Nuuskommentaar: Het Zuma afgetree?

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

“Zuma lyk moeg.” “Hy lees sy toesprake, wat darem nou meer sinvolle inhoud bevat, klakkeloos af.” “Waar is Zuma deesdae?” “Hoekom is Zuma nou so min op TV, na hy in ‘n stadium een van die ‘hoofaanbieders’ was?” Dít is maar ‘n paar van die talle vrae en opmerkings wat deesdae oor pres. Jacob Zuma gehoor word – nie net van Jan Publiek nie, maar ook meningsvormers.

Hierteenoor word opgemerk hoe presidensieel adjunk-pres. Cyril Ramaphosa vertoon. “Ontstellend presidensieel,” het ‘n swart kommentator onlangs opgemerk. Skielik was daar ‘n paar regte geluide ook teenoor Afrikaanssprekendes en die Afrikaner. Plaasmoorde gaan nou behoorlike aandag kry, aldus die nuwe minister van polisie; Ramaphosa wil gesprekke met Afrikaanssprekendes voer; en die regering het selfs, tot ontsteltenis van die “liberaliste”, ingestem om gesprek met die Boere-Afrikaner Volksraad te voer. Selfs Nathi Mthethwa, wat as minister van polisie oor ‘n afbrekende woordeskat beskik het om te keer dat plaasmoorde weer ‘n prioriteitsmisdaad word, sing nou in sy nuwe amp as minister van kuns en kultuur meer versoenende note, soos sy versekering dat standbeelde uit die vorige bedelings deel van die geskiedenis is en sal bly.

Natuurlik bly daar slegte winde ook waai, soos ‘n minister wat vasskop oor sy 50%-grondgrypplan. Maar selfs hier het daar teenstemme uit die ANC self gekom wat daarop dui dat die minister dalk redelik geïsoleerd staan, soos dat die ANC die plan nog nie eens bespreek het nie, laat staan nog goedgekeur het.

Dit is maklik om tot die gevolgtrekking te kom dat ‘n voorspelling wat al ‘n paar jaar lank kom, dat die ANC moeg raak vir die verleentheidskeppende Zuma en hom tot ‘n seremoniële staatshoof wil reduseer, en dat Ramaphosa vir alle praktiese doeleindes ‘n uitvoerende eerste minister word, nou baie na aan bewaarheid is. Dit was ook lank reeds duidelik dat Zuma nie vrywillig vir so iets te vinde sou wees nie. Soos taks het hy in die verlede sulke gerugte met nog ‘n vreemde uitspraak of twee na die maan gestuur, hy het weer geskuif aan die samestelling van die manne in beheer van Luthuli-huis, sy kabinet geskommel en elke keer meer van sy (Zoeloe)-lojaliste in sleutelposisies ingespan.

Om ‘n droogmakende burgemeester of premier te wees, maar ‘n Zuma-lojalis te wees, het die persoon byna onaantasbaar gemaak.

Nou is daar skielik plek-plek, en ongelukkig nog veels te kol-kol, skoonmaakaksies aan die gang. Dis ook nie altyd Zuma-lojaliste wat in die slag bly nie.

Tog is daar miskien heelwat te lese in die bewering dat Zuma die grondwet wou buig om sy “bas te red” deur een van sy vurigste lojaliste, me. Baleka Mbete, as ‘n tweede adjunk-president in te span. As daar wel so ‘n plan was, het dit dramaties gesneuwel, en Mbete is in ‘n ander sleutelpos, dié van Speaker, aangestel. Maar ook hier het sake nie verloop soos dit moes nie. Mbete is nou byna nooit self in die parlement nie.

Maar dit is maklik om tot die gevolgtrekking te kom dat die intelligentsia binne die ANC nou genoeg gehad het daarvan dat Zuma kort-kort die land, en so vir die ANC ook, in die verleentheid stel, en dat die land op die ekonomiese front flink die kreeftegang gaan, al is dit nou ook net relatief tot die res van Afrika. Op verskeie indekse, soos die korrupsie-persepsie-indeks, die persvryheidsindeks en die geweldsindeks steek Suid-Afrika reeds sleg af by buurlande soos Namibië, Botswana, en wat die geweldsindeks betref, ook by Mosambiek.

