Nuuskommentaar: Hoe voel goeie nuus?

Foto: Pixabay

Elkeen kan ’n bydrae lewer om die silwer randjie van 2019 breër te maak, maar baie verkies om deur roekeloosheid smart vir ander te bring deur byvoorbeeld padverkeer teen ’n dubbele sperstreep verby te steek. Maak die regte keuse.

Maroela Media se vakansieprojek vir fokus op goeie nuus begin einde se kant toe staan. Al was daar ’n silwer randjie om die donker wolk, bekend as 2018 (lees die artikel van Flip Buys hier), was dit stellig een van die moeilikste jare om sinvol nuus by te hou en relevant te bly deur op die positiewe te fokus.

Koerantopskrifte vertel immers die verhaal van ’n hewige padslagting, verdrinkings, grondgryp sonder vergoeding, plaasaanvalle wat boonop in die gewoonlik rustiger Bolandstreek skerp geëskaleer het, verterende reusebrande, die verwoestende droogte wat op heelwat plekke ongehinderd voortwoed, die aanslag teen Afrikaans en gepaardgaande minderheidsregte deur die regering, asook vele meer.

Hierdie skrywer is self kort voor Kersfees deur huisrowers beseer wat die gesin se getroue huishulp, Mitah, vermoor het. Die silwer randjie hier was die strome boodskappe, waaronder ook van Maroela Media se lesers, wat Mitah vir haar heldedaad geloof het. Daar is, ondanks die regering se optredes wat rasseverhoudinge vertroebel en selfs verongeluk, op grondvlak steeds ’n groot poel van welwillendheid.

Word die donkerwolk-berigte ’n bietjie van nader bekyk, blyk dit dat daar dikwels ’n mens betrokke was wat deur sy moedswillige of doelbewuste optrede die ramp veroorsaak het. Wat anders as ’n moordenaar is die bestuurder wat in druk vakansieverkeer ’n ander voertuig op ’n dubbele sperstreep verbysteek? Wat anders as ’n gepoogde moordenaar is die bestuurder van ’n luukse bus wat afgeneem is waar hy sulke sperstrepe die een ná die ander geïgnoreer het? Voeg hierby ongelukke wat deur oorlaaide of onpadwaardige voertuie veroorsaak word, of spoedoortreders of dronkbestuurders. Met die skrywe hiervan wek die kwessie van die beweerde dronk polisieman wat tussen ’n groep mense wat aan ’n fietswedren deelgeneem het, ingejaag het nogal opslae. Volgens die laaste beskikbare nuus is een se toestand kritiek.

En ’n brandstigter wie se daad die potensiaal het om mense te laat doodbrand, en dit inderdaad soms gebeur. Soms bly amper hele dorpe in die slag, soos nou met Wuppertal. En wat van ’n munisipaliteit wat sy infrastruktuur verwaarloos en so die inwoners in gevaar stel deur hul drinkwater deur rioolwater te laat besoedel?

Nou net, terwyl die uwe hierdie kommentaar vanuit sy hospitaalbed skryf waar hy chemo ontvang, het die krag afgegaan. Gelukkig het die skootrekenaar sy eie kragpak en het die hospitaal se noodkragopwekker baie gou ingeskop, maar het iets skeefgeloop, kon baie pasiënte wat aan lewensondersteunende apparate gekoppel was die hoogste prys betaal het.

Die feit bly dat mense te dikwels misdadige of onverantwoordelike, of selfs nalatige gedrag aan die dag lê wat ander hul lewe (kan) kos. Beserings en trauma wat oorlewendes opdoen, is nog hoofstukke van hierdie tragiese verhaal. Presies dieselfde verhaal wat deel van die silwer randjie kon wees, word nou weens menslike keuses deel van die donker wolk. Maar in plaas daarvan om die verantwoordelike keuse te maak, word vermanings met arrogansie beantwoord – tot daar later onbeskryflike selfverwyt en soms selfs gratis verblyf in ’n staatsinstelling kom. Die gratis oranje oorpakke wat dié mense kry, troos nie juis nie.

Met Oujaarsnag is daar in ’n sekere woongebied net ná middernag klappers geskiet wat oorverdowend was. Die GPF het die skuldiges gou opgespoor en die polisie laat kom. By een huis berig die GPF dat die skieters besonder arrogant was terwyl vir die polisie gewag is. Intussen moet ander die prys betaal vir getraumatiseerde troeteldiere wat hulself soms erg vermink in hul pogings om weg te kom. Voëls verlaat hul neste met kuikens om weg te kom van hierdie geraas.

Elkeen kan deel van 2019 se silwer randjie wees. Eerder ’n stille held as om ’n ander gesin van hul wetsgehoorsame broodwinner-pa te ontneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.