Nuuskommentaar: Het regering of studente mal geword?

Betogende studente by Wits. Foto: Wits/Facebook

Betogende studente by Wits. Foto: Wits/Facebook

Wits, Rhodes, Ikeys en ’n (Engels) lawaaierige faksie by Maties wat die kampusse op horings neem, saakbeskadiging, menseroof en vandalisme pleeg … Die minister van Hoër Onderwys se reaksie is dat dit “geen nasionale krisis” is nie.

Nou ja, vergeleke met die moleste en vandalisme wat gereeld by veral sekere Suid-Afrikaanse kampusse uitbreek en tot langdurige sluitings lei, is die huidige moleste seker nog ’n vulletjie, maar die verskil is dat dit nou gevestigde en selfs prestige-universiteite is wat inval, optredegewys in elk geval. Drie van die universiteite tel op verskeie internasionale indekse onder die wêreld se top-400 en is daarvolgens Suid-Afrika se top-universiteite.

Op ’n interessante manier is studentemoleste sporadies wêreldwyd deel van ’n “studente-tradisie”. Die redes vir die moleste wissel – in diktatoriale lande is dit dikwels pro-demokrasiebetogings soos in Franco se Spanje, of daarna in China. Dit gaan heel dikwels met bloedvergieting gepaard. Die Marxistiese Tupomaro’s van Uruguay het in meester- stedelike terroriste ontwikkel en waarskynlik die demokratisering van die land gerem eerder as aangehelp.

In demokratiese lande word kwessies waaroor moles gemaak word dikwels “ingevoer” soos destyds om teen apartheid in Suid-Afrika beswaar te maak. Soos die hardebaardmanne hier die geringste rede nodig het om ’n vleisie oor die kole te gooi, ’n paar (kaste) bier te knak én met ’n paar biere agter die blad ál die land se probleme op te los, so lyk dit, het sommige studente wêreldwyd min rede nodig om die een of ander moles aan te vang. Al is dit ook net om in die eetsaal van die taai kos met ’n lepel teen die plafon vas te skiet om te demonstreer presies hoe taai die kos is.

Dr. Blade Nzimande moet let daarop dat dit eksamentyd word, en dit is gewoonlik wanneer die studente by die “ander” kampusse begin agterkom wat alles skort. Die bondeldapperheid wat die huidige moleste moontlik maak, kan baie maklik na die kampusse uitbrei wat ’n sterker tradisie van moleste en droogmakery het, maar die tyd sal leer.

So tussenin moedig die rektor van die Noordwes-Universiteit, prof. Dan Kgwadi, studente wat oproerig vergader aan om aan te hou veg, iets wat daartoe gelei het dat die polisie nou ’n klag teen hom ondersoek. Sy gemelde verweer dat hy nie “daardie soort veg” bedoel het nie, word deur die konteks van die gebeure en sy beweerde opmerking dat die polisie die klag nie sal ondersoek nie, erg geërodeer.

Oor die vraag of die aangekondigde verhoogde klasgeld geregverdig was of nie, en dat die “ander kanale” wat volgens die minister gebruik moes gewees het enigsins funksioneel is, sal die tyd oordeel.

’n Dimensie van die jongste gebeure is dat dit die potensiaal het om plek-plek te versmelt met ’n ander brandpunt, naamlik die aanslag teen Afrikaans. Uit beskikbare inligting lyk dit of Open Stellenbosch saam met EFF-meelopers deelneem aan die groep wat ’n administratiewe blok by Maties beset, en die gebou sommer tot die Winnie Mandela Building “herdoop” het.

By ten minste sommige kampusse, soos die voormalige hoofsaaklik Afrikaanse universiteite (HAU’s) en Ikeys is beduidende groepe wat eerstens wil verseker dat hul studie nie vanjaar skade ly nie. Dit is moeilik om te sien hoe hierdie groep hande gevou gaan toesien dat oproerige studente, van wie sowat die helfte in elk geval selfs onder optimale omstandighede waarskynlik gaan druip, hul eie studie in gevaar stel en druk op hul studielenings verhoog. Weens hul velkleur vind baie van die studie-ingestelde sudente dit moeilik om beurse te kry.

