Nuuskommentaar: Hoe bring jy ’n outokraat tot ’n val?

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Dit lyk omtrent soos die era van wêreldwye opstandigheid teen outokrate, met min kontinente wat nie nou aktiewe weerstand teen leiers ervaar wat die grense van demokrasie beproef nie. In die proses verdwyn Suid-Afrika met sy huidige wydlopende opstand teen pres. Jacob Zuma ietwat van die internasionale nuustoneel, maar ongelukkig nie van die aandag van internasionale kredietgraderingsagentskappe en beleggers nie.

“Hoe breng je een autocraat ten val?” Hierdie opskrif in die Nederlandse koerant Trouw kon net sowel na die posisie verwys waarin Suid-Afrika hom bevind. Maar Suid-Afrika se relevansie in die gedagtes van die gewone publiek in Europa regverdig skynbaar nie (meer) die soort publisiteit wat apartheid en die land se destydse prestasies die land besorg het nie. Die artikel handel oor proteste in Rusland en Wit Rusland en die komende referendum in Turkye waar premier Erdogan nog meer diktatoriale magte vra. Die skrywer, Janne Chaudron, verskaf ses wenke aan die opposisie van hierdie drie lande.

Die ironie is dat hy net sowel na enige van ’n paar ander lande kon verwys het. In Paraguay het betogers onder meer die parlement aan die brand gesteek ná die senaat in die geheim gestem het dat die sittende president hom vir nog ’n termyn beskikbaar kan stel. Die saak sou nog deur die algemene vergadering ook goedgekeur moes word, maar die gedagte dat een persoon nog ’n termyn by kan kry, gaan swaar af by baie in ’n land wat lank onder diktature gebuk gegaan het.

Die volgende aanhaling uit The Telegraph kon op sy beurt net sowel op die huidige weerstand, indien nie opstand nie, teen Zuma se vergrype teen die demokrasie in die land van toepassing gewees het: “ ‘A coup has been carried out. We will resist and we invite the people to resist with us,’ said Senator Desiree Masi from the opposition Progressive Democratic Party.”

In Venezuela het die hoogste hof die parlement opgeskort, en self die verantwoordelikheid daarvoor oorgeneem. In die praktyk is die mag in die hande van die beleërde president geplaas. Die agtergrond is dat pres. Nicolas Maduro, ’n politieke kloon van wyle pres. Hugo Chavez, sedert Desember 2015 te make het met ’n parlement wat hom nie goedgesind is nie. Hy het egter voortgegaan om die parlement te hanteer as sou dit deur die “opposisie” beheer word (al was die “opposisie” in die meerderheid), en die land verder in die ekonomiese gemors in te lei wat deur Chavez begin is. Die meerderheid regters van die Hooggeregshof is nog aanstellings uit die Chavez-era.

Dié aanhaling uit The Telegraph kon óók net sowel na Suid-Afrika verwys: “Venezuela’s chief prosecutor on Friday condemned the Supreme Court’s decision to shut down the country’s parliament – echoing concerns voiced around the world that the troubled country was sliding towards a dictatorship.”

Die Christian Science Monitor stel dit soos volg: “For years, Venezuela has flirted with authoritarianism. This week, it bid goodbye to any pretense that it remained a democratic country.”

So op die randjie van hierdie gebeure is die optrede van die pasverkose pres. Donald Trump van die VSA. Daar word (nog) nie wyd na outoritêre optrede verwys nie, maar baie na daaraan, soos in die Rasmussenpeiling waar daar na Trump se optrede as “met te veel konfrontasie” verwys word. Volgens die jongste peiling meen 57 % van die kiesers Trump soek te veel konfrontasie. Altesaam 48% beskou sy leierskap as swak, en net 38% meen dis goed of uitstekend. Trump se ore-uitlenery aan wetenskap-afvalliges lei nou daartoe dat wetenskaplikes op 22 April ’n groot optog, “March for Science”, in Washington beplan. Optogte in 400 stede oor die wêreld heen sal die poging in Washington steun. Die organiseerders maak dit duidelik hul optrede is nie soseer teen Trump gemik nie, maar vír die wetenskap.

Kortom, Zuma moet maar hard probeer as hy nou die wêreld se media-aandag met sy optrede wil vergas. Sy “taak” word verder bemoeilik deurdat Afrika op die oomblik maar hard geslaan word deur verwikkelinge wat demokrasie nie tot eer strek nie. In die DRK regeer Joseph Kabila lustig voort nadat sy finale termyn ingevolge die grondwet verstryk het. Verskeie mense het hul lewens verloor. Uit Europese mediaberigte blyk dit dat die beloofde verkiesings in Desember “weens ’n geldtekort” nie kan plaasvind nie.

