Nuuskommentaar: Hoe ver sal die Afrikaner sy volksidentiteit dryf of bodder hy hoegenaamd?

identiteitBy geleentheid is gesê dit is makliker vir ’n seuntjie om ’n trop wilde tarentale in ’n hoenderhok in te keer, as om die Afrikaner oor iets te laat saamstaan. Sodra die kwessie van regte vir die Afrikaner ter sprake kom, reageer ’n groep onder die “aanvoering” van ’n paar bekende gesigte met “wat van die groter geheel?” Suid-Afrikanerskap eerste dus, of te wel nasiebou.

Met die onlangse afsterwe van prof. Johan Degenaar, Stellenbosse akademikus en filosoof, is die onderwerp weer oopgeruk met aanhalings van ’n artikel wat hy in 1995 geskryf het, en toe in die tydskrif Insig verskyn het. Aangehaal uit Netwerk24 het Degenaar onder meer geskryf: “Indien die mite van ’n Suid-Afrikaanse nasie wel nagestreef word, het dit boonop die nadeel dat ’n etniese nasie-begrip aangewakker word by volkere wat dan, as kulturele eenhede, bedreig voel in hul eie nasionalistiese gevoelens, soos in die geval van Afrikaners en Zoeloes.”

Geoordeel aan wavragte kommentaar in die sosiale media is dit presies wat nou gebeur. Daar is ’n duidelike aanslag teen Afrikaans, nie net in die staatsektor nie, maar ook korporatiewe Suid-Afrika. Maar ook die kleiner sakelui bly nie agter nie – dit lyk soms of dit ondenkbaar is dat ’n nuwe sake-onderneming ’n Afrikaanse naam kan kry. Selfs in die Afrikaanse platteland ry ’n mens vandag deur ’n dorpie en verstom jou aan die oorspronklike Afrikaanse name, soos die Indraf-kafee, maar môre, met die terugry is alles net Engels (met hier en daar iets meer eksoties soos Frans).

Sedert die naweek dra die media berigte oor hoe ’n FAK-ondersoek aan die lig gebring het dat selfs die boeke van die skole-geskiedenisleerplan deurspek is met foute en leuens.

Dit vervreem.

Degenaar skryf voorts: “Suid-Afrikaners moet besef nasionalisme is onaanvaarbaar in sowel ’n inklusiewe as ’n eksklusiewe etniese sin. ’n Ruimer nasionalisme bedreig onvermydelik kleiner nasionalismes. Nasionalisme met sy uitgediende nasiebou-program moet plek maak vir ’n demokratiese kultuur wat ruimte laat vir etnisiteit, pluraliteit, streek- en federale beginsels.”

Presies hoe moeilik dit is om die ontwikkeling van volkseenheid te antisipeer blyk uit ʼn artikel wat pas in die Nederlandse koerant Trouw verskyn het.

Onder die titel “Groot Nederland is uit” skryf Marnix Verplancke oor wat van die ideaal geword het van ’n verenigde Nederland en Vlaandere. Hy leun sterk op die insette van die kundige van nasionalisme en historikus, Bruno de Wever.

Die afgelope eeu het dit by tye na ’n byna uitgemaakte saak gelyk dat dié twee Nederlandssprekende dele in ’n “Groot Nederland” sou saamsmelt, maar telkemale het die aksies stoom verloor. By geleentheid het die (toenmalige) Vlaamse geloof dat onderrig, kultuur en bestuur slegs iets beteken as dit in Frans geskied, ’n rol gespeel.

’n Interessantheid is dat De Wever ook die Afrikaner by die vraagstuk betrek, waar hy na die invloed, ongeveer ’n eeu gelede, van die Nasionale Sosialiste-beweging in Nederland (NSB) van Anton Mussert verwys. “Voor hem (Mussert) ging het over één volk dat zich veruitwendigde via zijn taal, waardoor Vlaanderen, maar ook de stamverwante boeren uit Zuid-Afrika bondgenoten werden.”

Mussert is egter na die Tweede Wêreldoorlog weens bande met Duitsland verhoor en vir hoogverraad tereggestel.

Hoewel die media soms die beweging van ’n verenigde Nederland en Vlaandere as regse verskynsel probeer afmaak het, was veral die aanvanklike drywers hiervan eerder liberaliste. Op die oomblik het die ideaal weer stoom verloor omdat die proses nou die hardste deur regses gedryf word.

Die hele proses geskied teen die agtergrond van “verskuiwende nasionalismes” in Europa. Met die totstandkoming van die Europese Unie is kleiner nasionalismes aangewakker met dié dat die grondwet van die Europese Unie selfbeskikking aan minderhede waarborg. Om ’n lid te word moes Spanje byvoorbeeld ’n groot mate van selfregering aan die Baske en Kataloniërs toestaan. Dit het egter ook die impak dat kleiner eenhede soos die Skotte, Vlaminge en ander toenemend voel hul nasionale regerings is ’n onnodige tussenvlak vir behorende tot die Europese Unie. Maroela Media het onder meer onlangs in die artikel “Gaan Switserland ‘n kuslyn kry?” geskryf oor hoe dit op talle plekke in Europa manifesteer.

Oor die vraag of dit ’n goeie of slegte ding sal wees dat die Afrikaner op ’n vorm van selfregering afstuur waarvoor die grondwet deur art. 235 voorsiening maak, of beter sal vaar as deel van die groter geheel, sal verskil word.

Die feit is dat terwyl daar aan die een kant selfs met aansienlike heethoofdigheid na selfbeskikking en selfs volle onafhanklikheid gewerk word, daar skynbaar in die breë min praktiese ondersteuning is. Artikels en kommentare waarin pres. Jacob Zuma vir ’n groot verskeidenheid redes erg voor stok gekry word, is besonder gewild. Dit trek nie net baie lesers nie, maar strome kommentaar. Hierteenoor trek artikels en kommentare waarin met jota en tittel uitgewys word hoe Afrikaans behoorlik uit die grondwet gesteel word, soos die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap se besluit om net Engels, Zoeloe en Pedi as amptelike gebruikstale in te span, min reaksie.

Twee onlangse voorbeelde demonstreer die basis waarop hierdie beoordeling gemaak is. Die Maroela Media-nuuskommentaar “Wreed, wreder, Suid-Afrika?” is meer as 3 200 keer van Maroela Media se hoofblad op Facebook gedeel en het 24 kommentare ontlok. Die nuuskommentaar “Studenteprotes teen Afrikaans” is net 144 keer van die hoofblad f op Facebook gedeel, en het 4 kommentare gekry.

Natuurlik kan baie ander faktore ’n rol speel, maar die voorbeelde hierbo staan nie in isolasie nie.

Ook artikels waarin daar kommer uitgespreek word oor die slegte spelling van Afrikaanssprekendes, onder meer in die sosiale media, kry ook maar ’n louerige ontvangs.

Onlangs is ’n TV-advertensie tydens die Afrikaanse nuus uitgesaai. Die twee persone wat die dialoog voer is duidelik Afrikaans – trouens, hul Engelse uitspraak is kunsmatig so verswak dat dit duidelik was die adverteerders wou die beeld van twee Afrikaanssprekendes in dialoog skep, maar die hele advertensie was in Engels.

Die Afrikaner sal om sy oorblywende belange te verskans en verlore regte terug te win, nog baie ander probleme en uitdagings as apatie die hoof moet bied. Trouens, daar word gereeld gedebatteer oor wie en wat die Afrikaner nou eintlik is. Om ’n spesifieke eksklusiwiteit te skep is die term “Boere-Afrikaner” (gewoonlik verkeerd gespel) geskep.

Gaan die Afrikaner veel uitrig as hy nie die bruin Afrikaanssprekendes as bondgenote in die proses meeneem nie?

Hoeveel sin maak dit om vir Afrikaans as universiteits-onderrigmedium te veg as baie Afrikaanssprekendes die “Vlaamse houding” van verhewe Frans inneem en hul kinders in Engelse skole plaas?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ampie ·

Herman, baie geldige kommentaar. Bitter min Afrikaanssprekendes het nog trots op kultuur, geskiedenis en taal. Die probleem hiermee is dat die Afrikaners, net soos meeste ander rasse en volke in die land, al meer en meer spook om sy eie identiteit te bepaal en te verstaan. Ek dink die Solidariteit-groep en Maroelamedia kan hier ‘n groot rol speel om dit aan te wakker aangesien dit al sedert die begin 1990’s afgeskeep is. Die gevolg is dat kinders, wat aan die Amerikaans-Engelse TV blootgestel word, in Engels begin praat en doen. Ook skryf. Die “Afrikaanse” ondernemings wat alles in Engels doen irriteer geweldig en dra by tot hierdie situasie. Ek glo ons as gewone mense kan heelwat verrig deur Afrikaanse ondernemenings, kultuur dae en ons eie geskiedenis te ondersteun. Al is dit net in die huisgesin. Kom ons wees trots op ons eie identiteit.

Marinus Schoeman ·

Stem volkome saam met Herman se kommentaar, en ook dié van Ampie. Veral irriterend is die Engelse TV-advertensies van Checkers tydens Afrikaanse uitsendings soos KykNet se nuus om sewe-uur saans en “Sewende Laan” op SABC2. Ek vind dit uiters blatant en afstootlik.

