Nuuskommentaar: Het ons ʼn staatsgreep beleef?

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede van 2016. Foto: Elmond Jiyane / GCIS

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede van 2016. Foto: Elmond Jiyane / GCIS

Namate die tyd verloop sedert die Nene-insident, lyk dit al hoe meer of iemand agter die skerm “Zuma se toutjies trek”, maar ook met genoeg uitskieters wat lyk of Zuma wel nog genoeg speelruimte het om die land oneindige skade te berokken.

“Wie trek Zuma se toutjies?” So lui die opskrif van ’n brief van Armand Cloete van Bloemfontein gister op Maroela Media. Armand is ’n omroeper van Radio Rosestad, en het gister ook ingestaan vir die aanbied van die program Brandpunt op Radio Rosestad waarin hy die aangeleentheid ook onder die loep geneem het.

Hy reageer op berigte dat pres. Jacob Zuma in die jongste verlede “bygestaan” word deur die ANC se integriteitskomitee om die land te regeer, en die name wat genoem word is onder andere Frene Ginwala, Mendi Msimang en Andrew Mlangeni.

Maroela het in die verlede telkemale na die moontlikheid verwys dat die ANC dalk ’n statutêre staatsgreep teen Zuma sou uitvoer. Losweg sou dit kon beteken dat Zuma de facto ’n soort seremoniële president word, en dat die werklike presidensiële take deur iemand anders verrig sou word. Hoewel Cyril Ramaphosa die adjunk-president is, is dit nie so seker hy kry hierdie taak nie, en het dit by tye eerder gelyk of Jeff Radebe, minister in die presidensie, as de facto-premier optree.

Daar was byvoorbeeld die geleentheid toe Zuma weens siekte / uitputting effektief onttrek is. In die omstandighede destyds het dit gelyk na ’n noodplan om ’n sneeustorting van beeldskade wat Zuma aangerig het, te stuit en dinge te “stabiliseer”. Daar is in talle kringe gewonder of Zuma weer in volle beheer sou kom.

Nog ’n groot waterskeidingsoomblik was toe Zuma einde verlede jaar die Nene-debakel aangevang het wat die land honderde miljarde rand se skade berokken het. In byna ’n ommesientjie het Zuma ’n bollemakiesie gemaak en die uitgestote Pravin Gordhan weer minister van finansies gemaak. Daar was talle aanduidings dat Gordhan se terugkeer met ’n baie sterk mandaat geskied het wat Zuma se aandeel tot die land se fiskus en ekonomiese sake bykans tot nul reduseer. Waarnemers meen die ekonomiese deel van die staatsrede, wat die leeueaandeel van die staatsrede uitgemaak het, Gordhan en sy adviseurs se uitsluitlike werk was. Maar die berigte oor Gordhan se posisie is teenstrydig. Aan die een kant het Suid-Afrika versoek dat Gordhan, eerder as Zuma, aan ’n TV-debat in Davos deelneem (wat geweier is), maar aan die ander kant lyk dit of die kommissaris van die Inkomstediens sy agterent ongestraf blink aan sy minister, Gordhan, kan afvee.

Zuma self het die toespraak baie meganies, en volgens sommige berigte, selfs zombie-agtig gelees. Sy hart was klaarblyklik nie daarin nie.

Die konsep van ’n statutêre staatsgreep is nie so seldsaam as wat dit op die oppervlak lyk nie. Weens grondwetlike vereistes in baie lande kan so iets nie werklik openlik geskied nie en vind dit gewoonlik taamlik ongemerk plaas. Voorts is so ’n stap dikwels deur omstandighede genoodsaak en word dit stilswyend as goeie ding aanvaar.

