Nuuskommentaar: In die sweet van jou aanskyn…moet jy die papierberg oorwin

Die burokratiese papierberg
Pravin Gordhan is op ‘n missie – nie net om geldjies vir die staatskas in te samel nie, maar om ‘n klimaat te skep waarin mense hul geldjies kan verdien sodat daar vir die keiser ook ‘n meevallertjie is. Met Suid-Afrika se halsstarrige werkloosheidskoers en die negatiewe impak wat dit op beide staatsinkomste en staatsuitgawes het, is dit te wagte dat stemme sal opgaan om die versmorende burokrasie te verlig. Maar terwyl oproepe vir deregulering al diep uit die vorige bedeling opklink, neem burokratiese versmoring wat veral die ontwikkeling van die mikro- en kleinsakesektor strem, by die dag toe.

Iemand wat ‘n karige pensioen wil aanvul met naaldwerkies, het immers nie in gedagte om ‘n horde papiertiere tevrede te hou nie – wat wissel van die departement van Arbeid, die Ontvanger, die registrasie-owerhede, die Menseregtekommissie en nou met ‘n berg dokumentasie in terme van die Verbruikerswet nie. Die entrepreneur word uit alle oorde geteister om te toon dat hy of sy aan SEB-riglyne voldoen, en verwere dat dit eenpersoon-onderneings is – juis om ‘n deel van die papierberg vry te spring, val min of meer op dowe ore. Dit is maar ‘n deel van die wetgewing wat al parlement toe gegaan het – ‘n deel het weens die onpraktiese of onwerkbare aard in die slag gebly, maar ‘n groot genoeg onwerkbare deel het wel die valbyl vrygespring.

Daar is geen manier waarop die regering die verbruikerswet wat hy genadeloos aan klein ondernemings opdwing, ook op die florerende spaza-bedryf in die townships opgedwing gaan kry nie – dreigemente van belaglike boetes van miljoene rande ten spyt. Die ironie is dat, terwyl die mikro-sakepersoon deur die hoë kostes en vragte werk wat die verbruikerswet op hom laai moet worstel, probeer die regering van sy eie skeppings – sekere munisipaliteite – daarvan vrystel.

Entrepreneurskap versmoor
Met sulke versmoring, is dit geen wonder nie dat entrepreneurskap ondermyn word, en dit veel makliker is om dan maar die ellelange toue aan te durf om vir die een of ander staatstoelaag in aanmerking te kom nie. ‘n Boer is lank nie meer primêr ‘n landbouer wat kos voorsien nie. Ook hy moet berge papier baasraak, of iemand betaal om dit te doen. Of arbeidsmakelaars kom tot stand. Terwyl ondernemerskap versmoor word, is die ironie dat die hoofsondebokke wat die versmorende wetgewing in die eerste plek veroorsaak, dikwels nie ‘n aks van hul brouwerk afwyk nie. Koerante bly vol van munisipale en verwante rekenings wat in ‘n warboel is, en mense wie se krag of water afgesny word terwyl hulle met die kwitansies dat wel betyds betaal is in die hand staan.

Omvattende streng arbeidswetgewing om werkers te beskerm het weinig sin as die einste wetgewing veroorsaak dat mense in die eerste plek nie werk het nie. Of wanneer dit vir die werkgewer so moeilik gemaak word om van ‘n swak werker ontslae te raak, dat dit vir hom makliker is om bloot so goor met die werkers te wees dat hulle self bedank. Hoewel dit op konstruktiewe ontslag neerkom, is dit nie so maklik om sulke sake te bewys nie. Die papierberg waarmee die klein mensies moet stoei, dwing mense as’t ware om in ‘n tipe burgerlike ongehoorsaamheid betrokke te raak. Sommige klein sakelui, wat nie kan bekostig om vir elke bakatel na hul boekhouers te hardloop nie, sit met berge korrespondensie wat doodeenvoudig nie deur die betrokke registrasie-owerheid beantwoord word nie – net om op ‘n dag by ‘n finansieringsliggaam te verneem die onderneming word weens die nie-nakoming van iets waaroor tallose onbeantwoorde navrae gerig is, gederegistreer word, en daarom word die finansiering nie oorweeg nie.

