Nuuskommentaar: Hou ANC kiesers ter wille van stemme arm?

argieffoto

argieffoto

’n Rubriek wat dié naweek beslis die oë sou laat rek het, is dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, se bydrae in Rapport. Die opskrif verklap reeds dat hy ’n mondvol te sê het: “ANC het armoede nodig om te oorleef.”

Wesenlik maak Cronjé daarop aanspraak dat die ANC sy kiesers arm hou, en dus vatbaar maak vir die blye ontvangs van kospakkies en ander meevallertjies kort voor verkiesings omdat navorsing ’n regstreekse verband tussen armoede en steun vir die ANC toon. Dieselfde geld vir vlakke van onderwys, en daarom sal die ANC-regering ook sorg dat onderwys in Suid-Afrika nie werklik op peil kom nie.

Gaan die ANC hierop reageer? Gewoonlik het die ANC min erg oor wat in die Afrikaanse koerante oor hom kwytgeraak word, solank die aanval nie president Jacob Zuma in die visier kry nie. So het die ANC goed mond uitgespoel oor Beeld se redakteur, Adriaan Basson, se voorstelle oor hoe om (in landsbelang) van Zuma ontslae te raak. Maar in daardie stadium het die ANC nog sy SAKP-geleide “strategie” (dus, van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty) gedryf om Zuma ’n presidensiële baadjie aan te trek, en is ’n stok onsagkens in die wiele gedruk. Net so was daar ’n bitter reaksie op Max du Preez se aanval op Zuma, hoewel dit in die Engelse pers was.

Daar sal dus maar gewag moet word om te sien of die ANC gaan reageer. In Cronjé se geval is daar immers navorsing wat ontleed is wat die standpunt onderskryf. Die vraag is of dit ’n doelbewuste motief by die ANC sal wees. Die alternatief is dat die ANC se kollektiewe intelligensie om die land vooruit te neem, tekort moet skiet – en dit sou die ANC ook nie graag wou weet nie.

Die woord wat in ’n mens se kop opkom, is of iemand nie hier aan sedisie skuldig is nie. Is ’n regering wat so sou optree nie besig met sedisie nie? Die ironie is dat die meeste definisies sedisie as ’n aksie teen die wettige of gevestigde regering van ’n land ag, en die regering kan kwalik sedisie teen homself pleeg. Die vraag is egter of die ANC as party ook by “verstek” hiervan vrygespreek kan word, veral in die lig daarvan dat die ANC so beheer oor die regering geneem het dat selfs die parlement nie deur sy verkose lede regeer word nie, maar vanuit die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis.

Die ANC sal stellig voel dis eerder Cronjé wat sedisie pleeg deur die regering te belaster – maar laster het die “lastigheid” dat die inligting onwaar moet wees om laster te wees. En volgens Cronjé is die data nie net nagevors nie, maar ook ontleed.

Cronjé wys tereg daarop dat daar genoeg kundigheid binne die ANC is om te weet dat die sosialistiese streep van die ANC sleg vir die land se ekonomie is.

Hy wys trouens daarop hoe ontnugter buitelandse beleggers is wanneer hulle oor die regering se maatreëls oor beleggings ingelig word, en dan verbaas wil weet of dit dan dieselfde party is as dié van Nelson Mandela. Oorsee, ook in Suid-Afrika, is ’n beeld van Mandela as liberale demokraat gebou wat nie strook met sy eie verlede nie.

Dit dan sover dit Cronjé aangaan.

Mandela was inderdaad aanvanklik, en tydens sy vonnisoplegging, ’n lid van die SAKP. Ook Thabo Mbeki en Jacob Zuma was aanvanklik kommuniste. Trouens, Mbeki se pa, Govan, was ’n sentrale figuur in die SAKP. Die hedendaagse gevry na Kuba is maar een van die bewyse dat alle kommunistiese sentimente nie met die val van die Berlynse muur ook hier verkrummel het nie. Veral met die ekonomiese portefeuljes van die kabinet word swaar op kommuniste geleun – onder meer met die gevolg dat die inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan so moeilik geword het dat Zuma met sy staatsrede eerder die Vryheidsmanifes gaan afstof het.

