Nuuskommentaar: Hoe weet ’n mens as ’n politikus lieg?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siya Duda)

Kluitjies bak, blatante leuens, valse voorstellings, leë verkiesingsbeloftes, gerusstellende beloftes van die president waarvan dadels kom soos tot wanneer beurtkrag nie sal plaasvind nie, skep alles ’n beeld van politici, en selfs die president wat maar sukkel om by die waarheid te hou. Wat gaan pres. Cyril Ramaphosa se jaarlikse 8 Januarie-toespraak wat môre gelewer word oplewer as sy geloofwaardigheid geknou is?

Dit het al ’n gekskeerdery afgegee deur te vra hoe ’n mens weet wanneer ’n politikus lieg. Die antwoord is kort en kragtig: “Wanneer sy lippe beweeg.” Inderdaad, want dit lyk of politici dikwels eerder as om kragwoorde in die parlement in te span, dit met “vingertaal” te doen. Veral die LP’s van een party was al op hierdie wyse in die sop.

Maar hierdie kluitjiebakkery was die jongste ruk nou al soveel keer in die nuus dat dit tog nie meer nuuswaardig is nie, en het buitendien nog sterk kompetisie van die “nefie”, fopnuus, kry. Hoekom dit dan weer in hierdie rubriek onder die loep bring?

Bloot omdat dit nou ’n gevoelige kwessie by die ANC begin word, en die geloofwaardigheid van die ANC en sy leiers onder verdenking begin plaas. Pres. Cyril Ramaphosa self ontsnap nie die beskuldigings dat hy, soos sy voorgangers, te gemaklik kluitjies bak nie. Daar is ander uitlegte, soos dat die onjuisthede nie die gevolg van blatante leuens is nie, maar politiek korrek verklaar word as die ore uitleen aan vrot adviseurs, en dan die “fopnuus” vir soet Eskom-koek op te vreet.

Trouens, die ANC, by monde van die adjunkpresident, het pas ook die skuld vir Ramaphosa se gereelde mistasting oor Eskom-krisisse aan misleiding deur top-mense toegeskryf. Eskom se woordvoerder het weer hieroor teruggekrabbel.

“Ou skool”-volkekundiges verduidelik dat binne sekere kulture kluitjies bak heel aanvaarbaar is as die leier wat dit inspan die teikengemeenskap daarmee gelukkig maak. Dit kom min of meer daarop neer dat dit as goeie kapteinskap beskou word as die stamhoof saans by sy stam se kraalinwoners van gesinsvuurtjie tot gesinsvuurtjie loop, en by elke vuurtjie vertel wat die gesin wil hoor. By die volgende vuurtjie kan hy dan ter wille van goeie gesindhede presies dieselfde storie 100% omdraai. Almal is dus tevrede.

Die Kliptown-“vredesberaad” enkele jare gelede het in wese dadels opgelewer omdat die gesinsvuurtjie-tegniek nie net toegepas is nie, maar toegepas is al het die rol van die media en sosiale media dit onmoontlik gemaak dat die kafstories ook die ore en oë bereik het van beraadgangers vir wie dit nie bedoel was nie.

Maar dit werk eenvoudig nie meer soos in die “ou dae” nie. Veral in die beginjare van die Zuma-bewind was die eerste instink om die “probleem” van alternatiewe bronne wat ander weergawes van die gebeure en beloftes opdis, teen te werk deur strafregtelike sensuurmaatreëls te wou instel. Dit sou onder meer ’n mediatribunaal insluit, en die uitgebreide “snoerwet”. Wat laasgenoemde betref, was die status daarvan self die slagoffer van wat die waarheid was al dan nie. Die president self het verduidelik dit word eers teruggehou sodat hy regsadvies oor die grondwetlikheid daarvan kon bekom.

Verslaggewers sonder grense (VSG) het egter hul groot verbetering van Suid-Afrika se posisie op die jaarlikse persvryheidsindeks toeskryf aan die president se “weiering” om die wetsontwerp te teken, so asof dit finaal geskrap word. Die teenstrydighede voed allerlei onheilige vermoedens, soos dat Suid-Afrika die VSG uit sy geldelike nood bevry het. VSG se tydige en ontydige versoeke om geldelike hulp het juis toe skielik verdamp. Boonop het Suid-Afrika se posisie op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks terselfdertyd ook skielik verbeter, juis toe die staatskapingskwessie aan die lig gekom het.

Kommunikasiekundiges is bewus daarvan dat die opstel van mediaverklarings vir politieke partye ’n besonder delikate kwessie is waarin die waarheid kernbelangrik is. Daar word byvoorbeeld ’n groot onderskeid getref tussen iets wat die waarheid is, en iets wat geloofwaardig is, en laasgenoemde kan moontlik ’n sak vol fopnuus wees. As die betrokke minister eers uitgevang is dat hy kluitjies bak, en veral nog ’n bynaam soos “Koos Promises” verwerf, is sy diensbaarheid uitgedien. Die waarheid al dan nie maak nie meer saak nie. Die kiesers “weet” eenvoudig wat opgedis is, is nie noodwendig die waarheid nie. Of dit blatante leuens is, of onwaarhede waaraan die minister ondeurdag maar te goede trou sy ore uitgeleen het, is kwalik relevant.

Die publiek se persepsie oor of die president geloofwaardig is, is nou veral relevant op die vooraand van die ANC se sogenaamde 8 Januarie-rede, wat môre plaasvind. Prof. Susan Booysen skryf in haar artikel in die Afrika-uitgawe van The Conversation, soos volg hieroor: “Given that the January 8 statement is not a state-of-the-nation address or a national budget statement, the most that may be hoped for is for it to provide evidence of a president who is confident, clear and courageous. That means a leader who can lead the governing party and the state to give effect to the 2019 statement, which confirms government policy and cleanup priorities for the year. Ramaphosa has allowed himself to be held back, so far, by the tenuous scale of his victory as party leader at the ANC’s national conference in 2017, and the internal threats to his authority. His leadership came to be seen as weak and wavering.

“Even if the January 8 statement is a collective document by the ANC’s national executive committee, its highest decision-making body in between its five-yearly elective conferences, Ramaphosa’s tone and choice of words in his delivery will give clues as to the state of the organisation. This at a time of debilitating disunity and internal proxy-policy contests for position and influence over the state and its patronage networks” (my beklemtoning).

Tot dusver lyk dit nie of Ramaphosa se woordkeuses wys was nie. Sy welwillendheidsdag-boodskap was verlede jaar, soos die vorige jaar, ’n ramp in gesindheid en feitelikheid wat onder meer sy “uitleg” oor Bloedrivier betref.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ek weet...

Hoe weet ‘n mens wanneer ‘n politikus lieg?
Maklik, wanneer sy mond oopgaan en daar kom klanke daaruit, dan weet jy.

PJN

Jy weet as sy bril op sy neus sit en sy oë bo-oor die raam in die dak ronddwaal, tydens ‘n toespraak, dat hy lieg.

Werner

Hierdie land is so ver heen al wat hulle kan doen is om te lieg want niks gaan dit beter maak nie

Jaco

Hy maak sy mond oop

Rudolf

If you could like about farmers getting murdered which is a very serious crime against humanity and a countries well being then any politician or leader can lie about anything.