Nuuskommentaar: Het ons reeds onomkeerbare staatsgreep beleef?

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Het Suid-Afrika reeds ’n onomkeerbare staatsgreep beleef? Die antwoord op hierdie alarmistiese vraag is waarskynlik ’n duidelike “nee”, maar tog is daar ’n aantal aspekte wat, samehangend beoordeel, kommerwekkend is.

Aan die “bekommer-kant” van die skaal is die beskuldigings, en persepsie by ’n groot deel van die publiek, dat klagtes van onder meer bedrog op groot skaal by die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe aanhangig gemaak word, maar niks gebeur as die verdagte hom of haar in die Zuma-kamp bevind nie. Af en toe sal die Zuma-kamp ’n uitgediende of uitgebakte skepsel vir die wolwe gooi – of soos deesdae so graag in die media anglisisties gestel word, onder die bus ingegooi word.

Maar eerlik, hoeveel mense verwag dat daar iets gaan kom van die klag van hoogverraad wat die organisasie, Outa, gister teen minister Faith Muthambi, aanhangig gemaak het?

Is hierdie persepsie waar dat ’n (korrupte) regerende elite onaantasbaar geword het deur eenvoudig sleutelaanstellings in onder meer die Vervolgingsgesag te ontplooi, dan beleef die land iets baie soortgelyk as waar die gewapende magte iemand ongeag volkswil op die troon hou. Selfs diegene betrokke by ’n staatskaping word op die troon gehou. Of dit op ’n staatsgreep neerkom, of ’n statutêre staatsgreep, of staatskaping, is ’n kwessie van nuanses.

Verskeie analiste het al na die implikasies van die posisie soos ons dit beleef (en ongeag die naam wat daarvoor gegee word) geskryf. Dit skep ’n gees van moedeloosheid omdat dit skynbaar ’n groter oortreding is om die spoedgrens bietjie te rek as om die staat van miljarde rande te beroof, want waag dit net om ’n klein oortreding te begaan en jy ry aan die pen.

Soos gebruiklik in sulke situasies staan die helde op en benut die beskikbare speelruimte om sake reg te probeer stel. Vandag trek talle organisasies saam om konferensie te hou met die uitgesproke doel om iemand met integriteit tot volgende ANC-president (en dus waarskynlik staatspresident) verkies te kry.

In die praktyk kom dit daarop neer dat hierdie organisasies, waarin instansies soos die Ahmed Kathrada-stigting, en die beweging Save South Africa ’n leidende rol speel, hulle daarvoor beywer dat pres. Jacob Zuma so gou as moontlik as president afgesit word, of self die aftog blaas.

Algemene frustrasie bou op, onder meer danksy die media, en agter die media, ’n toegewyde groep ondersoekende joernaliste wat byna daagliks nuwe bewyse van die staatskaping aan die groot klok hang. In die proses word die totale bedrag wat van Suid-Afrikaanse belastingbetalers gesteel is, en uiteindelik in die sakke van ’n paar beland het, by die dag groter. ’n Bedrag wat ’n belangrike kantelpunt teweeg gebring het, is in vergelyking met ander bedrae van miljarde rande per slag wat genoem word, eintlik kleingeld. Dit is die R30 miljoen wat glo van die Vrede Suiwelprojek afgeskep is, om glo vir ’n besonder uitspattige troue (met geweldig baie rimpeleffekte) op te dok.

Die bedrag word byvoorbeeld erg oorskadu deur die R600 miljoen wat glo in opdrag van die destydse LUR, en nou minister, Mosebenzi Zwane uit die Vrystaatse provinsiale regering se huisvestingsbegroting aan begunstigdes uitbetaal is, waaronder glo Hlaudi Motsoeneng, om te voorkom dat daar ’n surplus op die begroting wys wat na die staatskas sou terugval. Weinig van die R600 miljoen het enige bedoelde afgehandelde projek opgelewer.

Die wiele van geregtigheid draai selde baie vinnig, maar die publiek begin nou ongemaklik raak oor al die sake wat al aanhangig gemaak is, en waarvan skynbaar niks kom nie.

Die indruk word al hoe meer geskep van ’n groep mense wat kroonwild is en van wie geen haar sal val nie. Die situasie word vererger deur die min of meer dawerende stilte van die Zuma- en Gupta-kant. Dit wat aan die gebeur is, is immers nie iets wat hulle onaangeraak kan laat as daar ’n veronderstelde regsverloop en skuldigbevindings is nie. (Lees gerus Liezel de Lange, besturende redakteur van Rapport, se uitstekende samevattende artikel, “’n Dawerende Gupta-stilte”.

Kan daar iets steek in ’n stelling wat Max du Preez met groot bravade op RSG se program, Kommentaar, gemaak het, naamlik dat Suid-Afrikaners een oggend met die nuus kan wakker word dat Zuma stil-stil die land verlaat het?

Die moedeloosheid met die status quo durf ons nie verlam laat nie.

Optoggangers in Durban, KwaZulu-Natal (7 April 2017). Foto: Twitter

Ter demonstrasie, ’n woord van Max du Preez in ’n rubriek op Netwerk 24 vandag: “Ons gewone burgers, elkeen op sy eie klein manier, moet ons mag terugvat en nie net weer begin droom nie, maar begin dóén. Groot droom en daadwerklik doen.”

Davan Maharaj, redakteur van die Los Angeles Times, het die situasie in Washington DC soos volg beskryf: “Washington is usually in the summer doldrums in mid-July, but these are not normal times. President Trump’s poll numbers hit a historic low in the latest polling. … But what’s really taking the oxygen out of D.C.’s air-conditioned rooms is the continuing drama over Russian interference in the election. As more information about a June 2016 meeting involving Donald Trump Jr. comes out, the president has continued to attack the ‘fake news media’ while top Democrats are now saying the disclosures could be a turning point.”

