Nuuskommentaar: Hoe gepas is Afrika-sentrisme?

Foto: www.sourcingjournalonline.com

Foto: www.sourcingjournalonline.com

Die ANC-regering verklaar van sy mees bisarre optredes dat dit wil toon hoe Afrika-gerig dit is. Van die oppergesag van die reg (grondwetlike demokrasie) tot “Westerse konsepte” soos korrupsie het al onder skoot gekom. Soms lyk dit of dit meer ’n rassekwessie is, soos die regering se steun tydens die Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika aan al wat swart Afrikaspan was, en geen erg aan byvoorbeeld Algerië se opmars getoon is nie.

Selfs mense wie se voorouers al eeue in Suid-Afrika woon en groot bydraes tot die land gemaak het, is as “setlaars van ’n spesiale soort” beskryf. Jan van Riebeeck se koms, volgens pres. Jacob Zuma, het “al die moeilikheid” na die vasteland gebring waar die inwoners daarvoor veel pret gehad het. Grondeise word gebaseer op ’n persepsie, gestaaf deur meningsopnames, van ’n wye opvatting onder swart mense dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

Pas het Suid-Afrika internasionaal argeologiese nuus gehaal oor twee heel verskillende onderwerpe. Hierdie artikels is egter nie die eerste wat lig werp op die bevolking van die land ook uit tydperke voor blankes en swart mense in die land gekom het nie.

Die eerste artikel, wat ook in die aanlyn-vaktydskrif Plos One gepubliseer is, handel oor die ontdekking dat mense in Suid-Afrika van sowat 49 000 jaar gelede melk as basis vir die maak en aanwending van verf gebruik het. Argeoloë van die Universiteit van die Witwatersrand het saam met navorsers van verskeie buitelandse universiteite gewerk, en komplekse toetse is gedoen om van hierdie feite seker te maak.

Wat interessant is, is dat hierdie mense reeds in Suid-Afrika doenig was en vaardighede geleer het ongeveer 48 000 jaar voor die eerste swart mense in Suid-Afrika gekom het.

Die tweede artikel werp lig op die misterieuse ruïnes van Mpumalanga se platorand. Die navorsing is deur twee navorsers van Wits gedoen, en die bevindinge vervat in ’n boek, Forgotten World – The Stone-walled Settlements of the Mpumalanga Escarpment, handel oor iets wat hulle erken in Suid-Afrika deur bewaringskundiges en navorsers erg afgeskeep is. Die ruïnes is byvoorbeeld nie tot nasionale monumente verklaar nie en  geniet geen bewaringstatus nie.

Wat hulle nie noem nie, is dat hierdie afskeep van behoorlike navorsing die sogenaamde alternatiewe amateur-argeoloë ruim geleentheid gebied het om ’n fantasie-wêreld van tot meer as 100 000 jaar gelede te skep. Hiervolgens sou misterieuse mense die gebied bewoon en ’n gevorderde beskawing van stede met verbindingspaaie gebou het duisende jare voor die mens elders hierdie soort beskawingspeil kon bereik het.

Die werklikheid is veel minder romanties, maar nie minder belangrik nie. Dit is deur die Bakoni gebou, wat teen ongeveer 1500 in die gebied kom woon het, en tot ongeveer 1820 daar gewoon het. Van hier af het hulle wyd handel gedryf, ook met die Ooskus waar lewendige Atlantiese handel reeds posgevat het.

Hoewel nie so oud nie, het Suid-Afrika sy eie ou beskawing gehad soos dié van Groot Zimbabwe wat in die suide van die huidige Zimbabwe, van die suidooste tot teen die grens met Botswana en in Noord-Limpopo ingestrek het, en veral vier belangrike stede gehad het. Ook met Groot Zimbabwe was daar aanvanklik groot traagheid om te aanvaar dat die bouwerke die werk van swart mense kon wees. Die ou Afrikaanse Kinderensiklopedie vermeld byvoorbeeld ’n opvatting van ’n vrou dat dit gebou is deur ’n wit stam wat uit die Andes in Suid-Amerika hier beland het.

Dit sal nog lank neem voor argeoloë die voorgeskiedenis van Suid-Afrika behoorlik uitgepluis sal hê. Ongelukkig moet enorme berge van politieke korrektheid ook oorgesteek word, om byvoorbeeld te verklaar hoe die oorspronklike inwoners wat onder meer deur rotstekeninge, maar ander argeologiese nalatenskappe getoon het dat hulle landwyd voorgekom het, nou in klein areas saamgetrek is, meestal droë gebiede, en dikwels in getalle byna nie meer bestaan nie. Is hulle verdryf, uitgemoor, geassimileer of was daar ’n mengsel hiervan? Hoe dit ook al sy, hulle is hul grondgebied kwyt.

