissel van deelname aan die Zuma-bashing wanneer pres. Jacob Zuma al weer sy voet (eintlik sy mond) daarin gesit het. So vlak voor die verkiesing van Woensdag daal hy so laag om aan Vrystaatse boere te sê hulle sal bygestaan word as hulle vir die ANC stem. Foei!

Maar waar, anders as Maroela Media, sou lesers in ’n nuuskommentaar kon lees hoe kragte in die aardkors sekere groot aardbewings tot gevolg gehad het?

’n Mens sou graag wou glo dat die groter mate van fatsoenlikheid wat in Maroela Media en ander media se kommentaarkolomme vir lesers aangetref word, te make het met die verligting van die frustrasie wat sensuur weens politieke inkorrektheid afgeneem het, en dat die media se strenger beheer oor wat geplaas word, nie die hoofoorsaak is nie.

Was die nuuskommentare die afgelope aantal jare informatief, het dit duidelike horisonne geskep waarvolgens gebeure in Suid-Afrika en elders vertolk kon word (met ander woorde het dit konteks verskaf) en is Afrikaans doeltreffend en prikkelend genoeg ingespan om die produk daar te stel? Het dit genoegsame geleenthede vir debat geskep?

Hierdie nuuskommentaarskrywer het sy bes gedoen om week in, week uit, ’n prikkelende, goed nagevorste nuuskommentaar daar te stel. Soms was daar tegnologiese uitdagings, soos dat die internet in die skrywer se kantoor in Bloemfontein kapot was en by geleentheid selfs met die geheuestokkie in die hand by bure aangeklop moes word om dit te versend. Soms moes die bystandstelsel deug. Soms was die probleem in Pretoria. By geleentheid is die nuusskrywer met kanker gediagnoseer, wat beteken het die nuuskommentare is in die hospitaal met die hand geskryf, en vroulief het dit soggens vroeg kom haal, getik en na Maroela versend. Sedertdien proeflees vroulief dit ook voor dit met die kuberruim langs Pretoria toe reis.

Dit is ironies dat juis op Maroela Media se vyfde verjaardag daar geen nuuskommentaar kon wees nie, toe die uwe ’n beenmurgbiopsie moes ondergaan, en in die hospitaal ontdek is daar moes die betrokke nag ’n dringende bloedoortapping gedoen word. Vir my was lesers se beste wense en gebede die afgelope jaar in hierdie kankerstryd goud werd, en weer eens baie dankie daarvoor.

Sonder lesers en hul deelname is nuuskommentare slegs argiefmateriaal. Lesersdeelname is soos die spoelklippe wat ander glad afwerk. Mag Maroela Media nog baie lank van krag tot krag gaan.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Bruno Stef ·

Herman wat kan n mens se ? Baie dankie vir jou onbaatsigtige toetrede om Maroela n kuierplek te maak na jare se eensydige propaganda wat deur mense in eie geledere” Weense Seunskoor” in ons kele afgeforseer was.Mag ons in die toekoms tenspyte van jou persoonlike stryd met jou siekte nog vir baie jare jou insette kan waardeer. Dit is n “Eye Opener” wat ons voortbestaan kinders/kleinkinders en familie na aan die hart le.

Kaufman ·

Herman, baie dankie vir jou nuus kommentaar en dit het beslis ‘n groot invloed op my gehad tot sover. Ek vertel vir my kollegas en vriende van my insigte wat ek by jou leer, wie op hul beurt indirek deur jou wysheid leer. Ek sien altyd uit om jou skrywe te lees. Baie sterkte met die herstel.

Jan Jooste ·

Maroela Media moet van krag tot krag gaan, en dit is sekerlik baie lesers se bede vir jou ook Herman. Die feit dat jy nog kommentaar lewer, terwyl Basson, Croukamp en Maxie stil word – vertel die verhaal! Baie geluk.

Theuns ·

Herman ek bid jy word baie jare vir ons gespaar want jy het so deel van ons lewe geword met jou kommentaar op Maroela dat dit moeilik sal wees as jy die dag nie meer daar is nie. Jy het die vermoe om met insig en wysheid, kalm en weldeurdag jou mening te gee oor ‘n wye veskeidenheid van sake of gebeure! En om jou vraag te beantwoord het Maroela ‘n groot verskil gemaak aan die kommentaar en nuus berig -gewing? Ja hulle het omdat hulle inteligente mense het wat vir hulle werk. En Maroela het aan ons gewone ouens ‘n platform gegee, wat nie voorheen bestaan het nie, om ons mening te lug! Iets waarvoor ons baie dankbaar is! Maar kritiek het ek ook! Van die joernaliste en kommentators het nie altyd n goeie begrip van wat alles oor die afgelope 100 jaar gebeur het nie en die rede daarvoor is tweeledig en dit is natuurlik dat hulle nie ‘n 100 jaar oud is nie en dat hulle eintlik nog baie jonk is. Dan is daar die feit dat die meeste nie geskiedenis as n vak op skool gehad het nie. Die geskiedenis herhaal homself en die selfde foute word oor en oor gemaak sonder dat die “Maker” daarvan bewus word dat ons alreeds daar was. Groete vir jou en jou familie!