Die onduidelikhede oor of Zuma nou ’n marionet is of nie, is dalk daaraan te wyte dat ’n mens verkeerdelik aanvaar dat die poppemeesters agter die skerm die land in ’n tegnokratiese koers sal stuur, eerder as ʼn populistiese koers. In die praktyk is daar geen waarborg dat die ANC van populisme sal afwyk nie, en in die verlede is getoon dat daar met die uitsonderings van ministers van finansies, bitter min aptyt vir tegnokrasie is. En self die ministers van finansies is beperk deur die afsonderlike bestaan van ministeries vir ekonomiese sake en handel en nywerheid.

Die manier waarop FW de Klerk die leisels by ’n skynbaar onwillige PW Botha ná sy beroerte oorgeneem het, word soms as voorbeeld van ’n statutêre staatsgreep beskryf. Nadat pres. Wladimir Poetin van Rusland sy tweede en laaste termyn as president voltooi het, is hy deur die eerste minister as “instaan-president” opgevolg.

Poetin het die eerste minister geword maar die de facto-regeringshoof geword. Nadat die nuwe president, Dmitri Medvedev, een termyn gedien het, het Poetin weer as president met twee termyne oop voor hom, teruggekeer. Die mag het bloot saam met hom verhuis.

Wat is agter die skerms aan die gang dat dit kort-kort lyk of Zuma van sy magte gestroop word, om net daarna nie net met skynbare onaantasbaarheid die septer te kom swaai nie, maar kort voor lank weer sy voet kniediep daarin te sit?

Is daar ’n wipplankryery aan die gang waar Zuma oor soveel mag beskik dat hy eintlik vrywillig tydelik van sy uitvoerende gesag afstand doen, en wanneer die wind minder stormagtig waai, self besluit wanneer hy die land weer (skadelik) gaan tref?

Of is daar werklik magte in die ANC wat sterker as Zuma is? Ná Zuma se verkragtingsaak (die stortkop-insident) en hy sy vriend Irwin Khosa se dogter in die ander tyd gesit het, het ’n groep van oudstes na berig word Zuma voor stok gekry.

Uit die berigte kon afgelei word dat hierdie skimagtige groep al meer keer in die presidensie, ook van Mbeki, ingegryp het en moontlik só invloedryk is dat hulle die eindfluitjie vir ’n president kan blaas. Maar ná hierdie insident het die groep skynbaar in die lug verdamp, en indien wel, hoeveel het Zuma daarmee te make?

Met die Nene-insident is daar beslis ingegryp, maar presies wat die terme was, en hoe durend hierdie terme is, kan net geraai word. Uit berigte lyk dit of die ANC, minstens dié in die parlement, weer baie duidelik agter Zuma gekonsolideer het.

Is daar dan ’n soort vloeibaarheid waar Zuma se gesagsposisie afhang van die mate waarin teenstrydige kragte (tydelik) die oorhand oor die ander kry? Of is daar ’n riglyn oor welke sake Zuma “toegelaat” word om duidelik die septer te swaai? Of word dit op ’n ad hoc-basis agter die skerms besluit?

Wat ook al die waarheid is, teen dié tyd is dit reeds duidelik dat nog geen pogings tot dusver om te probeer voorkom dat Zuma skadelike onhebbelikhede kwytraak, suksesvol was nie. Dit moet onthou word dat Zuma se bewind nie net sterk op patronaatskap gebou is nie, maar dat hy groot aanhang op veral die KwaZulu-Natalse platteland het. Hy het genoeg spierkrag om tot ’n groot mate sy eie lot binne die ANC te dikteer.

En juis hierin lê die gevaar om as ’n soort suigstokkie met Zuma ooreen te kom om in 2017 die presidentskap neer te lê in ruil daarvoor dat hy ’n derde termyn as ANC-president kry (en dat aanklagte teen hom blywend op die lange baan sal bly). En vanuit hierdie posisie kan Zuma die land nog oneindig baie skade berokken.

