Nuuskommentaar: Hou op val vir wolhaar-nuus

Argieffoto

Argieffoto

In die era waarin ons leef, is toegang tot saakmakende inligting op ongekende vlakke.

’n Onlangse peiling onder Amerikaanse kiesers het herbevestig dat 88% van alle volwasse kiesers meen dat Amerikaners te veel aandag skenk aan, wat genoem word, “celebrity-nuus” en te min aandag aan nuus wat hulle lewe werklik raak. Net 39% vertrou die politieke nuus wat deur die media aan hulle opgedis word.

Om goed, en objektief, ingelig te wees is baie belangrik, veral vir mense in leiersposisies, of mense wat die geleenthede kry om as meningsvormers hul stempels af te druk.

’n Vrou wat al jare lank daarin slaag om ’n verskil te maak sonder dat sy self, tot nou, vreeslik as nuusmaker uitgestaan het, is die Nederlandse diplomaat, Sigrid Kaag. Sy is pas deur die Carnegie-stigting met die Carnegie Wateler Vredesprys 2016 beloon. Kaag is die VN se spesiale gesant in Libanon. Hiervoor is sy goed toegerus deurdat sy ses tale magtig is, naamlik Nederlands, Engels, Frans, Duits, Spaans en Arabies.

Haar grootste bate word beskryf as die kwessie dat haar denke nie deur probleme gerig word nie, maar dat sy partye in beweging kry. Sy slaag dus daarin om haar reusekennis in te span om uiters komplekse probleemsituasies wat enige tyd in konflik kan oorgaan, van die angels te ontneem.

Om dit te kan doen, moet sy oor ’n ontsaglike hoeveelheid inligting beskik.

Om in ’n rubriek soos hierdie vir lesers te preek oor die belangrikheid om goed ingelig te wees sodat menings met ’n oop gemoed gevorm kan word, is soos om vir die gereelde kerkgangers te preek oor hoe belangrik gereelde kerkbywoning is. Die boodskap bereik nie diegene wat dit eintlik moet hoor nie, naamlik die stokkiesdraaiers.

Tog is dit nie lekker om te sien hoe wydverspreide verdomming intree soos mense volstruispolitiek met die werklikheid speel, en op loop gaan oor die onwaarskynlikste wolhaarstories wat per SMS, WhatsApp of sosiale media op hul selfone aangesit kom nie. Dié wolhaarstories word as “onberispelike nuus” met groot oorgawe weer aan al wat leef en beef aangestuur, sodat radiostasies naderhand gebel word oor hoekom sulke “belangrike nuus” verswyg word. Daar is beskuldigings van sameswerings, en dan bewys die werklikheid dat dit (al weer) ’n wolhaarstorie was.

Net om weer met huidjie en muidjie te val vir die volgende wolhaarstorie van presies dieselfde bron.

Uit gesprekke is dit duidelik dat ongemaklik baie Bloemfonteiners nog geen persepsie het oor die erns van die stad se waterposisie nie – dít terwyl dit gereeld in al wat beskikbare medium gekommunikeer word.

Die ou spreekwoord lui gekke en dwase skryf hul name op mure en glase. Die hedendaagse era bied aan mense ongekende geleenthede om oral en nog wat hul menings te lug en hul name met planke te slaan. Dit staan soos seer duime uit tussen bydraes van lesers wat duidelik goed ingelig is en ook oor die vermoëns beskik om kennis goed te integreer en vertolkend weer te gee.

Tog kan ’n nuuskommentaar nie elitisties en so ontoeganklik wees nie. Dit is wel baie moeilik omdat dit die mees intellektuele aan die dink moet sit, dit tot meningsvormers moet spreek en tot debat uitdaag, en terselfdertyd informatief moet wees sodat die gewone leser ook iets daaruit moet kan put.

Dit moet immuun wees teen druk vanuit die geledere van samesweringsteorieë om hierdie “nuus” aan te bied asof dit werklikheid is. Dit juis in ’n era waar die tegnologie vlerke gee aan die aanhangers van samesweringsteorieë en werklikheidsontkennings, soos dat daar nog nooit mense op die maan was nie.

Om die huidige werklikhede en politieke klimaat in Suid-Afrika te verstaan is daar eenvoudig nie ruimte vir fantasie-afdraaie nie. Om die land taamlik rampvry die toekoms in te neem is dit  noodsaaklik dat meer mense soos Sigrid Kaag genoeg kennis van elkeen se persepsies en ideale het om groepe wat die geledere teen mekaar opstel te kan ontlont, en ’n vaskyk in probleme so op te klaar dat elkeen weer ’n pad vorentoe sien waarop beweeg kan word.

Of Kaag, selfs nadat sy haar in die Suid-Afrikaanse problematiek sou instudeer het, oplossings verby die een groot rots wat kaplaks in die middel van die pad ingemessel is, naamlik pres. Jacob Zuma, sou sien, is een groot raaisel.

Gelukkig is daar instansies soos die Solidariteit Beweging wat met selfhelp ’n B-opsie bied waardeur daar weer lig in die tonnel kom. Maar dié strategie het ook die verwerking van en navorsing oor ’n enorme hoeveelheid inligting geverg.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Joop Smit ·

Dis opportuniste soos Vaandel uitgewers wat wolhaarstories versprei. Laas jaar sou Eskom kastig in duie stort, die VN was glo besig met ontruiming, voor dit was dit nag van die lang messe met Nelson Mandela se dood, geen van daardie goed het gebeur nie maar die mense het dit geglo. Nou is die hele area in rep en roer hier want daar vind glo skynaanvalle in die nag plaas in voorbereiding vir ‘n volksmoord en draadheinings word glo gelyk op sewe plekke geknip in die nag. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand op whatsapp en dit kom weer van Vaandel af. Wat is die mense en organisasies agter wolhaarstories soos die se agenda, kan iemand dit vir my verduidelik asseblief, of het hulle maar net niks beter om te doen nie.