Dit raak amper die moeite werd om Mugabe aan bewind te hou sodat daar darem een buurland is wat byna strykdeur nog swakker as Suid-Afrika vaar.

Daar is selfs ‘n meganisme, trouens ‘n paar meganismes, hoe Zuma gedwing kan word om meer seremonieel te wees. Sou hy weier, kan sy eie party sy eie blokkasies van verskeie prosesse, soos die Nkandla-proses, die sogenaamde “spioenasiebande”-saak, en om nie self getuienis voor die Seriti-kommissie hoef af te lê nie, opskort. Volgens ‘n verweer van Zuma se eie regspan sal hy dan met die gevolglike prosesse en selfs ‘n hofsaak te besig wees om sy aandag aan sy presidentskap te skenk.

As dit waar sou wees, sou dit ook kan verklaar hoekom Zuma so “af” lyk, en glad nie sy ou selwers vol bravade en kwinkslae is nie.

Maar is sake so eenvoudig?

Daar is perspektiewe wat ‘n effe ander prentjie verskaf. Ook onder oud-president Thabo Mbeki was daar fases waar die president skynbaar meer drooggemaak het as iets anders, net om weer met ‘n rits regte geluide en stappe “reg” te klink. Dit het tot ‘n wye persepsie gelei dat Mbeki elke nou en dan konsultante, of minstens beeldpoetsers, gehuur het om sake beter te laat lyk en klink.

‘n Tweede perspektief is dat Julius Malema se EFF op alle moontlike ongure wyses op die toneel gebars het, en bykans enigiets anders as piekfyn laat lyk. Malema is Zuma se eie politieke grootmaakkind, en is in ‘n stadium selfs deur Zuma self tot ‘n toekomstige president van die land gesalf. Dit was in die dae toe Malema, en selfs in soortgelyke woorde, Zwelinzima Vavi, sou “doodmaak vir Zuma”.

Dit is dus moeilik vir Zuma om sy eie beeld van die Malema-besmetting te reinig. Met Malema se verhoor is die politieke stoute kind op een van die aanklagte vrygespreek – oor ‘n aanval op Afrikaners – wat hy in Zuma se teenwoordigheid gemaak het, maar waarvoor die dissiplinêre komitee “geen getuienis kon vind nie”. Selfs in daardie stadium het Zuma nog verkeerde keuses oor Malema gemaak.

Voor ‘n mens te opgewonde raak, moet in gedagte gehou word dat Zuma self bepaal het dat Ramaphosa “by die parlement” in beheer van regeringsake sal wees. Dit is nie ‘n nuwe rol vir ‘n adjunk-president nie, maar dit stel hom in effek in die posisie om die rol van ‘n soort eerste minister te kan speel. Sou Mbete wel ‘n tweede adjunk-president kon word, kon Zuma hierdie funksie aan haar, in plaas van Ramaphosa, oorhandig het.

Sou dit waar wees dat Zuma algaande kantlyn, en Nkandla toe gerangeer word, sou dit op die oog af goeie nuus vir die land wees, veral as Ramaphosa daarin sou slaag om “ontstellend presidensieel” op te tree. Die “vlieg in die salf” is dat dit ook die ANC beter laat vertoon, en hieroor is die debat in volle swang. Kan die ANC nog “reggemaak” word, of is dit in landsbelang dat dit so gou as moontlik uit die regeerstoele geskop word? (En werklik, sommige sit daai stoele al behoorlik letterlik oorvol). Op ‘n meer wetenskaplike trant – dit is doodgewoon demokratiese ongesond dat een party so allesoorheersend is soos die ANC nou is.