Een van die moontlike redes wat genoem word oor waarom soveel Suid-Afrikaanse intelligensieverslae uitgelek het, is dat die Suid-Afrikaanse regering dit self uitgelek het om ’n verskoning te kry vir Zuma om die sogenaamde snoerwet te teken. Hierdie wet lê nou al lank op Zuma se lessenaar en wag om geteken te word nadat die parlement, onder streng Luthuli-huisbeheer, sekere tegniese regstellings moes maak. Baie buitelandse instansies het dit vertolk as dat die wetgewing toe heeltemal van die baan was, en Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks het selfs dramaties verbeter.

As die ANC werklik die land met kwade bedoelings regeer, gaan dit meer nodig hê as net beheer neem, regstreeks of onregstreeks, van media soos die SAUK-TV, die Independent-groep, en The New Age waar die Guptas ruim met staatsadvertensies beloon is.

Maar die regering, oftewel ANC, besef ook dat hy met ’n “waterdigte” saak vorendag sal moet kom om drakoniese maatreëls soos die snoerwet op die wetboek te kry – enersyds by die grondwetlike hof verby te kry, maar ook om minimale beleggingsteenspoed daarop op die lyf te loop.

Ongelukkig speel hierdie “spel” hom nie net in die kommunikasie-omgewing af nie. Kort-kort word met die georganiseerde landbou saamgewerk, en kort-kort word die mat weer onder die boere uitgepluk. Dit het pas aan die lig gekom dat die SAPD erg onderskatte syfers oor plaasaanvalle aan die parlement voorgehou het, en onder meer tot die gevolgtrekking gekom het dat plaasaanvalle geleidelik afgeneem het – terwyl syfers van TLU SA (wat noodwendig ook konserwatief moet wees) op ’n veel groter voorkoms en ’n toename dui. Nogtans het die SAPD tot die gevolgtrekking gekom dat die landelike veiligheidsplan wat deur die vorige polisiekommissaris, Bheki Cele, bekend gestel is, werk. Toe nou nie.

Die ANC, en veral Zuma, se probleem is onder meer dat elke “goeie storie” vir elke gehoor aangepas word, en dat die “moedswillige” media dan die teenstrydighede uitwys.

’n Tweede probleem is dat daar steeds te dikwels bloot aanvaar word dat dinge reg verloop omdat ’n kader meld dat alles reg verloop.

Terwyl dit stellig moeilik sal wees om te bewys dat die ANC sedisie teen die regering pleeg of dat die ANC-regering die land doelbewus arm hou, is dit makliker om te bewys dat die ANC sy sosiale kontrak met die kiesers skend. Die “goeie stories” ten spyt.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Leonie ·

Vanoggend beleef wat die social grants aan die mense doen. Dit was 9 uur in die oggend en 90 persent wat ek in die woongwbied tee gekom het was gesuip. Geen beter woord. Ek het noggal by myself gedink. Dis hoekom die regering die verniet geld aan hulle gee. Hulle drink hulle sorge weg en verloor ‘n paar breinselle elkekeer en die regering kweek alkoliste wat vir hulle stem.

Leonie ·

Vanoggend beleef wat die social grants aan die mense doen. Dit was 9 uur in die oggend en 90 persent wat ek in die woongwbied tee gekom het was gesuip. Geen beter woord. Ek het nogal by myself gedink. Dis hoekom die regering die verniet geld aan hulle gee. Hulle drink hulle sorge weg en verloor ‘n paar breinselle elkekeer en die regering kweek alkoliste wat vir hulle stem.

Cathy Kotze ·

Oud pres Mandela was bereid om bykans 23 jaar in die gevangenis te sit vir sy hoofsaaklik kommunistiese beginsels. As mens sy EIE uitsprake lees, is dit duidelik dat hy dit nie sommer sou versaak nie. Ongelukkig word die woorde van pres Mandela se uitstekende toespraakskrywers en beeldpoetsers beskou as sy persoonlike menings. Daar is ‘n legio uitlatings en geskrifte in pres Mandela se eie handskrif wat die teendeel bewys.

Hierdie is maar net een van sy persoonlike verklarings wat boekdele spreek: “Communists have always played an active role in the fight by colonized countries for their freedom, because the short term objectives of Communism would always correspond with the long-term objectives of freedom movements.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.