Nuuskommentaar: Hoeveel houe op die ken kan Zuma vat?

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma het tydens sy presidentskap reeds verskeie harde houe op die ken gekry, maar strompel steeds windmakerig en selfversekerd voort. So is hy pas uitgejou by ’n byeenkoms waar hy hoofspreker sou wees en waar die toesprake toe gekanselleer is, en ook weer bloedneus in die hof gekry oor magte waaroor hy meen hy onbeperk beskikking het. Rig dié houe skade aan?

’n Bokser kan na talle taai gevegte onoorwonne uit die kryt tree. Dit beteken egter nie dat sy teenstanders oor die jare bietjie vir bietjie aan die bokser se neurologiese welstand weggebytel het nie – en dat die bokser sy aandjare as vuisvoos sukkelaar moet slyt nie.

Gelukkig vir pres. Jacob Zuma is die harde houe wat hy in die politieke kryt moet verduur nie fisieke houe nie. Dié houe, soos nóg ’n neerlaag in die hof kort na ’n uitjouery in Bloemfontein sodat sy en ander se toesprake afgelas moes word, bytel wel weg aan die president se beeld, asook ongelukkig aan die beeld van die land.

Ruimte ontbreek om gister se hooggeregshofbevinding teen Zuma en veral die meriete daarvan volledig te bespreek, en boonop sal die regter eers later die redes vir sy bevinding bekend maak. Breedweg kan die belang van die uitspraak saamgevat word as dat Zuma se aanspraak dat die Grondwet aan hom sekere magte gee waarvoor hy nie aan die kiesers (of grondwet) verantwoordbaar is nie, ’n mite is. Dit sluit onder meer sy aanstelling van kabinetslede in, asook die aanstelling van kommissies van ondersoek en die aanwysing van die voorsitter van so ’n kommissie. Zuma is juis op pad hof toe om ’n bevinding van die vorige Openbare Beskermer tersyde te stel dat ’n kommissie van ondersoek na staatskaping aangestel word, en dat die hoofregter iemand aan die hand doen om as voorsitter aangestel te word.

Dit het Zuma en sy regsadviseurs egter ontgaan dat die Grondwet elders, asook bestaande regspraak, alle optredes van die president aan sekere toetse van veral die administratiewe reg onderwerp. Deur artikel 33, wat die administratiewe reg duidelik deel van die Grondwet maak, word begrippe soos redelikheid en rasionaliteit asook die reg van toegang tot inligting, duidelik deel van die Grondwet. Ook bind die president se ampseed hom implisiet tot rasionaliteit.

Dit gee inhoud aan die begrip grondwetlike demokrasie.

Dit is eintlik irrelevant of die DA nog verder gaan kom met die bestaande regsaksie teen Zuma wat uit verskillende stappe bestaan, en in die finale instansie ten doel het om Zuma te dwing om mnr. Pravin Gordhan en ander weer in ere te herstel. Dis immers hoogs onwaarskynlik dat Gordhan of enige van die ander sou belangstel om weer in die Zuma-kabinet te dien.

Zuma se grootse hofvernedering was stellig toe die konstitusionele hof hom, en die parlement, gelooi het omdat hulle die Grondwet nie gehoorsaam het nie in die hantering van die Nkandla-sage. Zuma het op lamlendige wyse die nasie om verskoning gevra, maar verseg om sy amp te ontruim. So is daar geen sprake dat hy nou die eerbare ding sal doen nie.

Tog moet die gebeure die onrus in hom laat broei – gaan hy enduit deur sy eie hofpogings uit die tronk kan bly? Sy vertragingstaktiek kan uiteindelik sleg boemerang. In Desember vanjaar (as die wiel nie voor die tyd teen hom draai nie) word hy reeds as ANC-president vervang. In 2019 verstryk sy tweede en laaste termyn as president van die land. Sy selfopgelegde magte om die meer as 700 aanklagte teen hom te laat “verdwyn”, verdwyn nou self, en dit raak al moeiliker om die wiel van geregtigheid, gelykheid voor die reg en ander te frustreer. Sy plan om sy gewese vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, as kroonprinses te kroon, kan liederlik boemerang as sy nie kans sien om die harde houe op die ken te vat wat Zuma nou self vat nie. Sy kan, ter wille van haar eie beeld en ruimte om die land te regeer vind dat die saamsleep van die Zuma-bagasie eenvoudig te veel moeilikheid bring, en haar eie beeld erodeer. Trouens, sy beleef nou reeds ’n voorsmakie waar sy moet ervaar hoe sy self raakgespat word as die volgende papaja die waaier tref, en sy te naby aan Zuma staan.

