Nuuskommentaar: Hongkong – gat in die bamboesgordyn

Die betogings in Hongkong. Foto: Facebook

Die betogings in Hongkong. Foto: Facebook

As berigte korrek is dat die Johannesburgse effektebeurs nou agteruit boer weens die reuse betogings in Hongkong, dan raak die gebeure doer ver Suid-Afrika reeds in ’n sekere sin meer as die uitgerekte Amcu-staking toe die beurs oor die algemeen opwaarts geneig het.

Hongkong was ’n Britse kolonie tot dit in 1989 aan China oorhandig is. Die oordrag het met ’n rits ooreenkomste gepaard gegaan om die eiesoortige aard van die inwoners te beskerm, waaronder dat die gebied wat ’n sekere outonome status binne China geniet, in 1917 vir die eerste keer hul eie gebiedsbestuur sou kon kies. Tot nou toe is die gebied deur Beijing-marionette bestuur.

Tog het China die gebied as ’n toonvenster gebruik om te toon dat dit oor die vermoë beskik om eiesoortige, en kapitalistiese gebiede, van agter die bamboesgordyn suksesvol te bestuur.

Nou het China aangekondig dat die 2017-verkiesing beperk sal wees tot kandidate wat deur Beijing goedgekeur is.
Dit het die reuse kloof in politieke denke tussen die regerende Chinese kommunistiese party en ’n Westers-beïnvloede beskouing van demokrasie in Hongkong blootgelê. Middelklas-leiers was nog besig om protes te beplan toe studente in hul duisende die strate invaar in wat bekend staan as “Besetting Sentraal” (Occupy Central).

Intussen is dit lank nie meer net studente wat in hul tienduisendtalle betoog nie, maar het dit ’n ware burgerlike protes geword.

Die senuwees knaag oor hoe China op die situasie gaan reageer. Dit is vanjaar 25 jaar sedert die Chinese regering bloedig op die studentebetoging op die Tiananmenplein in Beijing toegeslaan het. Terwyl dit min of meer uit die Chinese geskiedenisboeke verwyder is, en min Chinese openlik erken dat hulle daarvan weet (’n kollektiewe geheue hieroor blyk sleg vir die gesondheid te wees) word dit wel deeglik deur die wêreld daarbuite onthou.

Gaan China weer so maak? En indien nie, waar gaan die betogings eindig? In hierdie stadium het die polisie opgehou om pepersproei en traangas teen die betogers in te span soos oor die naweek geskied het, skynbaar omdat dit die beeld wat Beijing internasionaal probeer skep om handels- en politieke voordele te beding, in die wiele ry. Maar tot hoe ver gaan China die burgerlike verset (kan) duld?

Kan dit na pro-demokrasiebetogings in die res van China uitbrei?

Dit wat as Chinees bekend staan, bestaan uit sewe tale wat moontlik net-net verwant genoeg aan mekaar is om dialekte genoem te word, Mandaryns (官話), Kantonese (廣州話, 廣府話), Hakka (客家話), Wu (吳語), Min (閩語), Xiang (湘語), en Gan (贛語).

Mandaryns is die amptelike taal, en gebaseer op die weergawe wat in en om die hoofstad Beijing gepraat word. Dit is tradisioneel die taal van die heersersklasse, en Afrikaans ken tot vandag toe die uitdrukking van “eietydse Mandaryne.” Kantonnees word in Hongkong en omgewing gepraat, en is ook een van die hooftale naas Taiwannees wat op Taiwan gepraat word. Tsjiang Kai Sjek en sy administrasie wat tydens die Chinese rewolusie voor Mao Zedong se magte gevlug het, was egter Mandaryne, en dit was baie lank voor hierdie heersersklas demokrasie op die eiland so uitgebrei het dat die plaaslike bevolking volwaardig daarin kon deel. Die Mandaryne beskou hulle as die ware draers van die Chinese kultuur, en sien in die praktyk dikwels neer op die Kantonnese. Hierdie ingesteldheid verklaar ook hoekom China ’n beroep op die res van die wêreld gedoen het om die Kantonnese name wat hulle geken het, soos Peking en Mao tse Toeng te laat vaar en eerder die Mandarynse name van Mao Zedong en Beijing te gebruik.

