Nuuskommentaar: Hoe kan SA herbou word?

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Terwyl die ANC die draaiboek van sy “goeie storie” vir die komende verkiesing skryf, skryf skrywers, ondersoekende joernaliste, gewone joernaliste, ontleders, die ouditeur-generaal, graderingsagentskappe en waarnemers flink aan boeke, artikels, rubrieke en vele meer – ja, die publiek self op die sosiale media – aan verhale wat Suid-Afrika as ramp, of op die randjie daarvan, beskryf. As die teendeel van die goeie storie dan die waarheid blyk te wees, hoe kan die land herbou word? Toesmeerdery blyk nie ’n opsie te wees nie.

Voordat die vraag beantwoord kan word oor hoe Suid-Afrika herbou kan word, moet daar op saakmakende vlak konsensus wees oor die vraag of dit dan nodig is om die land te herbou. Nie lank gelede nie was dit erg polities niekorrek om die vraag hoegenaamd te vra, en om iets daadwerkliks daaraan te doen is dikwels met subversie en selfs hoogverraad vergelyk.

So is daar by geleentheid vanuit regeringsgeledere gekla dat die wyse waarop na die onbevoegdheid van ministers verwys is, dié mense as narre voorstel, en dus die land voorstel as ’n land wat deur narre regeer word. Beleggers hou nie veel van narreregerings nie, en kan wyd hou, tot skade van die land – dus verraad. Dit vergelyk met die boodskapper van slegte tyding onder die klippe steek en by wyse van spreke, sommer necklace.

Kort voor die komende verkiesing word die galg vir hierdie “verraaiers” soos Haman se galg sommer baie hoog opgerig. Twee onlangse voorbeelde is die skreiende aanval van Jesse Duarte, een van die ANC se “topses” en Zuma-genoot, op ’n joernalis se vrae ná die NUK-vergadering. Dié joernalis sou met sy vrae aan Duarte hom aan ’n “uitbarsting” skuldig gemaak het. Skynbaar weet net Duarte van die uitbarsting – al die ander wat teenwoordig was, weet net van haar eie vloermoer.

Sanef het haar erg gestriem oor haar stellings en houding.

Nog ’n voorbeeld van volstruispolitiek is die reaksie op die boek waarin ’n lang lys van die ANC se sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se “beweerde” misstappe terwyl hy Vrystaatse premier was, met bewyse geboekstaaf is. Die “ANC” het met ’n mediaverklaring sterk vir sy kameraad in die bresse getree.

Waarnemers het van die staanspoor geglo daar is ’n slang in die gras, en dat die topses Maandag groter duidelikheid sou bring. Toe nou nie, maar dit wil in breë trekke voorkom asof daar binne die NUK, wat wel vergader het, ontevredenheid is dat Magashule sy posisie as sekretaris-generaal “misbruik” het om namens die ANC te reageer, en dat gevoel word Magashule moes nie die ANC vir die hantering van sy eie moeilikheid misbruik het nie. Hy is hieroor glo ook deur pres. Cyril Ramaphosa vermaan.

Oor die vraag of Suid-Afrika herbou moet word, is die maklike antwoord om bloot te kyk na die SA Inkomstediens se onvermoë om sy insamelingsteiken te bereik. Dis nou as ander tekens van verval vir sommige bewindhebbers niks van verval sê nie, soos beurtkrag, treinongelukke, paaie van die dood, plaasmoorde, verkragtings, begrote geld soos die geld wat vir droogtehulp in KwaZulu-Natal bewillig is, bloot tussen neus en ore verdwyn het en onopspoorbaar is. Of deur ’n woongebied te stap waar die vullis weke laas verwyder is, daar nie water in die krane is nie (ook al vir weke, wat die enigste rede is waarom daar nie in daardie stadium riool in die strate afstroom nie), en waar die strate vol slaggate is, maar die trotse politikus meen hy sien net groot suksesse deur die regering. “Watter verval? Dis net die media wat dinge skeefgetrek voorstel, en sommer nog blatant lieg ook.”

