Nuuskommentaar: Hoe kan ons nog veiligheid koop? Casspir die “vriendelike” spook

Argieffoto: Kent Williamson

Veel meer as net ’n vrees vir misdaad word losgelaat wanneer ’n burger van “veilige Suid-Afrika” aan die “onveilige Suid-Afrika” blootgestel en aangeval word. Hoewel dit twee uiteenlopende wêrelde is, is dit een land en is oor en weer blootstelling aan misdaad onafwendbaar.

Luukse, en selfs effe minder luukse toerbusse het gewild begin word onder Suid-Afrikaners, en talle maatskappye het bekende name geword in dié bedryf. Benewens relatiewe gemak, speel veiligheid ook ’n rol. Onlangs is berig dat ’n toerbus met Nederlandse toeriste beroof is. Van die passasiers het laat blyk dat al manier om veilig deur die land te toer is om die reis in ’n tenk aan te pak. Maroela het met ’n nuuskommentaar, Suid-Afrika vanuit ’n pantservoertuig bekyk, gereageer.

Nou kom die nuus dat ’n Greyhound-bus by Welkom deur betogers stormgeloop is, met klippe bestook is, passasiers aangerand en beroof is, en die bus aan die brand gesteek is. Die bus en sleepwa het uitgebrand.

Terselfdertyd is gesoek na ’n motoris wat vanuit sy motor op ’n groep skynbaar bedreigende betogers geskiet het, en in die proses ’n 15-jarige seun doodgeskiet het. Die man het hom intussen aan die polisie oorgegee.

Dit is nie altyd so maklik om die “twee Suid-Afrika’s” se inwoners waterdig te skei nie. In die een word mense op straat doodgeskiet, is daar gereeld proteste, en is lewens skynbaar min werd. In die ander Suid-Afrika woon mense in woonhuise wat in forte omskep is.

Maar die “veilige” Suid-Afrika is tog blootgestel aan die aaklige werklikhede, soos rotsblokke wat tydens proteste op motors op “veilige” snelweë daaronder gegooi word.

Die politieke sentiment maak doeltreffende optrede baie moeilik. Met die onluste tydens die vorige bedeling is voertuie met noodsaaklikhede soos brood, medisyne en melk dikwels in konvooie deur gepantserde Casspirs begelei. Soms moes daar vanuit die Casspirs sarsies afgevuur word om die konvooie te kon beveilig, en gou het die “spreekwoord” geloop: “Casspir is no longer a friendly ghost.”

Dan was daar die sogenaamde “Trojaanse perd”-voorval toe polisielede hulle in ’n afleweringsvoertuig wat amper gewaarborg was om aangeval te word, versteek het. Die polisielede het toe ook die aanval afgeweer, maar die vet was in die vuur oor die “lokval”-benadering.

Die huidige minister van polisie, Fikile Mbalula, wat bekend is daarvoor dat die wag voor sy mond gereeld op dros is, word erg verkwalik oor sy bekpraatjies oor hoe misdadigers vasgevat gaan word. Sou ’n polisieman werklik in ooreenstemming met sy minister se praatjies optree, is hy egter heel waarskynlik kniediep in die sop.

Jare gelede het ’n kluisenaarboer buite Parys sy huis behoorlik in ’n fort omskep, om dit vir aanvallers onmoontlik te maak om by hom uit te kom. Toe word gewag tot hy uit sy huis kom, en hy word buite doodgeslaan. Talle plaasaanvalle het ook al buite die veiligheidstrukture plaasgevind, en inwoners is byvoorbeeld ingewag wanneer hulle van die kerk af kom.

Met die Coligny-wanorde is skade aan huise in die voormalige “wit” dele van die dorp aangerig. Fopnuus oor swart mense wat iewers in Noordwes opruk bly gewilde onderwerpe, met WhatsApp-boodskappe wat die wêreld vol gestuur word.

