Nuuskommentaar: Impak van Solidariteit se DKD-saak wydlopend

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word.

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word.

Die regsimplikasies van Solidariteit se oorwinning in die konstitusionele hof oor die departement van korrektiewe dienste sal nou oor ʼn wye front en uit uiteenlopende hoeke deeglik ontleed word. Wat seker is, is dat dit ʼn rimpeleffek deur die staat sal hê.

AfriForum het Solidariteit gelukgewens met sy geskiedkundige oorwinning. “Jul baanbrekerswerk kan die regering stuit in die verdere implementering van hul nasionale 80-9-9-2-rasseplan.”

Die VF Plus het gesê die uitspraak is hopelik die begin van die einde vir regstellende aksie met die vooruitsig van verbeterde dienslewering oor die hele Suid-Afrika indien mense weer op meriete aangestel word en nie streng op grond van ras nie.

Daar was reeds ʼn enorme uitwerking buite die regsveld.

Hierdie saak het baie daartoe bygedra dat bruin mense, veral in die Wes-Kaap, in weerwil van oogklappe van bruin intellektuele wat hulself as swart beskryf, groterwordende ongemak met die ANC begin beleef het. Om die woorde van wyle Adam Small te gebruik, die dice het weer verkeerd vir die bruin mense geval.

Solidariteit was uit die staanspoor ongelukkig omdat die arbeidshof ʼn onderskeid getref het tussen ʼn wit lid en die bruin lede en wou hierdie beginsel ook grondwetlik laat toets.

Enige ander uitspraak van die konstitusionele hof sou van regspraak in Suid-Afrika ʼn karikatuur maak. Hoe die ANC en die DKD kon dink dat die toepassing van ʼn nasionale demografie in die Wes-Kaap versoenbaar sou wees met die beginsel van natuurlike geregtigheid, is totaal duister.

Trouens, dit het die gees van naakte rassisme gedra.

Tog was dit in baie kringe die olifant in die kamer. Politieke partye wat moontlik groot wins uit duidelike standpunt-inname kon maak, was egter taamlik swygsaam, waarskynlik in ʼn poging om nie swart steun te vervreem nie. Ook burgerlike waghond-organisasies wat nie skroom om die regering oor bykans enige saak voor die hof te sleep nie, het hiervoor gekoes.

Is polarisasie in die land werklik so ver heen dat ʼn meerderheid swart mense die hartelose standpunt van die destydse regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, deel dat bruin mense in die Wes-Kaap, hul hartland, oorverteenwoordig is? En wit mense eintlik irrelevante mede-slagoffers is?

Die regering is nou oor ʼn wye spektrum rasgebaseerde sake met ʼn kwota-element gesnoeker, veral waar arbeidswetgewing ter sprake is. Presies hoe wyd dit gaan sny sal mettertyd ontplooi.

Dit is byna ondenkbaar dat die regering die uitspraak van die konstitusionele hof sal minag, soos telkemale op laer vlakke gebeur het, maar die vasbeslotenheid waarmee die DKD met regeringsteun vorige hofuitsprake vertrap het om met die drakoniese reëlings deur te druk, dui tog daarop dat Solidariteit en ander waghonde nou katvoet sal moet wees om enige teken dat die regering die uitspraak ondergrawe, waar te neem en daarop te reageer.

Die uitspraak sal waarskynlik in veral die Wes-Kaap ʼn groot terugslag vir die ANC wees, maar ook bruin gemeenskappe elders moet kennis neem van die ANC se vasbeslotenheid om sogenaamde etniese swart mense bo die res, insluitend bruin mense, te bevoordeel.

Nou is dit tyd om fees te vier. Môre begin die waaksaamheid om seker te maak die uitspraak word nie op slinkse maniere onder die land uitgesteel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Dirk Breytenbach ·

Geagte Herman jou opsomming van die situasie is so reg in die kol. Dit laat nou vraag wat kan regdenkende Suid Afrikaners doen om die tsunami van korrupte denke, misbruik van menseregte en plundering van SA te stuit? Ek het ‘n sterk vermoede dat bevolkingsgroepe weer moet dink of die “Africanized” vorm van demokrasie in SA enigsins bydra tot vrede en voorspoed en uitnemendheid wat nodig is. Terugkeer na groep gebaseerde tradisies en ‘n sterk federale opset in SA kan dalk positiewe vrugte afwerp om die agteruitgang te verhoed. Dit verbaas my nie dat daar al hoe meer stemme opklink van etniese groepe en streke wat afstigting voorstaan nie. Terwyl die ANC nog regeer is daar nie hoop dat die konstitusionele hof noodwendig eerbiedig kan word nie.

