Nuuskommentaar: In die pylvak na die verkiesing

Foto: Facebook.com

Foto: Facebook.com

“Moenie die eindpoging vir te laat bêre nie,” is die goeie raad wat middelafstand- en langafstandatlete, wat sterk op hul eindpogings staatmaak, dikwels by hul afrigters en ondersteuners kry.

Onder die partye wat vanjaar as ernstige aanspraakmakers op sukses in sommige munisipaliteite deelneem, is die ANC waarskynlik die bekendste, met sterk eindpogings. ʼn Sterk eindpoging is natuurlik net moontlik as die strategie wat daartoe aanleiding gee, goed beplan is en uitgevoer word en die nodige steun daarvoor van die SAUK kom.

Kospakkies word op strategiese tye op die regte plekke afgelewer en so help betaal die belastingbetalers vir ʼn bepaalde party se veldtog. Dit help natuurlik as die OVK stram is om op te tree waar daar klagtes is.

Of daar (weer) ongerymdhede gaan wees, moet gesien word en die oog moet fyn ingestel wees, maar wat wel ʼn feit soos ʼn koei is, is dat die ANC met ʼn enorme eindpoging gaan begin. Dit sal ook behels dat al die woordvoerders en leiers wat nou nog taamlik bont praat, soos byvoorbeeld oor die SAUK se dinge, skielik vir ʼn tyd lank redelik uit dieselfde mond gaan praat.

ʼn Interessantheid rondom die ANC se aanslag die afgelope aantal verkiesings, is die rol van pres. Jacob Zuma. Dit is lank reeds bekend dat daar ʼn verskerpte poging is om hom presidensieël te laat voorkom en besonder skerp daarop gelet word dat hy nie weer iewers ʼn los stelling of twee maak wat die media wêreldwyd as skandaal tref nie.

Hy speel nie altyd saam nie.

Die tweede deel is om kritiek op Zuma so te manipuleer dat dit aangebied word as synde kritiek op swart mense, met nuanses soos kritiek op swart mans, kritiek op swart leiers en so meer. Dit ontneem in effek opposisiepartye van die geleentheid om met geregverdigde kritiek die ANC aan sy Achilleshiel beet te kry. Van die opposisiepartye het voorheen te laat die gevaar besef en daarin getrap en daarom kan verwag word dat dit dié keer stiller op dié front sal wees.

Dit is ook opmerklik dat die #Zumamustfall-veldtog op die oomblik baie stil is. Die ANC sal ook vasbeslote wees om sy “goeie storie” met mag en mening op te dis. Hier sal skaamteloos gebruik gemaak word van projekte en inisiatiewe wat met belastingbetalersgeld gefinansier en deur tegnokratiese kundigheid tot stand gekom het, as ANC-suksesse aan te bied. Of dit die persepsies oor gebrekkige dienslewering wat tot betogings en oproer lei, sal kan stuit, sal die tyd leer.

Dit was vooraf baie duidelik Zuma en die ANC sou weer die kwessie van rassisme, apartheid en kolonialisme tot die uiterste toe inspan. Dit lyk asof hulle met hierdie kwessies effens die pas makeer, maar dit kan enige oomblik weer as deel van ʼn eindpoging lewe kry.

Ook prof. André Duvenhage van die Noordwes-universiteit wys op die ANC se vermoë en reputasie vir ʼn “ongelooflike eindpoging”.

Kan enige ander party dit nadoen?

Partye soos die UDM en Cope, het ook ʼn redelike vermoë tot eindpogings, maar dit staan in die konteks van hul vertrekpunte. Hulle kan kol-kol redelik deur saamtrekke sukses behaal, maar die tipe mediadekking wat nodig is, is erg gebrekkig. Dit is nie net die media, soos die SAUK, se skuld nie.

As mens na hul webwerwe kyk, reik hulle selfs nou in die verkiesingsveldtog heeltemal te min mediaverklarings uit.

Sommige partye het juis die reputasie dat hulle “verkiesingspartye” is. Kiesers is gewoonlik dikbek vir partye wat tussen verkiesings so stil soos muise met wolpantoffels aan is en dan skielik tydens verkiesings oral uitslaan en stemme invorder. Sulke partye neig dan ook om mettertyd die kreeftegang te gaan, totdat dit in ʼn beperkte nis-omgewing ʼn setel of twee beredder kry. Eindpogings is hier kontra-produktief, want dit dui op ʼn lyfwegstekery oor feitlik die hele afstand van die wedloop en dan nog baie energie in die pylvak, maar met die opponente wat al lankal klaargemaak het en huis toe is.

