Nuuskommentaar: IMF waarsku SA oor grondgryp

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

’n Apokriewe weergawe van die situasie wat op die Amerikaanse grens met Meksiko aan die ontwikkel is, is soos volg: Namate die voorhoede van die “karavaan” vlugtelinge uit Sentraal-Amerika die grens bereik, en hulle hul teen die soldate vasloop wat deur pres. Trump gestuur is om die oortog te keer, waarsku die soldate die voornemende grensoorstekers met ’n: “No way, José.”

Omtrent net so onverbiddelik is die een konstante boodskap wat pres. Cyril Ramaphosa en die ANC voortdurend oor grondgrypplanne sonder vergoeding van ekonome en ander kenners kry. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het pas sy stem daarby gevoeg.

Die waarskuwing staan sentraal in ’n pakkie van komplimente en waarskuwings.

Die Business Day som die IMF se waarskuwings soos volg op: “Reforms the IMF calls for include addressing remaining governance issues and improving the business models of state-owned entities (SOEs), revisiting labour market practices to create more jobs, promoting competition in all sectors of the economy to boost business opportunities and reducing uncertainty by clarifying some recent policy proposals, particularly on land reform.”

Die vernaamste kritiek op die Business Day se berig is dat die indruk gewek word dat die IMF, soos Ramaphosa, die woorde “land reform” vir onteiening sonder vergoeding inspan. ’n Vergelyking met ander gewoonlik gesaghebbende bronne blyk egter dat die IMF-afvaardiging die probleem by die naam genoem het. RSG se nuus gisteraand sluit die berig dan ook af met: “Hy sê ook Suid-Afrika moet mooi dink oor die idee van grondonteiening sonder vergoeding.”

Interessant, wanneer RSG vanoggend die berig min of meer herhaal, ontbreek enige verwysing na die grondgryp-kwessie.

Die IMF was egter ondubbelsinnig, maar ook duidelik protokol-sensitief: “The IMF said the proposal to amend property laws to allow for expropriation without compensation should be carefully considered and be guided by lessons of international experience. Land reform should focus on enhancing agricultural productivity and strengthening tenure security.”

Dit is teen dié tyd reeds meer as duidelik dat die ANC, met die wisselvallige en soms oordrewe luide steun van die EFF, die voorgestelde grondwetlike wysigings nie mooi deurdink het nie, en die proses vir grondwetlike wysigings op sand bou. ’n Groep van die vernaamste opposisiepartye, georganiseerde landbou en burgerlike instellings staan behoorlik tou om die proses met regstappe te beveg. AfriForum het reeds sy regspan opdrag gegee om daarmee te begin, terwyl Solidariteit op ’n omvattende wyse op die oog af die wysigingsproses op elke moontlike aspek van die proses wil aandurf.

Soveel grondwetlike kenners en “kenners” wat daar is, soveel uitlegopsies is daar aan artikel 25 van die Grondwet, wat oor die reg van eiendomsbesit handel. Baie van die uitlegte neem slegs die uitwerking van ander artikels in die Grondwet self in ag, en knyp dan die oë toe om tot ’n politieke sommetjie te kom dat die Grondwet, soos dit nou staan, onteiening sonder vergoeding moontlik maak.

Die invloed van internasionale reg en regspraak op ’n grondwetlike uitleg word dikwels uit die oog verloor. Die reg op vergoeding, sou eiendom onteien word, word wyd in bykans elke verdrag erken – verdrae waarvan Suid-Afrika ’n mede-ondertekenaar is.

Weens die ratifikasieproses wat ons regstelsel vereis, is uittrede uit hierdie verdrae om ’n wysiging aan artikel 25 grondwetlik meer lewensvatbaar te maak ’n omvattende proses, wat boonop nie voorkom dat Suid-Afrika internasionale strafmaatreëls (soos deur die verdrae self bepaal) op die lyf kan loop nie.

Die VN neem benewens in sy handves die onskendbaarheid van eiendomsreg in verskeie verdrae ernstig op. Die vernaamste sluit in: United Nations Environment Programme (UNEP), United Nations Human Settlements Programme (UN-Habitat), United Nations Development Programme (UNDP), Department of Peacekeeping Operations (DPKO), Food and Agriculture Organization of the United Nations (FAO) en United Nations Commission on International Trade Law (UNCITRAL).

