Nuuskommentaar: Hoeveel tyd nog vir meningsverskille oor klimaat, ideologie en die geskiedenis?

‘n Betoging oor klimaatsverandering in Alberta, Kanada. Foto: (Dave Chidley/The Canadian Press via AP)

Daar is groeiende ongeduld by lande wat die meeste blootgestel is aan die gevolge van klimaatsverandering met lande en hul leiers wat traag is om die nodige aanpassings en bydraes te maak om die impak van klimaatsverandering teen te werk. Maar soms is daar lesse uit die verre verlede en kan daar selfs wins gemaak word uit oeroue, omgewingsvriendelike projekte.

Die VN verwag dat die planeet teen 2050 byna 10 miljard mense moet kan huisves, versorg en voed. Teen daardie tyd sal daar moontlik reeds mense op die maan en Mars woon – hetsy tydelik of permanent – maar dit sal lank neem voor genoeg mense van die aarde af sou verkas het om enige noemenswaardige verskil te maak aan die bevolkingsdruk.

Dit is nie net oor klimaatsverandering wat ongeduld intree nie. In België is daar groeiende ongeduld omdat dié landjie al weer spook om binne ’n redelike tyd ’n nuwe koalisieregering saam te stel, en daar reeds aanduidings is dat die land die bestaande rekord vir ’n regeringlose land gaan verbeter. Die Christen-fundamentalisme is vanjaar ’n eeu oud, en spanning tussen die fundamentaliste en ander Christene neem toe.

Daar is vele gemene delers, met die twiste oor klimaatsverandering wat vele fasette inbind, en daarom word op hierdie aspek gefokus om die groeiende ongeduld te verwoord.

En intussen verander die klimaat op die aarde. Klimaatsverandering vind egter reeds vir baie miljoene jare op die aarde (en ander planete en mane) plaas, en daar is groot meningsverskille oor die rol van die son as drywer van klimaatsverandering.

Van die bekendste uitwissings van veral groot lewensvorme op aarde word herlei na hemelliggame wat op die aarde geval het, soos die uitwissing van dinosourusse sowat 65 miljoen jaar gelede, en die uitwissing van mammoete, sabeltandtiere, mastodons en ander sowat 11 000 jaar gelede. Ander periodes van klimaatsveranderings word onder meer na groot vulkaniese uitbarstings herlei, die verandering in seestrome, wat weer die gevolg was van onder meer geringe variasies aan die rotasie van die aarde om sy eie as. Die son is ook aan verskeie siklusse onderwerp wat die klimaat verander, en word boonop geleidelik al warmer. Uiteindelik sal die groterwordende son die aarde verteer, maar dit is eers oor ’n paar miljard jaar ’n bekommernis.

In die laaste eeu het die mens se rol al groter geword. Die Europese Unie het onlangs ’n verslag bekend gestel oor hoe klimaatsverandering in ons leeftyd landboutoestande in Europa gaan raak. In die noorde van Europa sal al meer gewasse geplant kan word wat nou eie aan die suide is, en in die suide sal meer na gewasse gekyk moet word wat tipies is van warmer en droër klimaatstoestande.

Uitvoerboere in Suid-Afrika en elders moet nou reeds kennis neem om betyds te kan aanpas vir veranderende uitvoerbehoeftes, terwyl ’n studie oor klimaatsverandering in Mediterreense klimaatsgebiede wêreldwyd projeksies doen oor klimaatsveranderinge in dié gebiede. In die Wes-Kaap lyk dit byvoorbeeld dat wingerde en ander gewasse moontlik goed sal bly produseer as dit na hoër gebiede verskuif word.

Die bestudering van ou VOC-dokumente wat in verskeie wêrelddele geberg word, toon dat periodes van El Niño destyds al ervaar is. Argeologiese en paleontologiese studies dui daarop dat veranderde klimaatstoestande volke en wêreldryke beïnvloed het, en selfs tot die ondergang van die Romeinse beskawing gelei het. Indiaanse stamme het op hul beskawingshoogtepunt verdwyn, en dit blyk dat sommige hiervan ook deur klimaatsverandering gedryf is.

Trouens, die eerste Europese vesting van Europeërs in Noord-Amerika het ook betreklik kort na die jaar 1 000 nC ten einde geloop toe die Vikings hul Amerikaanse (Vinland) en Groenlandse kolonies moes ontruim.

