Nuuskommentaar: Hond in groot gat – om ‘n hart te hê

Foto: ER24EMS

Foto: ER24EMS

‘n Verdwaalde hond wat in Kimberley se groot gat beland het, en die reddingspoging daarna, het die land se verbeelding aangegryp. Mense van heinde en verre het aangebied om die hond aan te neem.

Suid-Afrikaners word daagliks gebombardeer met slegte nuus soos werkloosheid, Nkandla, neo-apartheid, misdaad, die droogte, mislukkende munisipaliteite, peperduur e-tol en vele meer. Op die oomblik is die verbeelding van die nuusmense vasgevang in die wel en weë van die Tsjeggiese aangekeerde, Radovan Krejcir.

Daar kan geen twyfel wees nie – die groot volumes slegte nuus het ‘n dempende uitwerking, en insidente soos die hond wat pootuit en honger uit die groot gat gered is, sal die publiek se aandag vasvang.

In elkeen se gemoed is daar egter die wete dat daar oral in die land mense in ‘n groot gat van depressie, eensaamheid of armoede vasgevang is – en die wete van magteloosheid om selfs net ‘n duikie aan die probleem te maak.

In Nederland is die oorskot van ‘n bejaarde vrou in haar woning aangetref ‘n dekade nadat sy oorlede is. Daar word erg kopgekrap oor hoe so iets kon gebeur, en ernstige vrae gevra oor die gemeenskap se vermoë om die uitvallers te ondersteun. Ook in Suid-Afrika het die voorval baie simpatie ontlok.

Want, te midde van ‘n stortvloed ongure nuus wat afstomp, het mense steeds harte.

‘n Interessante brokkie inligting is dat Gallup bevind het dat 14 van die 15 mees optimistiese bevolkings van lande in 2012 in Sub-Sahara-Afrika voorgekom het. Dit is ook nie lande wat ‘n oplewing in ekonomieë beleef nie, en sluit lande soos Zimbabwe, die DRK en Niger in. Suid-Afrika is nie onder die optimistiese groepie nie. Analiste stry onder mekaar oor hoekom juis diegene wat objektief gesproke taamlik, of baie pessimisties behoort te wees, die positiefste is. Trouens, van die mees pessimistiese bevolkings word in Wes-Europa aangetref.

Oor die stand van hul lande se ekonomieë betref, dink mense klaarblyklik taamlik anders as wanneer alle faktore wat mense se optimisme ondergrawe in berekening gebring word (hoewel die meeste aandui dat die geldsakies die belangrikste kwessie is wat hul gemoed beïnvloed).

Volgens die Wêreld-ekonomiese Forum se 2014-vooruitskouing meen 45% van Suid-Afrika se mense die land se ekonomie is swak. Dit is die mees positiewe persepsie op die kontinent, waar die tussen 61% en 80% van die meeste lande in Afrika se mense meen hul lande se ekonomie is swak. Nigerië en Egipte se bevolkings meen dis nog erger.

Altesaam 83% van die Britte meen hul land se ekonomie is swak, en net 25% van die Duitsers is dikbek oor hul land se ekonomie.

Dit is omtrent net in Griekeland waar daar ‘n verband tussen die algemene pessimisme, en pessimisme oor die ekonomie is. ‘n Volle 99% van die Grieke meen hul land se ekonomie is swak, en die Grieke is ook bo-aan die lys van mees pessimistiese bevolkings.

Volgens die jongste Rasmussen-peiling glo net 22% van die Amerikaanse kiesers dat hul land se ekonomie goed is, of baie goed is. Is dit werklik geregverdig dat Suid-Afrikaners dubbel so optimisties is oor hierdie land se ekonomie?

Dit kos ‘n arme brak om die land se mense se gemoed, al is dit kortstondig, uit die groot gat van pessimisme te lig.

Van meer blywende aard sal ‘n optimisme wees gebore uit ‘n wye morele herlewing. Maar hiervoor moet elkeen wat omgee die skouer aan die wiel sit – so iets “gebeur” nie sommer net nie.

Oor minder as ‘n maand is dit Kersfees. Talle groepe is reeds besig om vir hulle wat minder bevoorreg is ‘n iets spesiaals vir Kersfees voor te berei, en dit is wonderlik.

Dit sal net wonderliker wees as dit ook ‘n ware Christusfees sal wees, met die ‘n impak wat blywend kan hou.

Lees ook:
Groot Gat-hond maak goeie vordering; aansoeke vir aanneming ontvang
Groot Gat-hond is gered!
Groot Gat-hond: Reddingspoging duur voort
Kurt Darren kom moontlik tot hond se redding
Reddingspoging ná hond in Groot Gat beland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.