Die probleem met ‘n tipe gedwonge burgerlike ongehoorsaamheid is dat dit nuwe grense stel van wat reg en verkeerd is. Die rokende bestuurder wat sy stompie by die venster uitgooi, is immers net so skuldig aan rommelstrooi soos die een wat ‘n leë drankbottel uitgooi. Die persoon wat te vinnig ry wanneer hy sy kinders skool toe neem of self kerk toe gaan, kan nie regtig vinger wys na iemand wat oor ‘n rooi verkeerslig ry nie.

Kortom, wanneer oorregulering belaglik raak, sodat dit moeilik is om die sin in te sien – veral as die owerheid self ‘n swak voorbeeld stel – lei dit tot ‘n vorm van anargie. Suid-Afrika spring ook nie die grondoorsake vry van dit wat die Wall Street besetting, wat wêreldwyd uitgekring het, onderlê nie. Dit kan beskryf word as die grenslose inhaligheid van die bopunt, wat in, soos Volksblad dit uitgedruk het, in obsene weelde leef terwyl ‘n toe hand vir die werkers gehou word. Koerante berig gereeld oor reuse bonusse en salarisse vir onderpresterende staatsondernemings se base, miljoene rande wat op partytjies gespandeer word, maar wanneer die werkers naderstaan is daar net krummeltjies wat van die tafel afval.

Gordhan se oproep vir die verligting van burokrasie is nie nuut nie. Sy vorige oproep vir die hersiening van spesifiek arbeidswetgewing om werkskepping te bevorder, is soos ‘n doodsonde deur die vakbonde wat met Cosatu geaffilieer is beskou. Nou het hy die net klaarblyklik wyer uitgewerp. “Given the scale of the unemployment challenge, no single policy offers the solution…. What is needed is a comprehensive set of reforms that maximise job creation. Labour market reforms can directly improve employment by providing flexibility and the right incentives to work, to hire workers, develop skills, and become more productive.”

Die Tesourie het beklemtoon dat die minister die afskaling van burokrasie in die oog het. Die probleem is dat onnodige en selfs belaglike wetgewing, goeie bedoelings ten spyt, ook noodsaaklike wetgewing of bepalings in daardie wetgewing onder druk plaas. Die grondwetlike bedoeling van regstellende aksie het nou al so ontaard, dat dit die land se ekonomie strem. “Die stigting verlede week van die Black Business Council (BBC) is ’n voorbeeld van rassisme wat die land niks verder vorentoe neem nie,” aldus Bheki Sibiya, uitvoerende hoof van die Kamer van Mynwese.

Confucius say…
Terwyl arbeidsmakelaars help dat mense wat weens die papierberg nie werk sou hê nie, wel ‘n inkomste kan verdien, wil Cosatu die regering dwing om hierdie entrepreneurs as eietydse slawehandelaars verbied te kry. In Cosatu se Utopia het almal behoorlike werk met byvoordele, maar hierdie is nie Uptopia nie – deels danksy Cosatu en sy alliansiebondgenote. Solidariteit meen dat die gewenste resultate bereik kan word deur toe te sien dat arbeidsmakelaars hulle nie aan wanpraktyke skuldig maak nie.

Niemand, met ‘n gewete, betwis dit dat werkers ooreenkomstig hul bydrae tot die werkgewer se sukses vergoed moet word nie, en dat werkers billik en menslik behandel moet word nie. Dit is wanneer loodswaaiers of onopleibares oormatig beskerm word, dat arbeidswetgewing die kompas verkwansel het, en boonop die BTW daarop verduister.
As Confucius of Sun Tsu vandag sou lewe, sou ‘n mens onder hul wyshede die volgende kon verwag: “As jy ooit ‘n volk wil oorwin, leer hom lees en skryf – dit sal nie lank wees nie of hy administreer homself tot ondergang

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae