Nuuskommentaar: Hoe lank nog voor Suid-Afrika moet “toemaak?”

vlag suid-afrika

Argieffoto

Hoofregter Mogoeng Mogoeng se vasvat van die speaker, Baleka Mbete, omdat sy die onpartydigheid van sommige regters onder verdenking geplaas het, pas so netjies in die raamwerk van ’n staat wat aan die kwyn is. Maar, met staatskaping, ’n president soos Jacob Zuma en vele meer, is die Suid-Afrikaanse situasie nog veel ingewikkelder.

Verskeie nuwe mylpaal-aangeleenthede dui daarop dat Suid-Afrika vinnig besig is om die reg om ’n staat genoem te word, aan die verbeur is. ’n Skynstaat is nie heeltemal onbekend aan die wêreld nie, met Somalië wat sekerlik die mees bekende onlangse voorbeeld was. Dit is wanneer ’n land geen regering meer het nie, al is daar formeel mense in ampte, maar in onmag is om te midde van anargie te regeer, laat staan nog doeltreffend te regeer. In die buitelandse pers word nou selfs na Nigerië se president as ’n verdwene president verwys, en allerlei nadelige voorspooksels word gedoen. Pres. Muhammadu Buhari is nou al weer twee maande weg, maar die hele kwessie word in geheimsinnigheid gehul. Hy kry vermoedelik in Londen mediese behandeling teen kanker. Die geheimhouding skep meer probleme as sy afwesigheid.

In Jemen, so word berig, gaan selfs die kamele dood van die dors weens die uitmekaarval van die regeringstrukture wat onder meer na hul versorging moes omsien.

’n Paar onlangse kwessies belig hoekom Suid-Afrika, volgens heelwat waarnemers, besig is om stil-stil as staat “te verdwyn.”

Die eerste en opvallendste is stellig die kwessie van staatskaping, wat al blykbaar jare aan die gang is, maar nou met duisende gelekte e-posse en die harde werk van ondersoekende joernalistiek na die oopte gesleep word. Die woord “staatskaping” impliseer immers dat die regering self nie meer volle regeervermoë oor die staat het nie omdat iemand anders dit sou gekaap het.

Nog ’n belangrike baken is hoofregter Mogoeng Mogoeng se taamlike skerp reaksie op opmerkings van die speaker, Baleka Mbete, dat sommige regters téén die ANC is. Mbete is nie die eerste ANC-ampsdraer wat aantygings van hierdie aard gemaak het nie, met Zuma self by tye aan die voorpunt om die regbank as “deel van die opposisie” te beskryf. Tot dusver was die reaksie van die regbank, afgesien van wanneer uitspraak gelewer word en die staat (al weer) ’n saak verloor, taamlik diplomaties en bedees. Nou het Mbete goed onder Mogoeng se tong deurgeloop, en in die proses is die klappe in wese ook wyer in die ANC uitgedeel.

Natuurlik is regters nie volmaak nie, soos soms blyk uit appèlsake, wat op haas elke ander vlak van appèl met dieselfde feite en bewyse, die teenoorgestelde uitspraak oplewer. Die Renate Barnard-saak is ’n goeie voorbeeld. Die Seriti-kommissie wat “ondersoek” gedoen het na die wapentransaksiesaak het die beeld van die regbank ernstig geskaad. Die interne prosesse om regters wat oortree vas te vat boesem ook nie baie vertroue in nie weens onder meer die uitsonderlike lang tye wat dit neem, soos die gevalle John Hlope en Nkola Motata toon. Die regbank tree egter tot dusver oorweldigend knap en eerlik op. Veral as dit met die Zuma-bewind vergelyk word.

Nog ’n belangrike kwessie wat op ’n staat wys wat besig is om te verdwyn, is die waarskuwing van dr. Jackie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudies en wat hoofsaaklik op tendense en patrone dui. Hy het onder meer na die inbrake by eers die Valke se hoofkantoor en toe by ’n kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag verwys, en die moontlikheid geopper dat dit met die faksiestryd in die ANC te make het. Die belangrike is egter dat hy meen Suid-Afrika staan voor die moontlikheid om ’n “skadustaat” te word.

Hy wys ook daarop dat misdaad toeneem, maar skuldigbevindings afneem.

Intussen het die DA-leier, Mmusi Maimane, ’n beroep op Zuma gedoen om die direkteur van Nasionale Vervolging, Shaun Abrahams, af te dank. Abrahams sou glo sake teen Zuma en die Guptas smoor.

Elkeen van die aspekte wat hier kortliks onder die loep geneem is, regverdig in eie reg om as ’n meesters- en selfs doktorale verhandeling aangepak te word.

Suid-Afrika het rommelstatus, beleef ’n resessie, die groeikoers is daarmee heen en heelwat hiervan moet voor die deur van die regering gelê word, eerder as die inherente krag van die ekonomie self. Elke oomblik wat daar nie ’n verandering in regering intree nie, word voortgegaan met die verskansing van ekonomiese wandade soos met kaderaanstellings, nie-markgedrewe ekonomiese beleidsaspekte en vele meer, en word die taak om dit af te takel wanneer ’n nuwe regering verkies word al groter en moeiliker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieterlewismuts ·

Die berig is baie insiggewend en n goeie waardering van die politieke van die dag en ons moet kennis neem van die uitsprake.