Geleidelik neem die ongeduld toe met regeringslui en veral wêreldleiers wat stram is om die aandeel van die mens met die nodige erns te pak. Terselfdertyd soek navorsers na antwoorde in die verlede oor hoekom sommige gemeenskappe die klimaatsverandering oorleef het, en ander dit nie gemaak het nie.

Een so ’n studie is pas bekend gestel, naamlik dié van dr. Roland Ebel van die Montana State University. Ebel, wat 11 jaar lank navorsing in Latyns-Amerika gedoen het, meen die oplossing vir voedseltekorte is as plekke wat hulle daartoe leen, ’n landboumetode van die Asteke, bekend as die chinampas, as ’n oplossing vir die kosbehoeftes van megastede kan dien.

Die stelsel behels in wese die skep van kunsmatige verhewe eilande, met kanale tussenin. Tot sewe oeste per jaar kan van dieselfde stuk grond afgehaal word, mits die regte gewasse mekaar afwissel. Dit word nou reeds in verskeie lande, waaronder Bangladesj toegepas, met drywende eilande ’n variasie. Ou plastiese bottels word gebruik om die eilande te laat dryf.  Sommige nuwe projekte kan as mislukkings beskryf word omdat onvrugbare grond wat gebagger word, gebruik word om die verhewe eilande mee te bou.

Snelgroeiende megastede sluk dikwels hierdie eilande ook in. Mexiko-stad, met 22 miljoen inwoners, is juis gebou waar die Asteke se indrukwekkende hoofstad, Tenotichtlan eens gestaan het. Die stad het juis grootliks uit mensgemaakte eilande op ’n meer bestaan en ’n bevolking gehad wat volgens ramings uit tussen 20 000 tot 300 000 mense bestaan het.

Intussen werk navorsers kliphard daaraan om meer geharde gewasse wat groter opbrengste lewer te kweek, asook meer geharde vee te teel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
JamesTwee

Ek meen alles kan teruggelei word na een probleem: Oorbevolking. Die aarde is net so groot en het net soveel kapasiteit vir ‘n dominerende spesie. Maar, ek glo die aarde sal die mensdom oorleef, soos wat hy die dinosaurus oorleef het. Gebeurtenisse van massa-uitwissing van ‘n spesie wat die aarde domineer – het al gebeur en sal weer gebeur. Dis deel van die natuurlike siklus. Hierdie keer, dink ek die verskil sal egter wees: Dit gaan nie ‘n meteoriet of komeet wees wat dinge verander nie – dit gaan die natuurlike voltrekking van die siklus van onvolhoubare aanwas wees. Enige… Lees meer »

Peet

Goeie kommentare. As die politici tog net hulle vingers uit die probleem wil hou. ‘n Perfekte manier om die probleem erger te maak. Terwyl sekere lande halsoorkop steenkool kragstasies toemaak bou China lustig voort.
Baie lande oorbevolk hulleself in ‘n massale probleem in.
Statistiek word ‘n verdere probleem aangesien slim mense dit manipuleer om enigiets te bewys. Trouens dit is Trump se groot versugting oor navorsing om sekere aanwysings te bevestig (geld,geld,geld)
Verder in geologiese tyd is bewys dat organismes wat die laagste aanspraak op bronne het waarskynlik die langste gaan oorleef.

TDW

Eers was daar globale afkoeling, toe is daar globale verwarming, nou is dit klimaatsverandering. En wie kan vir my sê wat met die “gat” in die osoonlaag gebeur het? Die probleem is nie die natuurlike verskynsel van klimaat wat verander nie, die probleem is besoedeling. Ons sal goed doen met skoon lug, water en grond. Die probleem lê egter nie by die populasie nie, maar by die groot koöperasies. Die klimaatsverandering agenda is net meer taksering. “Gee vir ons jou geld en ons sal dit regmaak” Oorbevolking … hierdie propaganda kom al ‘n lang tyd. Snaaks genoeg het net die… Lees meer »

Essie

Lees die Woord van God dan sal alles duidelik word die aarde sal met vuur vergaan.

Wolf Cilliers

Asseblief tog. Voor julle verder (oor)reageer gaan kyk eers na wat Cornwall Alliance en Dr. Judith Curry sê. Lg. het 40 jaar as klimatoloog agter die rug en het al van die valshede in as laat opgaan.