Nuuskommentaar: Hoe vry voel jy?

Argieffoto

Argieffoto

Vryheidsdag beteken vir hulle wat weens die histeriese dryf van transformania benadeel word, en diegene wat weens sosio-ekonomiese agterstande nie die grondwetlike vryhede kan help oes nie, maar bitter weinig. Dit kan baie anders lyk as elkeen wat wel ’n stukkie vryheid kan omarm, daardie geleentheid benut om uit te reik en sy deeltjie bydra tot waar Vryheidsdag meer word as ’n datum op die almanak waar politici die kiesers met donkie-ore uitrus.

Dit is Vryheidsdag, en tog, word vanoggend deur die beskikbare nuus op die internet “geblaai” is dit ’n grootliks afwesige tema, en waar dit ter sprake kom, is dit meestal gedemp. Daar is min tekens van die euforiese “freedom” wat saamtrekke gekenmerk het, maar die politici sal deur die loop van die dag lewe in hierdie perd probeer injaag.

Die beleid van transformasie wat op al hoe meer plekke die vorm van transformania aanneem veroorsaak uiteraard dat sommige mense bloot op sterkte van hul velkleur al hoe minder vryheid ervaar. Dink maar aan bruin mense wie se uitstyg-potensiaal in die Wes-Kaap gewoon nek omgedraai word omdat bevorderings die nasionale demografie moet verteenwoordig.

En dan is daar die minder wordende wittes wat self steeds ongehinderd ry op voordele en gewaande voordele uit die vorige bedeling, maar wat tog bekommerd is oor wat vir hul kinders voorlê wanneer hulle vir kursusse gekeur moet word, en as hulle die keuring haal ten spyte van die voorgee teen hulle, waar beurse en selfs studielenings vandaan sal kom. En dan werkgeleenthede en bevorderingsgeleenthede.

Of, soos dikwels, wit ouers wat hulle nié bekommer nie en instansies wat voorsorg probeer tref soos Solidariteit en AfriForum lustig kritiseer, en dan self erg ontnugter word.

Hoe vry voel ons as die regering so blatant in sport inmeng soos wat minister Mbalula nou gemaak het?

Hoe voel kerke as die president en sy meelopers gereeld godsdiensuitsprake maak wat aan godslastering grens, en dan nog die vermetelheid het om kerke “opdrag” te gee om byvoorbeeld die land se moraliteitsprobleem te takel (terwyl die regering skynbaar ongehinderd voortgaan om dit te sloop)?

Hoe voel dit as ’n betreklik vrye media gedurig oor die kole gehaal word en met beperkende wetgewing, ’n mediatribunaal en ander maatreëls gedreig word? Dit in ’n omgewing waar die regering onregstreeks beheer oor ’n groot mediahuis oorgeneem het, en die media van die Guptas skynbaar ’n groot deel van die regering se advertensiekoek kry. In die Vrystaat, so lyk dit, het die proses hom op provinsiale vlak herhaal met die “aanvangskapitaal” wat via ’n nuwe webruimte bekom is.

Hoe voel diegene in plakkerskampe wat meer as twee dekades lank net beloftes van verbeterde omstandighede gevoer is? Vir baie bly ekonomiese vryheid steeds ’n hersenskim, en word nou deur blaampolitiek gepaai. Tot Jan van Riebeeck kry die skuld.

In ’n insiggewende artikel op Netwerk 24, “Vryheid is iets wat nie net in wette lê nie” deur Donald Katts, moderator van die Volkskerk van Afrika, word na ’n heel ander soort vryheid verwys, naamlik die soort wat ervaar word wanneer ’n mens soos ’n bekeerde Christen leef – die vryheid wat Jesus se lig bring.

’n Mens kan dit ’n stappie “verder” neem – kan vryheid werklik deur wette gebring word al is dit nie alle vryhede nie?

Hoeveel vryheid is daar werklik as dit op papier, selfs in die Grondwet, staan, maar die reg op die uitoefening daarvan verg elke keer dat die howe genader moet word? Dink maar aan hoe vir Afrikaans geveg moet word ten spyte daarvan dat dit sekere grondwetlike regte het.

Vryheid begin eers betekenis kry wanneer dit met gesindhede vlerke kry en uit die ink op papier kan uitstyg en in die harte van mense kan intrek neem. Dit kan eers vlieg as elkeen se  gesindheid uitwaarts gerig word, en vryheid nie verstaan word as iets wat aan maghebbers die geleentheid en reg tot ’n slopersmentaliteit tot nadeel van ander bied nie.

Soos alle regte in die handves van menseregte is vryheid ook beperk. Iemand wat tot tronkstraf gevonnis is, kan nie maar bloot sy vryheidsreg opneem en saans by die huis gaan slaap nie.

Waardeer die vryhede wat daar is, en gun dit ook vir ander wat sosio-ekonomies nie kan bykom nie. Hou aan veg om vryheidsbedreigende en vryheidsbeperkende bepalings en wette geskrap te kry.

Anders is Vryheidsdag bloot ’n dag op almanakke en ’n geleentheid vir politici om kiesers met nóg donkie-ore uit te rus.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Xa

So vry soos wat gevoel kan word wanneer ek n dik bos sleutels moet dra vir die huis en kantoor se hekke en deure, remotes oral, mag nie aanstel wie ek wil nie, mag nie aangestel word op grond van my vaardighede nie, mag nie met die regering en groot besighede sake doen nie en daarom net van ekonomiese scraps leef en tot dan moet ek aan n reeks wette en regulasies voldoen. Geen vryheid om na n hospitaal te gaan of nou eers in my moederstaal opvoeding te kry nie. Gelukkige “vryheidsdag” almal!

Sarie

Dit is so dat elke Afrikaland wat tot ‘n sogenaamde demokrasie oorgegaan het ‘n Vryheidsdag op die kalender het en in 80% van die lande is daar meer hartseer en trane as toe die koloniste die leisels gehou het. Al hierdie ANC dae is in baie gevalle net witmens en Boerebashinggeleenthede.

Roger

‘n Mens is net vry as jy verantwoordelik is en ander respekteer. Vrysiele is ‘n bedreigde spesie in Suid-Afrika.

Johan Marais

Wat het geword van die versoek gerig aan die konstitusionele hof dat RA en SEB afgeskaf moet word, dink Solidariteit was daarmee doening erens laas jaar?

Leendert van Oostrum

Wette “gee” geen vryheid nie.

ALLE wette beperk vryheid.

Die Handves van Menseregte in die grondwet “gee” nie regte nie. Dit erken bloot dat mense regte het wat die ontstaan van die grondwet voorafgaan en waarop hulle kan bly aanspraak maak, al word die grondwet geskrap. (Die mense van Somalië het steeds die reg op lewe, vryheid, ens., al bestaan daar geen staat in die gebied nie.)

Mindere wette plaas almal beperkings op die wyse waarop mense hul fundamentele regte en vryhede mag uitoefen.

Hoe minder wette, hoe meer vryheid.