Nuuskommentaar: His Master’s Voice val – slegte week vir leiers

Pres. Jacob Zuma (31 Mei 2017) Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Oor die wêreld heen kom leiers, en selfs van die grotes, onder druk. Soms kom die druk onverwags. Dra hierdie druk by tot die druk wat op pres. Zuma geplaas word om die hasepad te kies, of is ons eie posisie nog te veel in isolasie?

Inleidende opmerking

Maroela-lesers is slim. Uit leserskommentare is dit gou duidelik dat ’n aansienlike aantal hul oordele, besluite en menings baseer op heelwat nuusinsette alvorens dit op skrif gestel word. Uiteraard is daar ook diegene wat hulle maklik laat beïnvloed en hulle word gereeld, so blyk dit uit die terugvoer, deur fopnuus en propaganda van elders op sleeptou geneem.

Een van die gevaarlikste tegnieke wat ’n analis kan aanwend, en daarom ook bitter selde gesien word, is om gebeure in die land en wêreldgebeure op die een of ander manier te knoop, en gevolgtrekkings te probeer maak. So iets is egter ook noodsaaklik, omdat min lande en hul inwoners in hierdie tegnologiese era in sodanige isolasie leef dat gebeure oor die wêreld heen mekaar onaangeraak laat.

Ons leef nie in isolasie nie

Soms gebruik leiers in een land juis hierdie verskynsel as verskoning oor hoekom iets op eie bodem nie klopdisselboom verloop nie. Hoe dikwels moes Suid-Afrikaners nie al hoor die gespartel van die ekonomie is nie die regering se skuld nie, maar weens allerlei siektes in die wêreldekonomie. Dis nie altyd onwaar nie, maar word darem ook te dikwels gebruik om eiehandse droogmakery te probeer afskuif – tot die graderingsagentskappe met kliniese eerlikheid kom vertel hoekom ’n land se ekonomie in die rommelmandjie beland het.

Slegs die grootste bedrywers van volstruispolitiek sal nie weet dat pres. Jacob Zuma se presidentskap aan ’n dun draadjie hang nie, en dat, soos dr. Pieter Mulder, vorige VF Plus-leier en LP dit vandag in ’n veelseggende rubriek op Netwerk24 stel, die eindspel van Zuma se skaakspel aangebreek het. En met die skryf van daardie artikel was sekere verwikkelinge wat leiers, en uiteindelik Zuma raak, nog nie eens bekend nie.

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Hieronder tel die afdanking van Hlaudi Motsoeneng, de facto grootbaas van die SAUK, en die bedanking van dr. Ben Ngubane as voorsitter van Eskom. Mulder kon wel verwys na onder meer die ondergang van mnr. Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, wat ook ’n vinnige draai deur die parlement gemaak het, en in ’n stadium as sterk kandidaat genoem is om minister van finansies te word, sou Zuma vir Pravin Gordhan afdank.

Al drie hierdie figure het belangrike rolle in die netwerk van Zupta-tentakels gespeel, aldus verskeie bronne, soos die staatskapingsverslag van die vorige openbare beskermer en die #GuptaLeaks e-possage.

Maar staan dit wat in Suid-Afrika gebeur heeltemal los van wêreldgebeure waar regeringsleiers – selfs wêreldleiers – se posisies onder druk kom soos die politieke winde mildelik van rigting verander?

Op die oomblik analiseer kommentators nog intensief oor hoekom premier Theresa May van Brittanje in plaas van haar verwagte vergrote meerderheid ná ’n blitsverkiesing in ’n verswakte posisie en sonder algehele meerderheid sit.

Regeringshoofde gebruik immers hul uitvoerende magte om blitsverkiesings op die strategies mees geskikte tyd te voer juis om hul posisie te versterk. Gewoonlik dra terreuraanvalle by tot die versterking van ’n regeringshoof se posisie as die regeringshoof die regte geluide daarna maak.  Redes wissel van ore uitleen aan twee adviseurs wat reputasies het dat hulle lelik verbrou (en sedertdien die aftog geblaas het), tot stempatrone oor wie met die referendum weggebly, en nou kom stem het, en omgekeerd. May het ook te make met die onverbiddelike herinnering aan die Ystervrou, Margaret Thatcher, teen wie sy onafwendbaar as volgende vrouepremier gemeet sou word. En ystervroue van daardie formaat, soos deur tyd geïdealiseer, kom nie gereeld nie…

Pres. Donald Trump se vyande wat hom in die eerste plek nie as president wou hê nie, en daarna voortgegaan het om op elke denkbare en ondenkbare wyse van hom ontslae te probeer raak, het nog nie skietgegee nie. Die huidige moeilikheid waarmee Trump te kampe het, staan egter effe los hiervan en die slaggate wat hy gereeld met sy twiets en mond vir homself grawe – daar het ’n “spel” van geloofwaardigheid tussen Trump en James Comey ontstaan.

