Nuuskommentaar: Ideologiese asemskep ná ANC-beleidskongres?

pres-jacob-zuma-anc-beleidskonferensie

Pres. Jacob Zuma lewer sy openingstoespraak by die ANC se nasionale beleidskonferensie in Johannesburg (Junie 2017). Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Behalwe vir enkele meer gerusstellende besluite by die pas afgelope ANC-beleidskongres, soos grondonteiening sonder vergoeding en die afwys van die term “witmonopoliekapitaal”, was daar min gerusstellend te put uit die verrigtinge.

’n Paar jaar gelede het die nasionale sinode van ’n bekende kerkverband, te midde van ’n groot stryd tussen die ortodokses en die gereformeerdes, besluit om die tweespalt te besweer deur geen punt op die agenda te plaas wat die tweespalt verder kon aanblaas nie. Die besluit is geneem ná die vorige nasionale sinode tot ’n sinode van eenheid verklaar is, en dit ook met verskeie groot gebare gedemonstreer is. Maar reeds tydens die kongres is die vure van verdeeldheid gestook, soos dat afgevaardigdes wat bepaalde faksies se sienswyses verteenwoordig, hul ondersteuners onder meer per SMS op die hoogte van sake gehou het. Ná die sinode van eenheid is die eenheidsboodskap baie moeilik aan lidmate verkoop, en die onmin onder lidmate het voortgeduur.

Een verteenwoordiger het opgemerk dat die betrokke kerkverband as ’n kerk van twis tot stand gekom het, en steeds ’n kerk van twis is.

Net om te verduidelik van die langerige en vreemde aanloop tot hierdie nuuskommentaar wat met die ANC se beleidskongres gebeur het. Amptelik was die program op beleidskwessies gefokus, maar in die praktyk was dit ’n oorlogsone in die opvolgstryd om pres. Jacob Zuma se posisie. Hoewel daar oor sekere kontroversiële beleidsaspekte besluite geneem is, is ’n aantal beleidskwessies voorlopig weer na die takke verwys, en word die “kwade dag” net uitgestel.

As Zuma gedink het hy kan met die pas afgelope beleidskongres sy eie posisie versterk, het hy hom erg misgis. Trouens, hy kan verwag dat die omvattende aanslag van #ZumaMustFall met nuwe ywer sal lostrek om te sorg dat Zuma voortydig die trekpas kry. Nie dat Zuma nie hard, en dikwels teenstrydig, probeer het om sy beeld te bevorder nie. Kort-kort was daar berigte, opgetooi met foto’s van die glimlaggende president, wat die een of ander projek besoek. Hy het ook ’n toespraak of wat by ’n onverwante geleentheid afgesteek. Soos gebruiklik het hy by die kongres van die (vir hom) geskrewe toespraak afgewyk om sy eie radikale sienings oor sake te bevorder, en dit het nie oral ewe goed afgegaan nie.

En o ja, so tussenin het die kongres plaasgevind, hoewel gesoute joernaliste wat die soveelste keer so ’n geleentheid bygewoon het, gesê het daar het in die praktyk min gebeur. Trouens, dit was vir baie terloopse waarnemers ’n interessante oefening om ’n oog te hou op ekonomiese aanduidings, soos die sterkte van die rand en die JSE, om afleidings te maak van hoe verantwoordelik uitsprake en besluite was. Zuma het hiervolgens sy reputasie as “wrecking ball” van die ekonomie gestand gedoen.

Hy het deurentyd gepleit dat daar eenheid in die ANC moet wees, maar dan self die vuur van verdeeldheid bly stook. Dit gaan blykbaar ook nie gou verander nie, want Zuma het ná sy “eie” skepping, witmonopoliekapitaal, taamlik oorweldigend in die slag gebly het, eenvoudig voortgegaan om die term uitdagend te gebruik. Toe dit begin blyk dat die term in die slag gaan bly, het verskeie bekendes, soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, asook die ANC-jeugliga, beswaar gemaak.

Pres. Jacob Zuma tydens sy openingstoespraak by die ANC se nasionale beleidskonferensie in Johannesburg (30 Junie 2017). Foto: ANA

Ook die kwessie van grondgrype sonder vergoeding het in die slag gebly, hoewel ook dít intern gaan bly spook. Met die omstrede voorgestelde nuwe mynbou-handves het die radikales blykbaar oorwegend hul sin gekry.

