Nuuskommentaar: Hier kom ’n kreupel verkiesing

Argieffoto

Argieffoto

Dat die konstitusionele hof in sy meerderheidsuitspraak ’n noodwendige kompromis moes tref beteken nie dat die OVK langer kan sloer om sy grondwetlike en wetlike verpligtinge oor ’n korrekte kieslys mét adresse na te kom nie. Uit die hof se uitspraak is dit duidelik dat, wat die hof betref, daar nie ruimte is vir iemand se oordeel oor “genoegsaam vry en regverdig nie”.

Man en muis is verlig dat die landwye munisipale verkiesings vir 2016 soos beplan op 3 Augustus kan voortgaan.

Tog hang daar ’n swaar demper oor die verkiesing – dit gaan nie vry en regverdig wees nie, want die kieserslyste is foutief en dus ongrondwetlik.

Die uitspraak van die hof, “Electoral Commission vs Aaron Pasela Mhlope and Others” was nie eenparig nie, maar drie uitsprake is gelewer. Die meerderheidsuitspraak geld, maar selde sedert die hof se uitspraak in “City Council of Pretoria vs Walker and Others” (1998) is daar soveel kennis geneem van die minderheidsuitspraak as nou.

Die minderheidsuitspraak in die OVK-saak het onder meer bedenkinge oor die opskorting van die verklaring van die kieslys as gebrekkig en ongeldig tot 30 Junie 2018. In hierdie minderheidsuitspraak word kommer uitgespreek dat die verkiesing met ’n gebrekkige kieslys kan voortgaan, en dit tot litigasie kan lei. Ook die Sentrum vir Grondwetlike Regte van die FW de Klerk-stigting wys op hierdie moontlike gevolg wat die minderheidsuitspraak voorsien.

Verskeie grondwetlike kenners vra dieselfde vraag. Die konstitusionele hof het immers voorheen bevind dat ’n verkiesing (in daardie geval die tussenverkiesings in Tlokwe) nie as vry en regverdig sal deug nie as die kieserslyste nie wetlik korrek is nie.

In die Walker-saak is die minderheidsuitspraak deur regter Albie Sachs gelewer, en daardie uitspraak word nog wyd in veral die akademie gebruik om potensiële presedente in toekomstige uitsprake te voorsien. In hierdie saak is die twee regters wat die minderheidsuitspraak gelewer het, regters Chris Jafta en Bes Nkabinde wat bekendheid verwerf het toe hulle die Wes-Kaapse regterpresident John Hlope weens beweerde inmenging in ’n Zuma saak verkla het. Hul statuur het in die een hofneerlaag na die ander ’n knou weg.

Tog meen die grondwetkenner prof. Marinus Wiechers die uitspraak (meerderheid en minderheid) laat hom oop vir ’n stroom regsaksies ná afloop van die verkiesing.

Die hof het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) erg gestriem omdat dit toegelaat het dat die chaos ontwikkel, ten spyte van ’n wet wat die aanbring van woonadresse op die kieserslyste van 2003 af verpligtend gemaak het. Tereg beskryf die Vryheidsfront Plus dat dit ’n kompromie-uitspraak was.

Met provinsiale en nasionale verkiesings wat op ’n proporsionele grondslag geskied, is die aanwesigheid van adresse nie so belangrik nie. Met munisipale verkiesings word egter naas vir proporsionele kandidate ook vir wykskandidate gestem. Dan is dit absoluut noodsaaklik dat kiesers bewysbaar as kieser geregistreer is in die wyk waarin hulle woon. Tog is sowat 12,2 miljoen kiesers op die kieslys sonder aangetekende adresse. Die OVK het met juridies akrobatiese vernuf by die wetlike verpligting om adresse aan te bring probeer verbykom, maar het liederlik bloedneus gekry.

Die ontbrekende adresse is nie al probleem nie. Met die destydse nuusdekking oor die Tlokwe-polemiek het talle kiesers laat weet hulle het tydens registrasienaweke van allerlei probleme uitgevind. In een geval was die man, sy vrou en hul seun wat in dieselfde huis woon en saam gaan registreer het, in drie verskillende wyke as kiesers geregistreer. Die seun is in ’n tradisioneel swart woongebied, baie ver van sy blyplek, geregistreer.

Kortom, sonder adresse is daar bitter baie ruimte vir ongerymdhede, soos wat inderdaad in Tlokwe gebeur het toe meer mense as kiesers geregistreer is as die bevolkingsgetal van die gebiede moontlik gemaak het. Skelm amptenare kan kiesers “skuif” sodat ’n opposisiesetel in die gedrang kan kom, en ’n wyk wat deur die regerende party gehou word, beveilig word. Dit kom op ’n gewysigde vorm van gerrymandering neer.

En dit is presies met so ’n gebrekkige kieserslys wat ons in Augustus ons kruisies gaan trek. Die opskorting van die bevinding van ’n kieslys vol flaters en dus ongrondwetlik tot 30 Junie 2018 trag bloot (en dalk tevergeefs) om te voorkom dat die kieserslyste gebruik word om ná die verkiesing op ’n omvattende skaal litigasie te sien – dit maak nie die kieserslyste reg nie.

In sy hoofartikel vandag skryf Beeld dat die OVK weer ’n geloofwaardige instelling moet word. Hiermee kan nie verskil word nie.

Dit beteken dat elke partywerker tydens die verkiesing baie wakker moet slaap om enige moontlike verdagte aksie waar te neem en te rapporteer. Partye moet ook nou hierdie klagtes opvolg en seker maak elkeen het die nodige aandag gekry. ’n Groep onafhanklike kandidate van Tlokwe het aan die land getoon wat moontlik is om te verseker dat sake klopdisselboom loop.