Robert Mugabe en Zimbabwe is al ou nuus. Daar moes eers buitelandse inmenging wees voor die verslane president van Gambië die pad gevat het. Ghana het ’n kabinet van meer as 100 ministers gekry. Só kan die lysie al langer gemaak word.

Ongelukkig sluit die graderingsagentskappe nie hul oë vir Suid-Afrika nie. Netwerk24 som dit soos volg in ’n hoofartikel op: “Die agentskap Moody’s besin volgens plan Vrydag oor Suid-Afrika se gradering. Moody’s het Suid-Afrika tans nog twee kerwe bo rommelstatus. Standard & Poor’s se beurt kom vroeg in Junie en Fitch het nie ’n spesifieke tydskaal wanneer hy Suid-Afrika se gradering sal hersien nie. Albei het die land tans net een kerf bo rommelstatus, wat beteken rommelstatus is onafwendbaar as hulle besluit op ’n afgradering op grond van die politieke onstabiliteit en risiko’s vir die nasionale tesourie wat geskep is deur die verwydering van sy ­leierskorps. Hulle sal in die komende maande fyn kyk of gesonde fiskale beleid by die tesourie gehandhaaf word of in watter mate dit vir die Gupta-ekonomie oopgegooi word.”

Intussen broei die “opstand” teen Zuma oor bykans die ganse veld – van binne die ANC waar die topses duidelik verdeeld is en nie skroom om dit na buite bekend te maak nie, die opposisie vra weer ’n mosie van wantroue, die EFF, gerugsteun deur Cope en die UDM, vra ’n bevel aan van die Konstitusionele Hof dat Zuma in ’n staat van beskuldiging geplaas word as voortvloeisel van die Nkandla-sage en die misleiding van die parlement daaroor, die media en talle belangegroepe. ’n WhatsAp-petisie wat voor die naweek per selfoon begin versprei het, en ten doel gehad het om 300 000 “handtekeninge” te kry, het voor die einde van die naweek meer as 300 000 “handtekeninge” opgelewer en dit stroom nog in. Verskeie rubrieke het verskyn waarin kenners die opsies en prosedures verskaf om grondwetlik van Zuma ontslae te raak.

Maar vir die interessantheid, watter ses stappe het Chaudron aan die hand gedoen om van outokrate in die algemeen ontslae te raak?

  • Soek ’n charismatiese opposisieleier.
  • Verenig die (opposisie-)kragte en sorg dat die opposisie tot ’n sterk beweging ontwikkel.
  • Maak gebruik van die sosiale media om die massa te mobiliseer.
  • Benadruk ekonomiese agteruitgang.
  • Sorg daarvoor dat die outokraat se lojaliste hul steun by die ander kant inwerp.
  • Gryp die kans aan die oomblik wanneer die outokraat “de teugels iets laat vieren”. Dié Nederlandse spreekwoord dui daarop dat beheer verslap word, en funksie gedelegeer word.

Punt vir punt kan dié ses stappe op Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Die eerste stap, die vind van ’n charismatiese opposisieleier, is op die oomblik in Suid-Afrika in ’n warboel deurdat Mmusi Maimane optrede teen Helen Zille dryf as sou sy ’n groot oortreding begaan het, terwyl baie DA-ondersteuners haar weergawe en optrede steun. Zuma het eenvoudig met sy rasbenepenheid die raskwessie so akuut in die land gemaak dat dit sake vir veelrassige partye soos die DA baie kompleks maak.

Terwyl daar ’n groot mate van opposisiesamehorigheid is (soos gedemonstreer deur munisipale koalisies teen die ANC), is dit kompleks. Die EFF se “gedoogde” steun aan die koalisie is ten beste onstabiel, terwyl die ANC ook die steun van surrogaatpartytjies het. Dan het die UDM en Agang die mosie vir grondonteiening sonder kompensasie gesteun. ’n Sterk verenigde opposisie is baie moeilik haalbaar.

Die sosiale media is wel in baie opsigte baie doeltreffend, maar in Suid-Afrika ontlok ’n ongunstige openbare mening eerder ’n gegiggel van die president as wat dit soos volgens internasionale konvensie ’n staatsregtelike impak het.

