Nuuskommentaar: Huis van gruwels is baie, baie groot

Die sogenaamde gruwelhuis in Springs. Foto: @POWER987News

Die sogenaamde gruwelhuis in Springs. Foto: @POWER987News

Die berigte oor wat as die huis van gruwels bekend geword het, stuur skokgolf op skokgolf deur die land. Vrae soos: “Hoe kon dit onder ons neuse gebeur het?” en “Wat van die arme kinders?” word oor en oor gevra.

Dieselfde soort vrae word gevra wanneer ‘n skieter op ‘n dag onder onskuldige mense, of juis skoolkinders, losbrand, soos wat pas weer in die VSA gebeur het. Pas het iemand in die Kaapstad-lughawe by ‘n restaurant ingestap en iemand geskiet en toe homself doodgeskiet. Na berig word is een persoon dood en drie beseer.

Ondersoeke agterna toon dikwels dat die inligting bekend was, maar nie by die regte instansies uitgekom het nie. Ondersoeke toon ook dikwels ná ‘n bloedbad dat die tekens al lank sigbaar was, maar dat niemand iets daaraan gedoen het nie.

In Pakistan is ‘n jong vrou dood na sy deur haar eie familie gestenig is omdat sy met die liefde van haar keuse getrou het.

Die lys van gebrokenheid in die wêreld kan langer en langer gerek word. Gelukkig is daar ook verhale van medemenslikheid, soos die wonderlike reaksie na dit bekend geword het van ‘n jong leukemie-lyer wat ‘n bloedoortapping moes ondergaan. Solidariteit Helpende Hand se hulp aan nie-stakende mynwerkers wat in groot nood verkeer oor ander, wat weens onredelike salariseise die ekonomie erg verniel, kry heel verdienstelik positiewe reaksie.

Daar is mense sonder harte, en daar is mense mét harte.

Maar so eenvoudig is dit nie. Dit was nie net die psigopatiese paranoïede, die Moslems (sommer almal onder een kam geskeer), die radikale vakbondbase wat in luukse lewe terwyl die lede krepeer, die intimideerders en moordenaars wat deurloop nie.

Ook ander se beeld word oneindig geskaad, enersyds oor wat hulle self met vitrioel in die kuberruim kwytraak en baie sleg op hulself reflekteer, en ander omdat hulle die slagoffers van hierdie penne is wat in vitrioel gedoop is. Van hierdie “pennevrug” is doodgewoon haatspraak en erg rassisties. ‘n Groep probeer hierdie optrede met die vreemdste Bybelvertolkings regverdig.

In die proses stel hulle die nuuswebwerwe waarop hulle so mildelik hul wanpersepsies uitblaker aan kriminele vervolging bloot, want nie almal sit heeldag en soek iets waarmee hulle hul kan besig hou nie, en om hierdie “juweeltjies” gemonitor en verwyder te kry kan ‘n voltydse werk wees.

Van die walglike kommentare op Kurt Darren se onlangse handelinge en skrywe doen veel meer afbreuk aan die skrywers van daardie kommentare as aan Darren. Dit het ook mense wat glad nie Darren-aanhangers is, of sy optredes goedkeur nie, gewalg.

Maar die Christen wat Sondag vir Sondag die kerkbanke van ‘n kerk met suiwer leer vol sit, kan kwalik die vinger wys as hy van gruwels bewus is wat in die huis langsaan gebeur, maar niks daaraan doen nie.

In die moderne era is ons, tensy ons werklik volstruispolitiek speel, deeglik bewus van wat elders in die wêreld aangaan. Daar is groot ontsteltenis oor die Boko Haram wat skoolmeisies ontvoer het (hulle het al veel erger dinge ook gedoen), daar is groot ontsteltenis oor kindervlugtelinge wat ouerloos in die vreemde beland en oorstromings in ander wêrelddele lok ontsteltenis uit. Hier in Suid-Afrika weet bykans almal van die Nkadla-sage, van die storm om Helen Zille se kop, en dinge wat pres. Jacob Zuma in die boendoes in Zoeloe kwytgeraak het was die volgende dag al op buitelandse koerante se voorblaaie, soos sy omstrede honde-uitspraak.

