Nuuskommentaar: Hoe links of regs is wie met VSA presidentsverkiesing?

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die afgelope paar jaar is daar gereeld uit verskillende wêrelddele ’n groot gejuig gehoor oor ’n skynbare neiging tot meer konserwatiewe politiek. Die woord “konserwatief” word hier as versamelnaam vir meer regs, meer behoudend en velerlei nuanses gebruik. Soms dui dit ook ’n stewiger Christelike oriëntasie aan, maar dikwels met ’n sterker fundamentalistiese inslag … en dan, dikwels moedswillig, ’n implikasie van rassisme. Maar alles kan tog nie sinonieme wees nie. En het die term “volksparty” soos die Nederlanders dit gebruik, dieselfde betekenis as ’n “people’s party” soos in die radikale linkse politiek in Suid-Afrika?

Dit sukkel maar om terme te standaardiseer al is genoegsame konsensus reeds bereik dat mense mekaar oor grense heen kan verstaan, en al is daar beduidende uitsonderings. Die woord “populisties” dui wel op die styl van politieke leiers eerder as op oriëntasie, maar sommige mense sou die woord uitsluitlik vir links, en ander weer vir regs inspan.

In sommige lande is separatistiese partye regs, maar ander is juis weer links.

Enkele jare gelede het sekere politieke wetenskaplikes in Wes-Europese lande soos Nederland en België skynbaar ’n baie geldige argument geopper deur te sê dis kunsmatig om partye op ’n reguit lyn van links na regs voor te stel. Daar is geen wet wat bepaal dat as ’n party ’n regse buitelandse beleid het, dit ’n linkse maatskaplike beleid moet hê nie. ’n Party wat oor die algemeen ’n linkse karakter het, kan byvoorbeeld ’n baie regse landboubeleid hê. Daarom, so is geargumenteer, moet die stand van partye se oriëntasie in ’n ronde sirkel uitgebeeld word.

Asof links en regs nie reeds ’n groot deurmekaarspul kan afgee nie, wat dan nog te sê van ’n party wat blou is, ’n ander rooi, en net om dinge mooi deurmekaar te klits, is daar ook groen partye. In bykans al die kategorieë speel ras ’n rol om verskille tussen partye te fasiliteer, of soos die Amerikaners dit noem, “bipartisan”.

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Hoekom sou die VSA nou so gebombardeer word met rubrieke en artikels wat in die fynste besonderhede op die karakter en die voor- of nadele van hierdie verskynsels wys? Die maklikste om te verklaar is die relevansie van ras, en waar die Black Lives Matter versus All Lives Matter mekaar die stryd aansê.

Die bekende ontleder, Patrick J Buchanan, skryf in sy artikel The progressive racism of the Ivy League: “If the definition of racism is deliberate discrimination based on race, color or national origin, Yale University appears to be a textbook case of ‘systemic racism’.”

Die kanse vir ’n wit en Asiatiese student om vir toelating gekeur te word, is maar ’n tiende tot ’n kwart van die kanse van ’n swart student met dieselfde akademiese kwalifikasies. Yale ontken dit en sê daar word na die aansoekers in geheel gekyk, asook die potensiaal van die mens om Yale op wêreldwye grondslag te verteenwoordig.

Vrese vir faktore wat Buchanan soos volg beskryf, speel seer sekerlik ’n rol: “And if white Americans, the shrinking majority of the nation and a minority in our most populous states, can indefinitely be discriminated against in favor of people of color, they will eventually embrace the tribal politics of race and identity that would risk the breakup of the union, as is happening in Europe and around the world.”

Die blou-en-rooi-kwessie word weer deur Michael Barone onder die loep geneem in sy artikel “Blue and Red America Differences Could Hurt Democrats” en weer speel ras ’n kernrol waar hy Barack Obama aanhaal: “There’s not a black America and white America . … there’s the United States of America.”

Michelle Obama word soos volg aangehaal: “… my message won’t be heard by some people because we live in a nation that is deeply divided.”

Barone laat hom soos volg hieroor uit: “But who’s to blame? Democrats like to load all the blame on President Donald Trump, and, despite their continued failure to cite evidence for his ‘racism’, there’s no denying his coarse insults have contributed to an increasing sense of national division.”

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Barone wys daarop dat peilings aantoon dat rasseverhoudinge in die VSA tydens Obama se tweede termyn erg agteruitgegaan het. Hy lys faktore wat spanning tussen wit en swart, en tussen Demokraat en Republikein verdiep het, waaronder rassevoorvalle en Covid-19. Hy verwys ook na die VSA wat “’n land met twee nasies geword het”.

Selfs binne dieselfde party word onderskei tussen konserwatief van die een kandidaat, en regsgesindheid van die ander, soos om pres. Donald Trump en Mitt Romney teen mekaar op te weeg. Trump sou die meer konserwatiewe een wees, en Romney die meer regsgesinde.

Rasmussen-peilings het weer bevind dat Joe Biden, die Demokrate se presidentskandidaat, en Kamala Harris, sy visepresidentskandidaat, liberaal is “soos Bill Clinton” maar nie so ver linksgesind as Barack Obama nie.

In nog ’n peiling het ’n derde van die swart kiesers aangedui dat hulle minder geneig sal wees om vir die Demokratiese Party te stem weens Harris se aanwysing as visepresidentskandidaat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Nee wat.Hier en in die VSA is daar nie ander opsies nie.Die konserwatiewe stem is die enigste een wat wet en orde sal verseker en die goeie norme,idees en beleide sal voortbring.Enige stem vir die Demokrate en liberale sal net een gevolg he wat te sleg is om aan te dink.Ek besef die VSA is anders en het ander probleme ens maar die politiek het duidelik ‘n versnelde rigting ingeslaan hier en daar na links.

Wessel

Hierdie verkiesing gaan glad nie meer oor links of regs nie. Dit gaan nou oor Westerse beskawing teenoor Marxisme.

stargazer

Trump Trump Trump

Grassie

Dit is in ons land deesdae baie moelik om tussen die verskillende grade van konserwatisme te onderskei. Daar is die behoudendes, die regses, die vér regses en dan tussen konserwatief en liberaal die draadsitters en manteldraaiers wat hul eie belange eerste stel, soos sommige sakeondernemings. Maar almal se gevoelens is baie vloeibaar. Sommige media-mense wat deur my beskou word as vér links maak deesdae verbasende sterk konserwatiewe stellings. Miskien kom daar nog vorentoe ‘n bietjie orde in ons chaotiese politieke strominge.
Dit is goed om jou weer hier op MM raak te loop, Herman. Ek sien uit na nog.

pieter

Wat vir my vreemd bly is hoe verkeerd die kundiges/politieke wetenskaplikes , Pres Trump ‘ontleed’. Dit kan nie onnoselheid wees nie want hulle is tog hoogs intellegente mense; dus moet dit bloot vooroordeel of totale indotrinasie van die links -liberale media wees – of dalk bloot om ‘in’ te wil wees. Bly ‘n raaisel. Trump is nie ‘n politikus nie, hy funsioneer soos ‘n sakeman. Hy gee nie om wie dit is nie maar as dit nie finansieël sin maak nie SAL hy dit kritiseer, vriend of vyand maak nie saak nie. Dit kon die ontleders nog nie begryp nie.… Lees meer »