Nuuskommentaar: His Master’s Voice maak skande

Beraadgangers-by-krisisberaad

Meer as 2000 mense het die Solidariteit Beweging se krisisberaad Dinsdag by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon. daar is mense van regoor die land, selfs so ver as Namibië (Stampriet).

As die gemiddelde Afrikaanssprekende totaal afhanklik sou wees van die Afrikaanse TV-nuus op die SAUK, of van RSG se nuusbulletins, sou hulle nooit geweet het van ’n uiters belangrike beraad wat gister by die Voortrekkermonument gehou is nie. Vanoggend was daar wel ʼn kort insetsel op die program Monitor met Flip Buys en Max du Preez. Meer as 1 500 afgevaardigdes het aan die verrigtinge deelgeneem, en ingrypende besluite is geneem. Die verrigtinge herinner in baie opsigte aan die oprigting van die Paardekraal-monument. Of die nagevolge ook so ingrypend sal wees, moet nog beoordeel word.

Nie dat alle beriggewing wat wel geskied het, sonder ’n stekie was nie. Op Netwerk24 is bykans elke verwysing na selfstandigheid wat die grondwet bied tussen aanhalingstekens geplaas, asof hier na ’n melaatse tema verwys word. In Volksblad se berig wat hieruit geneem is, is die aanhalingstekens weggelaat. Dit herinner aan die “verslaggeefster” wat in Rapport knaend in die berig oor die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap se weglating van Afrikaans amptelike tale tussen aanhalingstekens geplaas het. Beeld en Rapport deel ’n redaksie.

’n Vergelyking tussen RSG se nuusbulletins gister en ander nuusbronne oor nuuswaardighede dui ook aan dat die beraad wat deur die Solidariteit Beweging aangebied is, nie al is wat met die blinde kol bekyk is nie. Tot dusver was RSG se nuus meer objektief as dit wat op TV opgedis is, maar dit lyk al meer asof ’n bepaalde politieke dampkring nou ook nuus se nuuswaardigheid begin bepaal.

Maroela Media, deel van die Solidariteit Beweging, het wel breedvoerige nuusdekking gegee. Die verrigtinge kon selfs regstreeks in klankbaan gevolg word. Solidariteit se internetgeriewe, asook dié van AfriForum, het ook meegedoen.

Op die gevaar af om appels met pere te vergelyk is dit nogtans interessant om te vergelyk hoe verskillende Afrikaanse nuusmedia vaar. Maroela Media is jonk, maar sedert sy ontstaan het dié nuuswebwerf se Facebook-blad reeds 61 169 “likes” ontvang. Dit is minder as die Facebook-blaaie van Beeld en Volksblad, maar sowat 2 000 meer as dié van Netwerk24. ’n Mens sou verwag dat Netwerk24 met sy groot infrastruktuur teenoor Maroela Media se Gideonsbende maklik van sy latere ontstaan by Maroela Media sou verbyseil, maar die data die afgelope weke toon dat Maroela Media se Facebook-blad- “likes” teen sowat 1% groei, terwyl Netwerk24, soos Beeld en Volksblad, gewoonlik in die koers van 0,5% groei.

Dié prentjie kan natuurlik oornag verander.

Dit laat weer die vraag: Hoeveel mediavryheid bestaan daar werklik in Suid-Afrika?

Die antwoord hang af van wat verstaan word. As dit handel oor die mate waarop die regering ’n impak op die nuusvloei het, sal die land as taamlik mediavry beskou kan word. Daar is vrot appels, soos die snoerwet wat op pres. Jacob Zuma se lessenaar wag om geteken te word. Daar is die absurde opmerkings van die minister van kommunikasie oor beplande media-regulering.  Voorts is daar ontsteltenis oor die aandeel van die regering se advertensiebegroting wat op die Guptas (lees ANC se) New Age bestee word. Weens ’n komplekse stel aandeelhouding is dit baie moeilik om te aanvaar dat die Independent-groep nog hoegenaamd onafhanklik van die ANC is. Maar die meeste redakteurs ervaar dat hulle kan skryf wat hulle wil sonder om in boeie geslaan te word, en dit gebeur selde dat ’n joernalis agter tralies beland. (Nie dat ministers en ander politici aarsel om redakteurs met Twitter te looi nie).