Dele van Suid-Afrika moet nou eers opstaan uit die miljoene rande se skade wat die natuur in groot dele van die land aangerig is. Nuwe hulpaksies volg nog voor die oues soos by Knysna afgehandel is.

Met politieke strooptogte is dit egter moeiliker om hulpaksies in omgeeprojekte te omskep, want die wonde is aan die binnekant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elsa van Zyl ·

My vraag aan ons Polisie hoofde, hiekom het wettelose misdadigers al die mag deesdae, hulle beseer en plunder onskuldige mense, vernietig alless wat voorkom en ons amptenare sit net en lag en niks word gedoen om dit te voorkom nie, dis n skande dat ons land so ten gronde gaan, roep die weermag in en maak skoon van n kant af.

Alida ·

Al die vrot appels regeer en sit in die parlement. Daar moet huis skoongemaak word en mense met verstand en integriteit aangestel word ongeag kleur. Alles het nou al in duie gestort en gaan opgeleide mense jare vat om alles te herstel en die biljoene wat gesteel is te verhaal. Mens is in n doodloopstraat en die ANC plunder net en laat siek mense doodgaan onder onopgeleide verpleging. Mens kan net bid dat daar vinnig iets gebeur. Om te giggel oor alles is siek.

Louis ·

Ek merk net die dubele standaarde op – nuusmedia dra nie die berig oor aanval op bus, niks op televisienuus en polisie minister het ook nie die slagoffers van die aanval besoek nie

Stofskoen ·

Iets wat grys geword het hedendaags is wie nou eintlik wat is.

Is iemand wat ‘n klip optel met die doel om dit na iemand of iets anders te gooi met die doel om seer te maak of beskadig…. is dit ‘n betoger of ‘n misdadiger?
As ek ongelukkig is met tolpaaie en ‘n SANRAL se gebou se vensters uitgooi of die gebou afbrand, om my ongelukkigheid te betoog… is ek dan ‘n betoger of ‘n misdadiger?

In Suid Afrika is die lyn nie altyd te duidelik nie, veral as velkleur ook nog ‘n rol speel.

Willie ·

n Vis vrot van die kop se kant af! Dis die voorbeeld wat die land uistraal, bedrog, rampokkery, ents….

John ·

Die land moet onregeerbaar gemaak word om die weermag in te roep en dan ‘n noodtoestand af te kondig en daarna die verkiesing van die nuwe ANC-president in chaotiese wanorde te laat verval… sodat Zuma sy planne kan deurdruk. Dis nie ek wat dit eerste gese het nie, maar ‘n oud-minister van die ANC. Daar is glo ook weer sowat 80 poste geskep vir afgetrede MK-soldate. Waar? Ons polisie dra wapens wat eers wettiglik gebruik sal kan word sodra witmense opstandig begin raak.

Eish ·

Ek dink jy is nader aan die waarheid as wat jy dink.
Aanvalle op geldvoertuie wat dan met plofstof oopgeblaas word, inkopiesentrums wat aangeval word, inbrake waarby n dosyn mense betrokke is. Die oorgrote meerderheid van die ekonomiese misdaad, het die blanke eienaars as teiken, net soos die oorgrote meerderheid van plaas aanvalle. Verseker is daar n politieke agenda.

LBS ·

80 poste word geskep vir MK-soldate? Maar 3000 SAPS poste word geskrap in die Wes-Kaap. Wat sê DIT vir ons?????? Die ANC, of altans die Zuma-faktor, is kliphard besig met hul slinkse planne. Kom ons bid dat die ander meer gematigdes in die ANC sal opkom teen Zuma en van hom ontslae raak voor dit heeltemal te laat is!

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek sit hier na 2 koerantfoto’s en kyk en begin sommer lag. Een foto is van Zuma wat met sy twee wit tekkies en stertriem afgeneem is waar hy agteroor val tydens een van sy huwelike , en die ander een van ‘n netjies geklede man wa in sy jong jare van ‘n ander land gekom het om ons hier met groot sukses te kom lei. Wat ‘n kontras!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.