Dirk Breytenbach ·

Wolhharstorie + Sameswerings teorie = Onnoselheid X Agterbaksheid

hans ·

N groot probleem wat ek waargeneem het is dat baie mense glad nie koerante/tydskrifte/boeke lees of radio luister of na verskillende tv stasie kyk nie.

Johan 2 ·

Net so hans. Hul kyk na die nuus wat lekker lyk. Baie haak vas by iets soos cnn of sky maar gaan soek nie bietjie die “ander kant van die munt nie.” En vreeslik “volstruis” oor wat aangaan soos Herman tereg genoem het, so van “wat traak dit my” aanslag net om om te draai en een of ander snert aan te stuur.

Jacques ·

Joop dit is elemente wat betaling van die regering ontvang om die pot in regse geledere te roer.

liefie ·

Mens weet later nie wat om te glo nie. Maak dan maar alles af as sommer net nog ‘n storie. En doen dan niks aan die werklike probleem nie.

Theuns ·

Uitmuntende Kommentaar! Ek lag nou nog as ek aan die naam van een van jou boeke dink “Die reine waarheid en ander lieg stories”! Ons word almal een of ander tyd met ‘n wolhaar storie gevang maar dat die aarde plat is, die Amerikaners nooit op die maan geland het nie, dat Zuma ‘n Alien is, dit glo ek nie! Ek dink Aliens is baie meer ontwikkeld as sefs hy maar dat hy kan lieg en steel dit glo ek!!!

Herman Toerien ·

@ Michael. Gaan Google gerus die woorde proof Americans on the moon. Daar is talle inligtingstukke wat die nodige bewyse verskaf. Nou die dag het die wetenskaplikes van die RSG-program so byna terloops verwys na die akkuraatheid om die afstand tussen die aarde en die maan te meet sedert die maanlandings. Instrumente is op die maan geplaas waarheen ‘n sein gestuur kan word, wat dan terug na die aarde gekaats word. Deur die verskil in tyd te meet kan die afstand baie akkurtaat gemeet word.

Kaufman ·

Ek het min respek vir mense wat dink nuus is nie relevant in hulle lewe nie, so asof hulle inkomste, werk, veiligheid, water ens. spontaan uit die lug val (dalk glo party dit nog). Ek voel sulke stokkiesdraaiers mag nie stemreg he nie want hulle het eenvoudig nie genoeg inligting om n ingeligte besluit te neem nie.

Grassie ·

Dit is soms moeilik om die kaf van die korrels te onderskei wanneer rubrieke, veral van politieke aard, in die media gelees word. Daar was ‘n skrywer op ‘n ander nuuswerf wie se bydraes my nogal beïndruk het, totdat hy so paar maande gelede sommer goedsmoeds en blatant geskryf het dat Amerika se 9/11 aanval en ook die onlangse ernstige aanval in Frankryk sg. “vals vlag” aanvalle was, m.a.w dat dit deur die onderskeie regerings self uitgevoer en georkestreer was om sekere politieke doelwitte te bereik. En dan is daar wragtig mense wat hom glo. Gelukkig het die betrokke webwerf nog nie weer iets van hom geplaas nie. Ek hoop Herman byt nog lank vas by Maroela.

Johan 2 ·

Gaan doen gerus meer navorsing oor 9/11, dit is die moeite werd! En nie Holywood as jou hoof bron gebruik nie.

Dom ·

Die ergste is die mense kan ook maar net glo wat deur die MEDIA aan hulle opgedis word, waar anders kan ons nou ons nuus kry? Ons eie MEDIA maak ons dom, en meestal word hulle ook gese wat om op die voorblaaie te sit wat sensasie ontlok en wat op die agterblaaie in ‘n klein beriggie moet wees. Een moordenaar se gesig verskyn vir maande op die voorblad, terwyl ‘n ander moordenaar se gesig toegehou word of sy naam glad nie eers genoem mag word nie .. een ou word skuldig bevind voordat hy nog in ‘n hof was, die ander een moet eers skuldig bewys word. Mense wat ander VERMOOR word diewe en inbrekers en rampokkers genoem. Die Media maak ons dom.. en politici wat kort kort hulle deuntjie verander help nie eintlik nie.

jennefer ·

n Beter woord is “verpaupering” of in engels pauperisation. Mense lees nie meer verskeie dinge soos koerante , boeke ens. Hul sit soos zombies en kyk die gemors wat Hlaudi en DSTV vir hul opdis. Praat nie meer met hul gesin maar praat die internet vol.

John ·

Sjoe, dis darem ‘n spul meerwaardige wysneuse hierbo. Wie ken so baie onnosel mense wat altyd dommer en minder belese is as hy of sy. Om die heeltyd jouself op die skouer te klop, klink at te veel na daai beter-as-outjie in die tempel. My ervaring is dat die eenvoudigste mense sake meestal baie raker opsom as geleerde slimjanne. Hulle praat ook minder twak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.