Nuuskommentaar: In die “veiligheid” van eie huis

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Wanneer iemand in die “veiligheid” van sy eie huis oorval word, is die geestelike skade dikwels baie groter as die fisieke skade wat ’n rower aangerig het. Die impak op die wete dat ons eie skans of “fort” teen die bose wêreld nie gekoesterde veiligheid kon waarborg nie, laat diep letsels. En as iemand boonop vermoor word, word ’n ganse gemeenskap se moreel geknak.

’n Persoon wat moedeloos oor moorde is, skryf ’n e-pos aan ’n hele groep mense:

“Gister is daar op die Volksblad se voorblad berig oor die 18-jarige BSc-student van die Universiteit van die Vrystaat, Sean Kroon, wat Saterdagaand doodgeskiet is deur ‘n persoon wat by die studentehuis waar hy gewoon het, ingebars het. Sean wou keer dat die persoon sy skootrekenaar en selfoon roof. Volgens vandag se koerant is hy sy ouers se enigste kind. Hulle het veertien jaar vir hom gewag. Gister het sy ouers sy kamer ontruim, drie maande nadat hulle hom gehelp het om daar in te trek. Wat ’n tragedie (lees die berig hier op Maroela Media). Nog is dit nie die einde nie: Vandag se Volksblad se berig oor die hoof van neurochirurgie in Kimberley, dr. Mohammed Lateef (53), wat vermoor is. ’n Groep rowers het in die vroeë oggendure by sy huis ingebreek, sy gesinslede vasgebind en hom doodgeskiet (lees die berig hier op Maroela Media). Wat sê ’n mens? Tragedie op tragedie. So gaan dit dag vir dag, nag vir nag. Ek is ook teleurgesteld oor SA se rommelstatus, maar ek voel nie wanhopig daaroor nie. Ek voel wanhopig oor hierdie moorde. Hoe moet hierdie Kroon-ouerpaar vanoggend voel? Hoe voel hulle vanoggend? Hoe voel dr. Lateef se vrou en kinders vandag?”

Dit is heel moontlik dat die persoon die gevoelens van baie ander mense verwoord. Wat veral tref, afgesien van die moorde, is dat dit in die “veiligheid” van ’n eie huis gepleeg is.

Dit is ongelukkig nie al nie. Vanjaar was daar al talle berigte oor die wreedste plaasmoorde denkbaar … ook waar die slagoffers gemartel is. In nog ’n geval het die rower ’n outistiese kind wat nie gesnap het wat aangaan nie, verskeie kere met ’n mes gesteek om die ma te dwing om die kluis oop te sluit.

Verskeie groot rooftogte het plaasgevind en ’n geldwa is eenvoudig opgeblaas om by die inhoud uit te kom.

Die indruk, reg of verkeerd, is dat misdaad die “beroep” van baie geword het, en dat menselewens beslis nie in die pad gaan staan van die uitoefening van dié “beroep” nie. In die geval van die Bloemfonteinse student word daar byvoorbeeld vermoed dat die moord gepleeg is deur dieselfde man wat verskeie ander rooftogte in die gebied uitgevoer het. Die buurtwag het ongelukkig te min lede om doeltreffende misdaadbekamping toe te pas. (In omringende buurte behaal die buurtwagte, wat deur AfriForum in die lewe geroep is en ondersteun word, groot sukses.)

Wanneer na die oorsake van misdaad gekyk word, word werkloosheid gou genoem. Die syfers vertel ongelukkig nie hoeveel van die mense geen ander werk kon kry nie en hoeveel werksku is vir gewone werk.

Wat hiermee saamhang, is die impak van die inkomstegaping. ’n Google-soektog bring aan die lig dat daar oorvloedig getuienis van reg oor die wêreld is dat ’n groot inkomstegaping tot ’n toename in misdaad lei. Die gevolg is gewoonlik onregstreeks en hou ook verband met ’n motiveringsverval: maak nie saak hoe hard ek werk nie, ek bly krepeer terwyl die politici kan loodswaai en skatryk word. Dikwels bestaan die persepsie dat daardie begunstigdes se reeds ruim vergoeding op groot skaal deur korrupsie aangesuiwer word.

