Nuuskommentaar: Hoe lank nog gaan olie ons baas wees?

(Argieffoto: Pixabay.com)

Om hom internasionaal te handhaaf, moet ’n land se buitelandse beleid die produk van nugtere vergesigte wees. Die hommeltuig-aanvalle op twee raffinaderye in Saoedi-Arabië, en die littekens wat dit op die internasionale oliepryse gelaat het, demonstreer hoe selfs ’n skynbaar obskure groep skielik meer as relevant kan word.

Nie baie lank gelede nie, het ’n mens nie sommer van die Hoethi gehoor as ’n mens nie spesifiek navorsing oor die verskillende vertakkinge van die Islam gedoen het nie. Maar darem noemenswaardig as ’n mens die godsdienssamestelling van die Islam in Jemen onder die loep geneem het, en dan is selde veel meer geskryf as dat die Hoethi ’n Sjiiete-minderheid is wat hoofsaaklik in die noordweste van die land woon. Die res van Jemen is oorwegend Soenni’s, wat wêreldwyd die meerderheid Moslems uitmaak, maar op sy beurt oor talle vertakkings of sektes beskik. Die afgelope sowat twee dekades het die Salafiste die meerderheid Islamitiese terreurgroepe opgelewer, soos Al-Kaïda, Al-Shabaab, die Islamitiese staat, Taliban, Boko Haram en ’n horde splintergroepe.

Selde of ooit is aangedui dat die Hoethi ’n bedreiging vir Jemen, laat staan nog die res van die wêreld, inhou.

En dit is waar oliepolitiek, as vertakking van geostrategie, in die prentjie kom.

Hoewel die Sjiiete ’n minderheid in die Islamitiese wêreld vorm, maak hulle ’n meerderheid uit in Iran, asook in Irak. In Sirië is hulle ook ’n minderheid, maar dié land word regeer deur die Assad-dinastie, wat Alawiete is. Die Alawiete is weer ’n sekte van die Sjiiete. Vandaar Iran se betrokkenheid by die burgeroorlog in Sirië.

Libanon het ook ’n beduidende Sjiitiese bevolking, met die Hizbollah wat internasionaal as terreurorganisasie verklaar is, maar as beduidende militêre en politieke mag erken word, en in groot mate daarvoor verantwoordelik was dat Al-Assad se bas in Sirië gered is.

Terwyl die oë van die wêreld nog op die betrokkenheid van Isis en Al-Kaïda in Jemen was (en in Suid-Afrika bekend was weens die ontvoering van die Suid-Afrikaanse Korkie-egpaar, en die moord op die man) het die Hoethi skynbaar onverwags in opstand gekom, die Soenni-gedeelte van Jemen binnegeval, en sou die land waarskynlik heeltemal verower het, was dit nie vir die ingryping van ’n groep Moslemstate onder die leiding van Saoedi-Arabië nie. Die koalisie het lande so ver soos Marokko en Egipte ingesluit, maar heelwat was wat hul deelname betref, skynbaar aansienlik meer bek as binnegoed. Jemen is steeds ’n bloedige slagveld waar chaos en orde mekaar binne oomblikke kan opvolg.

Iran word deurlopend daarvan beskuldig dat hy die Hoethi op allerlei maniere ondersteun, en so in staat stel om ver bo hul gewigsklas te boks. Iran, wat veg om internasionale sanksies afgeskud te kry, ontken verbete betrokkenheid by die Hoethi, maar oortuig nog nie ’n Trump-oorheerste wêreld nie.

Nog iets wat in die Hoethi’s se guns tel, is dat die konflik te midde van die tegnologiese revolusie plaasvind. Tegnologie kan ’n land met toegang daartoe, ’n buite verband groot voorsprong besorg, en in hierdie geval is hommeltuie ingespan om twee olieraffinaderye in Saoedi-Arabië aan te val. Die een is ’n baie groot raffinadery.

Wat ook in die rebelle se hand speel, is dat daar verskillende soorte ru-olie is. Olieraffinaderye word opgerig om ’n bepaalde soort olie te kan verwerk, en dit hang weer grootliks af van die lande met wie die verbruikerlande handelsbetrekkinge het. Ná internasionale sanksies oor ’n kern-onmin teen Iran ingestel is, moes Suid-Afrika se raffinaderye omgeskakel word om ander soort olie te kan verwerk as dit wat van Iran bekom is. Die Abqaiq-raffinadery, wat die ergste onder die hommeltuig-aanvalle deurgeloop het, word as [Saoedi-Arabië se] grootste aanleg vir die verwerking van ru-olie beskou, en verwerk spesifiek ru-olie genaamd Arab Light en Arab Extra Light.

Dit is byna ondenkbaar dat die Hoethi’s dié keer nie hul hand erg oorspeel het nie. Waar die internasionale saamstaan teen hul terreur tot dusver baie halfhartig was, kan ’n meer geordende saamstaan verwag word. Baie van die deelnemende lande se bestaan hang baie af van skenkings deur olieryke lande, en nou het die Hoethi’s juis die bron hiervan gaan aanval. Die skade wat aangerig is, is dalk meer polities en sielkundig, maar feitlik die ganse wêreld help nou om die skade te betaal in die vorm van drasties verhoogde oliepryse.

Dit verklaar hoekom pres. Trump reeds getwiet het dat die VSA nog net op sekere inligting wag om op te tree. Hy het ook beloof die VSA sal nog meer olie aan ’n oliedors wêreld lewer om die pryse te stabiliseer – iets wat Saoedi-Arabië ook beloof het, en stellig ook deur ander lede van Opul gevolg sal word. Maar voor dit gebeur, gaan ons beursies platsak wees.