Dat die finansieringsmodel van universiteite en studente deur die regering herbesoek kan en behoort te word, is ook so, maar die wantroue dat die huidige regering nie in die proses dalk nog erger gaan droogmaak nie, word elke dag sterker. Boonop trek die ekonomie en fiskus noustrop.

Voorts, terwyl die beleid van transformasie nog geld, sal die persepsie teenwoordig bly dat volgens die aanname gewerk word dat wit mense ryk is en dus vir hoër onderwys moet betaal, en swart mense arm, en dus gratis moet studeer. Die sosio-demografiese werklikheid is egter lank nie meer so simplisties nie.

Kortom, die tentakels om die kwessie in ’n rasding te laat ontaard, is net te sterk teenwoordig om te ignoreer.

Daar moet eenvoudig ’n beter tyd as amperse eksamentyd wees om ernstige knelpunte aan te spreek. Maar dan moet die regte kanale ook oop en werkend wees. Wits se verweer dat die verhoging bo die inflasiekoers was, onder meer weens die rand-dollarwisselkoers en so boekpryse die hoogte ingejaag het, moes nie eers ná die moleste begin het, gehoor gewees het nie.

Die owerhede het nou latte in die hande. Dit hang van die owerhede af of hulle die molesmakers gaan looi en of die latte hul eie agterstewes warm gaan klop. Tree nou eerstens in belang van diegene op wie se erns dit is om te studeer en vanjaar te slaag, en pluis dan die kwelpunte uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Winston ·

Sal maar sien wie se g@t kry slae Herman. Hier kom nou n ding

Chris ·

Ek lees al die berigte oor student wat meer geld soek vir studies.
Het self 3 kinders deur Universiteit di afgelope paar jaar en kon ook nie al die onkostes dek maar die kinders was bereid om los werkies te doen om die ekstra aan te vul wat is fout met die studente dat hulle nie ook probeer om self ‘n plan te maak
Dis mos te lekker om net te wil he en niks self te probeer nie.

Rupert Ashford ·

Nog ‘n groot hartseer is jou verwysing na universiteite wat “onder die top 400 op internasionale indekse is”. Ek onthou ‘n tyd toe 2 SA universiteite (Ikeys en Wits) soms onder die top 100 was met Maties, Tuks en Pukke nie ver agter nie. Ons arme sukkelaars wat in Bloemies geswot het, het maar erg minderwaardig gevoel by tye. Maar hoe het die helde geval ne…

Rooiman ·

1) Nie mal geword nie, is en was nog altyd. Genoeg bewyse in die nuus daarvoor.
2) Die regering en hulle mal stemmers is die enigste nasionale krisis. Alles begin en eindig by hulle.

Theresa ·

Julle reken??!! Almal het mal geword. En hoe vlak moet jy wees om te dink geweld en geplunder kan dinge regmaak. O ja – die kultuur-kaart!!

Annie ·

Die probleem is dat baie van die studente nie by universiteite hoort nie. Duisende slaag nie eers die eerste jaar nie. Daardie geld kan dan gaan na die wat wel wil studeer. So word baie geld gemors.

Boggom ·

En DIS hoekom mens baie geld moet betaal om op universiteit te kan wees, hou die gepeupel uit! Daar is mense wat ernstig oor hulle toekoms is en WIL leer.

Kanniemeernie ·

Dis hoekom mens moet betaal as jy op universiteit wil wees, hou die gepeupel uit. Daar is mense wat ernstig oor hulle toekoms is en graag wil leer..

Skandaalig ·

Om te dink van die klomp leer vir dokters en prokureurs maar hulle kan nie eers ordentelik oor klas gelde gesels nie dis hulle kultuur brand eers alles af en hoop die regeering sal dit weer reg maak brand dit vandag af sodat hulle iets het volgende week om oor te strike dis mos die nuwe SA

Riaan ·

Hulle se mos,die appel val nie ver van die boom nie en so sal dit bly tot die einde van dae.