Die konstitusionele hof het nou bevind dat ’n vry en regverdige verkiesing slegs moontlik is as al die wetlike vereistes nagekom is. Daar is nie ruimte vir begrippe soos “genoegsaam vry en regverdig” nie.

Ongelukkig word die verwagting van “vry en regverdig” minstens ten dele met hierdie verkiesing onmoontlik gemaak deurdat teen wil en dank van ’n gebrekkige kieserslys gebruik gemaak moet word. Die konstitusionele hof het egter danksy die OVK se brouwerk hom in die posisie bevind dat die hof self ongrondwetlik sou moes optree om die verkiesing uit te stel om die kieslys vlot te kry. En die OVK het ruim tyd nodig om die kieslys reg te timmer.

Intussen gaan die OVK sy hande vol hê om die kieserslyste van Tlokwe betyds reg te kry. Tlokwe word nie deur die “opskorting” geraak nie.

Sonder elke kieser se bystand om die kieslys voor die volgende parlementêre verkiesing  reg te kry, gaan die OVK ’n onbegonne taak hê.  Moet jouself nie ontkieser deur nukkerig oor die OVK se brouwerk te wees nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

rudi ·

Die probleem is die ANC ondersteuners het nie formele adresse nie want hul kry grond by die Chief. Hul wil ook nie adresse he nie want hul vlug vir skuld en gereg. Ek sukkel tans om n taxi eienaar te dagvaar wat weg kruip

Theuns ·

Ja, dit sal nogal ‘n ding wees as die ANC baie setels (wyke) verloor en die OVK dagvaar omdat die verkiesing nie vry en regverdig was nie? Dit is plan “B”. Plan “A” is vir die ANC om die verkiesing te bekook sodat hulle nie verloor nie!

Hendrik ·

Die verkiesing is nie ry en regverdig nie en ek sal dus die verkiesing boikot.

Hendrik ·

Die verkiesing is nie vry en regverdig nie en ek sal dus die verkiesing boikot.

Wiebo ·

Ek kan ook nie stem nie, want ek sukkel omtrent al n jaar lank om bewys van woonadres te kry van my “landlord”.

Liza ·

Wiebo, het jy ‘n bankrekening? Gaan na jou bank en vra ‘n uitdruk van jou adresbesonderhede. Dit is ‘n bewys van residensiele adres. Maak seker die bank sit hulle stempel op die dokument.

Rynhardt ·

Van die begin af het sejete beamptes by OVK erken dat jy nie n vry en regverdige munisipale verkiesing gaan he nie.Dat die regter kan besluit dat hul voort kan gaan solank die adresse net verskyn op rol teen 2019 vir Nasionale verkiesing.Baie gaan nog gebeur teen daai tyd, maar daar gelaat.Die feit dat die OVK nie adresse het op sy kiesersrol nie, wys jy sit met die name van spookkiesers! Jy sit met n bekonkelde, afgewaterde verkiesing wat voorle! Die FW DE KLERK-STIGTING IS DIE LAASTE OM JOU MOND TE REK OOR DIE HELE AANGELEENTHEID! BOODSKAP AAN DIE BEELD:BEELD DIE OVK WAS NOG NOOIT N GELOOFWAARDIGE INSTELLING NIE, HY HET DIT SOPAS WEER BEWYS! ONS MENSE WORD GESPEEL MET BEDROG EN LEUENS!

Connie ·

Alles is reeds kreupel. Ons geld ook. Ek het nooit geweet ‘n mens kan so oor ‘n ou se land en sy leiers voel nie. Geen trots. Hel dis sleg.

Hein ·

So wat beteken dit vir my en jou? As ANC baie steun in een gebied, wyk, provinsie en dorp het, dan kan hul daardie stemme “verskuif” na gebiede waar hul nie so sterk steun het nie. Dan wen hul orals en die ovk dui aan dis VRY EN REGVERDIG. Hoe del hel???? Enige een met die kleinste wurm brein sàl dit kan insien.

dirk ·

politiek is vieslik en n party wat steun verloor sal alles probeer soos mens nou hier sien. As ek op straat / kerk/bus/winkelrye gesels met mense wat tradisioneel en histories ANC is/was, sien en hoor mens woede, teleurstelling en minagting . Die gewone mense is skynbaar almal soos ek – soek net vrede en n plekkie in die son

Jan maak n plan ·

Dis net nog n manier vir die ANC om aan bevind te bly. Dis hoekom die OVK ook nie sommer sal toelaat da die land elektronies stem nie. Dit sal nog meer skuiwergate toe maak.

Ronnie ·

Dis so maklik om ‘n bewys van woonadres in die oos Vrystaat te kry. Jy stap bloot net by die stadsaalkantore in en vra daarvoor. Daar sit vyf mense wat niks anders doen as om slap tjippies te eet en vir jou ‘n vormpie gee wat as bewys van adres dien. Hulle vra net een vraag: waar bly jy? Jy kan natuurlik enige adres opnoem en voila! Hoe wettig en doeltreffend is hierdie metode?

John ·

Diegene sonder adresse weet darem wat die adres van die plek is waar mense moet registreer om te stem en wanneer dit oop is. Was daar al iemand geregistreer met ‘n adres sonder ‘n naam?

Rupert Ashford ·

Watwoo…gaan hulle nie weer AU mense kry om te kom “monitor” nie? Daai ouens het al klaar die verkiesing vry en regverdig verklaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.