’n Groot aantal kwessies is ook vir bespreking na die takke deurgegee, wat dan in die Desember-kongres, waar Zuma se opvolger as ANC-president gekies gaan word, moet terugrapporteer sodat die kongres finaal moet besluit. Hoewel daar stellig enkele takke sal wees waar ’n beduidende getal van die lede in staat sal wees om die betrokke kwessies sinvol aan te spreek en beleid te formuleer, is dit in die algemeen ’n denkbeeldige oefening – terwyl dit boonop tweespalt kan aanhelp.

Oor die algemeen sal die kongres onthou word vir die leierskapstryd wat veral onder die oppervlak erg gewoed het. Die meeste analiste meen adjunk-president Cyril Ramaphosa se kanse het verbeter teen dié van Dlamini-Zuma. Ramaphosa het na berig word die meer gematigde agenda deur die kongres ondersteun, terwyl Dlamini-Zuma streng gehou het by Zuma se radikale retoriek.

Die Zupta-kwessie en staatskaping gaan hard bly spook.

Dit gaan ’n stekelrige vyf maande tot die ANC se leierskongres wees. Wie dan die ANC-presidentskap oorneem, sal ’n verswakte ekonomie, verdeelde ANC en ’n onsinnige president (Zuma is veronderstel om tot 2019 in die presidentstoel van die land te sit) erf. Die afgelope kongres het min gedoen om die vooruitsigte beter te laat lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Louis ·

Die verdeeldheid is soos die veldbrand in die weskaap. Daar is geen keer nie. Gaan net vererger. Om die een wat verloor die adjunk te maak skep net groter probleme. Die probleem is dat die ANC se identityd as bevrydings organisasie met ‘n gemeenskaplike vyand nou verander onder Ramaposa na ‘n politieke party wat die land beter moet begin regeer. Die skeuring is onafwendbaar na Desember konferensie.
Dit sal ondraaglik wees vir Ramaposa om Dlamini Zuma as sy adjunk te hê en sodoende Zuma se kaders te beskerm

Jack ·

Die eerste paragraaf is beslis nie korrek nie. Wat is gerusstellend van onteiening sonder vergoeding? Ontstellend sou ek sê. ń Ramp onderweg!!

Herman Toerien ·

Hallo Jack. Inderdaad lomp bewoord. Die bedoeling was om te sê dis gerusstellend dat die onteieningskwessie sonder kompensasie (vir eers) van die baan is. Baie jammer.

Herman Toerien ·

Hallo Jack. Jammer, ek het bedoel om dit te laat uitkom dat die onteiening sonder kompensasie vir eers van die baan is.

Leendert ·

Wat my korreltjie verstand tebowe gaan is dat hierdie mense, by die 4,500 van hulle, goed debateer oor wat die land met 50 miljoen inwoners raak, besluit hoe om dit verder te neem. En dan ook oor die reserwebank, waarvan hulle nie ‘n koekin idee het nie. Nou sien ek die fundies sê daar is niks mee verkeerd om dit van eienaar soos na die staat, oor te dra nie, die doelstelling van die reserwebank gaan mos nie verander nie.

Dis asof hulle die regering is, dan dans en sing dit vir ‘n vale, so tussendeur. Terwyl 99, 99% van hulle nie ‘n idee het van die onderwerp nie, die enkeling wat dalk iets weet sê dan vir die res hoe hulle moet reageer.

Ek dink regtig ‘n mens moes vir elkeen van die kongresgangers eerder ‘n Fidget Spinner langs sy botteltjie water, pen en notaboek neergesit het. O’ja en dan aanwysings wat om daarmee te maak, hoe om dit te spin.

Leendert ·

Dit lyk my daar was toe so by die 3,000 kongresgangers by Nasrec en nie 4,500 soos ek hier bo geskat het nie.

Alida ·

Dit was net tydverdryf want daar het niks konstruktiefs gebeur nie. Hoeveel het die verblyf en bowenal die massas duur kos ons nie gekos nie. Ek is seker daar kon ‘n paar huise gebou word met die geld. Hulle gaan net om te eet dis al. Is mos niks gewoond nie.

Jaco ·

Kan iemand asb net vir Zumpie en die Gumpies besig hou sodat hy en hulle kan ophou toesprake maak oor grond , kapitaal en die reserwebank en die ministers wat wil werk los… As hy en hulle sy mond oopmaak dan val die Rand.

John ·

Swart gordyne, tafeldoeke en matte… en die son skyn buite… wat ‘n aardige spulletjie was dit nie… ‘n venue vir ‘n kulkunstenaar wat toe tog opgedaag het en sy laaste truuk was om die adjunkpresident in twee te probeer saag… ‘n bloedige spulletjie wat baie morsig gaan bly tot Desember… of selfs later. Ou bloed ruik ook glo na verloor vertel die ou impi’s…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.