In ’n bydrae in Netwerk 24, “SA burgers span hul grondwet in”, belig dr. Leopold Scholtz ’n belangrike instrument wat burgers in die hand het om dié soort nadelige magsvergryp aan bande te lê. Natuurlik is die grondwet vol gebreke, en Scholtz gee dit gebruiklikerwys toe, maar namate die burgers leer wat hul regte is en hoe om dit op te eis, hoe beter lyk die grondwet ook. Die probleem is dat bitter min individue die geldelike vermoë het om die howe in te span. Dit beklemtoon weer die waarde van nog ’n been van die grondwetlike demokrasie, naamlik die teenwoordigheid en doeltreffendheid van burgerlike instellings. Dit maak dit moeilik vir ’n regering om te maak en breek soos hy wil, want doen hy dit gaan instansies soos Freedom Under Law, Outa en die Solidariteit Beweging hof toe.

Trouens, in sekere akademiese kringe is Solidariteit en AfriForum verkwalik oor die “neiging” om oor alles “hof toe te hardloop”. Maar daarsonder sou die regte in die grondwet bloot papiervermorsing gewees het. Die ANC-regering, met of sonder Zuma, se ore moet soms nadat alle ander pogings misluk het, bitter hard getrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

alida ·

Briljante artikel Herman !!! Ou Zuma moet maar sy trots in sy sak steek en op ‘n waardige wyse heeltemal uit die politiek tree. Een vrot aartappel in ‘n sak benadeel die hele sak. Indien hy toegelaat word om aan te bly gaan hy vir ons nog baie meer skade berokken. Om die skade wat hy reeds aangerig het te herstel is nie een dag se werk nie.

Eugene ·

Baie goeie artikel….
Laat mens dink [en wonder].

Ek byvoorbeeld kan nie anders as om in my binneste die woorde oor-en-oor af te speel:
“Money makes the world(-s) go round and round.”

En wat sal dan nou “makliker” wees as om dan juis ‘n tipe van politiese pion aan te (laat) stel ten einde die geld-wolf te voer vir selfverryking en eie gewin nie?
Goeie genaaaaade….wette kan omskryf en herskryf en aangepas word – en ek word ryklik bevoordeel en vergoed….tesame met ‘n koevertjie onder die tafel vir al die moeite om my wense desvolgens te vervul.

Eina.
En dog ook alte lekker.

Loeis ·

Ons moet onthou dat die ANC met sy groot meerderheid in die parlement die president kies. Dit is dus die ANC wie Zuma gekies het. Wanneer Zuma moet uittree, is dit steeds dieselfde ANC wie die opvolger gaan kies.

Mens moet oppas om te dink probleme gaan saam met Zuma by die venster uitwaai. Ook, mense wie Zuma opponeer doen dit nie vir die grootter goed nie, maar omdat hulle self posisie wil wen.

Kyk na die grootter probleem asseblief. Zuma is maar ‘n simptoom daarvan.

Nog ‘n gedagte: ons, die mense, stem politici in. Hulle werk teoreties (maar nie noodwendig in die praktyk nie) vir ons, en ons betaal hulle salarisse.

StopTheMadness ·

Dankie vir die goeie artikel Herman. Net iets wat ons in gedagte moet hou; die president het reeds laat blyk dat hy korrupsie verstaan as n westerse konsep. Die feit is dat ons hier te doen het met verskeie konsepte wat almal n westerse oorsprong deel en wat gevolglik nie veel gewig dra in die afrika konteks nie. a) Romeins-Hollandse regstelsel, b) die oppergesag van die reg c) die parlement d) demokrasie en laaste maar nie die minste nie e) die grondwet. Die punt hier is dat hierdie “instellings” slegs gerespekteer sal word solank dit tot voordeel van die regerende party strek. Sou die konstitusionele hof dus uitspraak lewer teen die president, dan is die vraag hoe so n uitspraak afgedwing sal word. Indien die regerende party so n uitspraak verontagsaam, wat hulle reeds in die verlede bewys het hulle kan doen, onstaan n grondwetlike krisis. Die bepalende faktor is dan die lojaliteit van die veiligheidsmagte, staan hulle lojaal teenoor die president en regerende party of teenoor die oppergesag van die reg?