En hierdie argument kry soveel meer betekenis as in ag geneem word hoe die skandemakende EFF daarin slaag om die DA en ander partye byna heeltemal uit die nuus te dring. Die DA is immers (nog) ‘n veel groter party as die EFF, die DA reik daagliks verskeie sterk mediaverklarings uit, sy sprekers is goed voorberei danksy goeie navorsing van die party se navorsers. Ook die Vryheidsfront Plus boks steeds ver bo sy gewigsklas, en is by verskeie hoëprofielsake soos die Transnet-pensioenfondssaak betrokke. Sy mediaverklarings van hoogstaande gehalte rol byna daagliks uit sy hoofkantoor.

Maar dit is die EFF wat daarin slaag om selfs die ANC in die media die loef af te steek. In die sosiale media loop die media gereeld erg hieroor deur, want dit verwring die stand van demokrasie in die land.

Maar hoe kan die media werklik berig oor die sywaartse rangering van Zuma as dit nie formeel deur die ANC erken word nie? Trouens, sou ‘n gesaghebbende koerant dit vandag berig, sal die ANC en die regering se propagandamasjinerie onmiddellik aangeskakel word om dit net woes te ontken. Heel waarskynlik sal hierdie ontkennings weer die rand in ‘n tuimelfase in lanseer.

Die huidige vis-nog-vlees-benadering skep uiteraard vir die EFF ‘n groot braakland om sy verderflike saad te saai. Waarnemer op analis op kommentator tot gewoonlike kafprater kom tot die gevolgtrekking dat die ANC eenvoudig nie weet hoe om die EFF te hanteer nie.

Niemand, behalwe die binnekring van die ANC, weet vir seker wat aangaan nie.

Intussen is dit duidelik dat gevestigde opposisiepartye nuwe maniere moet vind om in die kiesers se oog te bly. Sommige antwoorde is maklik. ‘n Party wat sy mediaverklarings teen die agtergrond van die opkoms van die gemeenskapsmedia slegs in een taal uitreik, gaan net deur daardie deel van die gemeenskap gelees en gehoor word. Die gemeenskapsmedia het eenvoudig nie die kapasiteit om op die skaal wat nou van hulle “vereis” word, te vertaal nie.

In ‘n gepolariseerde gemeenskap moet juis gesorg word dat ook sektorale belange aangespreek word. Tydens gisteraand se RSG-program, Kommentaar, het twee van die drie deelnemers erg neerhalend na die “regses” verwys, na aanleiding van die regering se instemming om met die Boere-Afrikaner Volksraad gesprek te voer. Veral Max du Preez het oorboord gegaan en onder meer gesê om aan die eise gehoor te gee beteken dat die grondwet gewysig moet word, en omdat Suid-Afrika ‘n unitêre staat is, sal dit nie gebeur nie.

Max mag oor die politieke wil van die regering korrek wees, maar die derde deelnemer, Christi van der Westhuizen (wat beslis nie regs is nie) het daarop gewys dat die grondwet wel daarvoor voorsiening maak, en selfs uit artikel 235 van die grondwet voorgelees wat oor die reg op selfbeskikking handel.

Wat sou die implikasie wees as Zuma wél uitgerangeer word?

Twee internasionale voorbeelde doem op. Na die Falkland-oorlog het die Argentynse weermag die regering oorgeneem, en ‘n skrikbewind gevoer. Trouens, daar is steeds spesiale tribunale besig met verhore om betrokkenes uit hierdie era te vervolg en onder meer lewenslank tronk toe te stuur vir allerlei wandade soos moord, marteling en ontvoering – die prys vir die mag aan ‘n burgerlike regering oorhandig. Oor hierdie proses rapporteer ons media byna nooit.

In die buurland, Chili, het die diktator Augusto Pinochet se regering ook tussen 1 200 en 3 200 mense vermoor, sowat 80 000 mense is aangehou waarvan ongeveer 30 000 gemartel is. Internasionaal, veral in die sosialistiese wêreld (want Pinochet het ‘n sosialistiese bewind omver gewerp), is Pinochet se kop op ‘n skinkbord geëis. Die grondwet het hom egter na die burgerlike regering oorgeneem het, lewenslank ‘n senator gemaak wat amnestie teen vervolging geniet het.