Die ANC se “goeie storie” is redelik doeltreffend teen die beklemtoning van ekonomiese agteruitgang, hoewel werkloosheid wel ’n belangrike faktor bly. Die regering het egter belangrike instrumente soos die SAUK tot sy beskikking, soos om Zuma ’n nuwe behuisingskema te laat open en breedvoerig uit te saai. Dat ’n alternatiewe, doeltreffende regering met soortgelyke middele en minder korrupsie dalk ’n dubbel so groot skema sou vermag het, word van die kykers “weerhou”.

Die Suid-Afrikaanse koukusstelsel maak dit so te sê onmoontlik dat ’n baie ontevrede LP of selfs ander lede hul steun oor spesifieke sake by die opposisie kan inwerp. Sou ’n lid teen die koukusbesluit stem, of net buite stemming bly, of net nie ’n goeie verskoning vir afwesigheid hê nie, kan sy lidmaatskap weens die “dissiplinêre optrede” in die slag bly, en hy sy amp kwyt wees. Hoewel dit byna onmoontlik is om te sien dat leiers wat Zuma se jongste kabinetskommelling, en veral die afdanking van Pravin Gordhan, openlik kritiseer, soos adjunk-president Cyril Ramaphosa, of Gordhan self, in ’n mosie van wantroue vir Zuma kan stem, is dit waarskynlik dat hulle vir Zuma sal stem. Hulle sal heel moontlik eerder hul kans afwag om binne ANC-strukture hul stem te laat praat.

Die media, belangegroepe en ander laat eenvoudig nie toe dat die regering, of sy intelligensiedienste, vrye spraak en vrye media verhinder nie. Diegene wat met sukses die nalatenskap van Mandela verkondig, bevind hulle nou ook in die anti-Zuma-kamp en die impak hiervan moet nog bepaal word.

En gaan Zuma knak en loop?

Nie sommer nie. Die gevaar van langtermyn-tronkstraf is te groot. Die impak van die steun wat hy ná die staatskapingsaga kry, gaan ook eers behoorlik getoets word. Sy ondersteuningstelsel is baie stewig.

Maar dit beteken nie die burgers en hul gepaste samelewingstrukture en burgerlike instellings durf hul demokratiese verpligtinge enigsins verslap nie. Iewers is ’n strooihalm wat die kameel se rug gaan breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elisabeth ·

Dit het die nuus gemaak en die mense praat openlik oor dit waar hulle sit vir hulle middagete in die buitenland. Baie vra reguit hoekom neem RSA die pad wanneer dit een van die beste lande in die wêreld kan wees? Dit is nie net Brexit, daar kom heel waarskynlik Swede wat ook die EU nou wil verlaat. Party keer kan ek nie glo wat uit RSA kom nie natuurlik word RSA dop gehou en natuurlik gly RSA verder af die lys na onder. Die ergste is as mense praat en 2 jaar na goeie raad van Presidente ens dit slegter gaan as beter.

pieter ·

zuma se crime record lyk beroerd,HELEN SE IETS ,KOLONIE-, WAT BETEKEN DIE WOORD, NEDERSETTING,VOLKSPLANTING,TROP,GROEP, NOU VIR WIE HET SY GEVLOEK OF IS DIT DIE WITVEL WAT SWART MOET WEES.

Jan Jooste ·

Politiek behels die kuns van die moontlike. Janne Chaudron se sespuntplan begin met uitkenning van ‘n charismatiese opposisieleier. Ons grootste tussentydse doelwit moet wees om 70-plus ANC parlementslede te oortuig om ‘n mosie van wantroue in Zuma te ondersteun; nieteenstaande die moontlikheid van afdanking. Gevolglik sou dit beter wees om nie nou die inherente struktuur van SA se politieke arena nou omvêr te werp. Hanteer eerder die verwerping van Zuma en sy patronaarnetwerk as spesiale projek en aanvaar Pravin Gordhan as leier van die projek. Só ‘n eerste treë gaan moontlike die beste kans hê as kuns van die moontlike. Voordpoed.

Pietman ·

Maklik, jy stem hom uit. Ons is dan nou ‘n demokrasie en soos almal weet in ‘n demokrasie gaan alles altyd goed. Vele bomme was geplant om ons huidige demokrasie te kon bewerkstelllig met die beste grondwet in die wêreld. Wat nou?

