Nuuskommentaar: Het Suid-Afrika ’n towerdoepa vir al sy probleme?

Foto: Flicker/GovernmentZA

Foto: Flicker/GovernmentZA

“Wanneer ’n land in skuld verstrengel raak, is daar twee maniere waarop baie leiers meen ’n panacae (die towerdoepa wat alle probleme oplos) gevind kan word. Die een is inflasie van die geldeenheid, en die ander is oorlog. Albei bring tydelike vooruitgang, albei veroorsaak permanente ruïnering.” So altans, was die mening van Ernest Hemingway.

Die bekende Amerikaanse kommentator Patrick J Buchanan skryf in ’n meningstuk oor die grootste bedreigings waardeur die Weste in 2016 in die gesig gestaar word. Hy skryf dit teen die agtergrond dat die VSA se nasionale skuld teen die einde van sy huidige boekjaar, wat 30 September ten einde loop, $19,3 Amerikaanse triljoen (ons biljoen) sal beloop.

Hoewel ’n mens nie noodwendig met al Buchanan se uitgangspunte en gevolgtrekkings hoef saam te stem nie, is dit tog interessant om op sommiges te let.

Oor die oorlog-“oplossing” wys hy byvoorbeeld daarop dat hoewel dit belangrik is om militêr sterk te wees, is die enigste manier om so ’n faktor te wees om nié by die “groot oorlog” ingesuig te word nie.

Nog ’n faktor is dat as die Weste ’n premie op sy eie beskawing as “die grootste” plaas, moet dit waak teen “derdewêreldkanisering.”

Dit is rondom hierdie punt wat Buchanan sy artikel bou. Hy trek dit deur na die vlugtelingprobleem wat Europa beleef, die oneweredige aanwas, dat in die VSA 1% van die bevolking 38% van die belasting bydra, en die helfte net 3% belasting betaal.

“En dit kan nie vir altyd voortduur nie.”

Hy wys ook daarop dat die opkoms van Donald Trump in die VSA en populistiese partye in Europa ’n gevolg van hierdie verskynsel is.

Maroela Media het ook reeds in verskeie nuuskommentare gewys op hoe minderhede in die VSA op kampusse ’n kritieke drempel in getalle bereik, en dan weerstand teen die gewone Amerikaanse kultuur begin bied wat vir hulle vreemd is (en onder meer aan hoër druipsyfers gekoppel word). Daar is ’n verskerpte weerstand teen enige simboliek van die ou Suidelike konfederasie, selfs ’n gevoel dat restitusie nodig is wat tot die slawetydperk teruggevoer word, en ’n benadeelde identifikasie (wat op ras geskoei is en nou as fatsoenlike vorm van nie-rassigheid verkwansel word).

En dat dit ook na Suid-Afrika oorspoel waar dit met die leerstellings van Fanon versmelt, soos deur Steve Biko en ander na Suid-Afrika gebring en daarom “fatsoenlik” is, al word geboue op kampusse tot as verteer.

En tot onewehandigheid met die beoordeling van ras-insidente lei.

As na die strekking van skrywers oor die verskillende vorme van Afrikaner-selfbeskikking gekyk word, en veral die reaksies van lesers daarop, kom daar ’n baie sterk boodskap van die versugting om die handhawing van standaarde na vore. Of dan in Buchanan  se bewoording, die weghou van “derdewêreldkanisering.” Daar is ’n duidelike strewe na owerheidsdienste wat goed moet werk, waar die herstel van slaggate belangriker is as ’n nuwe gepantserde ampsmotor vir die burgemeester, waar skole standaarde handhaaf wat kers vashou vir dié van ontwikkelde lande en nie agter raak by buurlande nie, en vele meer.

Waar onderrig tot op tersiêre vlak toegang bied tot die wysheid van die Dietstalige akademie, en ons jeug nie tot die akademie in die Engelstalige wêreld beperk wat soms ver agter die Nederlanders, Vlaminge en Duitsers is nie.

