Nuuskommentaar: Hoe werk die regering met inligting?

Argieffoto

Argieffoto

Ons weet van sekere uitsaaivoorskrifte van die SAUK wat dié openbare uitsaaier self bekend maak. Hoeveel voorskrifte en opdragte word egter uitgevaardig maar nie aan die publiek bekend gemaak nie? Op die oog af lyk dit of inligting gesmoor word waar die staat se intelligensiedienste misgetas het om broeiplekke vir ontevredenheid uit te lig.

  • Die SAUK sal voortaan nie meer beeldmateriaal van die beskadiging van eiendom uitsaai nie.
  • Die SAUK weier om ’n DA-verkiesingsadvertensie uit te saai.
  • Altesaam 90% van die musiekinhoud van SAUK-radiostasies moet plaaslik wees.

Oor die meriete wat die SAUK oor die motivering van sy besluite verskaf, kan lank geredeneer word. Die grootste knoop lê egter in die voorskriftelike manier waarop die besluite geneem word. Die tydsberekening, so kort voor ’n verkiesing, laat ook vraagtekens hang.

Die besluit oor die musiekinhoud is duidelik baie ongewild onder die luisteraars van Radio Lotus, ’n stasie wat op die Indiërbevolking gerig is. Dit het duidelik geblyk uit luisteraarsbriewe wat die stasie ontvang het toe dit bekend geword het Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, gaan aan ’n program deelneem. Motsoeneng het egter die lees van die briewe verbied, en daarop die inbellers beskuldig dat hulle ’n klein minderheid verteenwoordig.

Volgens Motsoeneng se oordeel was die 90%-besluit baie gewild. Die inbellery is toe op sy aandrang stopgesit.

Met die aankondiging oor die 90% plaaslike inhoud was van die rolspelers baie in hul skik. Van die koerante was in hul hoofartikels baie onkrities positief daaroor.

Dis egter ’n komplekse saak, met die werklike aanhangers van klassieke musiek wat maar een groep is wat bekommerd is. Die verskoning dat plaaslike opnames as plaaslike inhoud sal tel, bevredig kwalik. Hoeveel van veral die minder bekende komponiste se werke is al in Suid-Afrika opgeneem? En deel van die gesofistikeerde luister van klassieke musiek is om te kan onderskei tussen werke van die bekendste orkeste in Wenen en elders in die wêreld. Voorts maak die akoestiek van die saal waarin dit opgeneem is ook ’n verskil. Dit is soos om te verwag ’n werklike aanhanger van Neil Diamond moet voortaan tevrede wees om net na die opnames van ander kunstenaars wat Diamond se werk vertolk te luister. Dit is maar net nie dieselfde nie.

Joernaliste is dit voor die voet eens dat die besluit van die SAUK om voortaan nie meer beeldmateriaal van die beskadiging van eiendom tydens proteste te vertoon nie, verkeerd is. Die SAUK se argument is dat dit ander kan inspireer om soortgelyk op te tree.

Die vermoede is egter baie sterk dat dit deel van die SAUK se voorneme is om die ANC so goed moontlik in die komende verkiesing te laat lyk.

Of die plan gaan werk om te voorkom dat ander die vandalisme nadoen, kan daar geen sekerheid wees nie. Die molesmakers wil immers gesien en gehoor word. Word dit kunsmatig gesmoor, bestaan die moontlikheid dat hulle hul tot nog erger metodes sal wend om te verseker dat hul griewe aandag geniet.

Die goue beginsel is immers dat ’n goeie regering sover moontlik voorkom dat griewe iewers die geleentheid kry om in ’n drukkoker stoom op te bou.

Voorts het die sosiale media so ontwikkel dat dit byna ’n uitgemaakte saak is dat beeldmateriaal op ander maniere sal versprei. Iemand neem dit op sy selfoon op, en in ’n japtrap is dit wêreldwyd deur die sosiale media versprei. In die proses verloor die SAUK boonop geloofwaardigheid.

Die DA meen, omdat die verkiesing afgekondig is, is dit nou wetlik in die haak om verkiesingsadvertensies te begin uitsaai. Die SAUK het ’n advertensie egter geweier “omdat daar nie nou ’n gleuf beskikbaar is nie”.

Die saak word nou na die Onafhanklike Uitsaai-owerheid verwys. Daar is egter dadelik vraagtekens of dit nie baie te make het daarmee dat die ANC skynbaar nog nie gereed is om sy TV-advertensies uit te saai nie.

As daar soveel direktief-besluite, oftewel voorskrifte en opdragte, bekend is (al word in sommige gevalle latere openbare deelname beloof), hoeveel word geneem waarvan die publiek nie weet nie en maar net later die gevolge beleef?

Soos die voorskrif wat ’n aantal jare gelede na streekkantore gestuur is om minder aandag aan plaasaanvalle te gee.

Of dat selfs groter partye se verkiesingsaktiwiteite minder dekking moet kry as byvoorbeeld dié van die PAC?

