Nuuskommentaar: Hoe leef en beleef ons die sewe kruiswoorde?

kruis (Medium)Aan die kruis het Jesus sewe keer gepraat, en elkeen van daardie boodskappe spreek tot vandag met ons:

  • Vergifnis: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34)
  • Geloofsekerheid: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: (Luk. 23:43)
  • Troos en versorging: “Daar is u seun… Daar is jou moeder.” (Joh. 19:26-27)
  • Waarom het U my alleen gelaat?: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46, Mark. 15:34)
  • Intense lyding: “Ek is dors.” (Joh. 19:28)
  • Oorwinningswoord: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30)
  • Oorgawe aan God: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” (Luk. 23:46)

As Christene glo ons dat Jesus na die mensdom gekom het om vir ons sonde te ly en te sterf. In sy kort lewe as mens op aarde het Hy ’n onuitwisbare indruk op die mensdom gelaat en ’n nuwe orde geskep van waar ons ons naaste moet liefhê, so ook die vreemdelinge in ons poorte, en selfs ons vyande (Lukas 6: 27 en Matt 5: 43).

’n Mens hoef maar net die nuus te volg om te sien dat die mensdom nie hierdie ontsettende genade verdien nie. Daar is korrupte politici en misdadige polisielede wat soos eietydse tollenaars hulle aan vergrype skuldig maak. Daar is wrede moorde, daar is ’n morele verval wat daartoe bydra dat baie skoolmeisies swanger word, daar is reeksverkragters en reeksmoordenaars. Daar is padvarke wat nie net hul eie lewens op die spel plaas nie, maar ook dié van hul gesinslede en ander padgebruikers.

Daar is figuurlike blindes wat ander saam met hulle die sloot in lei.

Hieroor sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Dit is van ‘n ernstige misdadiger wat self erken dat hy die kruisdood verdien, dat Jesus sê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

In die VSA speel ’n interessante verwikkeling hom nou af. Die deelstaat Indiana het ’n wet aanvaar, wat bekend staan as ’n geloofvryheidswet. Dié wet kom in die media en onder drukgroepe geweldig onder skoot. Dit klink vreemd, omdat die Amerikaanse grondwet immers ook geloofsvryheid waarborg.

Dit handel, baie eenvoudig gestel, daaroor dat die grondwet ook ander bepalings het, soos ’n verbod op onbillike diskriminasie. Dit het daartoe gelei dat persone en sakelui wat om godsdienstige redes byvoorbeeld weier om dienste soos die voorsiening van ‘n troukoek of om as fotograaf by gay huwelike op te tree, daaroor in die sop was.

Hierdie wet maak onder meer daarvoor voorsiening dat iemand op grond van sy geloofsoortuigings straffeloos mag weier om sulke dienste te lewer.

Dit is vreemd is dat ’n Rasmussenpeiling toon dat meer as die helfte van die  Amerikaners teen so ’n wet gekant is, maar dieselfde peiling toon tog dat sewentig persent van die Amerikaners ook voel dat iemand op grond van sy geloofsoortuigings mag weier om dienste te lewer by selfs wettige praktyke wat teen sy godsdiensopvattings indruis.

Wat minder bekend is, is dat 20 deelstate reeds wetgewing het wat mense soos die fotograaf waarna hier verwys word, se regte beskerm. Die VSA se howe word gekenmerk deur hofsake op hofsake oor kwessies waar godsdiensvryheid in die praktyk daartoe lei dat dit vry is solank dit tuis beoefen word en in die domein daarbuite, min of meer tot die kerk beperk bly.  Daar is in ’n stadium behoorlik jag gemaak op Christelike simbole wat in die openbare oog was – ’n beeld van die tien gebooie in ’n hof, ’n soortgelyke beeld op ’n kerkterrein wat van die straat sigbaar sou wees as iemand deur ’n gleuf in die hek sou loer en ’n kruis by ’n oorlogsmonument.

In Suid-Afrika kom daar ’n hofsaak wat in breë trekke moet bepaal of openbare skole die reg het om ’n Christelike etos te aanvaar. Die grondwet waarborg geloofsvryheid, sodat kinders wat nie Christene is nie en ook ateïste van aktiwiteite verskoon kan word wat met die Christelike etos verband hou. In die praktyk gebeur dit egter dikwels dat die ander kinders en selfs onderwysers dit vir hierdie kinders baie moeilik maak.

