Nuuskommentaar: Hoe hard byt die post-Ramaforie-trauma?

Pres. Cyril Ramaphosa tydens ‘n gesprek met sakeleiers, boere en akademici in Stellenbosch. (Foto: MYANC via Twitter)

Die meeste Suid-Afrikaners het al ervaring gehad om te sien hoe iemand, ná die vrolikheid wat vuurwater tydelik kan bring, die vreeslikste dronkverdriet beleef. Is die afname in steun sedert Januarie, soos gerapporteer, die gevolg van post-Ramaforie-trauma?

Een van die interessantste verskynsels wat genoem word, is post traumatiese euforie. Dit beteken in wese dat mense soms ná ’n traumatiese gebeurtenis ʼn vorm van euforie beleef, blykbaar as meganisme om die traumatiese gebeurtenis te kan hanteer. Die literatuur is besaai met bronne hieroor.

Maar bestaan daar ’n teenoorgestelde? Iets soos ’n depressie of trauma wat volg op ’n fase van euforie? Ja, en in die literatuur word daarna soms heel beskrywend as “happiness hangover” beskryf. Lees ook hier.

Die verskynsel word soms ook die “post-konsert-depressie” genoem en die nege stappe van euforie tot depressie word hier uiteengesit. Veral stap vier, wanneer die realiteit begin inskop, vat die proses goed saam: “The next day, you will return to your everyday life, which will seem exceedingly inferior after the night you just had. You may just go through the day-to-day motions and wonder, ‘What’s the point? This isn’t life. Last night’s show–that was life. That was being alive. This is merely living’.”

Volgens die jongste peilings en ontledings is pres. Cyril Ramaphosa heelwat meer gewild as die ANC. Heel verstaanbaar sal ʼn mens wat ’n belang het daarby dat die ANC goed in die algemene verkiesing moet vaar dié werklikheid aangryp en mense aanmoedig “om vir Ramaphosa te stem” asof dit losstaande daarvan is om vir die ANC (waar soms toegegee die ANC self onaanvaarbaar is) te stem.

Ironies, op die oomblik is die stemme harder wat ’n beroep doen op kiesers om nie die ANC te straf oor wat die leiers (soos onder meer geopenbaar in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, en Pieter-Louis Myburgh se boek oor Ace Magashule) doen nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Hoewel ’n peiling van die Universiteit van Johannesburg wat pas bekend gemaak is daarop dui dat Ramaphosa steeds baie gewild is, moet in ag geneem word dat die peiling se data tot Desember verlede jaar beperk is. In die politiek is een dag dikwels ’n baie lang tyd, en dit skyn hier ook die geval te wees.

Volgens data wat gister deur Rapport gepubliseer is, lyk dit asof Ramaphosa se gewildheid van Januarie af met tussen 12 en 15 persent afgeneem het. By baie was die aanvoeling dat die Ramaforie al vroeër begin verdamp het, en daar in inderdaad ook vroeër as Desember wyd daaroor berig.

Een van die mees algemene redes hiervoor is dat Ramaphosa daarvan beskuldig word dat hy vir elke gehoor vertel wat hulle wil hoor. In die tradisionele stamtradisie, voor die koms van die massamedia, het dit gewoonlik gewerk as die stamkaptein saans in die kraal van familievuurtjie tot familievuurtjie beweeg het, en by elke vuurtjie gaan vertel het wat die mense wil hoor, al is die stories heel botsend. Nou sorg die media dat die ander “vuurtjies” ook hoor wat nie vir hul ore bedoel is nie.

Oudpres. Jacob Zuma was veral bekend hiervoor en sy sogenaamde honde-storie het internasionaal opslae gemaak toe ’n joernalis wat by die “vuurtjie” vir wie dit bedoel was, Zoeloe kon verstaan en daaroor berig het.

Ramaphosa, wie se leierskap van die ANC intern ernstig ondermyn word, se fokus sou stellig wees om sy posisie in-huis te stabiliseer, en het sowat ’n jaar lank regeer asof die wit mense en ander minderhede nie werklik bestaan nie, behalwe as bronne vir transformasie. Die grondgryp sonder vergoeding is seker die vernaamste rooi lig wat flikker. Nou en dan is ’n beentjie uitgegooi, maar byna dadelik onderskep voor dit die minderheid kon troos.

