Nuuskommentaar: Hoenderkop-beleg van die Wyngordyn

Argieffoto

Argieffoto

Ouderwetse geopolitiek afgestof, blinkgevryf en in volle swang. So kan die beleg van die wyngordyn ten beste beskryf word. ‘n Beeld ontvou van ‘n persepsie dat zombies beter as regering sal vaar as die verkose verteenwoordigers – met ‘n peiling wat dié opvatting staaf.

Die Wes-Kaap is die enigste “onbevryde” provinsie in Suid-Afrika, aldus ANC-propaganda. Dit is nie alleen vir die ANC ‘n politieke klip in die maag nie, maar ‘n kloppende hoofpyn dat dié provinsie sigbaar beter regeer word as die ander.

Die feit dat die Wes-Kaap deur die opposisie regeer word, bied aan die leier van die amptelike opposisie, Helen Zille, die geleentheid om premier te wees in ‘n grondwetlike bedeling waar provinsies oor magte beskik wat neig om byna federale eienskappe te hê. Vra maar die grondwetlike hof wat die Zille-kommissie van ondersoek na doeltreffende polisiëring die groen lig gegee het.

En ‘n belangrike algemene verkiesing lê voor. Dit sal volgende jaar twintig jaar wees sedert die ANC aan bewind gekom het, en die eerste ware geleentheid dat kiesers die geleentheid sal hê om pres. Jacob Zuma se presidensie te beoordeel. ‘n Swak uitslag sal vir Zuma ‘n persoonlike verleentheid wees.

Amptelike en nie-amptelike propaganda met sterk kenmerke van die Koue Oorlog word ingespan om die beleg van die Wyngordyn te besleg. Van die een kant word gereeld dreigemente gehoor van die provinsie onregeerbaar maak, en ‘n Trojaanse perd word lank nie meer benodig om vyfdekolonners deur te kry nie.

“Ekonomiese vlugtelinge” uit ANC-beheerde gebiede, veral die Oos-Kaap, is al as teenargument gevoer. ‘n Netjiese voorbeeld geneem uit die geopolitieke handboek van ‘n era toe Nazi-Duitsland se oë op Tsjeggiese gebied gerig het.

Walglikheid staan breed oor die poefie-politiek van die dag geskryf. Kort-kort word die “Wes-Kaapse vloerpolitoer” ingespan. Ook hiervoor kan sake na antieke tye teruggevoer word toe die Hunne mense met die pes onder lede met kattapulte in beleërde stede ingeskiet het.

Ontkennings van amptelike betrokkenheid en ongesanksioneerde optrede is alledaags.

Gewelddadige betogings in Kaapstad Foto; Nardus Engelbrecht/SAPA

Gewelddadige betogings in Kaapstad Foto; Nardus Engelbrecht/SAPA

Die provinsie se “unieke” opposisiestatus is hoofsaaklik te danke aan sy eiesoortige bevolkingsamestelling, met veral die groot bruin bevolking wat sleutelbelangrik is. ‘n Rits faktore het dié gemeenskap tot ‘n redelike mate van die ANC weggedryf, byvoorbeeld Jimmy Manyi se opmerkings soos dat die bruin mense in die Wes-Kaap “oorverteenwoordig” is. Die departement van korrektiewe dienste se “nasionale demografie”-kriterium sou verseker dat die bruin (en wit) gemeenskappe gestraf word vir hierdie realiteit wat die Wes-Kaap se andersheid ook op die politieke toneel help bepaal.

Manyi se bekkigheid het soos ‘n soliede waterskeiding onder bruin meningsvormers en rubriekskrywers neerslag gevind. Slegs die mees verbete ANC-gesinde rubiekskrywers het nog ‘n rukkie skoorvoetend die ANC-dampkring probeer adem, voor hulle ook kopskuiwe gemaak het.

Vir die ANC het die Bolandse plaasonluste soos manna uit die hemel gekom omdat baie van die betrokkenes ook bruin was. Dit het bruin ANC-leiers soos Marius Fransman en Cosatu se Tony Ehrenreich, wat te midde van die ANC se diskriminasie teen bruin mense al hoe meer die karakter van “tokens” begin toon het, weer pyle in die koker besorg. Fransman is nogtans onlangs in die media aangehaal as sou hy gesê het die ANC gaan fokus op die “nuwe aankomelinge” om die Wes-Kaap vir die ANC terug te win.

Die gebeure by Saldanhabaai waar Zille by ‘n amptelike staatsfunksie doodgeskree is met die teenwoordige Zuma wat niks daaraan gedoen het nie, staan vierkantig in hierdie dampkring.

Soos met die poefie-oorlog en die strooptog deur Kaapstad se middestad, was die ANC sy hande in onskuld gewas in die beste Pontius Pilatus-tradisie. Dit is ‘n geval van donkievye as die beste uit die Kaapse keur opdis. Met die strooptog n Kaapstad het dit die AC egter baie lank geneem om die optrede te veroordeel na die Wes-Kaapse ANC-jeugliga dit darem al ure vroeër gedoen het. Ure daarna kon die media nog geen reaksie van die ANC kry nie.