Intussen gaan die gebeure in Jemen, eens ’n seerowerparadys, en sedertdien maar deeglik met korrupsie verbind, ’n internasionale kopseer bly. Dit gaan van almal, ook Suid-Afrika, verwag word om internasionale optrede te handhaaf wat kop en skouers uitstaan bo dit waartoe die ANC tot dusver met ideologies naïewe en subjektiewe opportunisme geblyk het in staat te wees. En solank Suid-Afrika nie wat vloeibare brandstof of alternatiewe tegnologie selfvoorsienend is nie, so lank gaan die land ander se oliekolonie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Donderstorm ·

China bou goud op Rusland bou goud op (Rusland vat vir elke vat olie wat hul verkoop vir meer as 40$ n vat en sit daardie ekstra geld in n kittie om goud te koop) die VSA bou goud op terug na die goud standaard? Was die ou goud standaard beter gewees as die huidige standaard?

John ·

Jemen en Somaliè is bloedbroers wat vermelding verdien. Die Hoethi’s is nie in staat om hierdie aanval op hul eie te gedoen het nie. As die inligtingsbron sè Siriè of Israel dit of dat dan herhaal die artikel dit blindweg. Die politiek in die Midde-Ooste en godsdiens is so ingewikkeld verstrengel dat hul eie politici gereeld in die gate val wat hulself gegrawe het en die pers follow suit. Hoe op aarde kom Herman uit by, ons gaan maar sukkel totdat ander ontdekkings die lig sien… Ons het in graad 3 geleer van stede in glaskoepels en vlieènde drome… maar ons staan nou, soos nie van tevore nie, in rye om waterhouers by die put te vul. Die Griekse purgatoriese werking is duidelik in aksie.

koos ·

Herman, om jou opskrif te antwoord, ek hoop nog lank (skuus omgewings bewaarders), maar in ons land kan ESKOM nie eers krag vir more kan waarborg nie, hoe nog uitbrei om aan motors ens. te voorsien.
My insiens ook het die regerings wêreldwyd natuurlike hulpbronne gesien as ‘n melk koei. Regerings sal hard baklei om die bron van inkomste te behou. Kyk maar wat het in Kaapstad gebeur, mense moet water spaar en toe hulle dit regkry, moet hulle ekstra betaal vir allerande goed, want die regering kan nie sonder die inkomste klaar kom nie.

Leon ·

Die VSA veskaf hommeltuie aan ‘n Arabiese land. Die Arabiese land verskaf die hommeltuie aan die Hoethis. Die Hoethis val die olieraffinaderye aan. Die VSA het nou ‘n rede om weer ‘n inval in Arabië te loods want hulle oorlog industrie het nie genoeg wapentuig verkoop volgens Trump se nuwe idees nie. Die CIA was baie besig in die laaste tyd om weer ‘n oorlog aan te wakker.
Snaaks hoe die VSA se kop werk om gedurig oorlog aan te wakker.

kolla ·

Kan iemand vir my verduidelik wat die doel van SASOL is? Beteken absoluut niks vir die SA verbruiker nie.

Cherokee ·

Daar word tog nie meer olie ontwikkel in die aardkors nie. Daar is x-hoeveelheid olie en ek dink nie daar is enige proses in die aarde se ingewande wat olie laat vermeerder nie.
Teen die tempo wat die verbruik, verbrand, vermors word, moet olie opraak en die mens kan nou nog nie ‘n praktiese alternatief vir die binnebrandmotor ontwikkel nie. Wat gaan gebeur as die voorraad opraak? Dink hoeveel olie word per sekonde verbrand in lugverkeer, padverkeer, seevaart en dan word dit nog aan die brand gesteek ook. ‘n Bruikbare alternatief sal moet gevind word.

TDW ·

Herman, net ‘n paar vragies, wat doen sasol? Is hulle nie in staat om genoeg olie vir Suid-Afrika te produseer nie? Indien nie, wat het geword van die olie wat van mielies gemaak kan word? Is dit nie ‘n uitweg nie?

Dan verder, hoekom wil Amerika weer inmeng by lande wat niks aan hulle doen nie? Elke presidensie van Amerika was in oorlog met ander lande. Elke keer in ‘n ander land. Ek is bevrees hier is dieper dinge wat aangaan. Die opwarming vir die publiek het laas jaar begin, elke week is iets erger gevind uit Iran. Amerika soek oorlog met Iran. Gaan daar weer ‘n valse vlag gebeurtenis in Amerika gebeur om gewildheid te kry van die populasie of gaan daar indirek met die mense se geld gepeuter word, dmv petrolpryse, om mense gretig te maak vir oorlog met Iran?
Daar is duistere agendas aan die werk.

Dankie vir jou kennis wat jy met ons deel.

Dries ·

Wonder wat het van al die olie geword wat weg geraak het dalk moet ons die ANC vra waar is dit

kolla ·

SASOL nog ‘n wit olifant. Beteken niks vir SA verbruikers nie.

Pieter ·

Ons moet by die menister hoor waar is al doe olie wat weggeraak het

Stephan de S ·

Kolla jy woon dalk te ver v Sasol af om te weet wat hul alles doen. Sasol kan nie genoeg brandstof vir SA se behoeftes lewer nie maar behalwe dit lewer hul n massa grondstowwe vir kunsmis , plastiek en noem maar op. Daarbenewens “voer” hul tegnologie uit na buiteland waar hul ook groot belange het in maatskappye.

Andre C ·

Gelukkig het ons nog vir Mosgas,oftewel Petrosa wat soos Sasol met die belastingbetaler se geld op die been gebring is. Miskien moet Sasol en Petrosa op groter skaal begin brandstof produseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.