Volgens die wêreldbank beroof korrupsie ’n land van sy toekoms. Maar voor ’n land ekonomies inplof, is daar ’n periode waar die armes die “rekening” dra.

Baie is ook al geskryf oor kulture in transito en die ontwikkeling van subkulture wat ook die sogenaamde anti-kulture insluit. Die hardnekkige voortbestaan van gewelddadige bendes op die Kaapse Vlakte en elders toon hoe moeilik dit is om deur maatskaplike intervensie hiervan ontslae te raak.

Suid-Afrika is die verkragtingshoofsetel van die wêreld – ’n duidelike aanduiding van ’n anti-kultuur.

Met die onlangse Sassa-krisis het die breër publiek opnuut bewus geword van baie se enorme afhanklikheid van hierdie toelaes. Die hartseer is dat dit baie selde net die begunstigde is wat van daardie geldjie afhanklik is, maar dikwels ’n taamlike groot groep mense. Die kleinerige toelaag wat aan buite-egtelike kinders se versorgers uitbetaal word, moet dikwels ’n hele gesin voed. Daar word baie beweer dat meisies, dikwels baie jonk, doelbewus swanger raak sodat die toelaag ontvang kan word. Ander bronne van inkomste vir die gesin is daar eenvoudig nie.

Dis nou tensy mense hulle tot misdaad soos dwelmhandel, perlemoenstroping, renosterstroping ensovoorts wend. Die morele inploffing wat hiermee gepaardgaan, laat misdaad egter nie beperk bly tot misdaad wat inkomste genereer nie, en misdade soos verkragting, gesinsgeweld en vele ander neem toe. Selfs dronkbestuur kan deels hiermee verbind word.

Die hartseer is dat selfs al sóú voorspoed nou op ongekende skaal aanbreek en almal werk kan kry, die skade aan die siel van die nasie so groot is dat dit lank gaan neem vir herlewingsaksies en kerklike uitreikingsaksies om die situasie grootliks op te ruim. Gelukkig is daar ’n sterk kern, soos blyk uit die meer as ’n miljoen mense wat by die bekende Angus Buchan se gebedsbyeenkoms in die Vrystaat verwag word. En dié soort byeenkomste is nie alle belydende Christene se styl nie.

Ongelukkig is die voorbeeld wat Suid-Afrikaners van sekere politieke leiers kry in soveel opsigte baie negatief. Van onboetvaardige Godslastering tot bedenklike selfverryking, magsmisbruik, ’n stropingsingesteldheid tot vele meer. Geld vloei asof daar nie perke is nie, terwyl ander eenvoudig nie weet waar hulle die aand vir hul gesinne ’n kossie gaan bekom nie. Dít nadat daar van vroeg tot laat deur vullissakke gesoek is om iets herwinbaar te vind, waarvan die totale waarde soms minder as R29 was.

Natuurlik moet elkeen voorsorg tref so goed hy of sy kan. Ná die moord op die student het Volksblad verskeie studentewonings besoek en ’n klomp wawyd oop gekry – met niemand tuis nie.

Die onverskillige omgaan met persoonlike data kan weer tot ongewenste bankaftrekkings lei, hoewel dit soms eerder lyk na die werk van iemand binne die bank. Elke keer word die slagoffer se persoonlike ruimte binnegedring en laat dit hom of haar besonder weerloos voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

AL ·

Dat mense hul tot misdaad wend is omdat SA se huishoudings meer kinders het as wat hul kan bekostig en voor kan sorg.
Die hartseer saak is dat jou hardwerkende belastingbetalers n sagte teiken is vir kriminele terwyl die rykes en die regering se families beter beveilig word.

erik ·

Ek dink maroela media se verslaggewing is puik! 10 uit 10 aan al die rubriekskrywers. Ek het die app. ‘n maand of twee gelede afgelaai en sederdien is dit my eerste kuierplek as ek my foon aansit..

sharon ·

Dankie Herman jy deel die waarheid met ons, ek persoonlik voel magteloos…. ek geniet my nuus en my netwerk nuus FB..ens. waar gaan dit vir ons mense in SA opeindig? … ons is bang teleurgesteld weti wat hou regering vir die land in nie.
. as ek so na my klein kinders kyk dan weet ek nie om die emosies te beskryf nie!!! hierdie ondraagbare smart gaan ons verstand te bowe! miljoene!!! van alle ras gaan baie swaar kry!!! ek sien nie n uitkoms nie!!! ek hou vas aan my geloof en krag van bo! dankie en bly geseend!!
.