Wat die Saldanhabaai-kwessie betref: Ten eerste het Zille vir Zuma reeds die vorige aand telefonies daarop attent gemaak dat die boewery beplan word. Die president se antwoord dat hy niks daarvan weet nie, is ‘n harde klap deur die bakkies van die land se intelligensie-agentskappe. Selfs die vrotste van intelligensie-agentskappe moes so iets “opgetel” het, veral omdat die president self daar sou optree. Slaap hulle of word hulle gedoof?

Die ANC se ontkenning van die DA se beskuldiging dat die regerende party staatsfunksies vir partypolitieke doeleindes kaap (en die DA daaroor ‘n klag by die Openbare Beskermer gaan indien) is pikant. Dit is immers nie nuut nie. Trouens, Zuma self was betrokke na hy ANC-president geword het, en voor hy president van die land geword het, toe hy die hoofspreker van die amptelike jeugdagvieringe in Botshabelo was. Dit was die geleentheid waar Julius Malema, ook sonder enige amptelike regeringsamp, ‘n spreker was en verklaar het dat hy sal doodmaak vir Zuma. Daardie geleentheid het ook ‘n draai by die Openbare Beskermer gaan maak.

Maar dit is nie al nie. Zille is ook al tevore, by ‘n amptelike geleentheid by die Uniegebou, in die teenwoordigheid van Zuma stilgejou. Met die oorhandiging van HOP-huise aan arm blankes onlangs, is die oorhandigingsgeleentheid wat deur Zuma self behartig is, skaamteloos in ‘n ANC-verkiesingsvergadering omskep.

En dan was daar onder meer die kospakkie-insident vlak voor die Potchefstroomse tussenverkiesings – en dié kospakkies is al ‘n saak wat lank ‘n teer punt is hoe dit al met verkiesings saamloop en telkemale ongure nuusdekking geniet. Dit kom in verskillende gedaantes, soos “droogtehulp” waar die boer wat deur die droogte geteister word, nie ‘n bloue duit kry nie, maar van verwag word om die werkers wat steeds hul salarisse en byvoordele kry, moet inry dorp toe om hul droogtehup in ontvangs te neem.

Met die naderende verkiesing sal prominente ANC-kaders soos Jesse Duarte en Fransman al meer ingespan word om juis bruin kiesersgemeenskappe te besoek – en ja, dit sál so gereeld soos kospakies voor verkiesings op TV wees sodat ook ander bruin kiesers sal sien dat hulle so kosbaar soos Eersterus daar ver se kiesers is. Die arbeidshof in Kaapstad het immers die klip in die skoen met die Solidariteit-DKD-saak so verwyder dat die ANC nou nie net weer ‘n oper oor by die bruin kiesers het nie, maar vir sy swart kiesers kan gerusstel dat die stokkie wat die uitspraak in die African-gefokusde rasbegunstiging steek, die “nog ongetransformeerde” howe se “skuld” is.

Die politiek is nie vir sissies nie.

Die knou wat verkose politici by die kiesers kry en tot lae kieserregistrasie van veral jong burgers bydra, en ‘n belangrike generator vir gewelddadige diensleweringbetogings is, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. In die jongste Rasmussen-peiling is bepaal dat 37% van die Amerikaanse kiesers nou meen dat zombies beter sal vaar as kongreslede as die verkose verteenwoordigers. Dit is presies net soveel as wat meen die verkose agbares vaar darem beter as die “undead”. ‘n Volle 26% is nie seker oor wie van die Zombies of die huidige bekleërs die beste sal vaar nie.

En dié peiling het niks daarmee uit te waai dat dit Haloween was nie – onlangse peilings het ook getoon dat die meeste kiesers – selfs voor die “shut down”, gemeen het mense wat lukraak uit die telefoongids gekies word sal beter as die verkose verteenwoordigers vaar.

In Nederland, waar die gewildheid van die koalisieregering so laag gedaal het dat dit tekens van n krisis toon, het peilings ook getoon die meerderheid kiesers meen die posman op die naaste hoek sal beter as die politici vaar. Wat die sout dieper in die wonde vryf, is dat daar toe pas weer posafeleweraars afgedank is wat nié pos afgelewer het nie.

As politici – ook hier te lande – soos narre optree moet hulle nie verbaas wees dat die publiek begin glo hulle woon in ‘n sirkus nie. En miskien moet minister Pravin Gordhan, voor hy kommentators striem oor hoe hulle die situasie in die land aan voornemende beleggers skets, tog maar die politici gaan wys wat staan in die grondwet oor hoe hierdie politici veronderstel is om op te tree.

Die grondwet, en die reg, is immers nie soos die Vrystaatse LUR Butana Komphela glo, net op die gewone burgers van toepassing nie. Komphela het aan Volksblad gesê dat BBP’s (bedoelende politici) tydens hul ampswerk heel wettig teen 200 km/h mag rondry as die blou lig op is, en dat die plebs wetlik verplig word om “uit te swaai.” Toe nou nie, soos die Vryheidsfront Plus om met jota en titel bewys.

Verwag Gordhan werklik dat sulke LUR’e die respek van enigeen, veral kommentators verdien?

Die komende verkiesing gaan rof wees, maar die Wes-Kaapse aanslag gaan iets ysliks wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.