Natuurlik is dit nie net die Afrikaners, of wit en bruin mense, wat hieroor stoei nie. Dr. Khotso Mokhele, kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het by geleentheid tydens ’n gradeplegtigheid afgestudeerde studente aangeraai om hul spraakvryheid te gebruik om beswaar te maak teen “die algemene verval wat ons om ons waarneem”. Dit weerspreek die ANC se aansprake op “’n goeie storie” wat met die pas afgelope munisipale verkiesing in ieder geval nie baie suksesvol aan die kiesers verkwansel is nie. Om alles op oorle apartheid, kolonialisme en selfs Jan van Riebeeck se brood te kom smeer werk ook nie meer so lekker nie.

Dat die Derde Wêreld nog ’n beergreep op Suid-Afrika het, blyk onder meer uit die greep wat Zuma op die ANC het. Verskeie politieke kommentators wys daarop dat die ANC Zuma nie kan verwyder sonder om die party te skeur nie (al is hy ’n uiterste verleentheid vir die ANC se grondleggers soos Albert Luthuli, Oliver Tambo, veral Sol Plaatje en meer onlangs Nelson Mandela). Maar ons sit met ’n president wat openlik verklaar dat korrupsie ’n Westerse konsep is.

Volgens byna alle objektiewe maatstawwe sou die trekpas van Zuma ’n groot deel van die towerdoepa oplewer wat as die land se panacae kan dien.

Kommentators se skryfsels tydens die ANC se NUK se onlangse bosberaad was ook insiggewend, hoewel hulle in ’n sekere sin “blind” moes skryf weens die geslotenheid van die beraad. Daar is onder meer gewys op die ontwikkelingsplanne, van HOP tot Gear tot die nasionale ontwikkelingsplan wat een ding deel – dit bly op papier maar kry nie op grondvlak beslag nie.

So lank as wat die regering nie “derdewêreldkanisering” as ’n probleem beskou nie, sal Suid-Afrika spook om sy posisie in die internasionale gemeenskap te handhaaf.

En intussen sal al meer mense hulself inbind by Solidariteit se Plan B waar standaarde nog sterk onderliggend is.

En ’n mens wil noodwendig giggel by die gedagte dat Suid-Afrika oorlogvoering as metode sou oorweeg om vir die land voorspoed te bring.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Steve Hofmeyr ·

Item Een by die Nasionale Biddag vir SA se Opposisie Partye: dat die ANC vir Jacob Zuma so lank as moontlik hou…?

Loeis ·

“Volgens byna alle objektiewe maatstawwe sou die trekpas van Zuma ‘n groot deel van die towerdoepa oplewer wat as die land se panacae kan dien.”

Malema het reeds gese dat hy sal teruggaan ANC toe, sou Zuma waai. Die ANC en EFF het saam ‘n gemaklike tweederde meerderheid in die parlement. Indien Zuma waai, het ons ‘n towerdupa vir ‘n nasionale ramp, erger as wat Zuma ooit was!

Johann Marx ·

Om “derdewêreldkanisering” te begryp en te beleef, moet jy uit iets “beter” kom om die verval en die gebreke daarvan te verstaan…As jy uit ‘n squatterkamp met grondpaaie kom, is ‘n teerpad vol slaggate paradys….maar as jy uit ‘n Eerste Wêreld omgewing kom waar jy deur ‘n chauffeur in ‘n Rolls op plaveistene aangery was, is ‘n grondpad vir jou ‘n tragedie. As jy nie die grondbeginsels kan regkry nie, is jy gedoem tot mislukking. Gaan kyk maar….die meerderheid in SA kla nie oor die toestand van die skole nie, hulle kla omdat hulle dit nie verniet kan kry nie. Hulle kla nie oor grondwater wat besoedel is nie, hulle kla oor dit nie uit ‘n kraan in hulle huise kom nie. Hulle kla nie oor die toestand van die hospitaal nie, hulle kla omdat hulle moet betaal. Voordat daardie “kopskuif” nie plaasvind nie….is Derde Wêreld paradys vir sy inwoners.

James ·

Ek dink nie Zuma moet die skuld kry nie. Ek dink ons probleem is gewortel in ons diverse samelewing en die feit dat demokrasie slegs effektief is in homogene samelewings waarvan Ysland seker die beste voorbeeld is. Ons probleem is dus demokrasie en die verlies aan self-regering vir elke bevolkingsgroep in SA.

Johan 2 ·

Ek dink jy het dit. Direkte demokratiese kan werk in n diverse land maar dan moet daar klein grootliks outonome eenhede wees. Deel SA is 2000 of so mikro eenhede op en maak hul outonoom. Sommige gaan goor wees maar elkeen sal wees volgens sy inwoners se vlak van opleiding en vaardighede.