Donald Trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Trump het Comey as direkteur (hoof) van die FBI afgedank. Comey is nou besig om getuienis voor ’n senaatskomitee af te lê, en dit lyk of Comey se getuienis Trump se geloofwaardigheid onder druk plaas. Volgens die jongste Rasmussenpeiling glo 49% van die Amerikaanse kiesers dat Trump met die afdanking van Comey ’n stokkie probeer steek het voor ondersoeke oor hoeveel die Russe in die Amerikaanse presidentsverkiesing ingemeng het (om Trump te bevoordeel). Dit, terwyl Hillary Clinton Comey vir haar neerlaag teen Trump in die presidentsverkiesing verkwalik.

Ook in die media word hard besin oor wie die beste van hierdie “spel” daarvan gaan afkom.

Hoewel die oë in Frankryk nou op die seëvierende Emmanuel Macron gedraai is, is daar ’n klein gemene deler tussen die Britse en Franse parlementêre verkiesings. In Brittanje het die regs-nasionalistiese UKIP-party so byna ondergegaan, ná dit enkele jare gelede in verkiesings vir die Europese Parlement nog die stem baie dik gemaak het. In Frankryk moet die regs-nasionalistiese Front National nou walgooi voor die tweede ronde om nie ook met dalk selfs net ’n enkele setel daarvan af te kom nie.

Slegs enkele maande gelede het dit nog gelyk of veral Geert Wilders in Nederland en Marine le Pen van Front National sterk in opmars was na beduidend groter rolle in die Europese politiek. In ’n stadium het peilings selfs daarop gedui dat Wilders se PVV as die grootste party uit die Nederlandse verkiesing kon stap, en Le Pen was kortstondig selfs ’n sterk aanspraakmaker om Franse president te word. Volgens ’n berig in vandag se Trouw lê Wilders nou sy “pantser van stoerheid” effens af in ’n dokumentêre film oor sy lewe.

Min besonderhede is nog bekend oor presies in watter mate gister se landswye betogings in Rusland teen korrupsie onderdruk is. Dié betogings is gereël deur die opposisieleier, Aleksei Navalnei, maar hy is vroegdag onderweg na die betogings reeds gearresteer. Die betogings is veral teen die premier, Dmitry Medvedev gemik, maar pres. Wladimir Poetin word sterk geïmpliseer. In verskeie stede is die betogings deur die plaaslike owerhede verbied, en deur die organiseerders gekanselleer. In Moskou is dit nie verbied nie, maar wel gekanselleer ná druk van bo glo gebruik is om te verhinder dat enige van die nodige toerusting aan die betogers verhuur word.

Kanselier Angela Merkel van Duitsland en die Russiese president Wladimir Poetin. Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko

Die aanduidings is dat duisende wel deelgeneem het, en duisende het deur ’n polisiekordon gebars om ’n plein wat deur die sogenaamde “kosmonaute” (onlustepolisie in pantserdrag en soms selfs gesigmaskers) afgesper is te bereik. Na berig word is tussen 700 en meer van ’n duisend betogers hardhandig gearresteer. Elders wissel die getalle van hoeveel mense aan die betogings deelgeneem het van tientalle tot duisende.

Dit sou gevaarlik wees om aan te neem dat die suksesse van die Suid-Koreane en Brasiliane om deur ooreenstemmende parlementêre prosesse en betogings húl presidente weens bewerings van korrupsie te kon verwyder, nie elders in die wêreld ontevredenes ’n sweempie hoop sou gee om ook sukses te behaal nie. Die suksesvolle onderdrukking van die opstand deur die “opposisie” (wat ’n meerderheid in die parlement behaal, maar ontbind is) in Venezuela sou wel weer ’n dempende effek hê.

Maar beïnvloed hierdie soort wêreldgebeure dit wat in Suid-Afrika aangaan?