Onder die hofie, Land and property, neem die VN die volgende standpunt in: “Improved security of tenure for land and property can make a critical contribution to ensuring social and economic progress in rural and urban settings, supporting poverty reduction and furthering gender equality and peace and security. Land tenure, including a range of tenure types appropriate to local conditions and needs, such as community property rights and the protection of resource commons, creates certainty about what can be done with land or property and its use and can increase economic opportunities and benefits through investment.”

Dit is maar ’n druppel in die emmer van internasionale reg wat elkeen ’n lang en verbete proses in Suid-Afrika sal moet deurmaak voordat die Grondwet grondwetlik suiwer oor dié kwessie gewysig kan word. Ramaphosa gaan ’n enorme taak hê om instansies soos die VN en Afrika-unie te oortuig om hul bepalings oor eiendomsreg alles te wysig, of Suid-Afrika wat dit betref vry te stel. ’n Mens wil hier amper sê: “No way, José.”

Dis kompleks. Soos ons hier bo gesien het, neem die IMF wesenlik standpunt daarteen in, en min Afrikalande kan nou bekostig om openlik op die IMF se tone te gaan trap. Instellings wat nie staatsafhanklik is nie en wel oor navorsers beskik, of politieke partye met navorsers, het nou ’n gedugte taak dat hierdie navorsers die internasionale verdrae en ander bronne van internasionale reg fynkam sodat dit by die bestaande arsenaal skietgoed gevoeg kan word.

Uiteindelik gaan artikel 233 van die Grondwet, wat soos volg lui, tot die uiterste ingespan moet word: “When interpreting any legislation, every court must prefer any reasonable interpretation of the legislation that is consistent with international law over any other that is inconsistent with international law.”

Lees ook gerus artikel 231 van die Grondwet.

Die spreek vanself dat so ’n omvattende opponerende regsproses bitter baie geld gaan kos. Óf die instansies wat die proses regtens opponeer, moet hul hulpbronne gesamentlik aanwend, óf die verskillende terreine waar litigasie nodig of goed sal wees, moet onderling verdeel word. Die publiek, wat nie ’n algehele ekonomiese ineenstorting wil hê nie, sal ook gevra moet word om diep in hul sakke te delf vir los geldjies om die proses te kan bekostig.

Intussen sal kommunikeerders doeltreffend moet toetree om die Ramaphosa-kluitjies dat die beoogde “grondhervorming” welvaart sal bring, duidelik te laat ontmasker.

Soos die propaganda tydens die apartheidsera gelui het: “Apartheid kan nie hervorm word nie, dit kan net vernietig word,” so is onteiening sonder vergoeding ook iets wat nie hervorm en fatsoenlik hanteer kan word nie, dit kan net vernietig word.

Al sou dit tegnies moontlik wees om die proses so genaakbaar moontlik te maak, die internasionale sentiment oor die kwessie is, soos met apartheid, eenvoudig te negatief en maak enige vorm van toepassing ’n ramp. ’n Groot deel van dié ramp is reeds volgens ekonome in ons ekonomie verdiskonteer, en het ’n domino-effek op ander ekonomiese probleme wat Suid-Afrika laat noustrop trek, soos internasionale ekonomiese probleme wat veral ontwikkelende lande negatief raak.

Ramaphosa is hiervan bewus. Hy moet nou nie soos Zuma sy ore doof hou vir die waarhede wat sy utopie ondergrawe het nie.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jerry ·

Die toekomstige rigting kan net na een van twee kante toe gaan. Of die ANC en sy bondgenote ignoreer die waarskuwings en SA is gedoem of die ANC ignoreer sy bondgenote en neem die waarskuwing ter harte en SA het weer hoop vir n wyle. Hoe dit ookal sy, Suid Afrikaners moet hulle maar gereed hou vir die slegte scenario, omrede die Zupta faktor se skade en NDR programme reeds te diep gewortel is!

Andreas Meyer ·

Dit is redelik om te veronderstel dat hulle sal voortgaan met die plan. En dit sluit die poging van onteiening in. Of hulle dit kan implementeer staan op ‘n ander blad. Maar jy sal oor nie meer soos in die verlede oor jou eiendom kan beskikk nie. En dit gaan ekonomiese gevolge he.