Wern ·

Ja Herman het wysheid, insig, deurdink dinge eers ordentlik. Neem die groter prentjie in ag anders as politieke kommentators op meeste ander media wat so bietjie vergeet om als in ag te neem.

janneman ·

Herman, ongeag of mens nou oor n standpunt saamstem of verskil, die volwassenheid van kommentators op Nuuskommentaar asook die huldiging van ander sienings maak Nuuskommentaar voorwaar n platform waar die waarheid ook werklik openbaar en vergelyk kan word met al die disinformasie wat so versprei word deur “polities korrekte” publikasies. Sommige artikels was werklik insiggewend en ek het beslis waarde daaruit geput.Dankie aan jou rubriek, maar ook aan elkeen wat meedoen aan die besprekings.

John ·

Die baie dankies aan net sekere politieke kommentators stem mens angstig, omdat dit baie ooreenkom met bestaande politieke partye se werkswyses en soos die’ van ons ‘geliefde’ SABC (waar net oppervlakkige herstel plaasvind). Om die sienswyses van sekere kommentators te bevraagteken is ook by Maroela taboe. Om die president se kwalifikasies lagwekkend te vind, is aanvaarbaar vir Maroela (swak smaak, want ons weet tog grade bring nie wysheid nie), maar om die eensydige verklarings van geliefde en oorbenutte kommentaar van ander ooms aan te vat, is onaanvaarbaar. Wanneer Afrikaners hul eie mense in ‘n blik wil druk om eenheid te wil afdwing, is ons op die verkeerde pad. Dit is duidelik dat sekere Afrikaners op landbou en sosiale/politieke gebied genetiese modifisering predik ter redding van volk en taal. Dis die pad van selfvernietiging van beide. Selfs Carl Jung, die psigoloog, het hierdie selfvernietging van witmense in Afrika voorspel. Solidariteit soek fondse wat die unie se voortbestaan waarborg. Om soos ander politieke partye die vrees van blankes te misbruik om uiteindelik die wit ras uit te faseer ter bevordering van die New Age-idee (via handevat-modules by Akademia en.. en), is slu en/of dom. Maroela probeer sy lesers se koppe skuif na enersdenkendheid, ‘n pad wat die afgrond net vanuit ‘n ander hoek benader. Daar is nog baie Afrikaners… wereldwyd. Moenie hul intelligensie, lewenskragtigheid en geloof in die Hemelvader onderskat nie. Moenie selfvoldaan raak nie, die ANC het en kyk hoe skarrel dit nou…

Wern ·

Iemand moes leiding neem, inisiatief betoon om iets aan die agteruitgaande land te doen, en ek sê dankie vir Afriforum daarvoor. Wat het jy gedoen om die land n beter plek te probeer maak John?

Vrees van blankes “uitbuit”, ek verstaan nie John, die leiers van die regerende party en die opkomende EFF dreig al lank, en ons kan mos sien wat het met blankes in so baie ander Afrika lande gebeur, sou jy sê die vrees is ongegrond?

Theresa ·

Deel van die vryheid -om die president wat nie ordentlik gekwalifiseer is om die uiteenlopende probleme van ‘n verskeidenheid mense in een land te kan uitsorteer nie – te kritiseer. Hy sorg nie vir almal wat wettig hier woon se veiligheid en baie ander dinge van belang nie.

Twakkie ·

Baie dankie Herman Toerien, Maroela Media, AfriForum. Sonder julle het regdenkende mense nêrens om menings te deel nie. Ek sê sonder skroom regdenkend, want dit bly vir my onverstaanbaar hoekom enigiemand sy eie mense vir alles wat sleg is kan uitkryt. Ek is byna 70 jaar oud, was nog altyd intelligent en oopkop volgens vriende en kollegas, het alles geleef wat nou deur propaganda verdraai word en kan net sê ek het steeds die allergrootste respek vir my mense. Sterkte met jou persoonlike gesondheidsuitdagings, Herman.

Theuns ·

Mooi gese WERN. Twakkie ek se ook so!Bly om te sien daar is nog van die ouer garde op Maroela. Ons moet maar pasop netnou dink die jonges ons wil Maroel kaap! Lekker dag.

Grassie ·

Herman – sonder jou bydraes sal Maroela net ‘n nuusblad wees sonder pitkos. Jy het ‘n besondere gawe om die storie agter die storie op ‘n wyse weer te gee dat selfs ‘n japie soos ek dit in die regte perspektief kan sien. Doet so voort.

Theresa ·

Baie respek vir jou artikels en glo dat jy jou siekte sal oorwin met vaste geloof en vertroue. Dis voorwaar ‘n voorreg om te mag kommentaar op nuusgebeure en ook op die kwalifikasies of die gebrek daaraan van ‘n staatspresident. Dis glad nie swak smaak nie, John, dis feite. EN ‘n skande dat so ‘n persoon aan bewind staan van ‘n land met talle uiteenlopende, ingewikkelde probleme (nie challenges nie – probleme!). Hier moet ‘n hoogs intelligente visionêr en realistiese persoon die voortou kan neem om elke wettige landsburger veilig te laat voel op plaas en dorp; korrupsie net in ongewensde kringe plaasvind; kinders en mense nie gesteel word nie, want diegene wat sulke goed doen, mag nie eers oor die grens kom met voet, kar of vliegtuig nie. So kan ek baie dinge opnoem waarvoor ‘n president bekwaam moet wees. Ons het dit nie. Mag dit verander!

John ·

Theresa, mens moet mooi dink voor jy wens. Jy kry dalk wat jy vra en as jy gelukkig is as president… ‘n Zuma met ‘n doktorsgraad…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.