Nuuskommentaar: Hoe groot moet ons skrik?

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Met die strome nuus oor die verspreiding van Covid-19 en onder meer groot sportbyeenkomste en reekse soos die Pro-14 wat opgeskort word, is kommer ’n vanselfsprekende gevolg. Dit is egter nie nodig dat fopnuus die histerie so aanblaas dat dit naderhand die ekonomie internasionaal so seermaak dat dit gevaarliker as die siekte self word nie. Die stand van die ekonomie is immers tot ’n groot mate afhanklik van die persepsie daarvan.

Dit word nie om dowe neute gesê ons woon nou in die era van fopnuus nie. Skaars het die nuus gebreek dat die koronavirus ’n nuwe mutasie ondergaan het, sedertdien die Covid-19 gedoop, of fopnuus is veral deur die sosiale media in omloop en veroorsaak reeds paniek.

Die verspreiding van die fopnuus word aangehelp deur die ongekende opkoms van die aantal mense wat as ontkenners en samesweerders beskryf word, asook wat as die resultaat van “verdomming” beskryf kan word, en wat mense nog meer blootstel. In gister se Los Angeles Times kan u byvoorbeeld lees hoe samesweringsteorieë oor MIV/vigs die stryd teen dié siekte in Rusland in die wiele ry. As ’n mens na die verskriklikste bogstories kyk wat nou gereeld die ergste fopnuus oor Covid-19 vergesel, is dit soms moeilik om te aanvaar dat enigiets in daardie boodskappe die waarheid kan wees, wat ’n dodelike fout kan wees.

ʼn Werker loop tussen beddens in ʼn konferensiesentrum wat tydelik omskep is in ʼn hospitaal vir pasiënte met die koronavirus in Wuhan, China. (Foto: Chinatopix, AP)

Wat Covid-19 betref skep die afwesigheid van ’n teenmiddel boonop ’n gees van vrees en onsekerheid. ’n Australiese maatskappy het reeds aangekondig dat hulle ’n kandidaat-teenmiddel ontwikkel het, maar te min nuus hieroor is bekend om te bepaal of ons eersdaags die prik van die inenting sal kan voel. Moontlik een van die duidelikste projekte is dié van Codagenix wat intensief saam met Indië se Seruminstituut en ander werk om nie net ’n goedgekeurde serum te ontwikkel nie, maar op groot genoeg skaal beskikbaar te stel vir wêreldwye verspreiding, en wat aangedui het hul navorsing is nou gereed om met eksperimente op diere te begin. Dit is ’n voorloper om na toetse op mense aan te beweeg. Hulle dui aan dat hulle hoop om dit teen 2022 markgereed te hê. Teen die tempo wat die siekte nou oor die wêreld versprei, klink 2022 onheilspellend ver in die toekoms. Ander meen ’n teenmiddel sal minstens ’n jaar neem om te ontwikkel.

Terwyl ’n voorkomingsmiddel die ideaal is, word daar ook onverpoos gewerk om middels te vind waarmee die siekte self beveg kan word. In Januarie is berig dat nuwe middels om die siekte te behandel binne ses maande ontwikkel kan word, wat dus oor sowat drie maande van nou af kan wees. Destyds is ook berig dat reeds bestaande middels moontlik oor ’n mate van doeltreffendheid kan beskik.

Foto: (Zoltan Balogh/MTI via AP)

Om een voorbeeld te noem van moontlike fopnuus: ’n stemboodskap van ’n vrou wat nog redelik jonk klink, doen die rondte. Sy is glo ’n Suid-Afrikaanse dokter wat in Italië werk wat nou die derde meeste gevalle van Covid-19 in die wêreld het. Volgens haar is die voorkoms veel erger as wat die nuusmedia versprei, en veral in Suid-Afrika lieg die media volgens haar vir mense oor die omvang hier. Suid-Afrikaners is glo geïsoleerd van die meer akkurate inligting wat wêreldwyd deur die wêreldmedia versprei word, wat bog is. Dit is ’n vroeë aanduiding dat dit fopnuus is, maar daar word ook ander stellings gemaak wat duidelik vals is, soos dat Italië en Turkye op die punt staan om in ’n oorlog betrokke te raak, dat verskeie Noord-Afrikaanse state op die punt staan om oorlog teen Italië te voer, dat daar ’n biologiese oorlogvoering aan die gang is en dat “hulle” beplan om 60% van die wêreldbevolking uit te wis, dat daar ’n tweede Covid-19 is wat langer neem om te inkubeer, maar wanneer dit manifesteer is dit reeds terminaal.