Kaufman ·

Kultuur en ekonomiese produktiviteit en lewensstandaard gaan hand aan hand. Sekere kulture vind korrupsie heeltemal aanvaarbaar, terwyl elke ekonoom verstaan waarom dit vooruitgang demp. Baie kulture verstaan eenvoudig nie ekonomiese konsepte soos morifering (daarom hang hulle kommunisme aan al werk dit nerens), risiko vir beleggers, geleentheidskoste (waarom hier bele as jy moontlik als kan verloor, en nou praat ons nie noodwendig van beleggings van die rykes nie maar die armes ook, vir wie risiko ekstra belangrik is), implikasies van “rent seeking” (daarom verstaan hulle nie hoe sleg korrupsie is nie). Ek kan nie sien hoe kulture wat hierdie universeel belangrike konsepte nie aanspreek kan vooruitgaan in n moderne wereld nie, en hoe n kultuur wat dit aanhang en een wat nie, saam kan bestaan in vrede nie.

Theuns ·

Herman ek giggle saam met jou oor die Oorlog storie! Daar is nie meer ‘n weermag aan regerings kant nie Die “ou ballies” aan Boerekant sal nog die ding kan doen maar die wapens ontbreek tensy jy dit by die kaders afvat! En waaroor sal ons nou veg? En wie gaan nou eintlik die minderheid ondersteun?

LeonR ·

Van oorlog gepraat, die huidige SANW sal nie eers ‘n nat wind uit ‘n papiersak kan red nie

Theuns ·

Stem saam met jou. As die eerste skote klap hardloop die ouens weg na die eerste b……. toe en verkoop hulle gewere vir drank geld.

HEVW ·

Die enigste oplossing vir hierdie moras van veelvolkigheid is n klein Ysland in SA. Die weg daartoe is egter nie eenvoudig nie. In die eerste plek betken dit vir die Afrikaner om saam te staan, die vestiging van patriotisme (volkstrots) Of dit moontlik is ,is te bevraagteken aangesien daar vir baie jare al in die bevegting van apartheid n aanslag op ons selfrespek gemaak is deur by ons n skuldgevoel te kweek. In die verlede het ons die muishondvolk vir die wereld geword.Ons sal moet kom tot offervaardigheid, self werksaamheid en ons eindomlike tot stand moet bring. Die greep soos Johan Marks weergee, sal moet verbreek word. Baie goeie kommentare is reeds gelewer.

Selfbeskikking ·

Ek voel net al sterker dat daar geen ander volhoubare oplossing vir ons is as selfbeskikking nie, en die gesprekke met die regering sal nou net moet begin.

Johan 2 ·

Jy slaan die spyker op sy kom. Ek dink nie ons het n “volkstrots” probleem nie, en saamwerk doen ons goed. Dit beweeg maar net stadig omdat ons nog genoeg planne maak waar ons is. Maar gee dit 40 jaar!

Anthonie Van Bosch ·

Dit gaan te lank vat vir die kopskuif. ‘n Mens moet eerder gaan kyk hoe minderheidsgroepe in ander lande oorleef. Ek dink dat “oorlewingskomitees” op elke dorp gestig moet word en aan planne dink om te oorleef. Alles moet natuurlik binne die gees en wetlikheid van die Grondwet geskied.

Lance ·

Met al die korrupsie in SA is die magic wand se batterye al lankal pap …wat anders kan mens tog verwag

HEVW ·

Wanneer laas is DIE STEM in n volgepakte amfiteater tydens geloftefees gesing. Hoor hoe besig die moderne Afrikaner sy moedertaal. Die grense internasionaal het vervaag. Kultuurdiffusie is algemeen Baie van ons sg. Afrikaners het ontaard in identiteitslose wereldlinge.

Johannes Meintjes ·

Minderhede kan met konstuktiewe alternatiewe planne voor ‘n dag kom, en dit kon al saam met Plan B in werking gewees het. Wil ons tog maar net onjektief vergader, sinvol beplan en doelmatig uitvoering gee. Maar nee … Ons beleef tans net persies wat ons verdien om te beleef, so voer ek aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.