Deur hier en daar ’n paar woorde te vervang, soos Trump met Zuma, en die beweerde Russiese inmenging met #GuptaLeaks, word ’n redelike goeie beeld gegee van wat in Suid-Afrika aan die gang is.

Miskien bied vandag se konferensie daardie oomblik waarop Suid-Afrikaners ophou om net te droom, maar iets daadwerkliks begin doen.

Die oomblik sal soveel groter wees, as dit terselfdertyd die oomblik is waar diegene wat die land gevange hou, besef die Bastille het geval, die publiek neem eienaarskap van die demokrasie, die howe rugsteun reg en geregtigheid, en dit raak tyd vir die kroonwild om hulle skaars te probeer maak voor hulle by die grense voorgekeer en teruggebring word om die figuurlike guillotine in die gesig te staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Len Hauptfleisch ·

Meeste dilemmas is omkeerbaar . Daar is wereldwyd getuienis daarvan. Dit berus egter op leierskap. Daar moet Vertroue in die leier wees , Hoop op toekomstige voorspoed , Geloof dat die leier sal voorloop om dinge beter te maak vir sy mense en dan daadwerklike Aksie in lyn met n Samebindende Visie. Tans ontbreek hierdie elemente. Verander die leier en wonderwerke kan gebeur !

Hendrik ·

Ek glo nie die verandering in leierskap gaan help nie. Daar is ‘n grrot stryd tussen die ANC, EFF en DA om die merkie van die massastem agter hulle party se naam te kry. Daarvoor sal hulle baie dinge doen vir hierdie stemme wat nie voordelig is vir die minderheidsgroeperings. Ek dink maar nog steeds dat informele kantonstelsels (soos Orania) moet ontwikkel met hul eie ekonomie om weg te kom van die huidge stelsel. Groepering van minderheidsgroepe in hulle eie omgewing is noodsaaklik en ekonomie moet in plek gestel word met ‘n leiersstruktuur. DIt moet orals gebeur in/of om elke dorp en stad ontwikkel en indien die ontwikkeling, soos in Coligny, nie lewensvatbaar is nie moet daardie dorp se minderhede hul self gaan voeg by ander groter ekonomiese eenhede. Dit gaan hier oor oorlewing in die kort termyn en groei vir die toekoms.

Werner ·

Ek is bly as julle dink die antwoord is nee as mens kyk waar die guptas hulle tentakels ingehaad het dink ek die antwoord is ja wat laat mense dink zuma gaan net vêr deny na Desember

Werner ·

Ek is bly as julle dink dit is nee nog nie van Zuma ontslae nie gaan nie so maklik wees om van hom ontslae te raak nie want hy wil nie tronk toe gaan nie

Eish ·

Die vraag is wat kan gedoen word onder die omstandighede waar die politieke meerderheid se wil afgedwing word alhoewel dit alle perke van redelikheid oorskry. Met burgerlike organisasies wat hul telkens vasloop in n muur van verset tot regstelling, n grondwet wat hoofsaaklik dien as versiering, n parlement wat vanweë getalleoorwig hul wil eenvoudig afdwing en verwoestend voorttier van kwaad tot erger, n burokrasie wat weet waar hul brood se botter vandaar kom, misdadigheid wat die burgers gevangenes maak van vrees, losgetorringde etiek en karakter. Wat op aarde aarde kan gedoen word indien alle wettige weë uitgeput is en geen uitkoms laat nie? Lydelike verset soos Gandhi? Wie sal die verteenwoordigende lydende figuur wees? Burgerlike verset op groot skaal? Watter vorm sal dit aanneem ten einde effektief te wees? Hierdie wegholtrein het soveel momentum en die drywer stook die vuur. Ontsporing blyk op die stadium die enigste opsie te wees.

Hendrik ·

‘n Geweldadige oorname of verandering in regering deur militer groep of diktator. Dit het nog nie gebeur nie. Met al die korrupsie orals het ek nog nie die verskil agter gekom nie. Dit gaan maar vrot orals. Wel ek is meer bekommerd as die massas geweldadig raak in elke dorp , soos in Coligny, en die polisie kan nie die geweld keer nie.

humor ·

Aitsa, maar hoor dan vir Max. Onverwagte steun kan dalk n bietjie help om ons van n staatsgreep te red.

Robert ·

Politieke partye moet verban word. Volg ń beleid gedryf deur die hoogste hof in die land wat almal verteenwoordig. Politiek en politieke partye is die hoof oorsaak van die land se probleme wat net kwaad stook. Daar is geen doelgerigte uitdagings om die land se uitdagings aan te spreek nie. Klein party politiek en persoonlike voorkeure is aan die orde van die dag. Dit is tyd vir verandering wat nie gedryf word deur politikuste nie.

MARITA ·

Gisteraand die op KYKNET se nuus ook gesien. Sal wil weet of Solidarteit ook betrokke gaan wees hierby, het nie hulle naam in berig gesien nie, hoop van harte so! Dan kan ons ten minste oor alle kleurgrense weer saamstaan soos met optogte vrooer die jaar in Kaapstad en elders. Laat weet ons asb Maroela se mense

Hanna ·

Ek staan verstom omdat Zuma hierdie land in n staatsgreep vashou en daar niemand is wat hom kan stop nie.
Dieselfde met Zimbabwe. . . waar is die man wat gaan sê ” tot hier en nie verder nie ”
Daar moet n manier wees om hom en sy makkers uit hulle stoele te lig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.