Nuuskommentaar: Hoe om op ’n neerlaag te reageer

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (links) en president Jacob Zuma tydens die 2017-begrotingsrede (Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

By geleentheid is twee boksers in die bokskryt aan die wikkel. Die een bokser het duidelik die oorhand, en die ander word liederlik gepleister. Die verloorbokser se afrigter doen sy bes om sy bokser aan die gang te laat bly en vertel sy bokser hoe hy besig is om die ander les te laat opsê.

“Dan moet jy die ref dophou,” sê die vernielde bokser vir sy afrigter. “Iemand is besig om die wille twak uit my te dinges.”

Die reeks van drie toetse teen Indië is reeds deur die Proteas verower, nadat hulle die eerste twee toetse gewen het. Maar luister ’n mens na die Indiërs, het ’n mens deurlopend die indruk gekry dat Indië die beste span op die veld is. Gister het nog ’n speler gesê die 187 wat sy span in die eerste beurt van die derde en laaste toets aangeteken het, is op daardie kolfblad eintlik 300 lopies werd.

Kortom, ’n beeld word van die Indiese span voorgehou as ’n onoorwinlike span, wat net verloor as daar ander faktore is wat ’n rol speel. Krieket in Indië, asook ander subkontinent-spanne soos Sri Lanka en Pakistan, is  byna soos godsdiens. Die eerste plek op die wêreldranglys is eintlik ’n vanselfsprekendheid.

Indiërs het baie om op trots te wees. So half ongesiens het Indië ’n tuig teen lae koste na Mars gestuur, wat min of meer dieselfde doen as ander lande se veel duurder wenteltuie. Dit is al byna vergete dat Indië oor kernwapens beskik.

Kan Suid-Afrikaners trots wees op hul eie land? Hier vertel die ANC herhaaldelik vir die publiek van watter onwerklikhede die ANC vermag het. Dit staan as die “good news” bekend, en daarin word vreeslik gespog oor “regeringsprestasie”. Iemand, soos die president, hoef eintlik maar net te sê alles verloop klopdisselboom, dan word dit ’n feit. Hoeveel keer het die regering nie gelas ’n voltooide behuisingskema moet amptelik met luister oorhandig word nie, net om te vind die “ontwikkelaar” het met die geld laat spat.

Of ’n skool moet amptelik oorhandig word, maar die inspekteurs wat vooraf gestuur word om te laat weet van ’n geskikte datum, rapporteer terug die skool staan al lank halfvoltooi.

“Alles verloop reg as ons net sê dit verloop goed.”

Optimisme is ’n goeie ding, maar die optimisme moet met sy voete vierkant in realisme geanker wees.

Seker die beste voorbeeld van ’n misleidende werklikheid is die tragiese gevolge van die Life Esidimeni-geval. As al die getuies geglo moet word, het al die rolspelers net “goeie nuus” na hul base, en dié se base deurgevoer, en het die LUR en ander van g’n sout of water geweet nie. Ander getuies laat dit klink of die LUR wesenlik opdrag gegee het dat sy net goeie nuus wil hoor. Iets soortgelyks speel hom in die parlementêre ondersoek na Sassagate af waar min. Bathabile Dlamini ook onkunde pleit oor wat werklik aangegaan het.

Maar iemand moet uiteindelik pa of ma staan vir projekte wat onder hul neuse ontspoor het.

As Ramaphosa hierdie kultuur nie baie gou begin uitroei nie, gaan waarnemers in die kol wees met hul beskouing dat sy, Ramaphosa, se besoek aan Davos net die laaste sprong van ’n dooie kat is.

Gelukkig vertel die JSE ’n ander verhaal, en versterk die rand teen die dollar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie ·

Ek wens van harte en nooi Ramaposa uit, om n “No-Tolerance for Crime”, te begin… Nie net staatskaping, en bedrog, ek praat van misdaat, moord, roof ents! KOM RAMAPOSA EK DAAG JOU UIT!

Koos1 ·

Nederlaag te aanvaar in Afrika???? Bitter min voorbeelde daarvan. Die standaad optrede van die een (of groep) wat ‘n nederlaag lei is gewoonlik nie aanvaarding nie, maar geweld en geen respek vir enige hof, mens of ding nie. Kyk maar net wat gebeur by die Overvaal skool!

Jerry ·

Die ANC reageer nie op n neerlaag met werklike optimisme nie, al dink jy so Herman. Die ANC reageer met misleiding, waarvan hulle meesters is. Die Afrikaner is baie gesteld op die waarheid. Die ANC is baie ingesteld op die verdraaiing van die waarheid soos dit hulle pas en om opponente en selfs hulle eie mense te mislei. Ek kan nie glo dat julle nou nog nie weet waarmee julle te doen het. Wat CR aanbetref is dit beslis nie die laaste sprong van n dooie kat nie, Davos is CR se eerste paddaman sprong na ikoon status onder Suid-Afrikaners en die wereld, dalk nog groter as Mandela. Die Afrikaner het die termyn wat CR gaan dien om hulle huis in orde te kry, want sou n Zupta faksie lid hom opvolg is ek bevrees kan dit koebaai meraai vir die Afrikaner, Suid-Afrikaners en die land wees. Die volgende groep wat gaan inkom om te plunder sal nie weer gestop word nie, want hulle het gesien en geleer hoe maklik dit eintlik is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.