Nuuskommentaar: Het Russiese trolle vir Ramaphosa kom help?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die Daily Maverick het onlangs berig ’n Russiese “trolfabriek” het in die Suid-Afrikaanse verkiesing probeer inmeng om pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se saak te bevorder, en die DA en EFF te diskrediteer. Die OVK het dit twee dae later ontken, maar die media oorsee berig steeds hieroor. Suid-Afrikaners verdien om die waarheid te weet.

Die wêreld het nie gaan stilstaan terwyl Suid-Afrika verkiesing gehou het nie, ook nie terwyl op die finale uitslae gewag is en al wat kenner en “kenner” dit gewaag het om ’n vooruitbetragting te doen nie.

Om uit hierdie verkiesingsweb te ontsnap kon ontleders inderdaad uit die VSA alleen verskeie sake aanroer, soos die Amerikaans-Chinese handelsoorlog wat nog nie lekker wil koers kry nie. Dan is daar die kwessie van rasidentifikasie wat by die Amerikaanse profiel vir misdadigers aangebring word, bekend as CalGang, en voorspelbaar nie oral ewe goed afgaan nie.

In Europa laai die Brexit-spanning steeds op terwyl die Europeërs eersdaags self stembusse toe opruk vir verkiesings vir die Europese parlement. Dit dien terselfdertyd vir die Britte as ’n preferendum, waaruit Britse voorkeure oor verskeie sake, waaronder Brexit, afgelei kan word. Ná die vernietigende slae wat die Tories en Arbeiders met die pas afgehandelde munisipale verkiesings gely het (en Brexit die skuld vir die Tories se kleitrappery gekry het) sal dié twee partye nie nou met ’n referendum oor Brexit wil waag nie.

Genoeg nuusmateriaal om die Queen Mary mee tot sink te bring.

Maar die aandag bly terugbeweeg na iets wat al as “case closed” genoem is. Toe nou nie, en kan nog “bykans vir seker” na die howe koers kry. Die saak wat steeds gery word, is die verslag oor beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing van 2016, waartydens Donald Trump ook die president geword het.

Nou hoekom sal ’n Suid-Afrikaanse nuuskommentaarskrywer hierdie onderwerp weer aanraak bo die ander vernaamste kwessies, waarvan minstens een, die Amerikaans-Chinese handelsoorlog, ook ’n sterk invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie het?

Dit is oor ook hier te lande ’n nuusitem die ronde begin doen het oor Russiese inmenging in die pas afgehandelde verkiesing. Dié keer sou die Russe ingemeng het om te probeer verseker dat die ANC steeds ná die verkiesing aan bewind sal wees, en om spesifiek in belang van pres. Cyril Ramaphosa op te tree.

Maroela Media het reeds ’n paar keer na die betrokkenheid van die Russiese propagandadiens verwys, wat in die stad St. Petersburg gesetel is. Lees gerus hier.

Hierdie diens word intussen die Trol-fabriek genoem. Die man agter die organisasie is Yevgeny Prigozhin, wat glo noue bande het met pres. Wladimir Poetin van Rusland. Hy is intussen onderhewig aan sanksies van die VSA weens sy rol in die “aanlyn trolfabriek” wat Trump met die 2016-verkiesing aan bewind moes help.

Insiggewend meen baie van die bronne dat Ramaphosa nie eens bewus was van hierdie poging om hom te help, asook opposisiepartye, veral die DA, te ondermyn nie.

Uit die nuus oor die beweerde aksie (eintlik net ’n deel van ’n strategie wat oor die hele Afrika-kontinent gevoer word) is dit nie eens duidelik of Ramaphosa daarvan bewus was nie.

Hierdie storie kon baie maklik as ongeloofwaardig van die tafel afgevee gewees het, was dit nie dat dit deur die Daily Maverick aan die lig gebring is, en dat dit darem baie met die Trump-variasie ooreenkom nie. Die Daily Maverick het byvoorbeeld vir belangrike deurbrake in die staatskaping-sage gesorg, en sy goeie naam is wesenlik bo verdenking.

Die Daily Maverick het ’n week gelede onder meer soos volg oor die saak berig: “Using an NGO called the Association for Free Research and International Co-operation (Afric) and working with political technologist Peter Bychkov, who works for Yevgeny Prigozhin, a businessman known as “Putin’s chef”, a plan was hatched to create a disinformation campaign that favoured the ANC and put out propaganda against the opposition DA and EFF for the 2019 election.”

Twee dae later het die OVK bewerings oor Russiese inmenging in die verkiesing van die tafel gevee.

As die Daily Maverick en die OVK se geloofwaardigheid teen mekaar opgeweeg word, is daar geen twyfel wie gaan eerste en wie loshande laaste kom nie.

Tot tyd en wyl ’n gesoute ondersoekende joernalis die storie behoorlik ontrafel het, sal dit wys wees om nie te veel waarde aan hierdie kwessie te skenk nie. In dié stadium is dit minstens net billik dat Suid-Afrikaanse burgers bewus is van die bewerings omdat dit reeds die media oorsee gehaal het, en skynbaar vir soetkoek opgevreet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

RHG ·

Klink soos destyds se Rooigevaar! Ag asseblief! Ek lag lekker. ?

