Nuuskommentaar: Hoe stem ons vir die openbare beskermer?

'n Skermskoot van 'n paar van die kandidate vir wie gestem kan word om die posisie van Openbare Beskermer te beklee.

‘n Skermskoot van ‘n paar van die kandidate vir wie gestem kan word om die posisie van Openbare Beskermer te beklee.

Die “aanlyn verkiesing” wat Corruption Watch hou waar die publiek hul voorkeur vir ’n nuwe openbare beskermer kan aandui, trek heelwat belangstelling.

Thuli Madonsela, wat die afgelope paar jaar baie mense, veral nie-ANC-ondersteuners, verras en beïndruk het oor die mate waartoe sy selfs bereid was om die “onaantasbare” pres. Jacob Zuma aan te pak, se termyn verstryk in September.

Geen van haar voorgangers kon die publiek se bewondering so aantrek soos sy nie. Haar regstreekse voorganger, Lauwrence Mushwana wat nou voorsitter van die Menseregtekommissie is, is veral daarvan verdink dat hy sy posisie misbruik het om die ANC se belange te beskerm.

Min is ook aanvanklik van Madonsela verwag. Sy was ook ’n ANC-LP, en is deur die ANC met die hand uitgesoek. Maar sy het almal verras.

Dit is duidelik dat die ANC met die openheid wat die opvolgproses tot dusver gekenmerk het, hard probeer werk daaraan om nie die indruk te wek dat ’n ANC-handpop uitgesoek word nie.

Maar gaan die proses wel die beste kandidaat oplewer? Of gaan ras ten minste ’n bepalende rol speel?

Hoewel openbare deelname ’n belangrike deel van ons wetgewende proses geword het, en belangrike wetgewing weens die gebrek hiervan reeds deur die konstitusionele hof uitgesmyt is, maak die e-verkiesing van die nuwe openbare beskermer nie deel hiervan uit nie. Die doel is om op die een of ander empiriese wyse aan die komitee wat die aanbeveling aan die parlement moet doen, ’n aanduiding van die publiek se voorkeur te gee. Of dit enige invloed gaan hê, is moeilik om te bepaal.

En hoe goed toegerus is die publiek, selfs ná ’n verbasende aantal mense al die onderhoude op TV gevolg het? Oor ’n kandidaat soos Willie Hofmeyr is daar byvoorbeeld in die media se briewekolomme wyd uiteenlopende menings.

Die belangstelling in die amp van openbare beskermer het toegeneem namate die howe bevind het die OB is wel deeglik in terme van die Grondwet relevant, en aanbevelings het afdwingbare gesag tensy dit deur ’n hofbevinding tersyde gestel word. In die proses is ook Zuma behoorlik verneder en moet nou miljoene rande opdok vir onregmatige verryking deur verbeterings aan sy huis by Nkandla.

Dit is dus te verstane dat die kiesers in die versmorende dampkring van meerderheidsoorheersing deur die ANC, veral omdat dit blyk dat die ANC se regeervermoë nou nie juis van die boonste rak is nie, na ’n werkbare en betroubare teenwig sal soek. Dit het hulle tot groot mate tydens die termyn van Madonsela gekry.

Uit die hoë vlakke van wegblystem, veral as diegene wat versuim het om as kiesers te registreer in ag geneem word, asook bedorwe stembriewe verreken word, is dit duidelik dat die kiesregdeel van die demokrasie nie oral meer die vertroue inboesem wat dit behoort te doen nie.

Die nuwe openbare beskermer gaan ook met ’n paar warm patats wegspring. Een hiervan is die Vryheidsfront Plus se versoek dat die openbare beskermer ondersoek instel na die band tussen Zuma, die ANC en die Openbare Beleggingskorporasie.

Daar is ’n hoë verwagting dat Madonsela se opvolger met ewe veel durf die amp sal beklee. By minstens ’n deel van die ANC sal ’n ewe groot verbetenheid wees om te keer dat dit weer gebeur, en op die een strooptog ná die ander op die soustrein uitloop.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elsabe Raubenheimer ·

Dis belangrik dat die nuwe OB heeltemal onpartydig moet wees in landsake en dit op ‘n eerlike doeltreffende manier oplos. Tans is Thuli Madonsela die enigste persoon wat werklik haar beroep gestand doen en korrupsie vasvat en haar ook nie laat beïnvloed deur die politiek nie. . Kan sy nie maar heraangestel word vir nog ‘n termyn nie. Die ander kandidate klink maar twyfelagtig as mens so kyk na die dinge wat uitkom.

M'Lady ·

Beslis nie vir enige een wat aan die ANC behoort nie. Die kandidate se politieke affiliasie wys heel onder.

Johan Piek ·

Ek dink dis moeilik om te stem want want die gewone burger het nie genoeg insae en inligting ten opsigte van die kandidate om n ingeligte besluit te maak nie.

Waars ons leiers nou ·

Dis waarom ek vra vir leiding onder ons skrywers, ontleders, maar daar is net n stilte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.