Gerhard ·

Dis nogal seldsaam om terroriste met mekáár te sien onderhandel.

Mica ·

Dis waar studente kwotas jou inhaal. Die wat geweier word om plek te maak vir die “agtergeblewenes met hulle aangepaste universiteitstoelatings punte” sou heelwaarskynlik met n oop hart hulle verhoging in studente geld aanvaar het. Ek sê weer: Lord of the Flies!

Amanda ·

Hoekom altyd die tyd van die jaar? Gun die wat geleer het die voorreg om hul jaar klaar te maak met lof! Die wat so staak is die wat nie belangstel om te leer nie maar is daar net om te kan se…. Ek is op varsity! Pateties!

Johannes Meintjes ·

‘n Mens ken naderhand sjokeladekoekoes, modderkoekies en koeikoekies uitmekaar. Wat in SA aangaan getuig hoegenaamd en geensins van wet, orde en moraliteit nie.

Leonard van der Dussen ·

Die opstande by die universiteite het nuwe sake en nuwe mengels van sake na vore gebring. ‘n Volgende fase in die nuwe Suid-Afrika.

Die fokus was tot ‘n week of twee gelede nog sterk op die ou politiek, waarvan ons die werking verstaan saam met die verloop van die 20ste eeuse geskiedenis, waar die nuwe Suid-Afrika die swart aspirasies begin waar maak het en die speletjie om die Afrikaner vir alles te blameer en dus regverdiging te hê om sy goed te vat, en in die proses sommer ook die industrie af te pers tot by BEE omdat die industrie mos met die Afrikanerregering saamgespeel en as gevolg van apartheid ryk geword het.

Toe skuif die visiere skielik op Rhodes, die Britse imperialis en Afrikanerhater; maar hy is wit en ryk en sy beeld nagedagtenis moes in oneer gebring en sy beeld verwyder word; en die afgelope twee weke skuif die werkswyse en verloop van sake na ‘n wending waar blanke studente tot op die voorpunt saam met swart studente volgens die swart werkswyse optogte hou, aggressiewe eise stel en met die gereg bots. Dit word ‘n beweging teen die ANC, teen die heersende regering, ‘n opstand van die middelklas teen die oënskynlike onaantasbare ANC, en die laaste paar dae is die beriggewing oor opstand teen Afrikaans en daardie bekende kant van die rewolusie-gewoontes byna in die vergetelheid teenoor hierdie nuwe faktor waar nie ras of swart bewussyn nie, maar brood-en-bottersake die deurslaggewende faktor is.

Afriforum het laat blyk dat hulle met heelwat van die sake saamstem – immers is daar vermorsing en wanbesteding van regeringsgeld, en is daar verryking van individue binne van die tersiêre instellings wat kritiek verdien, Tereg wys die hulle aan die ander kant daarop dat die werkswyse, metode en tydsberekening van die huidige opstande hopeloos onproduktief en beslis verkeerd is.

Een ding staan soos ‘n paal bo water: hier word nuwe geskiedenis geskryf, met nuwe groeperings en krake wat kwesbaarheid van die ANC en vloeibaarheid in die politiek begin vertoon.

Is die Afrikaner gereed om ordelike bestaan te handhaaf te midde van toenemende woelinge? Is ons gemeenskapslewe, kultuur en beginsels duidelik genoeg afgebaken dat ons te midde van toenemende chaos ‘n beskaafde leefwyse kan handhaaf, kinders grootmaak (en laat leer) en die land anderkant die chaos weer opbou?

Disselboom ·

Sterkte aan daardie groot gros studente wat wil studeer, eksamen skryf en aangaan.

Die regering staan skuldig in die eerste plek, maar dit bly moeilik om saam met mense wat baie makliker skree, raas en afbreek as wat hulle ooit iets opbou, te moet studeer. Daardie liberale wittes inkluis wat nou lekker deur die polisie gegryp word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.