Nuuskommentaar: Het ons nou ’n Zombie-regering?

Pres. Jacob Zuma spreek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) toe (9 November 2017). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Het Suid-Afrika ’n zombie-regering? Die vraag kan gevra word nadat die Britse rubriekskrywer Owen Jones in The Guardian die regering van Theresa May met ’n zombie-regering vergelyk het. Die “eienskappe van ’n zombie-regering” kry hy uit ’n aantal zombie-flieks, en hy kom tot die gevolgtrekking daar is verskeie ooreenkomste. Maar ’n zombie-regering het ’n gemeenskaplike doel, naamlik om teen die vyand te veg, en hulle staan altyd saam. May se regering sou gelukkig wees om ’n zombie-regering te kon wees, is sy slotsom.

Jones se kritiek op May se regering van onderlinge rugstekery is nie die hoofprobleem nie. Hy meen die party word afgetrek deur die dooie gewig van die nieu-liberale beleid, iets wat volgens hom die sosiale demokrasie verdring het en nou tot ’n rits euwels, soos ’n groot inkomstegaping, gelei het.

Jones se artikel het blitssnel na ander media versprei, ook buite die Engelse wêreld. Iemand neem hom bepaald ernstig op.

Dit sou interessant wees om te sien wat sou gebeur as Jones die ANC met ’n Zombie-regering sou vergelyk.

Milde ooreenkomste is daar wel, want binne die ANC vind ongelooflik baie rugstekery (soms gesofistikeerd) plaas, en soms selfs politieke sluipmoorde.

Op die minste kan gesê word dat Suid-Afrika ’n baster-zombiestaat is. Die meer aanvaarbare woord, hibride, sou teen die agtergrond van die smerigheid en chaos van die bastermodel hopeloos te beskaafd wees. Die bastermodel staan as die zomba-zupta-model bekend.

Ten eerste is dit duidelik dat Zuma ’n meester is om mense se breins “op te eet”. Dit besorg aan hom ’n bykans onaantasbare posisie in die ANC. Gelukkig is nie almal nie, veral nie buite die ANC nie, vatbaar om hul breins verslind te kry nie.

Soos met ’n regte zombie word daar genadeloos op Zuma jag gemaak. Dis egter nie so maklik om die “undead” van die gras af te maak nie, en hy word blindelings deur ’n magdom lakeie beskerm.

Sy “beleid”, uitsprake wat oor die ganse wêreld heen Suid-Afrika se naam bollie gemaak het, en optrede herinner aan dié van ’n breinlose. Vir gewetenloses was dit maklik om ’n staatskaping uit te voer – Zuma kon eenvoudig nie die konsekwensies insien nie.

Die mate waartoe Zuma van die werklikheid verwyder is, het geblyk uit ’n toespraak voor die Nasionale Raad van Provinsies waarin hy kritiek op hom en sy lakeie aan kritiek op die land gelyk gestel het. Hy het sulke kritiek op die land, veral wanneer die land op sy kwesbaarste is, as onpatrioties beskryf. En dan grawe hy die ou koeie van apartheid weer uit die sloot as iets waarteen saamgestaan moet word. Op die koop toe het hy Jacques Pauw se boek met sy gebruiklike gegiggel, en die ydellike gebruik van die Here se naam (in Afrikaans nogal) as lawwigheid probeer afmaak … terwyl einste sy eie staatsveiligheidsagentskap ’n kriminele klag teen Pauw oor die boek by die polisie ingedien het.

Dit komende nogal van ’n president wat feitlik deurlopend sy ampseed in die grond vertrap.

Suid-Afrika gaan waarskynlik in 2023 die Wêreldbeker-rugbytoernooi aanbied. Selfs al hou die Suid-Afrikaanse moordkoers op met styg, beteken dit teen die wet van gemiddeldes dat vyf tot ses van elke 100 000 toeriste wat die toernooi uit die buiteland kom bywoon, vermoor gaan word. Is dit dislojaal om te wonder of dit in Suid-Afrika se belang gaan wees om die toernooi aan te bied? ’n Leser het na aanleiding van gister se nuuskommentaar hieroor, hierdie rubriekskrywer uitgedaag om ná die “negatiewe” artikel nou ook ’n positiewe te skryf.

O ja, dit sou maklik wees – oor die baie toeriste wat die land besoek, die vol stadions waarvan baie andersins na die Wêreldbeker-sokkertoernooi as wit olifante staan wat weer vol benut word, ons land se pragtige natuurskoon, en vele meer.

Dié rubriekskrywer streef egter daarna om objektief die waarheid te skryf, en dit nie kunsmatig positief of negatief te kleur nie. In dié stadium probeer Ierland en Frankryk die toernooi vir hulself beding, met veral Ierland wat op die Suid-Afrikaanse gevare klem lê. Ons kan nou volstruispolitiek speel … of ons kan jag maak op die zombies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Jewel.
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Erick ·

En ons sal aanhou julle Marxistiese praktyke aan die groot klok hang sodat die hele wereld kan sien wat hier aangaan. Baie dankie vir die skrywe.

Eric ·

Alhoewel dit baie nice sal wees om die toernooi in Suid Afrika te sien sal dit meer sin maak om dit na ‘n veiliger land te skuif en dan verder sal dit miskien en net miskien die regering se ogies oopmaak ten opsigte van al die plaasmmorde en diesmeer.
MAAR EK SIEN ONS IS ALMAL LAAT VIR DIE BEKER WANT VOLGENS DIE BERIG HIER BO HET DIT KLAAR GEBEUR IN 2013…HAHA

Eish ·

Née wat, bly liefs aan die objektiewe kant, anders moet die dominee lieg wanneer hy ons begrawe.
Kyk hoe onverskrokke gaan Jaques Pauw en NB uitgewers die dreigemente van vervolging tegemoet. Mooi woorde is nie altyd waar nie en waar woorde is nie altyd mooi nie.

Vermeende ·

Goeie skrywe Herman en hy lees lekker.
Inderdaad kan ons hierdie regering met n zombie regering vergelyk maar my gunsteling is robot regering.
Die ongetoetste program (freedom charter) is in die robot ingevoer en hy is aangeskakel om n taak te verrig maar hy is nou buite beheer, nienand waag dit naby die onvoorspelbare robot om hom af te skakel nie en die robot het nie die vermoee om self diagnose te doen en herstelwerk nie. Hy maak nie n gemors waar hy gaan en vernietig alles waaraan hy raak.

Die buitwereld sal nie druk op SA toepas nie, daarvan kan julle verseker wees.

Alida ·

Dit is ‘n Zombie land want ‘n Zombie regeer hom. Nou will hulle vir arme Pauw toesluit vir wat? Hy het goeie navorsing gedoen en sy feite is korrek. Hy sal nie goed skryf op hoor-sê nie. Hy het net die waarheid oopgevlek maar party mense loop rond met 700+ aanklagtes en lag nog steed oor alles. Jou turf sal ook nog sit Zuma.

Ruan ·

Ek dink as jy kyk na Milton Friedman se toesprake op youtube kan jy sien waar ons land oppad is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.