Dit word soms baie welmenend gedoen. ’n Nuwe, baie godsdienstige onderwyseres wat nog nie bewus was van die sensitiwiteite en regsbeginsels wat hiermee gepaard gaan nie, wou die Maandagoggend by haar laerskoolklas weet wie almal die Sondag kerk toe was. Op die ry af sê die kinders hulle was die Sondag in die kerk (al was sommiges waarskynlik nie in die kerk nie). Die een seuntjie sê egter bot hy was nie Sondag in die kerk nie en die juffrou vra hoekom. ’n Vrypostige meisie kom die seun tot hulp: “Juffrou, Pieter-hulle gaan nie Sondae kerk toe nie want hulle is by die sewe gelukkige akkedissies (Sewende Daagse Adventiste).”

Meer kere as wat ons dink, moet Jesus vir ons intree met: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Meer kere as wat ons besef, moet ons ons troos dat ten spyte van ons sondige natuur, ons by berou vergifnis sal kry. “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Die apostel Jacobus meen dat ware geloof niks beteken as dit nie tot geloofsdade oorgaan nie. Jesus gee aan die kruis self so ’n opdrag: “Daar is u seun… Daar is jou moeder.” Die lot van ’n weduwee kon destyds baie ongelukkig wees as sy nie ’n seun gehad het wat haar versorg nie.

Jesus het aan die kruis nie net ongelooflike liggaamlike lyding deurgegaan nie, maar ook Godverlatenheid – ter wille van ons. Daar is geen nodigheid vir ons om Godverlatenheid oor onsself te bring nie.

Vandag put ons die vrug daarvan dat die hoogste offer volbring is.

Ons kan, ons sondige natuur ten spyt, ons gees aan die Vaderhand oorgee.

Ons hoef nie tot Sondag met die opstanding en die herdenking van die leë graf hiervoor te wag nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Amanda Fritz ·

Ek stem saam met die skrywer se siening, alhoewel ek graag sal wil weet of hy insinueer dat die Sewende Daagse Adventiste verkeerd is, aangesien sy volgende paragraaf beweer hy dat Jesus baie kere vir ons moet intree. (Bietjie onduidelik gestel) Ek behoort nie aan daai kerk nie, maar indien hy wel insinueer dat Saterdag as die sabbat verkeerd is, hang dit af van watter kalender na gekyk word.

Herman Toerien ·

Die fokus hier het geval daarop dat ‘n goedbedoelde woord godsdienstig kan kwets. Die debat oor of Saterdag of Sondag ons rusdag behoort te wees is glad nie aan geraak nie. Dit is ‘n komplekse kwessie wat na die vroeë beskawings van Mesopotamië teruggevoer word.

Henkst ·

Tydens die konsilie van Nicaea, onder leiding van Konstantyn, is drie belangrike besluite geneem, naamlik dat ‘n week voortaan uit 7 dae sal bestaan (die Romeinse week het uit 8 dae bestaan), dat dies Solis (Sondag) die eerste dag van die week word met dies Saturni (Saterdag) die laaste dag van die week; eredienste sou voortaan plaas vind op dies Solis vir Christene sowel as Heidene; die Joodse Pasga en die Heidens-Christelike Paasfees sou nooit op dieselfde dag gevier mag word nie.

Henkst ·

Tydens die konsilie van Nicaea, onder leiding van Konstantyn, is drie belangrike besluite geneem, naamlik dat ‘n week voortaan uit 7 dae sal bestaan (die Romeinse week het uit 8 dae bestaan), dat dies Solis (Sondag) die eerste dag van die week word met dies Saturni (Saterdag) die laaste dag van die week; eredienste sou voortaan plaas vind op dies Solis vir Christene sowel as Heidene; die Joodse Pasga en die Heidens-Christelike Paasfees sou nooit op dieselfde dag gevier mag word nie.

Violet ·

Vir my gaan dit nie oor watter dag nie jy moet die Here elke dag dien!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.