Nuuskommentaar: Hoe veilig is demokrasie in die wêreld?

Argieffoto

Argieffoto

Die jaar 2013 is besig om sy finale stuiptrekkings te gee. Regoor die wêreld maak mense gereed om die nuwe jaar met ‘n feestelikheid tegemoet te gaan. Maar dat daar nou reeds meer as 50 miljoen mense oor die wêreld is wat formeel as vlugtelinge geklassifiseer word, baie daarvan kinders wat nie van ‘n volwassene vergesel word nie, verklap ook dat daar in baie dele van die wêreld ernstige probleme is.

Daar kan kwalik ‘n duideliker simptoom van ‘n siek wêreld wees.
Hoe veilig is demokrasie wêreldwyd?

Geldnood van waghonde
‘n Kommerwekkende teken dat sake haper is dat verskeie internasionale waghonde oor aspekte van demokrasie in ernstige geldnood verkeer. Instansies soos Verslaggewers Sonder Grense (VVSG) wat wêreldwyd ‘n ogie oor persvryheid en die vergrype teen die vrye media hou, tel onder die instansies wat in ernstige geldnood verkeer. VSG is verantwoordelik vir die jaarlikse persvryeidsindeks, wat ‘n waardevolle bydrae lewer om te bepaal hoe ernstig individuele lande oor demokratiese waardes en die bekamping van korrupsie voel. Bykans elke mediaverklaring word nou van ‘n bedelbrief vergesel. In die jongste word daarop gewys dat bydraes vir dié instansie in verskeie lande belastingaftrekbaar is. Die vernaamste probleem is dat die instansie se geldelike bydraes van lande wat hulle formeel vir die bevordering van demokrasie wêreldwyd beywer, ook noustrop trek.

Nog ‘n instelling wat nou bedelbriewe uitstuur is Responsibility to Protect (R2P). Dié instansie is veral daarop gerig om onder bepaalde volkeregtelike voorwaardes internasionale ingryping in lande te fasiliteer om volksmoorde te voorkom.

Die beeld van politici
In onder meer die VSA en Wes-Europa word die demokrasie as so sterk gevestig beskou, dat dit eintlik ondenkbaar is dat dit in daardie lande onder druk kan kom. Tog is dit nie maanskyn en rose nie. In beide die VSA en Wes-Europa toon peilings dat die beeld van politici baie swak is. In die VSA het peilings byvoorbeeld getoon dat ‘n meerderheid kiesers onlangs nog gemeen het mense wat lukraak uit die telefoongids gekies word, sal beter Kongreslede uitmaak as die verkose lede. In Nederland is ‘n soortgelyke mening gehuldig met die “posman op die naaste hoek” wat beter as die politici sou vaar.

In hierdie lande verkeer demokrasie nie werklik in gevaar nie, maar die negatiewe beeld van politici in demokrasieë word wêreldwyd geprojekteer, en in lande waar die demokrasie (nog) broos is, kan dit ‘n klimaat vir magsvergrype en staatsgrepe stimuleer. En hiervan is daar voorbeelde genoeg. In die Oekraïne is daar daagliks betogings waaraan honderde duisende mense deelneem oor die regering se toenaderingsbeleid met Rusland eerder as die Weste. In Thailand is daaglikse opstande, Egipte haal die nuus met die Moslembroederskap, wat onlangs nog ‘n verkiesing gewen het, wat as terreurorganisasie verklaar is, en toe sommer gewys het waarom deur brand by die Universiteit van Kaïro te stig. Bloedvergieting vind in Suid-Soedan, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die DRK plaas, om maar enkele voorbeelde te noem. Turkye verkeer in ‘n groot demokrasie-krisis.

Rooi tapyt vir muishonde
Pas het die Zimbabwiese ambassadeur in Australië by daardie land om politieke asiel aansoek gedoen. Dit was in ‘n ommesientjie wêreldwyd groot nuus omdat dit by die Westerse persepsie pas dat dinge in Zimbabwe op die terrein van demokrasie erg gebrekkig daaraan toe is. Daar is veral ongelukkigheid oor die ooglopende gebreke met vroeër vanjaar se verkiesing, wat ook weer die despoot Mugabe se bewind gekonsolideer het.

Maar in Suid-Afrika het die media wat na-aan die regering staan, nie net geswyg oor die ambassadeur se asiel-aansoek nie, maar in ‘n heruitsending weer die beeld van Mugabe probeer streel.

Die rooi tapyt vir internasionale muishonde is nie net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie, en ook nie net ‘n Afrika-probleem nie. Die VN toon duidelik hoe moeilik dit is om muishonde onder druk te plaas, met soms bloksteun vir die grootste uitvaagsels, en om selfs hierdie karakters tot voorsitters van belangrike VN-komitees te verkies – dikwels juis in die posisies wat glad nie met die werklikheid strook nie.

Blinde oog vir die werklikheid
In baie lande waar stabiliteit onder druk is, speel etnisiteit ‘n rol, soos nou in Suid-Soedan, maar ook in lande soos Mali, Nigerië, die DRK en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Soms word hierdie etniese diversiteit verdiep deurdat dit ook godsdienslyne insluit. Die ware demokrasie het remedies hiervoor, soos om behoorlike inhoud aan minderheidsregte te gee, maar te dikwels word demokrasie nog misverstaan as die proses waardeur ‘n meerderheid alle mag “demokraties” verkry, en dan “wettig” in die belang van die meerderheid kan regeer.

Suid-Afrika
Suid-Afrika word dikwels die wêreld binne een land genoem, omdat byna alles wat in die wêreld voorkom, ook hier te vinde is. Die voordeel is dat Suid-Afrika vir die soeke van oplossings vir bykans enige probleem na voorbeelde in die res van die wêreld kan soek, en by die beste praktyke kan kers opsteek – praktyke wat werklike oplossings gebring het.

Kinders kan egter ook deur met die verkeerde maatjies deurmekaar te raak, self op die verkeerde pad beland. Geprojekteer op die internasionale arena beteken dit dat lande wat deur ideologiese blindheid geslaan is, voorkeur gee aan die verkeerde maatjies.

In 2014 sal die land weer talle keuses moet maak. Die land dra reeds swaar aan verkeerde keuses wat in die verlede gemaak is.

In 2014 vind weer ‘n algemene verkiesing plaas, en dit is van kardinale belang dat die land se kiesers die regering onder verkiesingsdruk plaas om die regte keuses in die binne- en buiteland te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

As ‘n mens let op die ontevredenheid, van veral die Afrika- en ander arm lande, oor die vetoreg van die 5 permanente lede van die Veiligheidsraad, dan kry mens die indruk dat hulle groter seggenskap in hierdie hoogste raadsaal van die wêreld soek of minstens die seggenskap van die groot moondhede wil afskaal of, meer nog, heeltemal wil uitskakel.

Sou Afrika en die res van die Derde Wêreld groter inspraak in hierdie wêreldliggaam kry, kan aanvaar word dat hulle ook hulle ideologiese siening sal wil afdruk – ‘n siening wat deurspek is van sosialisme, radikalisme, marxisme en Afrikanisme. En verder ook ‘n regeringsbestel waarin diktatorskap, korrupsie en selfverryking van regeringsleiers nie raar is nie. Al hierdie verskynsels is nie eie aan die demokrasie nie – inteendeel, dit hou ‘n bedreiging in.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.