Word daar egter gekyk na die impak van ideologie, en soms politieke korrektheid op wat mediagewys die paal haal en wat nie, is dit verstaanbaar dat Suid-Afrika nie onder die vryste van vryste nasies op die persvryheidsindekse registreer nie. Nie alle politieke partye voel byvoorbeeld dat die vereiste van die weerspieëling van politieke diversiteit die nodige ruimte gegun word nie, en dit knyp die land bepaald op die indekse.

Pas het prof. Johannes Froneman in ’n artikel in Media24 die indeks van Verslaggewers Sonder Grense (VSG) ingespan, wat voorheen ook gereeld deur Maroela Media gebruik is. Die laaste twee jaar het VSG egter Suid-Afrika met die aanvoer van feitelik foutiewe inligting altesaam tien plekke laat verbeter op die persvryheidsindeks. Hierteenoor het Freedom House, met die aanvoer van ’n deeglike feitestel, Suid-Afrika die afgelope vyf jaar agteruit laat boer, en word die land as slegs gedeeltelik persvry beskou.

Die SAUK se blinde oog wat nuusbulletins op die gebeure by die Voortrekkermonument betref (daar kon dalk wel in ’n ander program daarna verwys gewees het, afgesien van Monitor se bydrae vanoggend) is ’n klinkklare aanduiding van hoekom Suid-Afrika nie te waffers op die indekse vaar nie.

Of sou die ontplooide kamerade in die boonste gestoeltes te veel ongemak hê met die beplande mosie van wantroue in pres. Zuma wat op die beraad aanvaar is?

Dis nie asof die beraad wat so met die houtoog bekyk is enigsins van gesonde internasionale praktyk afgewyk het, of iets voorstel wat ongrondwetlik is nie. Die skuimbek-sprekers wat groot getalle mense tot wanordelikheid oproep, asook onwettige dade wat tot geweld kan lei, en wat Suid-Afrikaanse verhoë deesdae kenmerk, was by hierdie verrigtinge afwesig. Ja, sommige media het die enkele heethoofde wat teenwoordig was se opmerkings buite alle proporsie gaan opblaas, maar dit is die prys van ideologiese benepenheid bo mediasuiwerheid.

Die spreekwoord lui dat ’n boer ’n plan kan maak. Gister is die streep in die sand getrek, en sal die Afrikaner ook nou met groot nugterheid die planne moet begin implementeer. Niemand anders gaan positiewe planne vir die Afrikaner maak en implementeer nie. En as dit ’n eie mediavermoë vereis, is dit nou te ene male so.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rudi ·

Som die stelling dit op as die rede? “…maar dit lyk al meer asof ’n bepaalde politieke dampkring nou ook nuus se nuuswaardigheid begin bepaal”.

JoeV ·

En mense koop die tv lisensies, party sommer een vir elke tv in die huis.

Gerda ·

tyd het aangebreek dat ons Afrikaners opstaan vir ons regte…..ALLE REGTE…..nie net sekeres nie. Dankie vir julle tyd en moeite om ons Nasie weer op die been te help…ek waardeer opreg wat julle doen. Elks trots Afrikaans…..Voortrekker Kappie op die kop en Sanna in die hand

Fritz Eloff ·

Baie dankie vir die mooi Afrikaans wat in die artikel gebruik is. Ek sien daarna uit om soortgelyke nuus artikels in die toekoms te lees. En wat die inhoud van die artikel betref wonder ek altyd wie is nou eintlik skuldig: die algemene nuus media wat vir ons mense mislei, of ons mense wat hulself so maklik laat mislei?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.