Nuuskommentaar: Hoeveel werklikheid, en hoeveel persepsie geld vir Tito se MTBR?

Tito Mboweni, minister van finansies, met adjunkminister Modli Gungubele en direkteur-generaal Dondi Mogajane weerskante van hom kom by die parlement aan vir die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Tito Mboweni, minister van finansies, het vandag die onbenydenswaardige taak om die land se ekonomie deur die mediumtermynbegrotingsrede strategies op koers te kry. Dis egter nie ’n span goedopgeleide en geteelde poolhonde wat Mboweni se Kersvaderslee moet trek nie, maar ’n mengsel van wolwe, hiënas, jakkalse, wildehonde, dingo’s, keffers en skootbrakke wat nie juis in saamtrek uitblink nie. Kort-kort rol Kersvader Mboweni deur die sneeu soos die canis-gebroedsel die slee omkeer.

’n Groot deel van hoe gesond ’n land se ekonomie is, hang af van die persepsie daarvan by die publiek. Dit word wel deesdae tot ’n groot mate na objektiwiteit gerig deur die graderings wat ’n land se ekonomie by internasionale graderingsagentskappe kry, die posisie wat lande byvoorbeeld op die korrupsie-persepsie-indeks kry (let wel, dit handel weer oor persepsie en nie noodwendig die presiese werklikheid nie) en ander statistieke en talle ander indekse soos byvoorbeeld die mededingingsindeks.

Onder die objektiewe faktore wat op tamatiestraat dui tel harde werklikhede soos beurtkrag en die onhanteerbare groot skuldlas van Eskom – in so ’n mate dat Eskom sowat R200 miljard van sy skuld aan die regering wil oordra. Dieselfde regering wat volgens die president sowat R500 miljard aan staatskaping verloor het, maar volgens ander bronne veel meer … as ’n mens eers hond se stert kan uitmaak tussen die korrekte gebruik van miljarde en die misbruik van die hoofsaaklik Engelse wêreld se biljoen en triljoen in Afrikaanse tekste.

Ja, daar was al ruimte-ongelukke omdat die Amerikaners nog myle gebruik, en hul Europese vennote kilometers.

Dat syfers een storie vertel en persepsie ’n ander, is nie eie aan die Suid-Afrikaanse ekonomie nie. Dit word nou ook wel deeglik in die VSA ervaar, maar wel die omgekeerde as hier. Hier is die syfers lelik, soos die jongste werkloosheidskoers van 29,1%, maar baie mense glo dit gaan beter as wat die syfers vertel. Suid-Afrikaners is pas weer oor die kole gehaal omdat hulle meer rojaal leef as wat hulle kan bekostig, en skuldvlakke styg. Maar die skuldige lede van die publiek verkeer in “goeie” geselskap. As hulle maar soveel skuld sou hê weens bó vermoë leef as die staat en staatsinstellings, sal hulle nooit weer hoef sleg te slaap nie. Nee, met soveel onbeskermde skuld is dit die bankbase en ander finansieringsinstellings wie se base, en aandeelhouers, eerder as die skuldenaars wat snags moet wakker lê.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Carolyn Kaster)

In die VSA gebeur tot ’n groot mate presies die teenoorgestelde.

Trump-ondersteuners in Suid-Afrika haal graag sekere ekonomiese data aan om te toon hoe ’n goeie ekonoom die Amerikaanse president is. Die werkloosheidskoers is so laag dat dit onbeduidend klein is, om maar een voorbeeld te noem. Maar volgens ’n nuwe peiling beskryf 18% Amerikaners hulself as arm. ’n Jaar gelede het net 13% geglo hulle is arm.

Bykans 40% Amerikaners dui nou aan dat hulle dit oorweeg om met die volgende Amerikaanse presidentsverkiesing vir ’n “derde party”-kandidaat te stem. Die VSA is al byna twee eeue lank ’n de facto tweepartystaat, maar nou, volgens ’n ander peiling, meen 38% van die Amerikaanse kiesers dat die tweepartystelsel “ernstig onklaar” is. Slegs een uit tien Amerikaners meen nou dat die tweepartystelsel “betreklik goed” funksioneer.

Die tweepartystelsel het ná 1824 ontwikkel toe die destydse Demokraties-Republikeinse Party geskeur het en die huidige twee partye tot stand gekom het.  Dié stelsel het dus bykans 200 jaar gehou voordat dit “ernstig onklaar” geraak het.