Arak ·

Jammer om negatief te wees maar ons president steur hom nie aan die internasionale verdrae nie. Hy is Zuma 2.0, en het ‘n paar dae gelede by die EU herhaal, dat dit sy doel is om grond te “onteien” sonder om te vergoed. Hy veg vir oorlewing en voel vere wie op die einde daarvoor gaan betaal. Die enigste meesters wat hy openlik dien is Sjina en dit pas 100% in hulle kraal.

Trojaanse Donkie ·

Stem 100% saam met jou, dit was nooit die gedagte by die anc om hulle enigsins aan enige wet te steur hier of die wereld sin, want dis wette wat sg witmense gemaak het. al hulle leiers is almal daar vir eie gewin

Werner ·

Theresa May staan egter bankvas agter die ANC soos die Britte maar maak met Afrikaner-kwessies. Het selfs fonse gegee om te help.

Frans C ·

President Ramaphosa is ‘n gevange van die ANC se kongres en dit gaan moeilik indien nie onmoontlik wees om besluite ivm grondhervorming te ignoreer.

Die Zuma-era is verby en moet opposisiepartye nou ‘n nuwe sondebok soek om die ANC polities te beveg.Die ANC het ‘n soortgelyke probleem want die apartheidperd is moeg en doodgery.Die land se infrastruktuur is besig om in duie te stort en die aantal
wan -funksionele munisipaltiteite veroorsaak al groter diensprotes.

Al wat nou oorbly om die steeds groeiende onrus te besweer is grond en beloftes van grond vir almal, ala die Vryheidmanifes.Soos in ons buurman se geval was dit genoeg
om Mugabe aanbewind te hou.

Toe die kaart uitgespeel is en die land in duie stort soek derduisende ‘n heenkome in Suid Afrika.Die groot gevaar is dus as die grondkaart nie die gewenste resultate lewer nie en rakke in winkels leegraak, die gevolge katastrofies vir alle inwoners gaan wees.

Die President is dus besig met ‘n gevaarlike balanseer toertjie en probeer die partye
aan weerskante van die debat tevrede te stel met mooi woorde van verantwoordelike grondonteiening en hoop dat almal dit sluk.

Die feit dat meer as 90% van alle grondoordragte misluk het onder die ANC word
gerieflik verswyg.

John ·

Julle en die IMF verstaan nie: Saint Cyril gaan dinge mooi doen… En as een na die ander plaas of eiendom gegryp word en bloed vloei, was die vrome oom sy hande soos ou Pilatus en se: Dit was buite my beheer… die mense was na 350 jaar al so gefrustreerd… jy weet. En hy sal sorg dat ‘n groot Mandela-foto telkens in die agtergrond pryk vir daardie sielkundige oomblik…

LB S ·

En as dinge te erg raak hier, vat hy al sy miljoene en skoert met sy hele, ook skatryk, familie oorsee.

RG ·

Ek stem dat die instansies wat opponeer, hul hulpbronne gesamentlik moet aanwend, of die tereine waar litigasie benodig word onderling verdeel word, maar saamwerk en saamstaan is nou krities. Vergeet van onderlinge en kleinlike verskille en veg saam.

aj ·

Wettelose hordes sal ALLES plunder terwyl bloed in die strate sal vloei. Net ‘n kwessie van tyd!

Hanna Hoekom ·

Die ANC gaan na niks en niemand luister nie. Twee redes hiervoor: hulle het die EFF se ondersteuning nodig. Verder het die ANC absoluut niks om kiesers mee te werf behalwe “grond” nie. En ons almal weet die die deursnee ANC kieser nou nie die skerpste potlood in die boksie is nie. Ek dink ou Paddaman onderskat die intelligensie van die buiteland lelik.

Alida ·

CR luister na niemand nie. JM regeer hom. Hy soek stemme en al weet hy hy is verkeerd sal hy nou niks kan doen om dit te keer nie. Sommige slange het 2 koppe

Francois vRvO ·

Onthou julle nog die IK toetse wat ons geskryf het toe ons nog op skool was? Die toets self het ons geleer om die gegewe inligting te analiseer , die patron raak te sien en dan ‘n voorspeling te kan maak wat op die reeks gaan volg.
Die rusultate van daardie toetse het ons nooit gesien nie , maar die toets self het ‘n blywende herhindering geskep oor hoe meet mens intelegensie.
Is hierdie programering dan verkeerd as net sekere groepe die gevare kan raak sien?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.