Arrie ·

Ek sit hier en huil oor Sean Kroon, oor die wreedste plaasmoorde, oor ons land, oor ons regering . . . . . Wat het geword van ons mooi land. Ek dank die Here vir n wonderlike kinder lewe. Ag, kon my klein-kinders ook maar die voorreg gehad het.

Maria Botha ·

‘n Vuisvoos volk. Ek dink net daar word min gedoen vir die nie-krimineel terwyl die gevangene alle voordele het.
Kos, verblyf,mediese sorg, en dan in baie gevalle die wet toepasser wat die krimineel beskerm en omkoopgeld aanvaar. As n student se deur in sy woonplek oop is hoekom is die wet so verdraai dat die student aangespreek word oor sy veiligheid en die krimineel kom weg met voordele.
Ek wil net noem dat in skole word Godsdiens onderrig weggeneem maar in gevangenisse word die Bybel eerste gegryp om n persoon se lewe te verander.
Baie positief is dat Maroela Media uitstekende berig gewing doen en ek kry dit varsgedruk op my telefoon. Dankie vir die voorreg.

Arie ·

Hier lees ek die berig wat na aan my hart is . Ek is een van min gelukkige mense wat 4jaar terug amper niks oorgekom het behalwe vir n harde vuis hou in my rug toe ek by die huis ingestap het 10uur die oggend en daar twee mense deur my dak ingebreuk het en ek onbepland by die huis aangekom het. die wete dat my privaat plek binne gedring was pla vandag nog ,elke geluid buite maak my wakker ,ek weet nie meer wat n volle nagrus is nie . aan almal wat seer of iemand verloor het wil ek net se sterkte en weet mense dink aan julle. wat ek wel graag wil weet wat as mens so iemand in jou huis betrap en jy skiet of maak daai persoon dood met jou hande of mes ,wat dan is mens beskerm of is die dief se mense regte dan aangetas , wat gaan jou regkostes wees na so geval ?

Charmaine Griffiths ·

Arie stem was ook al deur sulke dinge en slaap wanneer die son skyn met alarm aan en saans voel ek soos ‘n strykplank wat op die bed le en ruk. Sluit aan by Afriforum, hul het prokureurs wat ons help .

Charmaine Griffiths ·

Dankie Herman, jy is altyd die stem van waardigheid en kan ieder en elke situasie so duidelik opsom.

david ras ·

Dankie Herman–soos gewoonlik ‘n wel deurdagte artikel.
Dit mag wel so wees dat die misdadigheid nou ‘n wereldwye probleem is, maar is die brutale wreedaardigheid van sulke aanvalle ook wereld wyd ?

Na my mening gaan ons nie die moorde stuit nie, Ek het voorheen al die Engelse gesege aangehaal, maar ek doen dit weer–“the punishment must fit the crime” Dit is presies wat NIE in SA gebeur nie.
Daar is geen balans tussen die daad en die straf nie.

‘n Paar jaar gelede het die burgemeester van New York ‘n nuwe stelsel begin–roei die klein misdade uit, en die erger misdade sal self verminder. Dit het geslaag.

Ek meen dieselfde beginsel behoort hier in te kom—

Byvoorbeeld—-studente wat skade aanrig aan ander se eiendom om”hulle woede te toon”….!. In die vorige bewind het ons ‘n straf gehad genaamd–“Hardepad” Groot klippe klein maak en klein klippies nog kleiner…
Betogende Vakbonde, student, en wat ookal, toon geen respek vir die regte van ander nie.

Ek dink SA ly nou nog onder die gevolge van die Struggle uitroep==”maak SA onregeerbaar…!”
Om SA weer REGEERBAAR te maak gaan drastiese stappe verg,

Ek het doelbewus niks geskryf oor die moorde nie, want ek was enkeel weke op die
begrafnis van dierbare vriende van ons. se seun.
Koelbloedig geskiet……
Ek swyg liewer. ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.