Die voorsorgmaatreëls wat regerings en ander liggame soos sportliggame instel, dui daarop dat dit hier nié oor kinderspeletjies gaan nie. Pres. Donald Trump het ’n reisverbod met baie Europese lande aangekondig, maar terselfdertyd berig media ook dat hy verkwalik word omdat hy die siekte nie ernstig genoeg sou opneem nie.

Pas is berig dat die base van die Pro-14-rugbyreeks besluit het om die kompetisie op te skort. Dit raak twee Suid-Afrikaanse spanne – die huidige Curriebekerkampioene, die Cheetahs, en die Kings. Die Cheetahs het nog ’n skraal kans gestaan om die reeks te wen, met die meeste oorblywende wedstryde tuis, en is uiteraard verslae. Hoe gaan dit seisoenkaartjiehouers, borge, uitsendingsregte en ander sake, byvoorbeeld spelerskontrakte, raak? Daar is nou ook sprake dat die Superreeks om dieselfde rede in die slag kan bly. Nuus van oral oor die wêreld berig oor sportbyeenkomste wat gekanselleer word, en selfs vanjaar se Olimpiese Spele kan in die gedrang kom, al ontken die grootbase dit.

Intussen, met vanjaar se griepmiddel skynbaar op hande, laat uself inent. Die griepmiddel sal nie Covid-19 voorkom nie, maar griep verswak ook die liggaam wat dit meer vatbaar maak om Covid-19 op te doen.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan Venter ·

Herman, iemand vra my gister of die Korona virus oor die Internet kan versprei, ook as mens oor die Internet bank, ek beduie toe vir hom ek het Kaspersky en hulle sal verseker al hul antivirus program opdateer het.

Vriendelike Frikkie ·

Ek het gister ‘n vlieëplak werk toe geneem en die vingerdruk leser liggies daarmee geslaan voor ek ingeklok het. (Alles deel van simpel wees). Die sekuriteit vra my wat ek doen en ek verduidelik baie ernstig ek slaan die Covid-19 dood. Wil hy toe by my die plak leen om daar te hou sodat hy ook van tyd tot tyd die leser kan “skoonmaak”. Nadat ek hom beduie het dis ‘n grap is die man redelik beswaard met my. Ek wonder hoekom?

Johan Venter ·

Bramaputa, dis baie snaaks, baie, dis ….. snaaks, ek lees dit vir my vrou en ons lê soos ons lag. Dankie man so tussen al die Eskom en wat ook al deur. DIS mos waarom mens lewe, om die aarde ‘n beter plek te maak!

Santie ·

Gister moes een van my man se kollegas, hy is van Duitsland, Botswana toe vlieg en hulle het hom toegang geweier. Hy het gisteraand terug gevlieg Duitsland toe….

Belinda ·

Covid-19 is realiteit. Daar is mense en nuusmense wat dit groter opblaas, maar as ‘n 1ste wêreld land sy deure toemaak vir mense van buite, as hul paniek en oorvol hospitale het, moet jy regtig begin wakker skrik. As jy nog dink dit is alles fopnuus, volg Corona Worldometer – dit is die wêreld liggaam en hul updates lyk korrek met wat ons in nuus lees. Die nuwe gevalle styg daagliks veral die week met +- 4000, die goeie nuus is, die getalle wat gesond word styg ook. Die dodetal styg stadig en die kritiek getalle word al minder, hul beweeg oor na “mild” toe. So ja mens moenie paniekerig raak nie, kry jou imuun stelsel in orde, kry ontsmettings middel (sterk soos reeds deur Maroela Media voorgehou), skerp persoonlike higiene op, soos die Dokter op Maroela Media “life show” gesê het, was jou hande voor en na interaksies. Dankie Maroela Media vir gereeld terugvoer sonder media “hype”, maar beslis realistiese uitkyk.

Akhenatha ·

Ek is eerder bang Jan as dooie Jan. Ons regering se beplanning vir die virus is netso goed soos die beplanning vir Eskom, SAA en al die ander. China en Iran is nie eerlik oor wat daar aangaan nie, Italië is. As hulle drastiese stappe neem, moet ons aandag gee. Ek sien moeilikheid voor.