Heel pikant is juis die naweek berig dat Magashule tydens die toespreek van ’n vergadering gevra het dat die SAUK onder die ANC se beheer geplaas moet word. Dr. Blade Nzimande, SAKP-grootbaas, het iets soortgelyks in ’n toespraak gevra.

Soos die boer uit die Molopo wat tydens ’n provinsiale landboukongres gevra het: “Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?” Sy antwoord: “Teerpaaie.”

Die lewensverhaal van Magashule het ’n taamlik ander paadjie as dié van byvoorbeeld Julius Malema geloop, maar toon uiteindelik soveel parallelle dat sekerlik gekyk moet word waar dinge skeefgeloop het.

Magashule het ná matriek ’n BA-graad aan die Universiteit van Fort Hare verwerf. ’n Wit egpaar wat hulle oor die jongeling ontferm het, het hiervoor betaal. Sy lewe tydens en ná die verwerwing van sy graad het van rewolusionêre optredes getuig, waarvoor hy ook agter tralies beland het.

Met die aanbreek van die nuwe bedeling het hy skynbaar ’n versoenende houding ingeneem. Hy, en premier Lekota, was die enigste twee ANC-lede van die Vrystaatse Wetgewer wat hul inhuldigingseed in Afrikaans afgelê het. Magashule is vlot in Afrikaans.

Op die oog af het dit gelyk of Lekota van die staanspoor soveel hy kon Magashule gerysmier het, en so ’n wig tussen Magashule en die Vrystaatse Afrikanergemeenskap, wat byna met Lekota gedweep het, ingedryf het. Later, toe Magashule LUR vir landbou geword het, het Vrystaat-landbou probeer om die lug te suiwer en so goedgesind moontlik na hom uitgereik. Tydens ’n provinsiale landboukongres het sake aanvanklik ook positief gelyk, maar in dieselfde naweek reeds het Magashule bloot van ’n geleentheid weggebly wat hy die vorige dag nog hand en mond beloof het hy sou bywoon.

By terugskoue wil dit voorkom asof skynbare brugbou-aksies bloot rookskerms was om die Vrystaat te plunder en in ’n erg agtergeblewe provinsie te omskep.

Daar is weinig spore meer van ’n tydperk toe die Vrystaat ’n modelrepubliek genoem is, en die vrugte daarvan wat sowat ’n eeu later nog op verskeie terreine gepluk kon word.

In ’n stadium, toe daar openbare vrae was oor luukse huise wat Magashule in Kaapstad aangekoop het, en waaroor die lig maar met moeite begin skyn het, het hy teenoor die media verklaar: “Ek is ryk.”

Nou blyk dit dat die manier waarop hy aan sy selferkende rykdom gekom het na bewering nie altyd so onkreukbaar was nie. Die indruk word egter gewek dat daar meer ontsteltenis oor die tydsberekening van die boek is, as oor die beweerde onjuisthede van die inhoud.

Soos die skrywer, Pieter-Louis Myburgh, dit ook stel, die boek se inhoud was wesenlik reeds in die openbare domein. Lees maar Wikipedia se inskrywing oor Magashule waar sekere aspekte al lankal op skrif was.

Wanneer ’n beduidende gebou opgerig word, maar brouwerk aan die orde van die dag was, moet die gebou ten spyte van sy blink voorkoms tot op die fondamente gesloop word. En as daar boonop met die fondament gekonkel is, moet dit ook verwyder en behoorlik oorgedoen word. Kortpaaie met die oprigting kan tot rampe lei.

En wat doen verskeie invloedryke faksies binne die ANC? Hulle toon hul solidariteit met die regering van pres. Maduro van Venezuela, wat lank reeds enige aanspraak op demokrasie verbeur het. Afvaardigings word na die land gestuur asof Suid-Afrika enigsins iets kan leer van ’n staat wat Suid-Afrika selfs met beurtkrag en ekonomiese disintegrasie die loef afsteek.

En voor dit was daar enduit solidariteit met Mugabe.

