Nuuskommentaar: Hoekom so moeilik maar belangrik om Covid-19 te verstaan?

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

Dit lyk of sommige mense nie sonder streng wetstoepassing by die afsonderingstydperk se regulasies gaan bly nie. Maar sal meer kennis nie bydra tot ’n verantwoordeliker samelewing nie?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het reeds verlede maand met toetse begin om ’n moontlike geneesmiddel vir Covid-19 te vind. Tien lande het toe reeds vir deelname geregistreer, maar net een hiervan is van Afrika. Dit is Suid-Afrika, maar Afrika se geringe deelname word as ’n jammerte beskryf; nie net weens onderverteenwoordiging nie, maar omdat Afrika se broodnodige genetiese verteenwoordiging in die toetse nou pateties onderverteenwoordig is.

Die idee is nie om in hierdie nuuskommentaar die genetika op universiteitsvlak aan te spreek nie, maar ’n idee te skets van hoe ’n gedugte taak wetenskaplikes in die gesig staar, en dat die publiek nie sommer die slagoffer van fopnuus word nie.

Nie baie lank gelede nie, was daar in sekere kringe optimisme dat die mensdom “binnekort” die geheimenisse van die genetika sou kon ontrafel, en dat die omvattende genesing van byna alle siektes so te sê op hande sou wees. By terugskoue moet toegegee word dat die mensdom toe nog kwalik deur die voetsole van die volle omvang kon dring. Op sommige terreine is daar wel skouspelagtige vordering gemaak, in sommige gevalle is die kennis nou in teorie beskikbaar, maar toestemming moet nog verkry word om die toetse op mense en menslike embrio’s te kan doen.

’n Volledige ondersoek kan net gedoen word as die genetika van die virus onder die elektron-vergrootglas kom, asook dié van die draer (indien bekend) en van die slagoffers of potensiële slagoffers. Daarsonder kan te maklik veralgemenings gemaak word wat dan vreemde resultate in die praktyk oplewer.

In die suide van die VSA blyk dit dat Afro-Amerikaners ’n veel hoër aansteeklikheidskoers, asook sterftekoers het, as wit Amerikaners. Die “antwoord” blyk heel voor die hand liggend te wees, naamlik swak sosio-ekonomiese toestande. Sou dit egter simplisties geldig wees, sou die inwoners van plakkersgebiede in Suid-Afrika hulle as’t ware in die dodesel bevind, veral met die MIV/vigs-koers wat so hoog is, en lyers se weerstandigheid nog verder aftakel.

Maar die naweek lui opskrifte dat manifestasies in Suid-Afrika nie wêreldtendense navolg nie. Die WGO het kommer uitgespreek oor jong mense in verskeie dele van die wêreld wat nie enige van die onderliggende toestande onder lede het nie, maar so ’n hoë sterftekoers het. Is daar dan genetiese faktore by individue en groepe wat sommiges groter weerstand laat bied, en ander juis weer meer kwesbaar maak?

Sou sommige mense dan immuun kan wees of raak sonder dat hulle ooit aan Covid-19 blootgestel was, en nog nooit self ’n teenmiddel gekry het nie? Muise en rotte in ’n huis kan byvoorbeeld immuun ten sekere giwwe word deurdat die huiseienaars hul gif – elke keer dieselfde soort wat by ’n plaaslike ysterwarewinkel gekoop word, inspan. Die rotte vrek, maar een is weerstandig, en later nog een, en plant voort. Hulle kry weerstandige kleintjies. Die entstof teen pokke toon dat die weerstandigheid van ’n geneties nou verwante virus, wat self onskadelik is, oorgedra kan word. In beginsel kan sekere individue dus weerstandigheid dra nadat voorgeslagte aan ’n verwante virus aangetas was, en met weerstandigheid oorleef het.

So is in die soeke na ’n universele griepteenmiddel (vark- en voëlgriep ingesluit) vordering gemaak toe die genetika van potensiële slagoffers ondersoek is en ’n groter as verwagte aantal immuniteitselemente gevind is wat meer as een soort griepstam kan bedien. Dit is nog nie universele immuniteit nie, maar ’n stap en leidraad in die koers daarheen.

Dit verklaar hoekom dit ’n jammerte is dat nog net ’n klein verskeidenheid van Afrika se enorme variasie in die toetse beskikbaar gaan wees (meer gevorderde verduidelikings kan hier gelees word). Nog ’n rede waarom Afrika se deelname belangrik is, is weens die kontinent se ervaring met ander pandemies en epidemies soos Ebola.

Hoekom kry net sekere rasse en geslagte sekere siektes, soos sekere soorte kanker. Die antwoord sou, indien dit belangrik sou wees om vas te stel hoekom, in die genetika gesoek moet word. Meer kan hier gelees word.

Intussen dra fopnuus en samesweringsteorieë by tot die gevaar dat die tans onverklaarde faktore rassisme en haat kan aanwakker. Reeds is daar onder welvarende swart mense sosialemediastories in omloop dat Covid-19 “’n witmenssiekte” is, en dat swart mense in plakkerskampe niks te vrese het nie en dat die regulasies van die afsonderingstydperk maar geïgnoreer kan word. Die skrikwekkende syfers oor swart sterftes in suidelike state in die VSA kan sonder basiese begrip, weer stories oor ’n mensgemaakte virus, spesiaal ontwerp om swart mense af te maai, versterk. (Daar is variasies van dié twak in omloop.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ek stem saam. Onthou, vroeër, as jy bloed geskenk het moes jou ras genoem word. Dit het niks met rassisme te doen nie. Sekere rasse is weerstandig teen sekete siektes. As die een ras die ander se bloed kry kan die ontvanger die siekte kry en sterf. En dit het nou niks met rassisme te doen nie, maar eerder genetika. Do kan sekere mefikadie beter werk op een ras as ‘n ander. Die geniese samestelling van die Afro amerikaaners is ook anders as die swart rasse by ons. So die feit dat daar meer in Amerika sterf is nie te sê dat dit by ons ook gaan gebeur nie. Die mense van Afrika is sterk mense. Ons word blootgestel aan baie meer en ander soorte kieme as ander wêrelddele. Daarom moet daar toetse gedoen word op al die verskillende rasse. En dit het nou regtig niks met rassisme te doen nie, maar oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.