P. Buizer ·

Op finansiële gebied is S.A, afgeskuif te wod na “rommelstatus”. Na wat verlede week en hierdie week in die Parlement gebeur het is die kans baie groot dat die wereld ons land binnekort ook sal afbring na “rommelstatus.” Van ‘n vooruistrewende land wat S.A. was, na ‘n piesang- en grondboontjie Republiek.

alida ·

En dit alles te danke aan ‘n ongeletterde Staatspresident !! Riool status klink vir my beter.

Ronel ·

Ons land het n groot probleem nie Zuma nie maar die ANC as geheel. Zuma is n puppet en sy toutjies moet geknip word. Iewers sal iemand moet ingryp en red wat daar nog te redde is. Ons eens pragtige land is besig om by die dag agteruit te gaan. Ons economie is in sy maai in. Oral waar jy kyk betoog hulle. Ons moet onslae raak van die ANC en hulle corruption. Dan sal SA dalk n kaans staan

HEVW ·

In die lig van die talle staatsgrepe wat in die donker geskiedenis van Afrika plaasgevind het en baie selde tot verbetering gelei het, is dit te betwyfel dat selfs die totale wegneem van die anc positiewe resultate sal lewer. So van toutjies trek gepraat, die internasionalewereld met sy nuwe wereldordegedrewenheid is geen geringe mag en sal sorg dat sake in hul guns verloop sodat SA eksploiteerbaar kan wees. n Baie goeie voorbeeld van n statutere staatsgreep wat op n grootskaalse mislukking geeindig het, is die van wat deur fw en trawante gepleeg is. Daar is nie deeglik genoeg ag gegee dat dit op die oppervlakte kom nie. Ons deel vandag in die wrang vrug daarvan.

Rynhardt ·

Kommentatators van radiostasies en gedrukte media kyk alles lederlik mis en leer niks nie! Ons het n stille staatsgreep beleef met staatsrede met Malema en EFF voor in die koor! In die lyftaal van onderskeie rolspelers is Zuma afgesonder.Die boodskap wat Malema en kie vir Zuma se :”Jy is pres.in naam tot tyd en wyl.Ons sal rewolusie teen wittes lei na beloofde paradys en met jou afreken na die tyd.” Dit word alles gedryf deur die uitgeslape SAKP en Anc wat Malema gebruik.Malema sien homself soos volg:”I’m the general to lead the revolution against whites and make my people free!” Ongelukkig gaan dit n lelike affere afgee vir Malema en kie.Iets wat die liberale kommentators (Leopold Scholtz is een van hulle) nie verstaan nie, die grondwet gaan jou nie beskerm nie! Dom politici van verlede het rewolusioneres op SA en blankes losgelaat! Kom ons kyk, wie van liberale kommentators en ek gaan reg wees.Daar is net een verskil.Ek verstaan die plaaslike en internasionale politiek beter as hul wat in ontkenning leef!

Dirk T ·

Rynhardt.
Jou kommentaar is in die kol. Daar is baie onwettige goed wat daagliks plaasvind wat mense se aandag aflei van die ware toedrag van sake.

Jean ·

Ag komaan mense man natuurlik is zuma net n puppet… Wragtig dit verg nie n vierpyl deskundige om dit te sien nie.. Die man het nie breinkrag nie en selfs die wat vir hom dink is nie veel beter af nie!!!

Die lot is almal net daar om hulself te verryk. So sit n dommie in soos zuma wat baie geld kry om dom te speel wat hy in elk geval natuurlik as n talent gekry het en doen en se sonder vra wat sy bevelvoerders vir hom blaf….

Ek dink al wat te bevraagteken is hoe almal van hul saam soveel dom besluite en segoed kan maak !!!!
Ongelooflik….hehe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.