Ook hierdie partye besef skynbaar nie die belangrikheid van gereelde, relevante en tydige nuusverklarings nie.

So het ʼn party gister, na ʼn langerige stilswye oor alles wat in die land gebeur het, as regte derde gelui ʼn verklaring oor die bylaanval op ʼn Duitse trein gedra. Watter media gaan nog belangstel om so iets te gebruik?

Selfs partye wat daagliks ʼn hele string nuusverklarings uitreik, se sukses kan beperk wees as dit “gelaai” word met die spreekwoordelike nuus oor die tandemuis wat kleintjies gebaar het, maar brak kolle oor werklike aktuele en nuuswaardige onderwerpe slaan.

Dan gebeur dit dat ʼn party verbaas staan dat dit sy aantal nuusverklarings vermeerder het, maar in totaliteit minder nuusdekking kry.

Die Vryheidsfront speel op die terrein van die uitreiking van nuusverklarings wat gebruikersvriendelik is, wat inhoudelik sterk en relevant is en goed deur adreslyste versprei word ver bo sy gewigsklas. Hier is nie ʼn geval van woordvoerders of skadu-ministers aan wie portefeuljes toevertrou is, maar waar liederlik gedut word as dit by die uitreik van nuusverklarings kom nie. ʼn Ongelooflike wye veld word deur ʼn Gideonsbende in die verklarings bedien.

Dit sal interessant wees om te sien of die DA se mediadiens, wat gewoonlik as hoogs produktief en professioneel beskou word, in die pylvak daarin sal kan slaag om sy relevansievlak en dus media-trefkrag te verhoog en ook sy trefkrag in die gemeenskapsmedia te verhoog deur die realiteite daar, soos min kapasiteit vir vertaling is te verreken en dus ook op nasionale vlak verklarings in Afrikaans uit te reik.

Onlangse syfers het getoon volume (en selfs volume van hoogstaande gehalte) is nie genoeg om ooreenstemmend trefslae te verseker nie.

Mediadekking en openbare optredes is nie die enigste maniere om kiesers te beïnvloed nie. Op die oomblik woed ʼn plakkaatoorlog soos min en die klagtes stroom in oor plakkate wat verniel en verwydering word, of selfs dat ʼn party sy plakkate bo-oor die plakkate van ʼn ander opsit. En hoe nader aan stemburo’s, hoe groter die saamtrek van plakkate.

Verkiesingspamflette in die vorm van rommelpos gaan ook eersdaags ʼn aanslag op posbusse doen.

Trouens, partye moet ook hul aanslag so bestuur dat die kiesers nie voor die verkiesing reeds verkiesingsat is en dan taai is om te gaan stem nie.

En ai, daai SMS’e wat soms die bloed laat kook soos die twakstorie wat kiesers maan om nie hul stemme op klein partye te “mors” nie.

Maar ʼn stem tel net as dit uitgebring word. Trouens, ʼn stem wat nie uitgebring word nie, bevoordeel ʼn party met wie jy langlippie is.

ʼn Groot deel van die eindpoging gaan dan juis daaroor om die wegblystemmers wel by die stembusse te kry, want dit kan ʼn dramatiese verskil maak.

En hy wat wegbly matig homself dan ook maar goed aan as hy agterna dikbek is oor dienste wat gebrekkig gelewer word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bruno Stef ·

Die Gideonsbende is klein en doeltreffend maar ek sou dit verwelkom het as hulle meer dekking op die Nuusmedia kon kry. Dit is my verbasend hoe onbetrokke die jongmense is en daarby kan sommige middeljarige of oumense sommer ingesluit word maar n mens moet seker maar nie veralgemeen nie. n Stem vir die VF+ is nie n stem wat gemors is nie

WL ·

Herman, brei asseblief meer uit oor jou stelling “…twakstorie wat kiesers maan om nie hul stemme op klein partye te mors nie”.
Ek vir een het nog nie tot finale besluit gekom nie. My kop sê een ding (moenie vir ‘n klein party stem nie), maar my hart voel anders (wie staan regtig op vir my as Afrikaner).
Ek is oortuig daar is baie ander wat ook so voel.