Selfbeskikking ·

Verseker moet ons met die regering en ook met ander nasies begin gesels oor selfbeskikking. Ek sien regtig nie meer enige hoop vir ons in hierdie land nie. Eerder vanvoor af begin op ons eie stukkie grond al is dit klein, as om gehok te wees in selfs nog kleiner geslot en gegrendelde meenthuisie n vir ons lewe of heksejag te vrees nie. Die land Val inelkgeval nou heeltemal inmekaar.

JC ·

Hi Dirk ek stem saam met jou-indien ons nie selfbeskikking kan kry nie dan ten minste ‘n skuif na n meer FEDERALE SISTEEM (federale gebiede) in pleks van ‘n provinsiale sisteem -daar is baie opsies wat Afrikaanses kan pas!

Ken ·

Die bruin mense moet deeglik bewus gemaak word van hoe die ANC hulle wil bevoeter, voor die verkiesing nog.

M A ·

Daar is duisende werkende mense. Minder as 10% in Suid Afrika is wit, so hoeveel poste kan hulle nou realisties beset? As n mens kyk na die hoeveelheid onbevoegde mense in hoë poste, is dit so duidelik soos daglig dat poste op meriete toegeken moet word. Weg met wit broederskap en ook swart broederskap.

Oom Ekonoom ·

Jy moet die omvang van werkskepping deur die staat inagneem. Dit is ‘n baie groot werkverskaffer (ongelukkig baie groter as wat dit veronderstel is om te wees). Dit sal nie lei tot wit broederskap nie, jy hoef beslis nie slapelose nagte hiero or te he nie. Maar dit is ook belangrik dat ons op entrepreneurskap en nuwe tegnologie en groeiende privaatsektor inisiatiewe moet fokus want dit is dit wat ons gaan ophef.

Johan du Toit ·

Beteken hierdie uitspraak dat sou daar ‘n streek wees waar Afrikaners in die toekoms ‘n meerderheid vorm (byvoorbeeld teoreties in die Noord-Kaap), dat werkgewers in daardie streek nie teen Afrikaners sal mag diskrimineer nie en in verhouding in diens sal moet neem?

Dirk Breytenbach ·

Die antwoord is ja en nee. Grondwetlik kan en mag dit gebeur maar die regime van die dag verdraai en ignoreer grondwetlike regte gruwelik en dan moet daar hofsake gemaak word om regte af te dwing. Volgens die grondwet kan streke of gebiede wel meer outonoom raak binne SA maar of dit toegelaat sal word sal weereens jare se hofsake verg. Die kritici van Afriforum en Solidariteit, sommige subtiel en andere onomwonde stel nie ‘n alternatief nie, ek sal graag wil weet is hul oplossing vir die vertrapping van regte op alle vlakke in SA. Afriforum en Solidariteit dankie vir julle integriteit en deursetingsvermoe.

John ·

Ongelukkig gaan die uitspraak feitlik geen impak he nie, anders sou die probleem nie in die eerste plek ontstaan het nie. Om ons regte telkens met hofsake te probeer afdwing is tyd- en geldrowend. Solidariteit sal sy werksaamhede moet ontbondel en afdelings skep vir al die ander probleme van die Afrikanerdom. Die sake rondom die Kleurlinge hoort in hul eie kraal en hulle moet begin pa-staan vir hul eie belange. Die werklose Afrikaners strompel aan en kan nie oorleef op borde vol simpatie nie. Die boere sit angstig en koffie drink en AfriForum lap opgewonde stukkende paaie en droom van nog takies vir die regering. Waar is die koordinasie, tensy ons ‘n klomp blink bekers wil koop en dit kort-kort op groot feeste uitdeel vir almal wat glo hulle verdien erkenning, terwyl die res hoera, hoera skree…

Andre ·

Ongelukkig het die Konstitusionele hof weer bevestig dat ras telling belangrik is. Dit wit ou se appèl is geweier oor rastelling.

Sakkie du Plooy ·

So lyk geregtigheid en regverdigheid. Ons Afrikaners het die reg om in ons eie land te woon en te werk. Net so het lede van ander minderheidsgroepe soos Bruinmense en Indiers die reg om hier te woon EN te werk. Ons mense van die 9-9-2 groep lewer in elk geval ‘n reuse bydrae tot die staatskas en ons (en ons Voorouers) het gedoen, en doen steeds veel om hierdie land op te bou tot voordeel van ALMAL wat hier woon en wil werk. Ons mors ongelukkig baie tyd met “damage control” omdat ons regering baie skade aanrig. Dit is veral op die Onderwysterrein waar ons 9-9-2’s ‘n beduidende verskil maak. Ons sal vorentoe hard werk en bou. Gee ons ‘n regverdige kans om ons kundigheid en werksetiek aan te wend en van SA ‘n nog beter plek te maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.