Chinese tale

Daar is dus ʼn verstaanbare gevoeligheid by die inwoners van Hongkong dat die Chinese owerheid ook hulle aan ’n eietydse “Mandarynse regeerkliek” wil uitlewer, en bereid is om ’n ooreenkoms met Brittanje hieroor op te offer.
Benewens die Chinese en hul tale, wat dikwels onder die kollektiewe naam van Han-Chinese bekend staan, is daar ook ander etniese bevolkings in die land, waaronder die Tibettane, die Uigjare en die Mongole die bekendstes is.

Nuus oor hierdie nie-Chinese inwoners handel dikwels oor strewes vir groter outonomie en meer regte om hul eie kulture en erfenisse te beskerm. Die Uigjare, hoofsaaklik Moslems, haal nou gereeld die nuus weens dade van terreur, met hardhandige Chinese optrede wat as beide oorsaak en gevolg hiervan aangevoer word. Talle word tereggestel. Die Mongole maak reeds ’n kleinerige minderheid in hul tradisionele woongebied, Binne-Mongolië uit.

Die Tibettaanse kwessie is weer onder Suid-Afrikaners se aandag gebring toe die Dalai Lama vir die derde keer sedert die aftrede van wyle oudpres. Nelson Mandela, probleme ondervind het om ’n visum te kry. China is nie skaam om lande wat die Dalai Lama ontvang, op allerlei maniere te straf nie.

Hoewel dit naïef sou wees om te glo dat die onvrede in Hongkong in die vorm van pro-demokrasiebetogings elders in die land kan posvat, is dit verstaanbaar dat China nie kanse sal wil waag nie.

Aan die ander kant, kan ʼn hardhandige optrede teen die betogings in Hongkong die latente demokratiese aspirasies wat in die eerste plek tot die Tiananmenplein-situasie gelei het, weer laat oorkook?

Voor die bewindsaanvaarding van die Chinese president Xi Jinping is in die media groot gewag gemaak van die moontlikheid dat hy ’n verskil sou kon maak in China se houding oor Taiwan en Tibet. Sy vader is immers gestraf weens sy vriendskap met die Dalai Lama, voor die Dalai Lama in ballingskap gegaan het. Die Wall Street Journal wys juis op die moeilike keuses wat die president het, en dat die president nie Beijing verlaat het of self enige uitlatings oor die situasie gemaak het nie. Alle waarskuwings van aan die betogers kom van laer vlak amptenare. Selfs buitelanders is gewaarsku om nie by ʼn huishoudelike situasie betrokke te raak nie.

ʼn Week gelede het Xi nog genoem dat die Taiwannese kwessie opgelos sou kon word deur dié eiland as semi-outonome gebied deel van China te laat word. Die jongste gebeure in Hongkong het egter reuse simpatie vir die betogers ontlok, veral toe beeldmateriaal gesien is van hoe die polisie die betogers oor die naweek met traangas bestook en met pepersproei gespuit het.

Om te keer dat die onrus in Hongkong elders in China nagedoen word, veral in Tibet en Xinjiang, word die nuus oor die gebeure in China self erg gesensor. Nie net die pers word gesensor nie, maar ook die sosiale media. Die Wall Street Journal se ontleding kan hier gelees word.

Ook die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, het op die situasie gereageer, en die hoop uitgespreek dat dit vreedsaam opgelos kan word “met behoud van demokratiese regte.”

Die VSA se reaksie is waarskynlik aanduidend van hoe die res van die wêreld sal reageer. Steun word uitgespreek vir die inwoners van Hongkong se aspirasies vir demokrasie, maar ’n versuim om China voor stok te kry. Tot dusver is die enigste aanduiding dat China aangetree sal word die Britse vise-premier, Nick Glegg, se voorneme om die Chinese ambassadeur in Brittanje op die rooi tapyt te laat verskyn om te kom verduidelik. Brittanje self trap water.

Tot dusver lewer Google geen aanduiding op dat Suid-Afrika op die situasie gereageer het nie. Suid-Afrika en China is beide Brics-lede, en handel word aktief uitgebrei (hoewel selfs ministers van Suid-Afrika gekla het dat die manier waarop dit ontplooi, tot Suid-Afrika se nadeel is en plaaslik tot werksverliese lei).

Dit is byna ondenkbaar dat pres, Jacob Zuma China voor stok sal kry en vermaan om sy ooreenkoms oor ware demokrasie teen 2017 vir Hongkong gestand te doen.

Trouw se ontleding kan hier gelees word.
Die Christian Science Monitor se ontleding kan hier gelees word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae