Nuuskommentaar: Het Zuma dan NIKS geleer uit konstitusionele hof se uitspraak?

Pres. Zuma tydens gister se Vryheidsdagvieringe in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma tydens gister se Vryheidsdagvieringe in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Was pres. Zuma se optrede by die amptelike Vryheidsdagvieringe in Limpopo die land se amptelike hoofvieringe, of ’n belangrike ANC-verkiesingsaamtrek? En indien dit vir die ANC gekaap is, kan Jan Publiek met sy belastinggeld hiervoor instaan? Herman Toerien het uit beskikbare inligting gaan sif om ’n antwoord te probeer vind.

Die briewe van “teregwysing” wat pres Jacob Zuma aan twee “stout” ministers geskryf het, kom vanuit alle oorde erg onder skoot. Dit volg ná die konstitusionele hof die president opdrag gegee het om die verantwoordelike ministers te berispe oor die ongerymdhede wat met Nkandla plaasgevind het. Die uitstaande kenmerk van die briewe is egter dat Zuma dit gebruik het as nog ’n stap om hom van sy veelbesproke “verskoning” aan die nasie te distansieer – daardie toespraak wat baie mense op TV gevolg het omdat hulle, volgens internasionale konvensie, gemeen het Zuma sou sy uittrede aankondig.

Gister was Vryheidsdag. Die hoofgeleentheid was in Limpopo, waar die president as hoofspreker opgetree het. Was dit die land se amptelike hoofvieringe, of was dit die ANC se eie byeenkoms? Die antwoord is nogal belangrik, want as dit veronderstel was om die staat se geleentheid te wees, het die belastingbetaler vir die koste opgedok, wat onder meer insluit dat mense van heinde en ver met busse aangery is.

Word die president se amptelike webwerf geraadpleeg, is dit baie duidelik dat dit as amptelike staatsgeleentheid bygewoon is. Hy verwelkom byvoorbeeld lede van die diplomatieke korps. Hy groet ook “mede-Suid-Afrikaners” – dus nie net ANC-ondersteuners nie.

Dan verwag ’n mens ’n presidensiële toespraak, in sy hoedanigheid as staatshoof, en nie een waarin hy opposisiepartye striem, en die ANC se stertvere prys nie.

Uit die berigte blyk dit egter dat Zuma ’n kenmerkende ANC-verkiesingstoespraak afgesteek het.

Die weergawe op die webblad se aanvang is in terme van die amptelike politieke status quo in orde. Hy looi apartheid, en prys die stryd daarteen. Dan vertel hy oor vooruitgang wat gemaak is, asof dit die regering (en nie die ANC nie) is wat die prestasies behaal het. Tegnies steeds min of meer in die haak.

Maar dan val hy onwaardig van die wa af, wanneer hy die bou van drie nuwe universiteite tot die krediet van die ANC-regering opeis. Hy is nou duidelik sektoraal in die partypolitiek vasgevang, en hiervoor kan Jan Publiek se belastinggeld nie instaan nie.

Die dwarsklap wat hy aan ander politieke partye uitdeel, is volgens die amptelike toespraak ook nie buitensporig nie. “It should be possible for us to identify issues on which we shall unite no matter what, and not allow party political competition to divide the nation.” Volgens Netwerk 24 het Zuma egter die volgende woorde ook gebruik: “Politieke partye wat geweld en anargie goedpraat en aanblaas, weet nie wat politiek regtig beteken nie. Hulle gebruik sulke uitsprake om politieke punte aan te teken.” Dit was wel teen Julius Malema se onlangse losbekkigheid gemik, maar dit kon beter bewoord gewees het.

Uit die berigte blyk dit dat baie toeskouers opgedaag het met splinternuwe ANC-T-hemde met oudpres. Nelson Mandela se gesig op. Doodskiste wat die DA en die EFF simboliseer is by die geleentheid ten toon gestel. Hiermee is erg onkant gespeel.