Herman Toerien ·

Halllo Pietman en Muis. Niemand kan stry dat die grondwetlike model wat ons uiteindelik gekry het, gebrekkig was en eintlik nie vir ‘n heterogene staat kan werk nie. ‘n Demokrasie, en veral grondwetlike demokrasie, behels egter veel meer as Zuma se begrip daarvan wat eintik op ‘n diktatuur (soms tirannie) van die meerderheid neerkom. En in sy geval baie in die rigting van ‘n eenman-vertoning ontwikkel. Ander aspekte van die demokrasie is die vrye media, en sterk burgerlike instellings. Dit help natuurlik as die howe onafhanklik is. Daar moet doeltreffende terugroepmeganisme wees wanneer dit blyk dat die president ‘n wolf in skaapklere was toe hy verkies is, anders vind die terugroep met lewensverlies plaas soos in Oekraïne, en in ‘n mate nou in Suid-Korea.

Jack Klok ·

Daar word so baie gegorrel oor hoe demokrasie in 1994 op Seffrica toegesak het met die komplimente van die ANC se “struggle helde” maar ek het nog nie een “struggle held” gesien wat nie voete van klei het nie.

Ons het nie ‘n demokrasie nie want ons nuwe bestel het nog nie die toets van ‘n regeringsverandering via die stembus geslaag nie. Tot dusver het ons nuwe stelsel nog elke toets om demokrasie te bepaal met vlieende vaandels gedop.

Selfs die veelgeroemde regterlike gesag se “onafhanklike” uitsprake beteken niks want dit word nie afgedwing of nagekom nie. Dus wat het ons? Basies dieselfde outoritêre regering soos wat dit onder swartes bestaan het voor blankes met die konsep van demokrasie gekom het.

Die enigste medisyne teen die huidige outoritêre bestel is ‘n pil met ‘n hoë lood inhoud.

Muis ·

My mening hieroor is die ANC ondersteuners het gekry waarvoor hulle gestem nie, moenie nou kom kla nie. Ons het hieroor gewaarsku maar hy het die regte ‘taal’ gepraat oor grondonteiening en werk vir almal en so het almal ANC gestem, want hierdie ‘god’ gaan hulle nou alles verniet gee, werk, education, water, elektrisiteit, grond ens. Almal het geweet dit is nie doenbaar nie, maar die massas het GESTEM, the PEOPLE HAVE DECIDED, die minderhede se waarskuwings en menings het NIKS getel nie, ons is gevloek en geskel en as rassisties uitgemaak, so JULLE HET WAARVOOR JULLE GESTEM HET, kry vir julle!! Ongelukkig ly ons minderhede ook nou daaronder maar ons kan in elk geval nie ‘n verskil maak aan WIE die President is nie, die ANC het dit duidelik vanoggend vir ons laat verstaan, dat GEEN minderheid vir hulle gaan voorskryf wie die volgende president is nie, so SIT MAAR MET HOM. THE PEOPLE HAVE SPOKEN, ZUMA is their KING!! hahahah so draai die wiel maar.

JWM ·

Dankie vir die insiggewende artikel, Herman. Met ander woorde is demokrasie dan nie die korrekte beleid vir ons land nie? So jammer daar tree nie leiers na vore met oplossings nie.

Herman Toerien ·

Hallo JWM. Daar is baie demokratiese modelle, sommiges meer geskik vir homogene state, ander meer geskik vir heterogene state. So gee Brittanje, met sy parlement, aan Skotland selfregering met sy eie parlement, en ook in ‘n mindere mate aan Wallis, en Cronwallis. Die Baske en die Katalane in Spanje het ook beperkte sefregering. België was ‘n sterk unitêre staat, maar het algaande in ‘n federasie ontwikkel waar die Vlaminge, Wale en Duitsers baie sterk outonomie het, en die konfederale opsie ‘n jaar of wat gelede deur ‘n party vir bespreking oopgestel is. In SA het die NP-regering en NP beide se riglyne aan die onderhandelaars by Kodesa ook sterk sulke element bevat (ek weet, want ek moes van die voorleggings doen en het die opdragte gesien), maar die onderhandelaars het iets heel anders beding. En die Kabinet het dit goedgekeur.

Johann ·

Van my kant, net so ‘n stuiwer. Dit lyk my na Maimane by Zille oorgeneem het, het daar ‘n beduidende beleidsverskuiwing plaasgevind. Nou is my vraag, beweeg Maimane te vinnig vir die tradisionele ondrsteuners van die DA, of gee hy nie om, om hulle langs die kant af te gooi, terwyl hy mense by die ANC probeer afvat nie? Dan, hoe dun is die verstil nou al tussen die DA en die ANC. As dit baie dun is, dan is dit amper EFF. Hoort die regdenkendes dan nog by die DA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.