Die onvergenoegdheid is byvoorbeeld gestimuleer deur ’n skynbare totale onderskatting van die minderhede se intelligensie, soos sy “versekering” (ook in die buiteland), dat onteiening streng volgens die reg en die Grondwet sal geskied. Hy laat dan na dat die Grondwet eers bestem is om verander te word.

Daar is baie ander redes hoekom die post-euforsiese babelas so hard toegeslaan het. Ramaphosa se onvermoë om vinnig en daadwerklik te reageer op die getuienis wat voor die Zondo-kommissie en ander kommissies van ondersoek gelewer is, is ’n belangrike een. Dit is wel so dat die regsproses na die verlangde einde ’n baie lang proses kan wees, maar daar is ander opsies moontlik soos skorsing om die regsproses sonder inmenging te laat geskied.

Waarskynlik Ramaphosa se sterkste teenstander in dié stadium, Magashule, is steeds as sekretaris-generaal van die ANC aan die roer van sake. Hy is ook nou, vergesel van Carl Niehaus, in die Wes-Kaap ontplooi om vir die ANC stemme te werf. Waarskynlik is die feit dat Magashule vlot in Afrikaans is ’n belangrike oorweging vir sy ontplooiing in die oorwegend Afrikaanssprekende Wes-Kaap.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die verkiesingsveldtog in Kaapstad. Foto: Henk Kruger/ANA

Die opkoms van die aanvanklike Ramaforie kan wetenskaplik maklik verklaar word. Neuro-wetenskaplikes weet van vyf areas in die brein, bekend as “hedonic hotspots”. Wanneer die fokusareas die gevoel van plesier ontvang, skei dit hul eie middels af, bekend as neuro-transmissiemiddels, veral dopamien, wat deur naasliggende reseptore opgevang word, en die gevoel van vreugde teweeg bring.

Die gevoel dat Ramaphosa daarin kon slaag om die Zuma-era tot ’n val te bring, is onmiddellik deur baie, en veral minderhede, as baie positief ervaar.

Suid-Afrika het voorheen ervaring gehad van die “babelas” wat op die euforie volg. Met die aanbied van die Wêreldbeker-sokkereindtoernooi het Fifa in baie opsigte die land se regering as’t ware afgeneem en self met ’n ysterhand regeer. Sake het oor die algemeen vlot verloop. Ná die toernooi was dit weer beurtkrag, die ontvanger was weer soos ’n spook oral teenwoordig, plaasaanvalle is “hervat” en heelwat verdoeseling van statistieke het aan die lig gekom. Die werklikheid het hard teruggeslaan en die euforie grootliks laat verdamp.

Ramaphosa het ook foute begaan, soos die ontkenning van plaasaanvalle (al was dit in ’n bepaalde konteks), die heraanstelling van erg gekontamineerde ministers, maar veral deur waarskynlik die powerste hiervan as een wat goeie werk doen te gaan beskryf, en ander blapse. In die proses het hy baie persepsies wat die optimiste oor hom gekoester het, begin versmoor.

Dit is duidelik dat Ramaphosa begin besef het dat die gemiddelde minderheidskieser van ’n ander stoffasie is as die lamlendige wit regerings- / NNP-onderhandelaars as waarmee hy in Kodesa te make gekry het. Al is dit net weens wysheid gebore uit terugskoue, daar is verset teen om met dieselfde kam geskeer te word. Ja, hierdie stelling is erg oorvereenvoudig en stellig nie algemeen verteenwoordigend nie, maar onderliggende persepsies se rol kan nie geïgnoreer word nie.

Nog ’n monster in die kas is die bewering dat Ramaphosa graag diegene wat op die ANC se integriteitskomitee se lys as “onaanvaarbare” parlementskandidate uitgewys word, verwyder wil hê. Dit is glo meestal Zuma-Magashule-mense. Na bewering het dié faksie aangedui hulle sal aandring daarop dat drie van Ramaphosa se vernaamste geïmpliseerde ondersteuners dan ook uit hul poste ontslaan moet word, naamlik Gwede Mantashe, adjunk-president David Mabuza en Fikile Mbalula. Hulle is ook op die lys van 22. Dit sou Ramaphosa besonder blootgestel in die top-ses laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marous ·

Waarom is mense so behep met politieke mag ? Want hulle kan hul vuil kloue inslaan in belasting geld , om hul eie gevrete te laat blink sonder om ‘n sent uit hul eie sakke te spandeer . Dit is in afrika net duisend keer erger as die res van die wereld .