Zuma behoort te wéét dat daar nie partypolitiek op amptelike geleenthede bedryf behoort te word nie. Kort nadat hy president van die ANC geword het, maar voordat hy die land se president geword het, was hy die hoofspreker by die land se Vryheidsdagverrigtinge wat in Botshabelo buite Bloemfontein plaasgevind het. Dié geleentheid was niks anders as ’n staatsgefinansierde ANC-saamtrek waarna ’n paar opposisiepolitici “hoflikheidshalwe” genooi was, maar dit uiteraard nie bygewoon het nie. Ook hierheen is mense met busse aangery. Dié byeenkoms sal ook onthou word as die geleentheid waar Malema en Zwelinzima Vavi, nie een owerheidsampsbekleërs nie, die verhoog met Zuma gedeel het en laat blyk het hulle sal sterf vir Zuma.

Die saak het via die DA ’n draai by die openbare beskermer gaan maak, toe nog onder min of meer ruggraatlose bestuur, wat met ’n lamlendige verslag vorendag gekom het. Daar sou glo onvoldoende riglyne oor die skeiding van party en staat wees, en dit moet aangespreek word. (Studente in Politieke Wetenskap het al dekades lank in hul eerste jaar sonder sweem van verwarring of onduidelikheid geleer wat die onderskeid is.)

Intussen het die konstitusionele hof met sy Nkandla-uitspraak baie duidelik riglyne getref, en selfs die parlement is in die sop weens die erosie van grense. ’n Ware staatsman sou beswaar aanteken oor die T-hemde wat die saamtrek in ’n duidelike partypolitieke saamtrek laat ontaard het. ’n Ware staatsman sou dadelik die doodskiste laat verwyder het.

Maar so ken ons Zuma wat ook reeds by ander amptelike geleenthede waar opposisieleiers wel ook spreekbeurte gegun maar doodgeskree is, nie ’n vinger gelig het nie.

In die aanloop tot ’n groot verkiesing kom die bykomende dimensie dat die wanaanwending van staatsgeld om ’n party se verkiesingsveldtog te ondersteun, die speelveld ongelyk maak. Dit lei daartoe dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Koos ·

Nooi die man na n lekker boerejol, voer hom mampoer en melktert en leer hom wals, miskien verander sy gesindheid as hy agterkom ons het ook n kultuur

Anoniem ·

Hoe gaan hy leer as hy nie eers kan lees nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Andre ·

Met sy hoe kwalifikasie van net St 3 is dit te verstane dat hy nie kan leer nie.

Rynhardt ·

Zuma weet nie van leer nie! Hy en Anc sien hul as “Above the Law”.Baie kan gaan betoog teen Zuma dit gaan nie help nie.Almal wil he Zuma moet waai, maar nie die Anc wat SA in ellende gedompel het nie, en nog verder gaan dompel! Gisyraand op SABC2 nuus was die boodskap duidelik:”Niemand gaan van Zuma ontslae raak nie”.Kom ek spel dit uit.Zuma het n taak om te verrig en baie gaan nog gebeur tot 3Augustus.Soos hul se uit Anc geledere:”The battle must go on”.Dit se vir jou alles.

Schalk ·

Ek dink nie (a) hy het die gelees, en/of (b) hy het dit verstaan nie.

Dirk Breytenbach ·

Die vinnigste en maklikste antwoord is NEE daar word nie geleer uit lesse nie.

Ringsitting ·

Afrika het ‘n bewese rekord dat hy hom afvee aan papier. Die Grondwet is papier. Die hofuitspraak is papier. Die ampseed is papier. Afrika vee hom daaraan af. Dit is wat dit is.

christine ·

Nog n antwoord. Die vraag is lankgelede al goed geantwoord deur n sekere President wat in die land nie genoem mag word nie. Waarom want die waarheid maak tog te seer

Johannes Meintjes ·

Ek voer op gronde van 30 jaar ondervinding in sub-Sahara Afrika aan dat onsgroot verwagtings en Europese sienswyses ons te na kom. Afrika regerings probeer nie eers doen wat ek en u verwag nie. Na ‘n onlangse lang gesprek met ‘n swart persoon was die aanduiding wel dat die Nuwe ANC ‘n teleurstelling vir die Ou ANC is. Maar hoe stagneer sake so ernstig terwyl die kerke, regeringstrukture en die kulture in ons hele samelewing tog ook skuldig is aan apatie waarbinne die verval en korrupsie kon ontstaan?

hans ·

Diie nuwe universiteit wat.gebou word in die Noord-Kaap se onderigtaal is Engelse en dit in n provinsie waar die oorgroote bewoners Afrikaans sprekend is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.