Bruno Stef ·

Dit is kommerwekkend as n mens na die hededaagse Afrikaner jeug luister en hulle begrippe van die huidige en toekomstige politieke stelsels probeer te ontleed.Ek wil nie veralgemeen nie maar die links liberale siening het vrugbare grond om hulle verdraaide beskouings aan hulle voor te hou as die oplossing.Die stryd duur al jare lank om Afrikaners bewus te maak van hulle Identiteit/ kultuur en tradisies maar daar is elemente in eie geledere veral die nuusmedia wat net so hard daaraan werk om alles te verongeluk.

Cathy Kotze ·

Ek dink daar is opsetlike pogings om Afrikaner identiteit te verwater, veral in die hoofstroom Afrikaanse media. Nie net word die Afrikaner identiteit belaglik gemaak en aangeval nie, maar ook die Afrikaner kerk en die Christelike geloof. Ons word gesien as agterlik en dislojaal teenoor die “reënboognasie.” (wat in elk geval nog nooit bestaan het nie).

Ek is deesdae ‘n Kanadees, maar ‘n Afrikaner Kanadees. Kanadese is ‘n nasie van immigrante, en elke groep word toegelaat om hulle eie eenheid, waardes, tradisies te vier en te bewaar. Canada Day feesvierings is ook ‘n fees van verskeie groepe in hulle eie nasionale drag. Almal hou trots hulle eie land van herkoms se vlag omhoog.

Afrikaners sukkel hiermee. Die ANC se propaganda is soms steeds ‘n faktor. Wat is ons eie nasionale kleredrag? Trek ons aan soos Zoeloes, of Voortrekkers? Watter een gaan geglo word?

Gelukkig breek die Afrikaners in die buiteland ‘n lansie vir ons mense. Ons is ‘n klinklare bewys dat ons reputasie as opperste rassiste ‘n klug en onwaarheid is. Ek glo ons is besig om die buiteland se persepsie van Afrikaners te verander. Die simpatie vir Afrikaners in Suid-Afrika is besig om toe te neem.

Ons seun vertel aan almal dat hy ‘n werklike “African American is” ten spyte van sy sigbare Afrikaansheid.

Henry ·

Wonderlik Cathy!
Julle insette om ons ware beeld bekend te stel wat jarelank verdraai word, kan en sal positiewe gevolge verseker.
Ek wil glo dat talle ander Afrikaners in ander dele van die wêreld – soos julle – ook nie huiwer om met hul gedrag en integriteit ‘n positiewe beeld van ons volk uit te dra nie.
Mooi loop!!!

Josef du Toit ·

Kan Herman vir ons uitbrei oor die volgende sin asseblief: “Om ‘n spesifieke eksklusiwiteit te skep is die term ‘Boere-Afrikaner’ (gewoonlik verkeerd gespel) geskep.”

Beide Boer en Afrikaner as volksbenamings kan oor die afgelope twee eeue gevind word, met voorbeelde van negatiewe en positiewe verbintenisse in beide gevalle. Feit bly, ons 19de eeuse geskiedenis word deur die naam Boer oorheers, terwyl ons 20ste eeuse geskiedenis weer hoofsaaklik Afrikaner gebruik. Dit is daarom nie verbasend dat in die 21ste eeu die saamgestelde titel Boere-Afrikaner veld wen nie. Die samestelling omvat immers ons ganse volksgeskiedenis tot ‘n mate wat elk van die twee op sy eie nie kan nie.

Daarby is daar geen sprake van ‘n onderdeel van Afrikaners wat dan “Boere Afrikaners” (koppeltekenloos) (soos bv Engelse Brit of Waalse Belg) sou heet nie, en by implikasie dus ‘n stam binne ‘n groter volksgeheel vorm nie. Nee, vir ‘n Boere-Afrikaner (met koppelteken), is hy wel tegelyk Boer en Afrikaner, maar hierdie identiteit is ten volle volksidentiteit, dus geen deelversameling van die groter Afrikanersfeer nie.

Oor kleulingbondgenote net die volgende: As vele Afrikaanstalige blankes selfs hul rug draai op enigiets en alles wat enige sweempie van volksgevoel sou meedra, waarom sou die kleurlinge hulself wou verbind aan die sogenaamde Afrikaner? Die kleurlingvolk is ongetwyfeld met innige sentiment teenoor sy eie volksidentiteit vervul, sonder om versmelt te wil word in die nimmereindigende struwelinge van blanke Afrikaanstaliges.

Wie is die Boere-Afrikaner: Heel eenvoudig: Enigiemand wat met die mond bely, en met die hart glo, dat hy/sy ‘n Boere-Afrikaner is.

Boere-Afrikanerskap kan ook selfs nie meer met geografiese en/of burgerskap vereng word nie. Ek is ‘n Ierse burger, tans gebaseer in Belgie”. Daar is uit die aard van my burgerskap en land van verblyf, inderdaad sekere verantwordelikhede en dankbaarheidsentimente teenoor ook Ierland en Belgie”. Tog bly ek vir altyd uitsluitlik ‘n Boere-Afrikaner, en niks anders nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.