Of anders gestel, versnel die wêreldgebeure Zuma se ondergang? Sou die druk op die Russiese regering oor korrupsie, byvoorbeeld enigsins die ANC se verbetenheid om die “ooreenkoms” met Rusland oor die bou van kernkragsentrales na die een of ander kant toe beïnvloed? Te min feite is op die tafel om te beoordeel hoeveel waarheid steek in korrupsie wat glo sou verseker dat die regering verbind is tot ’n beweerde ooreenkoms met die Russe – soortgelyk as die bewerings oor die regering se klou aan die tot dusver abortiewe e-tolstelsel.

Op die oog af lyk dit of die val van Zuma se vernaamste kornuite – Motsoeneng, Berning Ntlemeza, Ngubane en Molefe – sy posisie verswak. Maar het die SAUK se nuusoriëntasie wel enigsins verander sedert Motsoeneng se magsblok gekantel het? En dit terwyl die SAUK nou skynbaar “skoongemaak” is en die proses voortgaan?

Verminder Ngubane en Molefe se “heengaan” werklik die Guptas se invloed op Eskom? Of is “skoon” kornuite reeds in plek of onderweg wat (nog) nie so by die staatskaping geïmpliseer is nie? Verander Ntlemeza se uitskakeling die hele wetstoepassingsprentjie veel solank Shaun Abraham aan die hoof van die Vervolgingsgesag staan?

Niemand sal stry dat Zuma onder toenemende druk kom nie, maar dis eerder deel van ’n eindspel as dat die politieke eindfluitjie geblaas het. Die groot vrae is eerder of Zuma tot Desember sal kan vasbyt? En hieruit voortspruitend, sal hy die verkiesingsproses genoegsaam gemanipuleer kan kry voor dan om te verseker dat sy belange ná die verkiesing genoegsaam beskerm is?

Intussen bly sy teenstanders hier bewus van hoe politieke winde oorsee leiers kan laat tuimel, of onder enorme druk kan plaas.

Maar Zuma het lankal bewys hy het streke wat nie met internasionale maatstawwe gemeet kan word as dit kom by vasklou aan die troon nie. Ongelukkig kan die land nie só maklik die ingeboude wraak van die wêreldekonomie ontduik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Wat ‘n mal wêreld het ons nie geraak nie, of was dit maar altyd so, net maller die afgelope tyd, en wat van die koue oorlog en verder terug? Elke era, lyk my, het maar sy storms en woeste waters.

al ·

Zums se sterk punt wat hom laat uitstaan bo ander wêreldleiers is dat hy nie die land regeer nie, indien wel, is dit baie passief) maar eerder aan sy skaakspel werk om opponerende pionne uit sy weg te kry.
Soos met gelekte e-posse oor staatskaping, is dit ñ bewys waarna sy meeste energie en tyd gaan.

Loeis ·

Met verwysing na Zuma: Maak dit saak, of maak dit enige verskil, as een Zuma ‘n ander Zuma vervang? Of as enige ander ANC kader dit doen? Dit is ook duidelik dat die ANC nie ‘n flenter omgee oor die invloed van die wereldekonomie nie, of die skade wat hulle beleid en president die land aandoen nie.

Dalk het die IFP se onlangse oorwinnings oor die ANC nog interessante gevolge, maar 1992 se prys is nog nie betaal nie.

Burger ·

As ons bietjie wyer en dieper as ons eie wereld kyk , wil dit tog voorkom asof daar n’ wereldse beroering is soos nog nooit te vore, iets groter as die mense dinge . Daar is radikale rigting veranderinge. Leiers word opgerig teen die verloop van verwagtinge. Stelsels word meer as ooit te vore uitgedaag. Die vermoe in mense om te kan onderskei gaan beslis meer getoets word . Die wat gevange is in hulle oortuigings gaan sukkel met dit.

Nico K ·

Die situsasie in SA kan nie vergelyk word met die Weste nie. In Brittanje is dit maklik om van ‘n party ontslae te raak as die meerderheid nie van hom hou nie. In Afrika is dit nie so maklik nie. Wat kan Suid Afrikaners doen as Zuma soos Mugabe raak. (Ek wil nog sien of Zuma maklik sal padgee. Die tronk sit en wag vir hom.) Hoe raak mens van ‘n diktator ontslae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.