Herman Toerien ·

Hallo WL. Die berekeninge or hoekom ‘n stem minstens net so maklik op ‘n groot party vermors kan word as op ‘n klein party is in die nuuskommentare van 29 April 2014, en 2 en 9 Mei 2014 gedoen. Die ironie was dat mnr. Tony Leon, toe leier van die DP, bitterlik kwaad was vir Marthinus van Schalkwyk, toe nog leier van die NP, was toe Marthinus hiermee vorendag gekom het, en Leon het ook ontken het dat dit waar is. Ek kan nie hier kant kies tussen partye nie, maar ek kan ook nie swyg oor dinge wat gewoon onwaar is nie. Verskeie partye kla die DA nou hieroor aan.

JP ·

WL ek voel soos jy. Die DA frustreer my en hulle klink al hoe meer soos die ANC. Maar tot dusver doen hulle goed waar hulle in beheer is, hoop net dat met die nuwe rigting wat hulle inslaan dit gaan volhou. So stem jy DA of skuif jy en gaan dit wees dat ‘n kleiner party die koning maker gaan wees en daar deur ‘n sinvolle verskil maak?

WL ·

Miskien moet ek weer my punt brobeer verduidelik. As daar enigsins ‘n moontlikheid is dat die DA ‘n sekere area soos PTA kan wen, sal ek nie twee keer dink om vir hulle te stem nie. Ek stem saam met JP se siening oor die DA, maar enigiets is beter as die ANC. So hoe gaan dit my baat om eerder vir die VF+ te stem en daardeur die stemme net te verdeel?

Koos1 ·

Ek lees nou die berig en kommentaar en ek wil net een ding se:
Maak van die verkiesing ‘n gebed saak. God het in Sy Woord aan ons belowe dat GEEN ding op hierdie aarde sal gebeur sonder Sy wil nie.
Hy sal die “regte” party(e) laat wen om sodoende sy Koningkryk uit te brei en Sy doelwitte te bereik.
As gelowiges moet ons die regte ding doen en gaan stem, laat ons ons lei deur Sy Gees, dan kan ons waarlik bid : “Laat U wil geskied” en nie ons wil nie. Wie kan nog onthou hoe die priesters in is ou testament verkies is? Met die werp van die loot.
Onthou dit gerus asb wanneer u stembus toe gaan. Hoe maklik kan ons as SA burgers, God en Politiek skei van mekaar. Ons bid dat God ons moet lei en help maar as dit by die politiek kom, volg ons ons eie koppe!

Ampie ·

Dis wenssdekery dat die DA in Pretoria of Johannesburg ‘n meerderheid sal kry. Hulle noem dit verkiesing na verkiesing om die laaste paar wit stemvee by die stembus te kry. Die ANC sal wen, alhoewel hulle dalk stemme sal verloor….teen die EFF. Met elke verkiesing word die wit stem minder as ‘n persentasie. Ek glo jy mors tyd om te stem, al wat jy doen is om legitimiteit aan die meerderheidstirannie te verleen..

John ·

Massas mense gaan Augustus stem sonder adresse. So ‘n verkiesing is basies onwettig, maar ons moet maar gaan stem. Ons moet ook maar volgens sekere mense gaan stem vir die beste party onder die groep. Ek sien nerens in die Bybel enige verwysing na so ‘n keuse nie. Daar gaan ‘n klomp probleme opduik en klomp stasies wees wat nie genoeg stembriewe gaan he nie of laat oopmaak, ens. Ek gaan nie stem nie, want daar is geen partykandidaat waar ek bly wat naastenby my belange op die hart dra nie en ek voel nie eers naastenby skuldig oor die besluit om nie ‘n vuil pers streep op my vinger te dra nie.

Freek ·

Waarom sal enige iemand met ‘n greintjie verstand oorweeg om vir nommer 90 op die lys van ‘n party waarmee jy nie regtig saamstem nie, te stem, as jy vir nommer 1 van ‘n party waarmee jy volkome saamstem kan stem.

Dit is sulke logika wat maak dat ons met massas stadsraadslede sit wat nie die vermoë het om enige verskil te maak nie, terwyl hulle ons belastinggeld opvreet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.