Nuuskommentaar: Hoe ver is SA van (politiek) genormaliseer?

stemDie Suid-Afrikaanse algemene verkiesing se laaste fases breek nou aan met die inhuldiging van die president en die aanwys van ‘n nuwe kabinet. Eers dan sal ontleders kan ontleed aan wat in hierdie stadium nie baie positief lyk nie.

Intussen duur die staking (en intimidasie en moord) in die platinumgordel voort, en die Reserwebank moes pas die skatting vir groeivooruitsigte verder afwaarts aanpas tot 2,1 persent. Volgens Liberty se ekonoom speel die land se lae vlakke van produktiwiteit ook ‘n rol hierin.

Met die ontwerp van ‘n kiesstelsel vir die land is op ‘n model besluit wat dit vir ‘n enkele party bitter moeilik sou maak om ‘n volstrekte meerderheid te behaal. Voorts is geoordeel dat die proporsionele kiesstelsel die beste moontlikheid bied vir minderheidsverteenwoordiging. Wat eintlik nagelaat is, was om te sê, is dat dit die beste stelsel hiervoor was in ‘n model waar minderheidsregte as politiek inkorrek beskou word – talle lande soos Indië en Nieu-Seeland maak van ‘n stelsel van verskanste setels vir minderhede gebruik.

Die kiesstelsel is, met ‘n paar variasies, ontleen uit ‘n Wes-Europese stelsel waar demokrasie goed ingebed is, en deur talle konvensies gerig word wat in Afrika nog so skaars soos hoendertande is. Voorts kom Suid-Afrika se politieke gietstuk uit Brittanje wat ‘n ander kiesstelsel gebruik en ‘n eiesoortige politieke geskiedenis het.

Word Suid-Afrika se politieke landskap vergelyk met die voorspelde uitslag van die huidige Europese verkiesing, lyk dit of die Suid-Afrikaanse politieke landskap baie geforseerd is – groot ideologiese leemtes wat nie bevorderlik is vir ‘n hoë kieserregitrasie- en stempersentasie nie. ‘n Sterk vereenvoudiging dui daarop dat die Christen-demokrate in Europa, die grootste groep, sowat 217 van die 751 setels gaan verower. Die tweede grootste groep is die sosiaal-demokrate, wat na verwagting 201 setels gaan inpalm. Die liberale groep kan 59 setels kry, en die groenes, 44. Die regses in die groepering van Geert Wilders en die Franse Front Nasionaal, sou in die orde van 40 kry, maar voorlopige uitslae dui daarop dat Wilders se kiesers hom in die steek gelaat het.

Op die gevaar af om appels met pere te vergelyk, lyk die prentjie in Suid-Afrika baie anders. Die Christen-demokrate is byna afwesig, en die liberale maak die amptelike opposisie uit, maar taamlik ver agter die ANC. Maar die Christen-demokrate in Suid-Afrika verskil in karakter baie van die Europese weergawe, wat hulself in ‘n groepering van volkspartye saamsnoer. Die CDP’s hier te lande toon meer ooreenkomste met ‘n klein Europese groepering, bekend as die Europese Christen-partye-beweging, waarvan die Nederlandse Christen Unie die ruggraat is.

Hoewel die ANC lid van Sosialiste Internasionaal is, is sy ekonomiese beleid nog baie skisofrenies, en is daar beduidende verskille met die Europese model. Boonop lyk dit of daar ‘n radikaler werkersparty “links” van die ANC tot stand kan kom waarvan Malema se EFF net ‘n voorloper kan wees. Die DA is wel lid van Liberaal Internasionaal, maar sy beleid het so na-aan dié van die ANC gekom dat kenners reeds maan dat die DA ‘n natuurlike plafon gaan bereik as dit nie ‘n beleid vind wat dit duidelik van die ANC s’n onderskei nie.

Suid-Afrika is nie Wes-Europa nie, maar ook nie heeltemal Afrika nie. Dit is dus nie so maklik om te voorsien hoe die “genormaliseerde” uiteinde daaruit gaan sien nie. Wat wel duidelik is, is dat die huidige neiging in ‘n tweeparty-bedeling waar die verteenwoordigers volgens koukusbeleid moet stem (anders as in die VSA, waar verteenwoordigers aan die kiesers, en nie die koukus nie verantwoording doen), wat beteken dat ‘n tweepartybedeling ‘n groot ideologiese braakland, met baie kiesers wat in wese sonder kies-opsies gelaat word, en nie stem nie, of selfs nie eens as kiesers registreer nie. Nie dat die Amerikaanse stelsel so watwonders vir die VSA werk nie. Volgens die jongste Rasmussenpeling dink 61 persent van die kiesers die Kongres vaar maar power, en net 29 persent meen die land is op die regte koers.

Die stormagtige situasie in die Oekraïne, die staatsgreep in Thailand en die huidige verwikkelinge in Sirië toon dat dit nie ‘n gegewe is ‘n kiesstelsel wat op een plek redelik goed werk, in ‘n ander goed sal werk nie.

Die Suid-Afrikaanse burgers sit nou met ‘n gegewe. Die gegewe is, geoordeel aan kommentare wat wissel van koerante se hoofartikels tot die sosiale media, nie ideaal nie. Dat daar wel wyer as nou na die politieke landskap-opsies gekyk moet word, is ‘n gegewe, maar intussen is daar nie rede vir ‘n gevoel van ontmagtiging nie. Nie solank daar goeie burgerlike instellings soos Solidariteit en AfriForum is wat met ‘n wye verskeidenheid middele keer dat grondwetlike regte vertrap word nie.

Die vrye media is uiters belangrik, maar dit beteken ook dat die media hulself van interne politieke sensuur moet bevry. In Beeld meen Pieter du Toit dat lede van die persgalery moontlik weens persoonlike politieke standpunte nuus oor die onmin wat al lank in die DA broei met selfsensuur onderdruk het.

Die grondwet, met sy gebreke en leemtes, is wat almal nou in hand het om magsvergrype te voorkom. Magsvergrype is nie net aktief nie, maar kan ook passief wees soos die weermag se voeteslepery te midde van berigte dat ‘n weermaggeneraal troepe opgekommandeer het om gearresteerde makkers uit polisie-aanhouding te gaan bevry. Die regering se reaksie is so slap dat daar nie ‘n vinger gelig kan word om na die EFF se manewales en uitdaging van die grondwet te wys nie.

Daar is bitter baie werk om te doen…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Viljoen ·

Hoe kan ons n normale samelewing he met n korrupte President en sy meelopers? Ons is vining besig om in n hulpbehoewende gemeenskap te verander.

Peter ·

Se mens iets wat op jou hart is word dit gestop. Laat die mense aangaan in die Hemel word die goed nie toegelaat nie hoop nie dat almal wat aan die lekkerste koek eet dink daar is plek vir dit in die koningkryk van Onse Hemelse vader nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.