Realis ·

…en hier vlieg die sameswerings teorieë weer die hele wêreld vol. Die mensdom (veral in Suid Afrika) is heeltemal in staat om hul eie ondergang te bewerkstellig. Geen buitehulp is nodig nie. Ons het nie Rusland of Soros of wie ook al nodig nie. Diesuklkes sit op die kantlyn en wag sodat hulle kan inkom en kom aas sodra ons orde vernietig het. Hulle veroorsaak nie die chaos nie, hulle trek wins daaruit.

Johan ·

Ek sou hierdie bewerings nie sommer af maak as onsin nie. Self woon ek in Nederland en vandaag was dit in die nuus dat ‘n Amsterdamse weekblad ontdek het dat die Russiese Internet Research Agency (waarna verwys word as ‘n Russiese Trolfabriek) ongeveer 65 000 tweets verstuur het in die eerste paar ure nadat vlug MH17 neer geskiet is en waartydens honderde mense gesterf het. Die doel van die tweets was om Oekraine die skuld hier van te gee. As hierdie Russiese trolle ook in die Amerikaanse presidents verkiesing ingemeng het, waarom sal dit dan so onmoontlik wees om te glo dat hulle nie ook in Suid-Afrika se verkiesing sal inmeng nie. Die Russe het eenvoudig belange in SA en hulle wil graag die ANC aan bewind sien. Het ons nie byvoorbeeld ons kernrraktors by die Russe gekoop noe ? Wat van wapentuig ens ens ?

John ·

…. woon in Nederland… en Nederland is deel van die EU… en Duitsland oorheers die EU…. en Duitsland haat Rusland omdat Hitler geplettervat is…. en die Ukraìne wil so graag deel wees van die EU en Navo sit sak-en-pak in die Ukraine. Op wie se grondgebied het ‘n atoomkragstasie optplof? In die Ukraine. Baie bekwaam die spul… wat ook die grootste Nazi-kampe in die 2eWO opgerig het,… Baie eties die spul…

Tanya ·

Ja net vuil spel het jy in gekom anders sou jy nooit in gekom het nie

Ore ·

Ek kan dit maklik glo.ANC is nog in die skuld by die Russe,Zuma het belowe en nie sy beloftes nagekom nie.Putin is genadelaas en sal nou sy pond vleis opeis.Hou maar dop,die pers is beter as die Valke met die tipe dinge

PJC ·

Natuurlik wil die Russe hê die ANC moet aan bewind bly want hulle hoop nog steeds dat hul op een of ander manier ń ooreenkoms oor kerkragsentrales kan beklink. Dit is baie duidelik dat daar nog JZ ondersteuners in die ANC is wat ook met dieselfde idee sit so ek dink nie hierdie bewerings is so vergesog nie.

Jerry ·

Daar bestaan klagtes en bewyse van ongeruimdhede teen die OVK en sou die OVK en die ANC/EFF niks gehad het om weg te steek nie, sou hulle sommer self aangedring het op n onafhanklike oudit ten einde vir eens en vir altyd te wys dat hulle integriteit bo verdenking staan. Solank as die oudit nie gedoen word nie, vir solank sal die wurms in die blik bly! Die feit dat opposisie partye nie aangehou het om aan te dring op n onafhanklike oudit nie dui op een of ander ooreenkoms wat tussen die OVK en partye bereik is en of dit terwille of tenkoste van SA is, dit sal ons nou ook nie kan se nie, want ons weet nie! Hierdie verkiesing het beklemtoon van hoe magteloos die opposisie partye eintlik is, nie net in getalle, maar ook in wetgewing ens!

Sinies ·

Die buiteland meng al vir meer as honderd jaar, aktief in.
Die enigste verandering is hulle, die state wat tradisioneel inmeng, het nou kompetisie.
.
Niks goed of besonder sleg hieraan nie, elkeen dien net sy eie belang.

Die gevestigde media word by die dag meer deur die gewone man op straat gewantrou, met reg.

gatiep ·

China het al die land amper oorgevat en julle is bang vir Russe.
Russe kan maar gerus die land oorneem dit sal my die minste skeel.

KrokodilBotha ·

Glad nie verbaas nie. Die kommuniste doen dit in elke vrye Kapitalistiese , ou oos blok lande. Dis hulle aner oorlog. WHO RULES THE MEDIA < RULES THE MIND

Daan ·

Nee, dis nie die Russe nie , dis die mense wat meer as een een keer gestem het.

Johan ·

Hierdie bewerings skok my nie. Ek sê al jare lank Engeland se kloue is al die dekades nogsteeds diep in ons land en so ook die Russe na ’94. Hulle weet hoe om ons regeerders soos kitare te speel tot hulle eie voordeel. Nou het China ook nog sy oog op ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.