Deur die TV sien ons bomme in ons sitkamers ontplof.

Maar ons weet nie van die nood reg langs ons nie…

In 1 Petrus 3:9-11 lees ons: “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. Daar staan geskrywe: ‘As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!’”

En dan die blinde oog oor hulle hier by ons?

Jacobus 1:26-27 lui: “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”

Want God is liefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sanet Greyling ·

More almal , met betrekking tot die grusame huis dink ek maar net weer hoe belangrik dit is om jou bure te leer ken. Ja ons voel ons is soms bang mense dink ons is nuuskierig of ons wil ons neuse oral indruk maar dit is tog belangrik om jou buurman te ken. Ek meen as ek weet my bure het kinders en sien hulle nooit buite nie of selfs as ek aan die gesin dink, hoe het die Mamma geboorte gegee sonder dat enige iemand iets agter gekom het. Ek weet dis maklik om te se, as ek in haar skoene was, maar as ek in haar skoene was, sou ek met my kinders geboortes al iemand vertel het wat aangaan by die huis. Lekker dag,

Elizabeth ·

DANKIE Herman vir ‘n puik artikel. Dis erg hoe mense kan aangaan op die forums. Persoonlike beledigings, swak taal, beskuldigings – ek word sommer naar. Meestal gaan dit nie eers meer oor die debat self nie maar mense oorreageer teenoor mekaar. As mense meer begin omgee en betrokke raak, sal hul minder tyd hê om die balk in hul naaste se oog te soek.

elize ·

Goeie dag ag ek dink dit is verskriklik dis iets wat ons onself niekan voorstel nie maar moet ek se ek stem saam met die persoon wat vra hoe het die mamma geboorte gegee sonder een woord,die babas moet tog af en toe huil .

charlotte ·

Ek is so hartseer vandat dit aan die lig gekom het. Daai arme kinders het nie gevra om hier te wees nie, en dan moet hulle nog in so omstandighede groot word. Ek het 2 kinders en ek sal enige iets vir hulle doen. na die is ek sommer nog net meer lief vir hulle. Ek sal daai kinders vat hulle kan by my kom bly!! Ek sal hulle so lief he soos my eie en hulle elke minuut van die dag van Jesus vertel hoe lief Hy hulle het.

AmY ·

Hoeveel van ons ken werklik ons bure?

Ek kom in die aande by die huis na werk, en sluit my deur en gaan ie weer uit nie. Ek weet nie werklik wat aangaan in ons kompleks nie.

Ons moet meer bewus wees van wat om ons aangaan. Ons moet ‘meer waaksaam wees.’

Chrisna van Staden ·

Te midde van al die vreeslike goed wat in ons land gebeur- politiek, ekonomie, misdaad soos ongekende wreedheid teenoor weerlose kinders ( Springs-voorval), glo ek steeds onwrikbaar dat God in beheer is, en dat onregverdige, ondeurdagte en bloot selfverykende gedrag sonder boetedoening nie ongestraf sal bly nie. Elke liewe mens op die aarde het n sin van reg en verkeerd en sal sodoende beoordeel word !

Rudi ·

Baie goeie artikel Herman. Ons samelewing is gebreek, deurmekaar en despiraat. Hoe beskerm ‘n mens jou kinders teen ‘n onbegrip vir lewe, liefde, onselfsugtigheid,, regverdigheid, nederigheid………Die wereld beloon die Malemas wat net steel en haat verkondig. Party van ons veg vir die doodstraf. Party stenig die wat ander gelowe volg. Party mense sluit hul kinders op in ‘n huis. Dit is dieselfde Bybelwat jy aanhaal wat se dat ons ons eie kind moet stenig wat van die pad af is om te keer dat nie ander se siele verlore gaan nie. Dit is die moeilikste lyn wat daar getrek kan word: Om mens se kind te tug uit liefde uit. Die “trend” en wet in SA se dat jy dit nie mag doen. As ons almal geen tug of weerstand bied gaan ons ook ten gronde. Dam if you do dam if you dont.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.