Nuuskommentaar: Hoe lank nog rassepolarisasie in SA?

Argieffoto

Argieffoto

Hoe lank nog gaan rassepolarisasie, of selfs –eskalasie nog deel van die Suid-Afrikaanse samelewing wees?

Dié vraag kan tereg gevra word ná die publikasie van ’n artikel, Is the Cilvil War over? deur die swart Amerikaanse skrywer en akademikus, dr. Thomas Sowell.

In hierdie artikel ontleed Sowell die rassesituasie in die VSA met insig en objektiwiteit wat nie net heethoofde soos Jesse Jackson ’n toeval sal laat kry nie, maar ook ’n paar Suid-Afrikaanse analiste wat deur skuldkomplekse gedryf word.

Om aan eise toe te gee, lei net tot meer eise, argumenteer Sowell. Uiteindelik, meen hy, sal dit veroorsaak dat selfs Washington DC se naam moet verander om enige nalatenskap van iemand wat eens slawe in sy familie gehad het, uit die geskiedenis te vee.

Hy wys ook daarop dat verskeie van die maatreëls wat ingestel is, soos om polisiebetrokkenheid by ghetto-geweld te beperk om swart-wit insidente te voorkom, daartoe gelei het dat moord onder die swart mense onderling toegeneem het.

Die federale regering se opdrag aan skole om nie so baie swart seuns te dissiplineer nie, laat die boelies toe om só ’n houvas te kry dat gewone swart leerlinge se onderwyskanse – en hul enigste kans om uit hul omstandighede te kom – vernietig word.

Sowell is nie met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore nie. Hy het in Haarlem grootgeword en was ’n vroeë skoolverlater. Hy het as marinier by die weermag aangesluit en mettertyd sy indrukwekkende lys kwalifikasies versamel. Hy is nou ’n senior genoot aan die Stanford-universiteit.

Al is alles wat Sowell skryf nie noodwendig in die kol nie, is dit ’n verfrissende alternatief tot die eentonige weergawe van Suid-Afrikaanse analiste wat hul sienings skoei op ’n voortgesette houding van slagofferskap weens apartheid en die rug-styfmakery aan die ander kant. Hulle mag breedweg reg wees in hul waarneming, maar val in die modder vas met hul siening van hoe die pad vorentoe moet lyk.

As iemand meen Sowell meen dis in die haak dat die rassespanning bloot nie eskaleer nie, is hulle verkeerd. Daar moet oplossings kom en hy is opgewonde oor twee suidelike deelstate wat goewerneurs verkies het wat van inheemse Amerikaanse herkoms is. Vyftig jaar gelede sou so iets ondenkbaar wees. Van die suidelike deelstate het ook Barack Obama in sy verkiesing tot Amerikaanse president gesteun. Swart mense wie se voorouers uit die suide padgegee het, is besig om na die suide terug te keer, gelei deur swart intellektuele.

Die kort en die lank is dat versoening slegs deur ’n wilsbesluit aan albei kante opgeklaar word. ’n Oorlog, sê hy, is eers die dag verby as beide kante besluit dis oor.

En dis hier waar die Jurassic-analiste in Suid-Afrika die pot mis sit. ’n Groot deel van die werklike probleem is politieke leiers, waaronder die president, wat nie skroom om blaampolitiek te speel nie. Selfs Jan van Riebeeck is hiervoor afgestof. Daar word hard gewerk om die politieke kluitjie van die eeu as feit in die geskiedenis te laat leef, naamlik dat Eskom se probleme na apartheid teruggevoer word.

Die regering straf die rasgebaseerde verlede deur selfs nog meer rasgebaseerde wetgewing op die wetboek te plaas. Wanvoorstellings word as feite voorgehou, soos dat die ANC apartheid vernietig het, terwyl die vorige regering die laaste apartheidswet reeds ruim voor 1994 uit die wetboek verwyder het.

’n Toekoms wat op ’n boel leuens gebaseer is, hou net eenvoudig geen heil vir die pad van versoening in nie. Om stil te wees oor veldtogte om Afrikaans te marginaliseer of selfs as amptelike taal uit die grondwet te verwyder, dra niks tot versoening by nie. Om enige manifestasie van internasionaal-erkende minderheidsregte te kritiseer en die woordjie “self” te midde van grootskaalse staatsdisfunksionaliteit as vloekwoord te tipeer, help nie (behalwe om sekere koerante se sirkulasiesyfers verder onder druk te plaas nie).

Allerlei slimstories om plaasaanvalle as besondere probleem weg te redeneer terwyl die plaag daagliks mense se lewens raak, help ook nie.

Die een instituut na die ander wat die versoeningsproses beperk tot die neem aan die een kant en gee aan die ander kant (onder die vaandel van restitusie), is besonder enkeldimensioneel en help ook nie. En boonop is hul wiskunde power oor die vermoë van ’n klein bevolking waarvan ’n deel snel verarm, om ’n groot bevolking se armoede met ’n gee-benadering aan te spreek.

’n Versoeningsproses is ontsettend groot (dit speel op ongeveer 15 vakgebiede af) en moet deur kundiges gelei word. Die leiers moet deeglik kennis neem van die advies uit hierdie geledere, sodat die stook van polarisasie nie tot vervreemding of volkome polarisasie lei nie.

En hierin het analiste ʼn groot rol – mits hulle in staat is om buite die kissies te dink waarin hulle ’n denke-gemaksone gevind het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Rupert Ashford ·

Herman, jy kan vergeet daarvan.dat “analiste ” van deuntjie sal verander. As hulle inkomste en befondsing daarvan afhang, kan jy op jou kop staan….

Paul ·

Dis tog “Harlem” en nie “Haarlem” nie? Dis nie asof ons praat van “Nuwe York Stad” of van “Koninginne” in plaas van “Queens” nie…

Herman Toerien ·

Paul, jy is reg dat dit nou inderdaad Harlem moet wees. Omdat dit aanvanklik as Haarlem ontwikkel is na aanleiding van die Nederlandse kolonie, New Amsterdam (vandag New York) word dit nog dikwels as Haarlem aangedui (kyk bv Google deur “New York” en Haarlem saam in te tik). Vandag se Haarlem is eintlik ‘n Nederlandse stad. Hoewel die Engelse New Amsterdam verower het voor die Nederlanders dit behoorlik kon ontwikkel., het heelwat Nederlandse name nog in die een of ander vorm oorgebly. Wall Street was aanvanklik ‘n wal wat opgerig is om die koloniste teen aanvalle te beskerm. Die dollar is afgelei van “riksdollar (rijks daalder), en die Yankees kom van die baie Janne en Kese wat in die ou Nederlandse kolonie gebly het.

Kabous ·

Herman, dankie vir die puik artikel oor polarisasie en die insiggewende toeligting oor die Harlem/Haarlem-kwessie. Jy is duidelik welbelese, n meester van jou vakgebied en n uitstekende rubriekskrywer. Ek lees graag jou artikels en rubrieke.

neelsie ·

Herman , dankie vir jou objektiewe benadering , jou rubrieke besiel ons en is goed deurdinkte redenasies.
Doen zo voort.!

Johannes Meintjes ·

Die skrywers prof. Jeffrey Herbst en dr. Greg Mills vra tans soortgelyke vrae oor produktiwiteit en ekonomiese vooruitgang in hul nuutste boek, “How South Africa works and must do much better”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.