Wanneer ’n dier vrek is dit ’n aardigheid om te sien hoe die vlooie op een slag hul “gasheer” verlaat. Zuma is (nog) geen politieke lyk nie, maar daardie dag is dalk nader as wat algemeen verwag word. Die konstitusionele hof lewer binnekort uitspraak in die UDM en ander se aansoek dat die mosie van wantroue teen Zuma per geheime stemming moet geskied. Weens bepalings in die parlementêre reëls word verwag dat die speaker en Zuma, wat die aansoek teenstaan, ten minste in ’n deel van die uitspraak die onderspit sal delf.

As die hof sou bevind dat die stemming in die geheim moet plaasvind, loop die ANC ’n groot risiko om eier op die gesig te kry, tensy die ANC se LP’s in die openbaar aangemoedig word om volgens hul gewete te stem. Indien die hof, soos verwag word en meer waarskynlik die geval sal wees, bevind dat die stemming inderdaad in die geheim MAG plaasvind, is die toets of Zuma ’n beeld van lafhartigheid kan bekostig deur interne ANC-druk te gebruik om ’n geheime stemming te verhinder.

Twee redaksionele meningstukke in die Christian Science Monitor kan net so goed op die huidige verwikkelinge in Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Die eerste, “When conscience, not guns, decides a democracy,” handel oor die situasie in Venezuela, en verwys weer na vorige voorbeelde soos die Oekraïne, Tunisië en die Filippyne, waar soortgelyke volksopstande tot bewindsveranderings gelei het. Die keerpunt was waar soldate se gewete hulle verhinder het om opdragte uit te voer om op hul eie burgers te skiet.

Gaan die gewete, byvoorbeeld dié van LP’s, uiteindelik die regstaat in stand hou en sorg dat Zuma die trekpas kry?

Die tweede handel oor hoe toeskouers die rassisme teen ’n swart bofbalspeler meer as geneutraliseer het deur hom ’n staande ovasie te gee. Dit is interessant om te sien hoe swart rubriekskrywers Zuma kritiseer oor hoe hy in wese rassisme inspan om klimaat teen wit mense te probeer skep. Wat is ’n stewiger antwoord hierop as swart mense wat hom so uitjou dat hy nie sy toespraak kan lewer by ’n geleentheid waar hy die hoofspreker sou wees nie.

En Zuma sal moet leer die taktiek om ’n opponent se harde hou te neutraliseer deur dit op die ken te vat, is geen werklike oplossing nie. Die een of ander tyd is daardie hou ’n uitklophou – maar selfs al bly die uitklophou uit, die skade word bietjie vir bietjie aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Werner ·

Hang af waarmee hy geslaan word soos dit nou gaan kan hy die houe vir ewig vat

Grassie ·

Ek stem saam met Werner – hulle kan Zuma maar slaan, hy gaan nie kopgee nie. Hy is net soos sy groot vriend, Mugabe. Met ‘n vel soos ‘n renoster voel hy niks en gaan hy die meeste van die tyd die beste daarvan afkom. In boksterme het hy ‘n ysterkakebeen, nie ‘n glaskakebeen nie. Die mosie van wantroue gaan ook misluk, al mag hulle in die geheim stem. Sy huiswerk is gedoen. Die groor vraag is nou – wat gaan hy doen as sy eks-vrou nie later vanjaar as leier van die ANC verkies word nie. Hy gaan nie sommer boedel oorgee nie. Daar wag miskien vir ons nog ‘n paar harige probleme in die nabye toekoms. Miskien sal hy Malema se beleid probeer deur stoomroller met die hoop om die gepeupel se steun te kry.

SARIE VAN HEERDEN ·

Zuma kom elke keer met ‘n ander verduideliking in die ” opheffing” van die dom nasie met sy stories wat laerskoolkinders nie eens sal glo nie. Zuma moet sy houe vat sonder keuse want hy KAN NIE uit sy pos padgee nie. Hy het ‘n klomp vroue en ander by wie hy ‘n kind het en ook die swetterjoel kinders waarvan ons WEET. Al hierdie siele kos geld om te onderhou en hy moet enduit uithou sodat hy ook ‘n behoorlike pensioen kan verdien. Verdien? Hopelik kan hy vorentoe die Guptas se arms draai vir ‘n bietjie ekstra wat hy kan verdien deur sy seuntjie in die Guptakamp te hou.

Andre ·

Moenie julle blind staar teen Zuma nie!
Hy is net die “oortjies van die seekoei”. Dis ‘n groot vet onsigbare ‘seekoei’ wat die oortjies (Zuma) bo die water hou.
Die res van die seekoei moet ontbloot en ontmasker word. Die patronate wat vir Zuma staande hou, in eie belang, moet vasgevat word. Hulle moet tot verantwoording geroep word vir al die SKADE wat Zuma aangerig het aan die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.