’n Voorbeeld van die wrywingspotensiaal speel hom nou by Platfontein in die Noord-Kaap af waar die San afgesit is nadat ’n swart stam suksesvol ’n grondeis daarop ingestel het. Die San, of minstens ’n deel van hulle, maak daarop aanspraak dat dit San-grond was lank voordat die swart mense dit beset het, en daar is nie werklik teenargumente nie. Die huidige wetgewing vir grondrestitusie strek egter net terug tot die 1930’s en poog om ’n situasie te herstel wat maar baie onlangs in die geskiedenis die geval was.

Daar is ’n internasionale konteks hieragter wat al hoe meer gehoor word – die regte van die eerste nasies, of “First Nations” soos dit in Engels genoem word. In lande soos Kanada en die VSA kan “eerste nasie”-aansprake dikwels groot finansiële voordele inhou, hoewel dit dikwels nog uitsonderings is. Dit bring dikwels ’n soort selfregering (soos met die Maori’s in Nieu-Seeland) of gee verskanste verteenwoordiging in die nasionale parlement (soos in Nieu-Seeland en Indië).

In die Krim-skiereiland het die “eerste nasie”, die Krim-Tartare, ’n eie “parlement” wat op die basis van korporatiewe selfbeskikking geskoei is. Volgens aanduidings is sy verwagte voortbestaan onder druk omdat die Russe, wat die meerderheid is en die gebied nou beheer, dié liggaam al jare lank nie goedgesind is nie. Maar die Krim-Tartare het ook ontstaan uit talle ander nasies en stamme wat voor hulle in die gebied en omgewing gewoon het.

Soms lei dit tot vreemde situasies. In die VSA is ’n oeroue skedel ontdek, bekend as die Kennewick Man, wat op die oog af nie na dié van ’n Rooihuid gelyk het nie. Aanvanklike navorsing het ook getoon dat die man waarskynlik eerder aan die Polinesiërs verwant was as die huidige Rooihuide. Dit het byna tot paniek gelei oor die implikasies van moontlike verlies aan eerste nasie-status (en voordele). Die jongste genetiese toetse het die verwantskap met die Rooihuide, en ’n bepaalde groep hedendaagse stamme egter onlangs bevestig, en ’n baie warm patat kan nou ter ruste gelê word.

Plek-plek is daar ook ’n gewaarwording onder Suid-Afrika se oorspronklike inwoners dat hulle nie net ’n baie kort lootjie getrek het nie, maar soms geen lootjie nie. Die hele stelsel van besoldigde tradisionele leiers is gebaseer op die konsep van “oorspronklikheid” maar die KhoiSan se tradisionele leiers is hiervan uitgesluit. Daar is ondernemings om die datum vir grondrestitusie ook ter wille van hulle terugwaarts te skuif, maar of so iets sal realiseer moet nog gesien word. Wat as dit sou blyk dat daar ’n heel geldige eis op Nkandla is?

Hierdie eerste nasies is erg gestroop van ander kulturele aansprake, soos plek- en riviername. Soms leef die oorspronklike KhoiSan-name in vervormde vorm voort, soos Duiwelspiek in Kaapstad, wat eintlik Windpiek moet wees. (Duva beteken “wind” in een van die Khoi-tale).

Die harde werklikheid is dat daar ’n wesenlike gevaar is dat ’n skyngeskiedenis in Suid-Afrika geskep word en dat enorme onregte gepleeg kan word, en soms reeds gepleeg word. Om Suid-Afrika te laat skade ly in terme van internasionale beleid, handelsopsies, vriende en vele meer om hierdie skyngeskiedenis te rugsteun, is onnodig. In die proses vind vervreemding plaas. (Lees gerus Maandag se Radio Pretoria-nuuskommentaar, Minder mooi prentjie van Schilderwijk in hierdie verband).

Die land sal veel groter voordeel trek uit ’n benadering waar die bydrae en bande wat elk van die verskillende geskiedeniskomponente bring, erken en uitgebou word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Chris Lombard ·

DNA toetse op die geraamtes wat gevind is by Mapungubwe, wys hulle is van Khoi/San herkoms, alhowel hulle op die tradisionele swart manier begrawe is. Aangesien Mapungubwe so naby aan Groot Zimbabwe is, en die verval daarvan byna ooreenstem met die groei van Groot Zimbabwe, is die kans groot dat ook Groot Zimbabwe n Khoi/San nedersetting was.

Peet Schabort ·

Dalk moet ek ook vir DNS-toetse gaan. Wie weet, dalk Mapungubwe en bo alle verwagting Nkandla ?
Lg. sal egter maak dat ek moet leer om te swem en kontrak te sluit met KFC.
Ai, daar is mos nie fout om te droom . . .

Johannes Meintjes ·

Simon van der Stel het aan my groot, groot oupa ‘n plaas in die Stellebosch distrik toegestaan. Ek wag nou om te sien wie eis daar sodat my eis uiteindelik meer winsgewend kan wees. Dankie Herman Toerien en Maroela Media . Objektiewe geskiedenis en geregtigheid is voorvereistes vir ‘n volhoubare SA en Suider-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.