Soms lyk dit asof al wat deursigtig is, die kwessie is dat die nuusaanbieding geplooi word.

Hoe word daar byvoorbeeld ’n paneelbespreking oor rassisme gehou, en die regering se plan word in detail bespreek sonder ’n verwysing daarna dat die Solidariteit Beweging op pad is om die einste regering teen die einde van die jaar vir rassisme by die VN te verkla?

Die land se grondwetlike demokrasie sal nie ten volle ontluik as die media wat nie deur die staat besit word nie, nie politieke korrektheid afskud en sy waghondfunksie na behore verrig nie.

Die staat se hantering van inligting kom net te dikwels onder skoot. Hoe was dit moontlik dat die staat se veiligheidsdienste grootliks ’n wanpersepsie oor die Marikana-gebeure gehad het? Dit terwyl sekere akademici die situasie haarfyn kon beskryf. Nou blyk dit dat ’n senior Lonmin-amptenaar ’n betaalde informant van die staat was. Is daar nie te veel op sy inligting staatgemaak nie?

So lyk dit ook asof die veiligheidsdienste vas aan die slaap was oor die konflikpotensiaal in Limpopo waar skole afgebrand is, in ’n situasie wat skynbaar oral behalwe by die regering se besluitnemers welbekend was.

Die manier is om onvrede, en inligting daaroor, vroegtydig op te spoor, te ontmasker en aan te pak. Dit is waarvoor die belastingbetaler opdok om die veiligheidsdienste te bemagtig. Nie dat die droogmakery met daardie inligting dan gesmoor word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Ons moet onthou dat die SAUK ook maar net ‘n arm van die ANC regering is en deur ANC goed gesinde mense bestuur word. Vir wat sal hulle nou vir een oomblik die waarhied wil wys en regverdig wil wees. Maar hulle verwag darem van ons om n TV lisensie uit te neem.

Loeis ·

Jan, ‘n plan wat ek al lank volg is om net geen TV te kyk nie. Mens kan goeie flieks en TV reekse elders bekom, en goeie nuus in Maroela Media en op Praag lees (lg is soms bietjie ekstreem maar jy lees gewoonlik ‘n ding nes dit is).

Die SABC sal nie lisensiegeld by my kry nie – dit is ‘n belofte.

Loeis ·

Dit bring ons terug na die gesprek oor nasionalisering vs privatisering.

Die SABC word deur die regering finansiëel bygestaan. Dit is nie moeilik om te raai aan wie die SABC gevolglik getrou is nie. Hierdie is nie ‘n nuwe tendens is nie: voor 1994 het die ou SAUK graag by KP vergaderings met hul kamera op een ou tannie se gesig inge-zoem, enige leë stoelle is afgeneem en dit is wat dan uitgesaai is. Wanneer die NP egter vergadering gehou het, was die kamera in elke hoek van die saal, en is die teenwoordiges uit elke hoek afgeneem. Beeld en sy susters koerante maak hulle vandag baie graag aan heirdie tipe gedrag skuldig, met die verskil dat hulle die DA probeer bevoordeel (en VF+ as oud en klein voorhou).

Selektiewe berriggewing kan baie misleidend wees. Markinor het ‘n aantal jare gelede ‘n opname gedoen oor hoe Suid-Afrikaners oor ‘n aantal goed voel. Die SABC se Afrikaanse nuus het die reine waarheid uitgesaai toe hulle gesê het waaroor mense GELUKKIG was, en het dit selfs volgens bevolkingsgroep afgebreek. Hulle het egter nagelaat om te sê waaroor mense ongelukkig was, en dit gevolglik laat klink asof Suid-Afrikaners van alles rasse net gelukkig was. In kort, ‘n blatante leun versteek binne ‘n andersins akkurate maar selektiewe berrig.

Ons het ‘n werklik onafhanklike en objektiewe openbare uitsaaier nodig waarin die regering van die dag nie sy kloue kan slaan nie, en oor ‘n ding berrig nes dit is!

m ·

Dalk wil hulle nie he ons moet sien watter groepe alles afbreek nie……. Ma dis eintlik voor die hand liggend!!!!!

Oom Kalahari ·

Die SAUK moet “Privatiseer” en objektief kan handel en uitsaai wat in almal se behoeftes van die bevolking kan voldoen.

John ·

Ons probleem strek regoor al die nuuskannale, Kyknet en ANN7 (wat soos die New Age- koerant na bewering deur die Guptas gefinansier was/word) se nuusberiggewing is baie selektief. ANN7 leun swaar in die rigting van die regering. Joernaliste is ook maar hardop vir hul poste en knyp maar die oe toe of draai hul woorde in watte toe — sagter op die oor van Groot Broer. Ons het nie regtig ‘n uit en uit Afrikanernuusstasie nie. Kyknet en RSG verbruin en die tipe musiek wat gespeel gaan word, sal binnekort die Afrikaanse musiekbedryf ‘n groot hupstoot gee… af van die stasies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.