Gert van Wierdapark ·

Ons besef CR is besig met balanseer-toertjies tussen die pro-CR en pro-Ace /JZ Faksies. Sy sjarme rondom die stemvee maak dit egter onmoontlik om sy more-en-aand praatjies te glo. Hy is besig om hom si vas te praat dat hy na 8 Mei 2019 nog minder beweegruimte gaan he as wat tans die geval is, want beloftes maak skuld en sommiges wag al 25 jaar!!! Dis ‘n kruitvat wat aandag moet kry en spoed-eisend ontlont MOET word!

Trojaanse Donkie ·

In engels praat hulle van ” an also ran” en ‘n crowd pleaser”
vroeg in die nuwejaar is daar weer iemand anders, hierdie ou gaan nie die pyp rook nie!

Andreas ·

Erens moes hulle darem iemand uit grawe wat geloofwaardigheid aan die party kan gee, die party glo duidelik nie meer aan hulself nie, en nou is die besluit om Cyril as die verlosser te verkoop ook besig om skouspelagtig te boemerang.

Jannie Swart ·

CR is op die oomblik die beste waardige leier om hierdie land te lei. Gee hom spasie en kom ons ondersteun hom. Hy word wereldwyd erken as ‘n goeie leier. Hy tree presidensieel op hier en in die buiteland. My wens is dat hy ‘n groot oorwinning sal behaal op 8 Mei want dit is volgens my ‘n presidentsverkiesing. Dink jou in ‘n land met ‘n president soos Julius of Mmusi Maimane. Hulle is nie opgewaase nie. Ek ondersteun ons president en glo hy sal as oorwinnaar uitstap na 8 Mei

Alida ·

Ok! Hoop jy is na 8 Mei mans genoeg om weer kommentaar te lewer.

Basjan ·

Ons leef nie in ‘n eenparty staat nie. Gaan stem vir ander partye op 8 Mei. Ramaphosa is alles behalwe ‘n goeie en gespekteerde leier. Hy was deel van Zuma se dampkring en het niks gedoen om Zuma uit te skop nie. Kans is goed dat die ANC hom gaan uitskop.

Theoman ·

Nou ja Jannie Swart so saam met die twee ANC Koornhofs in die palement, ANC Adj Ministers Andries Nel en ou Gert Oosthuisen en die Beukman kerel is daar darem as ek reg tel 6 wittes wat vir jou waardige leier gaan stem….. mooi man

Binneman ·

Die wittes is hul eie grootste vyand. Die wittes is soos ‘n weduwee met baie kinders wat langs die oewer van ‘n groot rivier vol krokodille woon. Elke dag stap sy uit na die oewer en voer sy al singende die wonderlike krokodilletjies, terwyl die krokodille elke week een van haar kinders op vreet. Maar steeds sal sy elke dag uit kom en die arme krokodilletjies voer. En dit is waarom emigrasie waarlik die beste opsie vir nugterdenkendes is.

David Potgieter ·

Binneman. Jy kan maar draf oorsee en ander uitkoms soek. Ek werk ook oorsee, want ek kry nie hier werk nie, Maar hierdie bly my land. Net soos almal wat hier gebore en getoee is.

Dries du Toit ·

Basjan jy is reg. Ramaphosa se dae is getel. Daai NUK is hom nie goedgesind nie. Magushule is nie verniet so arrogant nie. Hy weet dat Ramaphosa gaan na die verkiesing vervang word met die Zuma gesinde Mabuza. Dan is daai faksie weer terug. Hel le nog vir ons voor as die ANC sterk steun gaan kry

David Potgieter ·

Jip. En so het Mogabe ook almal gepaai en die regte antwoorde gegee…tot hy finaal aanbewind gekom het. Daarna was dit “one-way-traffic”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.