In Suid-Afrika het Zuma vir sy beweerde oortredings nie die “luukse” van ‘n grondwetlike amnestie nie – ook nie as sittende president nie, al het sy regspan by geleentheid so aangevoer.

Sou Zuma se opponente binne die ANC genoeg hefboom in die hande kry, kan Zuma ‘n tipe Pinochet-opsie gebied word – weliswaar buite-om die grondwet. Maar Zuma het dan nie veel van ‘n keuse nie. Sy lot is dan in die hande van sy opponente en hy sal nie kan waag om hulle teen te gaan nie, of die risiko loop dat hy nie net krimineel vervolg word nie, maar die spit kan afbyt as hy skuldig bevind word. Die regter in die Shabir Shaik-verhoor het immers reeds bevind dat daar “’n algemene korrupte verhouding” tussen Zuma en Shaik was.

Net die tyd gaan leer of Zuma wel so onopvallend as moontlik sywaarts gerangeer gaan word. Intussen is daar demokraties niks verkeerd met ‘n bietjie dagdromery nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

TANIA MAREE ·

Wat? n POTGIETER wat n Afrikaaanse berig ,nou in engels wil he.Hierdie is Maroela NUUS,nie Maroela NEWS nie – Herman Tourien het hierdie uitstekende berig geplaas,en sy ‘huiswerk” goed gedoen. Maroela Nuus is buitendien GRATIS -That means FREE NEWS.Dus
as jy Afrikaans is , IS HIERDIE JOU KUIER PLEK – Maroela gee dit nou juis gratis,hoekom verwag, HULLE moet dit vertaal ook nog -wil jy nou’ jou brood op beide kante gebotter he’

Voni ·

Sjoe Tania is dit nodig om so bombasties te wees? Fred ek sal kyk of ek dit vir jou kan vertaal. Ek het ook baie vriende wat Engels is wat dit graag k Engels wil lees.

Annemarie ·

Uitstekend gesê en so waar…ek sal graag die opvolg op hierdie wil lees.

Gert Strydom ·

Dog dit was net ek wat Max se onkundigheid oor die grondwet en sy teregwysing agtergekom het. Baie goeie artikel Herman.

Herman Toerien ·

Maroela kry periodiek versoeke dat bepaalde arikels in Engels vertaal word. Die betrokkenes wil dit gewoonlik gebruik om aan kennisse in die buiteland te stuur wat nie Afrikaans magtig is nie. Hiervoor bestaan groot begrip en ook waardering, maar so iets is, in elk geval in hierdie stadium, nie moontlik nie. Voni se aanbod om te kyk of sy dit kan vertaal, word dus besonder waardeer.
Baie dankie vir al die mooi woorde in hierdie kommentare uitgespreek. Dit word regtig baie waardeer. Herman

marietjie ·

Agge nee het Afrikaans dan nerens meer n plekkie nie, en sou ons vra dat iets in Afrikaans vertaal moet word, *kry ons ook raas*, gun ons maar Maroela Media, waar ons alles lekker kan lees, in ons eie taal, en ook lekker kan verstaan. Onthou ons almal is nie Engels 100 present magtig nie, daar is maar altyd iets wat n mens tog maar nie lekker verstaan nie,. Die berig sal wel elders ook wees om te lees

Wynand Burger ·

‘n Baie interesante en insiggewene artikel – en sekerlik nie te ver van die kol af nie – net die tyd sal leer wat vorentoe gaan gebeur! ‘n Ander gerug en scenario wat op plekke die rondte doen is dat Zuma se stortery alleen nie meer genoeg was om daai! siekte te keer nie, en dat hy wat hul in Engels eufemisties ‘n sg. “slow puncture” noem onder lede het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.