Die beste bouplanne en instruksies vir bouwerk word eenvoudig nie in sosialistiese sprokiesverhale en bendemanifeste geput nie.

Soos die ou mense gebid het: “Help ons op die smalle pad wat uitloop op die Hemelestad.” Kortpaadjies sonder verkeersreëls? Nie sommer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Michael P ·

Hou net op met afbreek en af brand en begin werk dan sal julle weer reg kom of hoe.

Vlakvark ·

Die ou vryheidsvegters (met hul sosialisties-kommunistiese denke) asook hul eerste nageslag sal eers moet uitsterf alvorens Suid-Afrika werklik kan begin herbou word. Hulle het nie geleer uit die verlede dat sosialisme-kommunisme nêrens in die wêreld ‘n wenresep was nie. So, met hul droom van ‘n National Democratic Society Animal Farm sien ek ‘n diep drif wat nog vorentoe deurgetrek sal moet word oppad na ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid. Intussen bly die bevolkingsgroei ongebreideld volhard. Maar wondere kan steeds gebeur. Laat ons elkeen ons beste doen op die pad van geregtigheid.

Elna ·

Dit klink dalk absurd maar as hulle die BEEE stelsel weg vat en mense wat die geleerdheid en kwalifikasies het vir geskikte poste aanstel en die buitelanders terug stuur na hul lande toe en vir die Suid afrikaanse burgers die werk gee.
2 . Die regering moet al hierdie BTW en alle stygende prysse sny met die helfte sodat ons ALMAL kan kos water en elektrisiteit en brandstof kan bekostig.
3. Alle wette en orde reg te handhaaf en toe te pas soos dit moet op moordenaars verkragters diewe ens. Bring die dood straf terug vir hulle dan sal die tronke ook minder mense huisves vir gratis verblyf en kos op die belastingbetalers se rekeninge.
4. Bring God terug in skole en leer die kinders van morele waardes en pas dissipline toe in die skole sowel as in die werksplek.
5. Gee die pensioenarisse n staats toelaag van R5000.00 per maand.
6. Suid Afrika kort n nuwe leier wat ruggraat het soos Donald Trump byvoorbeeld.
Net n wonderwerk sal ons minderheids volkie in die land se ellende uit red. Saam staan en saam baklei van hier af dis al wat gaan werk.

Tanya ·

SA sal nooit weer herbou kan word nie hierdie land is oppad afdrane toe. Te veel mense wat vat wat hulle nie toekom nie.

Arie ·

Dit is die probleem narre is aan stuur en hulle kan beslis nie die land regruk nie

Heksie ·

Gee ons ons land terug, sodat ons kan herbou wat die anc en hul kaders afgebreek en verwoes het!

Theoman ·

Van afbreek, afbrand en verwoesting saai weet hulle onsettend baie,inteendeel dit is deel van hul kultuur wat voor 1994 deur die ANC self geskep is om sodoende die wit regime onregeerbaar te maak en niks absoluut niks het verander nie en sal nooit verander nie. Hoe erg dit ook al mag klink om hardewerk te doen om te handhaaf en te bou bestaan nie by die mense nie punt.

Dereck Le Roux ·

Die moeder van alle foute wat die de Klerk regering saam met die liberale idiote begaan het was eerstens om te probeer om ‘n westerse kultuur demokrasie in Suid Afrika te vestig wat klaagkik misluk het want Afrika politiek verskil so ver as die ooste verwyderd is van die weste van die westerse politieke beskouings en dat die wit kiesers bedrieg is deur Roelf Meyer , Leon Wessels en die einste Cyril Ramaphosa en nou met ‘n skok agterkom dat Frikkie de Klerk se wigte en teenwigte is minder werd as toiletpapier en dat die sogenaamde stemreg absoluut niks beteken nie en dat geen witmens se stem nooit ooit enigsins ‘n verskil gaan maak nie soos dit die afgelope 25jaar geen verskil gemaak het nie.