E ·

Ek stem. Wat my kwaad maak is dat skole nog nie gesluit is nie. Hulle kan mos maar die termyne aanpas met ‘n paar weke. ‘n korter des vakansie gaan niemand skaad nie. Ek dink Gauteng word erg onderrappapporteer – tog het ons ‘n internasionale lughawe waar duisende deurgaan.

Charl ·

Met Spaanse Griep het 50 miljoen mense doodgegaan in 1918. Daar gaan nie naastenby soveel mense doodgaan met Corona Virus nie, meer as 50% mense het al herstel daarvan.

Elmarie ·

Dankie tog vir ‘n berig wat sinmaak in al die histerie. Nie dat ek enigsins die virus storie as nie ernstig beskou nie! Ook die kammige stempos uit Italie ontvang en toe die persoon se daar is nie net een geval in SA nie het ek klaar geweet dis bollie want almal weet mos al dis meer. En dan ook dat sy dan nou sovele kindertjies sien inkom in die hospitaal en nie weer uitkom en “almal” gaan dood. Wat ‘n spul snert. Daar is juis onsekerheid hoekom so min kinders dit kry waar dit gewoonlik ‘n geval is dat veral kinders sulke tipe van virusse kry. Daar is nog nie genoeg inligting en ek is seker daar word woes gewerk aan teenmiddels. Mense, DINK voor julle alles glo. Daar was selfs ‘n stempos van een of ander man wat vertel mens moet hth (swembadchloor!!) drink dit sal help. Ek kan nie glo mense vresprei sulke nonsens nie! Hou julself veilig, was hande (dis in elke geval iets wat mens as kleuter tuis geleer het) vermy skares waar jy kan en eet gesond ens

NetM ·

Is Italie gesluit vir almal en alles? Het Amerika sy land gesluit? Het Indie sy land gesluit? Natuurlik is daar fop nuus. Daar is oral fopnuus oor elke onderwerp. Moet jy paniekerig wees? Nee. Maar ek kan nogal die frustrasie insien as 65% van die lesers hier dink die virus is nie ‘n ernstige situasie nie.

Judge ·

Tussen 200 000 en 700 000 duisend mense sterf wereld wyd van Influenza elke jaar.

Hoekom nie die paniek oor gewone verkoue en griep?

Johan Venter ·

Ek wonder of ons owerhede, die ministers van gesondheid en polisie, ook Cyril Ramaphosa, weet as mens na die aantal sterftes aan die virus in Sjina kyk, dan sien mens oor dieselfde tydperk is daar meer mense in Suid-Afrika vermoor.

Ons het nie ‘n virus nodig nie, ons doen dit sommer self.

ZeldA ·

Ek het al dit probeer verduidelik in vorige berigte maar word net aangeval. Die virus het kompetisie in SA.

Johann ·

Wel, ek hou grafieke op datum in MS Excel en ek hersien elke dag die neigingslyn wat steeds exponensieël is. Volgens die eksponensiële wiskundige vergelyking groei die aantal infeksies wêreldwyd, China uitgesluit, teen gemiddeld 17% per dag, en dit is grootliks vir lande met FUNKSIONERENDE GESONDHEIDS STELSELS en oorwegend sonder plakkerskampe. So, ek raai dat sodra die virus regtig gaan begin versprei dit met 34% per dag gaan groei gegewe SA Gesondheids Stelsel en die plakkerskampe. So, ons moet regtig maar baie groot skrik vang en onsself baie mooi oppas.

Leon ·

Ek dink die grootste gevaar is net dat hy maklik kan aansteek. En dus redelik vinning kan versprei as die mense nie versigtig is. Hy is net soos enige verkoue en griep virus. Daar sterf jaarliks meer mense aan die gewone verkoue en griep as wat ons nou sien.

Lize ·

Ek dink nie Suid-Afrika skrik groot genoeg vir hierdie virus nie. Ons het nie die fasiliteite of die verpleegkrag wat Wuhan gehad nie. As die tipe virus onder n groep uitbreek waar mense klaar lewe met HIV/VIGS, TB en vele meer, ys ek om te dink met wat se gesondheidskrises ons sal sit. Ek hoop dis glad nie so ernstig as wat my sesde sintuig vir my sê dit is nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.