In enige situasie is daar wat geen idee het dat iets gebeur en eintlik nie gee nie.
Daar is n kleiner groep wat besef iets is aan die gebeur en n nog kleiner.groep wat of presies wert wat aan die gebeur is of aan die Hoof staan wat gebeur.
Dit sal goed wees.as.meer mense kennis neem van wat aan die gebeur is en dan stappe neem om dit in die regte rigting te stuur.

Eish ·

Née jong, ek is bevrees dit gaan nie gebeur nie. Die persoon aan die hoof van wat gebeur se groot groep weet nie meer wat gebeur nie met die gevolg dat die minderheidsgroep wat net observeer effektief tot oneffektiwiteit gereduseer is. Die groep wat besef iets gebeur wou kommunikeer met die groep wat amper iets weet maar nou weet niemand niks en dis hoekom alles net so bly.

Sarel se boetie ·

Ek dink ons het uiteindelik by die punt gekom waar SA van die krans afval of oorleef. Die stemgeregtigdes sal besluit wat gebeur. Vir die res van ons… laat ons maar sokker speel met die ysgletser stukke op die dek van die titanic terwyl mooi klassieke musiek speel. Tot siens pragtige land.

Desiré ·

Net so Sarel! Niemand wou glo en luister toe daar gewaarsku is, dat ons besig is om ‘n ysberg te slaan nie! Ons gaan binnekort nie meer kop bo water kan hou nie!

stokkies ·

As ons na die werklikheid van dietotale bevoling kyk soos massas sonder werk, voedsel en opleiding, n tekort aan opleidingsfasiteite, miljoene onwettige immigrante, beskadiging van infrastruktuur en dan ook n onbevoegde korrupte regering met n uiters swak getransformeerde polisiediens, is die sneeubaleffek op volle spoed en n baie donker tydvak ons toekoms

GES ·

Suid Afrika het meer momentum as wat mens sou verwag. Wat wel baie sigbaar word is die afname in ontwikkeling en vervaardiging. Korrupsie is so diep gewortel in die gemeenskap en openbare sektor dat daar geen kans op herstel is. Dit is ook ʼn bekende feit dat mense wat vergiftig is deur alkohol ʼn kans op herstel het maar vergiftig deur mag geen kans op herstel het. Die enigste manier uit hierdie benarde situasie uit, is dat iemand die “reset” knoppie druk sodat ons weer nuut kan begin.

Eish ·

Ek dink ons moet maar hoop die ” momentum” laat ons oor die “reset” knoppie rol want ” iemand” is nou niemand.

Reti ·

Daardie eerste sin maak nie sin nie. Die vasvat is nie beduidend van gevalle staat nie?

Cherokee ·

Herman, dankie dat jy nie (ook) oom Jan betrek nie. Dit sal nie regverdig wees om 1652 se koeie uit die sloot te grawe nie.

Mix ·

Ek betwyfel glad nie die idee dat daar nog veel geheime agter die sluier lê en wag nie.

MCH ·

Gemeet aan die deursneeberigte wat vandag verskyn het op hierdie platform, oor die ” State of his nation” is daar nie n greintjie hoop vir die land in staatsie onder die huidige regeerders nie. Nie eens wanneer dit gemeet word aan die Blade Nzimande, Trump en ander artikels nie. Die verrotting is nou werklik lewensgroot sigbaar en bo enige twyfel bewys. Tereg moet ons nou onsself afvra Qua Vadis Suid Afrika? Ons vertrou die media sal met volgehoue ywer die stoompot se deksel styf vasdraai totdat die inploffing plaasgevind het.

Leendert ·

Maar die regters, nie net sommiges nie, is ook teen Afrikaans en die minderheids groepe gekant, misken hul grondwetlike regte, miskien moet hulle ook die hoofregter daaroor in die pers/media aanvat.

Leendert ·

En wat die ‘toemaak’ van die land aan betref, die land is besig om af te brand, meetal as gevolg van diegene wat ontevrede met die ANC se dienslewering is. As dit so aangaan, sal die land afgebrand wees voor dit kans kry om toe te maak.

Leendert ·

Beteffende Mbete, miskien moet Afrikaans en die minderheidsgroepe ook die regters/Mogoeng in die media aanvat oor hul partydigheid teen daardie groepe en hoe hulle daardie groepe/Afrikaans se grondwetlike regte misken. Miskien kry hulle die gewensde reaksie.

Leon de V ·

Dit is darem ‘n vreemde situasie waarin ons verkeer: Daar word deur Maimane op die pres ‘n beroep gedoen om die persoon wat die pres (vermoedelik beskuldigde nr 1) moet vervolg (of behoort te vervolg), te ontslaan omdat die persoon nie sy werk doen nie (m a w omdat hy nie die pres vervolg nie). Wat ‘n vreemde situasie! Kan ‘n mens dit bisar noem?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.