Dries du Toit ·

Ek sal graag wil weet wat dink die wit egbaar wat vir Ace Magushule se studies betaal het vandag. So wonder ek ook wat Roelf Meyer vandag dink van Ramaphosa saam wie hy so lekker ons toekoms om n kampvuur weg onderhandel het

Theoman ·

Roelfie en Cyril het soos ek destyds gelees het n paar keer forelle gaan vang daar iewers by Dullstroom, en so het dit toe gekom dat cyril vir roelfie laat verstaan het dat forhulle gaan alles vat, die land,die geld, die myne die banke ag sommer alles,. Nou ons weet roelfie was nie die slimste peanut in die pakkie nie toe vang cyril hom hook line en centre, forhulle het nou alles.

jean ·

Verby en te laat……die gras sal noooit weer groei waar die voete geloop het nie…

Boesman ·

Om die land weer op te bou gaan baie miljarde rande kos wat ons nie het nie, en dit sluit die aflegging van oortollige amptenare in. Skuld moet eers terugbetaal word teen astronomiese rentekoerse. Daarna moet rommelstatus opgehef word om weer nuwe geld te leen en beleggings te lok. Dit gaan dekades neem. Dan het ons reeds verval in ‘n Somalië waar warlords steeds regeer.

willem Botha ·

Staak die diskriminerende wette,stel mense aan in senior poste op meriete en kry die onderwys en polisie reg dan kan die afwaartse kurwe weer optel ,dit gaan tyd vat maar dit is haalbaar.

Wicus ·

Jy kry mense wat goed tafel toe bring en mense wat goed van die tafel vat.
So kry jy dus iemand wat ‘n boom aantref en vuurmaak of iets uit dit kerf, maar nie daaraan dink om ‘n boom te plant nie.
Jy kry iemand wat karre sien en dit gebruik maar nie daaraan dink om iets beters daar te stel nie.

Daar is dus mense wat gebruik wat beskikbaar is tot dit klaar is, dan soek hulle iets anders om te gebruik.
As daar nie meer bome is nie kruip ons maar in ‘n grot vir warmte, darem was dit gister lekker warm en more sorg vir homself.

Dan is daar mense wat dinge verbeter, ontwikkel, alternatiewe soek.

Saam weer opbou, ek twyfel, as ek noord kyk wonder ek!

Andreas ·

Wicus, jy is 100% reg, in die omgewing waar ek vandaan kom, hier in die Oos-Transvaal se Laeveld, is dit alledaags om mense op plekke langs die pad te sien wat beelde uit hout kerf, selfs so 2 km van waar ons woon. Die omgewing is al heel ontbos, maar nerrens sien mens ‘n jong boompie aangeplant nie, die ontboste gebied raak net groter en groter.

John ·

… en ek lees so byna amper verkeerd… beleggers nie veel van nageregsregerings hou nie… maar sou dit enigsins saak maak aan die uitloop van die groot partytjie waar net hoenderbeentjies en gesmelte roomys op die tafels oor is… buiten natuurlik die bierblikkies en sjampanje-bottels op die vloer. Mens kan nie iets herbou as jy nog nooit iets gebou het nie of nog nooit respek betoon het jeens mense wat wel soiets vermag het nie.

Wicus ·

Nick, as die ANC en die EFF die beste is wat die meerderheid landsburgers kan voortbring wil ek vir jou sè dit gaan nie help om hulle te verwyder nie. Die probleem is vele groter as die twee!

Hou vas broer, jy het ‘n gratis kaartjie op ‘n rowwe rit :-)

Andreas ·

Wicus, daar is ‘n kortpadpil, maar die gewilligheid ontbreek om tegnologie in te span, mens betaal mos eerder jou suur aan beeste as ‘n geskenk.

Karel ·

Die wittes het in 1992 die tandepasta uit die buisie gedruk. Dis onmoontlik om die tandepasta nou weer terug te druk. Snaaks hoedat die wittes hulself eers in die gemors in stem, en nou 27 jaar later dink hulle hul kan hulself uit die gemors uit stem. Lekker stem my mense. Lekker stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.