In Suid-Afrika lyk dit of die onlangse uitrafeling van die DA tot die stigting van ’n nuwe politieke party kan lei. Maar die DA is nie al party in Suid-Afrika wat onder faksiepolitiek deurloop nie, en minister Mboweni, was onlangs nog erg onder skoot omdat sy ekonomiese insigte baie wyd weg lê van ander faksies in die ANC, en soos dikwels, ook manifesteer in die “ekonomiese insigte” van vakbonde. Dit lei gereeld daartoe dat die ekonomiese realiste in die ANC nie hul beleidstempel behoorlik afgedruk kan kry nie, laat staan nog noodsaaklike regstellings te laat doen. Dus hou instellings soos die staatsdiens en Eskom hopeloos te veel mense in diens. Produktiwiteit word vir ’n ses geslaan.

Mboweni sal, teen sy aard, balans moet vind tussen die twee (of meer) faksies binne die ANC.

Wouter Wessels. Foto: Facebook

Daar is die subjektiewe faktore soos privatisering of nie, grondgryp sonder vergoeding en ander wat die VF Plus as “ondeurdagte en populistiese beleidsrigtings, asook sy gebrek aan die politieke wil” beskryf. Die VF Plus se verklaring bevat verskeie waardevolle ekonomiese lesse en word soos volg saamgevat: “Beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, wat beleggersonsekerheid veroorsaak, sowel as ander regeringsmislukkings soos die algehele gebrek aan dienslewering en die vernietiging van plaaslike regering, (wat) hierdie rampspoedige situasie (bevorder).

“ʼn Ekonomie kan nie floreer wanneer die mees basiese dienste in munisipaliteite nie gelewer word nie. Plaaslike ekonomieë word gekniehalter deur swak plaaslike regering wat die ekonomiese uitsette van plaaslike ondernemings demp en werkskepping beperk.”

Die subjektiewe faktore oorvleuel dikwels met die objektiewe, of is onlosmaaklik daarmee verstrengel. Die voortslepende en uitmergelende droogte, asook die burokratiese sloer met die afkondiging van ’n noodtoestand en die lewering van droogtehulp, knak die ekonomie. Dit lei weer tot voedseltekorte. Van die befondsing vir droogtehulp is ook gesteel. Die misdaadsituasie ondergrawe vertroue in uitvoerende gesag. Die onderwysstelsel boesem min vertroue in vir doelmatige opleiding.

Die VF Plus som die situasie goed op: “Die ANC het in 25 jaar aan bewind klaaglik daarin misluk om ’n gesonde ekonomie met volhoubare werkskepping te bewerkstellig. Die staat se salarisrekening is onvolhoubaar hoog en sal besnoei moet word. Dit sal ongelukkig aanleiding gee tot ’n selfs hoër werkloosheidskoers, wat die toedoen van die ANC self is. Die ANC kan Suid-Afrika nie meer regeer nie. Miljoene mense is werkloos, honger, arm en sonder die mees basiese dienste soos water- en elektrisiteitsvoorsiening terwyl die regerende party hom deur vakbonde laat voorskryf. Daar moet erns gemaak word met hierdie krisis.”

Mboweni is ’n ANC-lid, en daarom gaan hy weens ANC-voorskrifte (Wouter Wessels, die VF Plus se hoofwoordvoerder van finansies, noem dit “beleidsonsekerheid”), klippe kou – en die land saam met hom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Mnr Toerien diskrediteer homself deur die uitgepikte CNN so klakkeloos na te praat – veral wat opnames betref.
Gaan bietjie in die regte wêreld in en vergelyk die VSA se ekonomie met die van Europa; of kyk hoeveel die onderskeie aandelebeurse gegroei het; of kyk met hoe die gemiddelde inkomste van werkende amerikaners met ongeveer $5,000 gestyg het.
CNN het sigself so as draer van fopnuus en syfers ge-eien dat hy reeds meer as die helfte van sy kykergetal verloor het en reeds etlike duisende werknemers moes afdank.

Herman Toerien ·

Hallo Johan. In die reël gebruik ek nie CNN as bron nie, soos ek reeds voorheen verduidelik het. Dan ook net as ek spesifieke info Google, en iets van CNN wat breedweg deur ander bronne gestaaaf word. Vandag, as ek reg onthou, het ek een keer iets van CNN gebruik, en ook onregstreeks. Die syfer klop met Rasmussen, wat gereeld daarvan beskuldig word dat dit pro-Trump is. Ek is op Rasmussen se daagslikse opnames ingeteken, en kan so maklik optel wat oor die wêreld aan die gang is. Ek kry gereeld welverdiende kritiek dat ek te veel op Rasmusen leun, maar soggens van drie-uur af is daar gereeld te veel druk om vreeslik na ander bronne te soek, as Rasmussen s’n vars uit die oond by mens aangekom het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.